Lees:
Mt. 16:13-20
Gedagte vir kinders: Jesus
Christus is die waarlik die Messias van die wêreld.
Oorsig: Die Here Jesus se bediening in Galilea in die noorde was naby
aan die einde daarvan. Hy kom toe met sy dissipels in die streke van ’n stad daar
wat vernoem is na die keiser en na Filippus, die seun van Herodes, wat dit
opgebou het: Cesarea-Filippi. Dit was op die grens tussen Israel en die heidenwêreld
en in die stad was daar ook bekende afgodsbeelde van Baal (van die Siriërs) en Pan
(van die Grieke. Moderne naam: Baniyas) en met die Keiser in die stadsnaam self
wat ook as goddelik beskou is. Naby hierdie groot godsdienste vra die Here
Jesus toe: Wie sê die mense dat Hy, die Seun van die mens is. Daarmee het Hy
eintlik reeds te kenne gegee dat Hy Koning en toekomstige wêreldregter is (v.
13; vgl. Dan 7:13-14).
Die dissipels het geantwoord dat sommige gesê het dat Hy
Johannes die Doper was (uit die dood opgestaan of tipe). Ander het gesê dat Hy
Elia was. Ander het weer gesê die profeet Jeremia (wat baie hoog onder die
profete geag is) of een van die ander groot profete van die Bybel (v.14). En
toe het die Here die vraag na hulle toe laat gaan: Maar julle, wie sê julle is
ek? Simon Petrus het toe gesê: “U is die Christus, die Seun van die lewende
God.” (v.15-16). Hierop het die Here geantwoord: “Salig (geseënd) is jy, Simon
Bar-Jona (seun van Jona), aangesien die antwoord (openbaring) nie van gebroke
mense (vlees en bloed) gekom het nie, maar van sy Vader (let op die persoonlike
beskrywing) wat in die hemele is (v.17).
Hierna het die Here Jesus ’n groot uitspraak gemaak. Hy het
vir hom gesê dat sy naam Petrus is (klein rotsie). Sy naam staan vir iets
groter: Op hierdie rots, bedoelende, (1) op wie Christus is, en (2) op die belydenis van en geloof in Christus, en (3) vanuit die amp vir Christus, sal Jesus sy gemeente (Kerk:
Ekklesia) bou. Dit sal so kragtig wees dat die selfs die poorte van die doderyk
(Hades) dit nie sal oorweldig nie (v.18). Dit beteken die poort van dreiging en magte en waar lewe en
dood vir altyd plekke verruil, sal nie die Kerk kan oorwin nie. Die Here Jesus
het hierna bygevoeg dat Hy die sleutels van die koninkryk van die hemele aan Peterus as verteenwoordiger van die Kerk sal
gee. Dit sou beteken dat wat Petrus as deel van die kerklike ampte doen met
hulle verkondiging oor Christus, tot in di ehemel sal weerklink: Dit wat die Kerk op die aarde bind, word ook in die hemele gebind, en dit wat op die aarde ontbind word, word ook in die hemel ontbind (v.19). Hierna het Hy egter vir die sy dissipels
bevel gegee dat hulle vir niemand moes se dat Hy die Christus is nie (v.20).
Die rede het later duideliker geword. Hulle hulle moes nog leer dat Hy die Christus sou wees deur sy kruisiging.
Besprekingsvraag: Wat
beteken dit dat die Kerk die sleutels van die koninkryk het?
Insig: In ’n pluralistiese wêreld word die uniekheid van Christene tussen ander gelowe voortdurend bevraagteken. Die belangrike vraag bly egter: Wie sê die mense dat Jesus, die Seun van die mens is?