Gedagte vir kinders: Ons Vader is die Koning van alles en daarom is ons
nie bekommerd nie.
Oorsig: Op sy pad na Jerusalem waar die Here Jesus die offer
vir ons sondes sou bring, het Hy oor die koninkryk van God met die mense
gepraat. Nadat Hy aan hulle deur die gelykenis van die ryk dwaas verduidelik
het hoe belangrik dit is om ryk in God te wees, het Hy “daarom” bygevoeg. Want as
ons ryk in God wil wees, moet ons ook in lyn daarmee optree. Die eerste toepassing
wat die Here Jesus toe gemaak het, is om nie bekommerd te wees oor ons lewe en ons
liggaam en spesifiek oor wat ons sal eet en wat ons sal aantrek nie. Die rede
is dat die lewe meer is as kos en dat die liggaam oor meer gaan as klere
(v.22-23).
Hy het hulle as voorbeeld gewys op die kraaie (roofvoëls)
wat in die Ou Testament nog onrein diere was (Lev. 11:15; Deut. 14:14). Hulle plant
of oes nie en het geen voorraadkamer en skuur nie, en tog sorg God selfs vir
hulle. Mense was tog soveel meer werd (v.24). Die Here het hulle toe ook daarop
gewys dat afgesien van die voorbeeld van kraaie in die skepping, ook
bekommernis self nie in die minste werklik help nie. Dit kan nie een el by jou
lengte voeg of een uur by jou lewe nie (v.25-26; vgl. NAV). Daarna het Hy weer
na de skepping gewys en hierdie keer op die lelies en die gras as voorbeelde
van hoe God sy skepping aantrek. En weer was die konsekwensie vir mense getrek:
Hoeveel te meer vir julle kleingelowiges! (v.27-28).
By die kwessie van bekommernis het Hy toe iets
verder gevoeg. Dit is dat hulle ook nie in die eerste plek gefokus moes wees (“soek”)
op wat hulle sou eet en drink en hulself daaroor ongerus maak nie. Dit is wat
die ongelowiges nasies van die wêreld doen. Die kinders van God kon egter gerus
wees dat hulle Vader weet wat hulle nodig het (v.29-30). Hulle fokus (soek) moes
eerder die koninkryk van God wees. Dit beteken hulle God en sy saak en sy geregtigheid
en sy wil moes soek en hulle hele lewe daarvolgens moes inrig. So kon hulle as God
se gesante sy beeld in hierdie wêreld wat nie glo nie, uitstraal. Hulle sou op
hierdie weg ook beleef hoe al die ander dinge vir hulle bygevoeg word (v.31). Daarna
het die Here die klein groepie gelowiges ’n klein kudde genoem wat nie moes
vrees nie, want hulle Vader sou aan hulle sy koninkryk gee (v.32). Omdat hulle
in Hom so ryk was, kon hulle hulle gerus hul besittings verkoop en aalmoese gee
wanneer nodig. So sou hulle wys dat hulle eintlike beursies en skat in die
hemel is. Hierdie skat kan nie uitgeput word nie en diewe of motte kan dit nie
wegneem of verteer nie. En so wys ons harte ook waar ons eintlike skat is
(v.34).
Besprekingsvraag: Wat leer ons wanneer Christus vrees en vertroue
voor besittings hanteer?
Insig: Die Here Jesus spreek ’n diep kwessie van die menslike psige hier aan. Ons as mense het ’n groot behoefte aan identiteit en ’n omgewing wat daardie identiteit moet beveilig. Die probleem is dat ons dit in ons sonde verkeerd kan aanpak.