Wys tans plasings met die etiket Trinitaries. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Trinitaries. Wys alle plasings

2021/11/09

Derrick Peterson oor die Drie-eenheid

Derrick Peterson skryf vinniger as wat ek kan lees en lees vinniger as wat ek kan dink. Hy laat die meeste van ons perspektief kry oor ons eie gawes. Dit beteken nie dat ’n mens hom daarom oor alles met toe oë moet vertrou nie, maar hy is wel ’n belangrike en gewaardeerde gids op sekere temas soos die Triniteit en die verwantskap tussen geloof en wetenskap. Hy het onlangs op sy facebook-blad die volgende handige riglyne gegee oor sy skryfwerk oor die Triniteit. Dit is die moeite werd om dit hier langer leeftyd te gee, aangesien Peterson 'n belangrike verwysingspunt is wat kan help om hieroor nugter en waarderend te bly. Hier is Peterson se woorde oor sy skryfarbeid tot dusver, oorgeklank in onse taal:  

[Kyk gerus na my werk] genaamd The Parting of God: Diagnosing The Fate of Divine Simplicity in 20th Century Theology (wat in 'n heeltemal bygewerkte en meer gepoleerde vorm gevind kan word in die geredigeerde bundel The Lord is One onder redaksie van Joseph Minich, saam met 'n tweede metgesel-opstel van my, A Sacred Monster: On the Secret Fears of Recent Trinitarianism. Albei is dele van 'n (veel) groter projek wat ondersoek instel na hoe geskiedskrywing, historiese teologie en sistematiese teologie alles saamwerk - veral hier in terme van die leerstelling van die Drie-eenheid…

Ander voorbeelde van die projek kan op my academia.edu-bladsy gevind word - sodat die familie van opstelle (in geen spesifieke volgorde nie) die volgende is, alhoewel ’n mens my boekresensie van Darren Sarisky se Theologies of Retrieval as 'n soort voorwoord kan hanteer. Dan 1) A Sacred Monster 2) The Parting of God 3) Between Sublime and Machine 4) die opstel No True Scotsman oor Duns Scotus se plek in groot verhale oor die vorm van geskiedenis, 5) A Loud Absence (wat 'n soort bylaag is tot spesifiek A Sacred Monster) asook 6) A Graduated Splendor wat iets van 'n bylae is. My boekresensies van Stephen Holmes se The Quest for the Trinity, Paul C.H. Lim se Mystery Unveiled: The Crisis of the Trinity, Matthew Bates se The Birth of the Trinity en Wesley Hill se Paul and the Trinity kan almal behandel word as bylaes wat ook wag vir meer uitgebreide behandelings deurdat elkeen oor een of twee sleutel-aspekte van historiese temas handel en wat onderontwikkel in huidige behandelings is. En as 'n soort gevarieerde oorsig is Gods, August and Otherwise: How Neo-Thomism Affected the Trinitarian Renaissance ook deel van die ander werke.

2011/09/02

Die dinamiek van 'n deftige drieslag

“Bloed, sweet en trane.” 
“Vrede, brood en grond.” 

Moenie die krag van bevatlike betoë onderskat nie. Jy kan daardeur bewegings op sleeptou neem. Winston Churchill en Vladimir Lenin het met bogenoemde gelaaide woorde mense geïnspireer, op heilsame maar ongelukkig ook onheilsame wyses. Hulle en talle ander instellings en persone het dit deur die eeue heen reggekry deur die gebruik van dit wat ’n triade genoem word (lees mooi - nie 'n tirade nie ... ). ’n Triade is ’n deftige woord om ’n drieslag aan te dui, sê die HAT. Afvaardigings, advertensies en betoë maak dikwels hiervan gebruik. Oor die algemene gebruik hiervan in betoë merk Mayer in sy boek oor effektiewe redevoering, How To Win Every Argument (vieslike titel, effektiewe verkoopstegniek), op dat daar in die praktyk eenvoudig net iets is wat krag aan ’n triade verleen en iets afrond.

Ons weet dit is waar. ABSA sê "Vandag, more, altyd saam." Rice Crispies sê "Snap, Cracle, Pop". Die advokaat se finale effektiewe betoog het dikwels drie punte. En die dominee, voor hy hom kon kry het sy preek gewoonlik drie punte. "Hoekom het 'n dominee se preek altyd drie punte?" vra iemand nou die dag. Miskien is dit omdat die gemeente nie meer as drie punte kan hanteer nie...? Net gou 'n realiteitsflits. Dit word vertel dat Puriteinpredikers dikwels op 'n Sondag so ses en dertig punte in hul preek gehad het. En dan sou twee bure in die week met mekaar oor die heining gesels en selfs 'n bietjie verskil oor wat punt nommer vier en twintig nou weer was! Maar miskien is die storie nie reg vertel nie. Die dominee het maar net drie punte met twaalf onderafdelings elk gehad en hulle kon net die eerste twee punte onthou. Ondankbare lidmate as jy my vra ...