Wys tans plasings met die etiket Markus. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Markus. Wys alle plasings

2024/09/28

Die laaste van almal en almal se dienaar

Lees: Mark. 9:30-37

Gedagte vir kinders: As jy werklik groot wil wees, moet jy bereid wees om almal te dien.

Oorsig: Na die verheerliking van die Here Jesus op die berg en die genesing van ’n doofstomme seun daarna, het hulle verbygetrek deur die noorde van die land wat Galilea genoem word. Die Here Jesus wou nie hê dat iemand moes weet nie (v.1) . Die rede was dat Hy vir die tweede maal (vgl. Mk. 8:31 en Mk. 10:32-34) prontuit vir sy dissipels geleer het hoe alles sou afspeel: Die seun van die mens word oorgelewer in die hande van mense en hulle sal Hom doodmaak. Nadat Hy gedood is Hy op die derde dag opstaan (v.31; vgl. Dan. 7:18,21,25; 12:2). Die dissipels het hierdie woorde wat vir hulle geklink het soos ’n gelykenis of beeldspraak, nie verstaan nie. En hulle was bang om Hom uit te vra (v. 32). Miskien wou hulle nie dom klink nie, of miskien was hulle bang om dit nog meer reguit te hoor.

So het hulle in Kapernaum in ’n huis gekom, waarskynlik die huis van Petrus en Andreas wat Hy in daardie gebied gebruik het (vgl. 1:29; 2:1). Daar het Hy hulle gevra wat hulle met mekaar op die pad geredeneer het (v. 33). Hulle het egter stilgebly omdat hulle op die pad met mekaar gepraat het oor wie die grootste is (v.34). En toe Hy in die huis gaan sit het, wat in daardie tyd die lerende posisie van die Meester was, het Hy vir hulle gesê: As iemand die eerste wil wees, moet hy die laaste van almal en almal se dienaar wees (v.35).

Hy het toe (1) ’n kindjie geneem en (2) hom hul midde laat staan en (3) sy arm om hom geslaan (v.36) En toe het Hy vir hulle gesê: Elkeen wat een van sulke kindertjies (1) in my Naam ontvang, (2) ontvang My. En elkeen wat My ontvang, ontvang nie My nie, maar (3) Hom wat My gestuur het (v.37). So het die Here Jesus selfs kinders as die onbelangrikes graag ontvang en so was Hy bereid om die laaste van almal en almal se dienaar te word toe Hy ons sonde op Hom geneem het aan die kruis. Maar daarom het God hom ook opgewek uit die dood en die Naam gegee wat bo elke naam is. Hy wat so met die dissipels (en ons paat0 het dit eerste gedoen, in ons plek. Daarom kan dit nou vir ons moontlik wees deur die krag van die Heilige Gees om ook so te lewe.  

Besprekingsvraag: Hoe maak ons seker dat ons die kruis saam met die dissipels beter begryp? 

Insig: Die Goddelike logika van laastes wat eerste is, is nie iets wat vanself deel van ons lewe is nie. Ons sien dit van ver af maklik raak in dieselfde soort reaksies van die dissipels wanneer die drie uitdruklike aankondigings van die Here Jesus oor sy sterwe en opstanding voor sy kruisiging gemaak word. Wanneer Hy die eerste aankondiging doen, wil Petrus Hom eerder vermaan (vgl. 8:31-33). Wanneer Hy sy derde aankondiging doen, wil sommige sekerheid hê oor hul posisie op trone langsaan Hom (vgl. 10:32-37). En hier na sy tweede aankondiging, verneem ons dat hulle eerder op die pad praat oor wie die grootste is (vgl. v. 31-34). Hulle verwag ’n troon, ’n kroon, sonder die kruis. Ons moet nie maar dink dat dit bloot die dissipels voor die kruis is nie, maar eerder ons elkeen se geneigdheid. So maklik gaan dit steeds om kroon sonder die kruis, en om eerste te wees en die grootste te wees. En so verval ons maklik in jaloerse kompetisie en hoogmoed en magstryde. Dit is waarom nasies teen nasies uiteindelik oorlog voer, en dit is ook maklik die rede vir interne politiek in enige besigheid of maatskappy. Ja, selfs wanneer ons hoor van Jesus Christus en sy kruis, kan ons steeds soos die dissipels beheer word deur vleeslike kategorieë. Dit skreeu veral wanneer ons soos Diotrefes eerste probeer wees in die Kerk (3 Joh. 1:9). Daarom moet ons luister as die Here Jesus hier reeds Koninklik vanuit sittende posisie ook ons met gesag leer. 

2024/09/19

Here, kom my ongeloof te hulp!

Lees: Mark. 9:14-29

Gedagte vir kinders: Die Here Jesus kom mense te hulp wat Hom in hulle swakheid aanroep. 

Oorsig: Nadat die Here Jesus verheerlik is op die berg en drie van sy dissipels dit gesien het, het Hy saam met hulle teruggekeer na sy dissipels. Daar het ’n groot klomp mense om die dissipels vergader en daar was ook skrifgeleerdes wat met die dissipels argumenteer het. Die skare was dadelik, toe hulle Hom sien, verbaas en het na Hom gehardloop en gegroet (v.14-15). Hy het die skrifgeleerdes toe gevra waarom hulle met die dissipels argumenteer (redetwis). Een uit die skare het toe geantwoord: Meester, ek het my seun met ’n stomme gees na U gebring. En waar die gees die seun ook aangryp, (1) skeur hy hom en (2) hy kry skuim in die mond en (3) hy kners met sy tande en (4) word styf. En ek het u dissipels gevra om hom uit te dryf, en hulle kon nie.” (v.16-18). Normaalweg kon hulle, maar nie hier nie.    

Die Here Jesus het hom toe geantwoord: “O, ongelowige geslag, hoe lank sal ek by julle wees, hoe lank sal ek julle verdra? Bring hom na my toe.”(v.19). Hulle het die seun toe na Jesus gebring en toe die seun Hom sien, (1) laat die gees hom stuiptrekkings kry, en (2) hy val op die grond neer en (3) rol rond met skuim in die mond (v.20). Die Here Jesus vra toe vir die pa hoe lank dit al is wat dit die seun oorgekom het. Hy het toe geantwoord dat dit van sy kinderdae af was. Hy het uitgebrei en vertel dat die gees die seun selfs dikwels in die vuur en die water gegooi het om hom dood te maak. En toe voeg die man by: “Maar as U iets kan doen, ontferm U oor ons en help ons.” (v.21-22). Die Here Jesus het toe gesê: “’Wat dit betref – as jy kan glo, alle dinge is moontlik vir die een wat glo.” Die vader van die kind het toe dadelik met trane uitgeroep: “Ek glo, Here, kom my ongeloof te hulp!” (v.23-24).

Toe die Here Jesus sien dat ’n skare saamstroom het Hy die onreine gees bestraf en gesê: “Jou stom en dowe gees, Ek gebied jou, gaan uit hom uit en kom nooit weer in hom nie.” Nadat die gees (1) deur die seun geskreeu het, het hy hom (2) baie stuiptrekkings laat kry en toe (3) het hy uitgegaan. Die seun het gelyk (4) of hy dood is en die mense het ook gesê dat hy dood is. Maar die Here Jesus het hom (1) by die hand gegryp en (2) hom opgerig. En toe (3) het die seun opgestaan. (v.25-27). Toe die Here in die huis kom, vra sy dissipels Hom afsonderlik waarom hulle die gees nie kon uitdrywe nie. Die Here Jesus het toe gesê: Hierdie geslag (genos: KJV:soort) kan deur niks anders uitgaan as deur gebed (en vas – 53 vertaling) nie (v.28-29).  

Besprekingsvraag: Watter basiese patroon vir bediening kan ons uit hierdie gedeelte aflei? 

Insig: Ons vind die samehang van heerlike bergtop-ervarings met groot uitdagings in die dale, meermale in die Woord van God. Dink aan Moses wat van die berg afkom en die goue kalf onder die volk vind. Dink aan Die Here Jesus wat na sy doop en die stem uit die hemel, net daarna in die woestyn die satan moet trotseer. Hier is Hy pas verheerlik op die berg en die stem uit die hemel bevestig weer eens dat Hy groter is as dienaars uit die Ou en Nuwe Testament. Maar net hierna is daar die laaste genoemde groot demoniese uitdaging in Markus voor sy kruisiging. Laat ons daarom bedag wees op uitdagings na besondere hoogtepunte, maar laat ons ook Hom raaksien wat nou reeds verheerlik is in ons skynbaar hopelose situasies. Ons lees hier van uiterste gebrokenheid - ’n seun wat van kinds af verskeurd en doodsoekend is, en ’n kragtelose Kerk met twis met ander leiers in hul kragteloosheid. Kortom, hier is sprake van diegene wat die verheerlikte Christus moet verdra: ’n ongelowige geslag. Die goeie nuus is dat Hy ons wel verdra, en dat Hy selfs sy lewe oorgegee het sodat ons nie net verdra kan word nie, maar kinders van God wat groei in hulle geloof. Daarom word ons ook opgeroep om nie maar net te bly waar ons is nie, maar om hier ag te gee op sy antwoord en sy openbaring sodat ons geloof versterk kan word.

2024/09/16

Reinheid en onreinheid begin in jou hart

Lees: Mark. 7:14-23

Gedagte vir kinders: Mooi en lelike dinge begin in jou hart. 

Oorsig: Tydens die Here Jesus se bediening het sy woorde en dade bekend geword aan die godsdienstige leiers in die hoofstad van Jerusalem. Hy het egter dikwels daar in Galilea in die noorde waar Hy grootgeword het, bedien, en daarom kon hulle nie in alles vanuit Jerusalem ’n oog oor Hom hou nie. Op ’n stadium het hulle lede van die strengste godsdienstige party, die Fariseërs, asook sommige Skrifgeleerdes wat die wet ywerig saam met hulle eie mondelinge tradisie daaroor gehou het, Hom kom besoek.

Hulle sien toe dat die dissipels nie water op hulle hande gegiet het voor ete nie en daarom volgens hul rituele onrein was. Hulle het dit afgekeur (v.2). In die Ou Testament sien ons dat net die priesters onder sommige omstandighede sulke voorskrifte gehad het (Ex. 30:17-21; Num. 18:11-13). Maar in daardie tyd het die Fariseërs en die al die Jode nie geëet as hulle nie deeglik hande gewas het nie, omdat hulle vasgehou het aan die gewoontes (oorlewering/tradisie) van die ou mense (v.3). So wou hulle kontak met die heidenwêreld beperk. Nadat die Here Jesus hulle persoonlik geantwoord het (v. 4-13), het Hy die hele skare na Hom geroep om sy antwoord vir almal te verduidelik (v.14): Geen kos wat van buite af in mense ingaan, maak onrein nie, maar eerder die dinge wat van iemand se hart uitgaan. Elkeen wat ore het, moes hoor (v. 15-16).

Toe Hy weg van die skare in ’n huis gekom het, het sy dissipels oor sy gelykenis gevra (v.17). Hy het toe gevra of hulle ook so sonder verstand was. Hulle moes begryp dat alles wat van buite af in die mens ingaan, nie ingaan in die hart nie, maar in die maag en heimlik uitgaan en al die voedsel rein maak (v. 18-19). Hy het toe verduidelik dat net dit wat uit die mens se hart uitgaan, ’n mens onrein maak (v.20). Hy het toe op 12 kenmerke gewys wat van binne kom, uit die hart, en mense onrein maak: Slegte gedagtes, egbreuke (owerspelle), hoererye (porneia), moorde, diefstalle, hebsug (slegte begeertes/bedrog), boosheid, losbandigheid, afguns (bose oog), lastering, hoogmoed, dwaasheid (ligsinnigheid). Daarmee het die Here Jesus nie net die oorlewering van die ou mense oor allerhande wassinge vir gewone mense wat nie in die Bybel was, verwerp nie, maar het Hy ook duidelik gemaak dat ook sekere seremoniële wette uit die Ou Testament wat na Hom heengewys het, na sy kruis nie meer sou geld nie.

Besprekingsvraag: Waarom was daar eksterne rituele en seremonies in die Ou Verbond? 

Insig: Die Here Jesus maak dit hier duidelik dat Hy gesag het om ’n nuwe bedeling aan te kondig. Dit gaan nie daaroor dat Hy maar bloot, soos mense ook vandag, die Ou Testament bevraagteken en daarmee sanksie gee aan elke rebel wat elke heersende orde uitdaag nie. Nee, Christus eer en bevestig juis die diepste bedoeling van die wet, maar maak ook duidelik dat die koninkryk van God in Hom werklik naby gekom het. Ja, ’n nuwe era sou deur Hom aanbreek. Soos wat Noag en sy nageslag na die sondvloed toegelaat is om, anders as Adam en Eva (vgl. Gen. 1:29-30), die vleis van diere te eet (vgl. Gen. 9:3), so sou mense, nadat Jesus Christus gekom het, toegelaat word om voortaan enigiets met danksegging te kon eet (1 Tim. 4:1-4). Daarom moet ons sy saamroep van die skare verstaan as ’n verklaring wat tot vandag toe in ons ore weerklink: Hy openbaar die diepste bedoeling van die wet, wys die vervulling in Hom aan en toon ook aan waar onreinheid eintlik setel.

2024/08/24

Skoon hande, vuil harte

Lees: Mark. 7:1-14

Gedagte vir kinders: Die Here Jesus wil ons harte in die eerste plek hê. 

Oorsig: Tydens die Here Jesus se bediening het sy woorde en dade bekend geword aan die godsdienstige leiers in die hoofstad van Jerusalem. Hy het egter dikwels daar in Galilea in die noorde waar Hy grootgeword het, bedien en daarom kon hulle nie in alles vanuit Jerusalem ’n oog oor Hom hou nie. Op ’n stadium het hulle lede van die strengste godsdienstige party, die Fariseërs, asook sommige Skrifgeleerdes wat die wet ywerig saam met hoe hulle eie mondelinge tradisie daaroor, Hom kom besoek.

Hulle sien toe dat die dissipels nie water op hulle hande gegiet het voor ete nie en daarom volgens hul rituele onrein was. Hulle het dit afgekeur (v.2). In die Ou Testament sien ons egter dat net die priesters onder sommige omstandighede sulke voorskrifte gehad het (Ex. 30:17-21; Num. 18:11-13). Maar in daardie tyd het die Fariseërs en die al die Jode nie geëet as hulle nie deeglik hande gewas het nie, omdat hulle vasgehou het aan die gewoontes (oorlewering/tradisie) van die ou mense (v.3). Wanneer hulle van die mark af kom waar hulle sake gedoen het met onreine heidene, eet hulle nie as hulle nie eers gewas het nie. So het hulle ook baie ander gewoontes gehad soos die wassery van bekers en kanne en kopergoed en bedde (v.4).Die Fariseërs en Skrifgeleerdes het die Here toe gevra waarom sy dissipels nie maak soos die tradisie was nie, maar met ongewaste hande geëet het (v.5).

Die Here Jesus het toe uit Jes. 29:13 aangehaal en gesê dat dit profeteer oor hulle skynheiligheid. Jesaja het gesê dat die volk met hulle mond en lippe die Here eer, maar dat hulle hart ver van Hom is (v. 6). Dit is egter tevergeefs om leringe te leer wat net gebooie van mense is (v. 7; vgl. HK antw. 91). In hulle geval het hulle die gebod van God nagelaat om aan tradisies vas te hou. Hier was dit tradisies oor wassery van kanne en bekers en ander dergelike dinge van dieselfde soort (v.8). Hy het dit toe herhaal dat hulle dit goed verstaan om die gebod van God opsy te sit en so eerder hul tradisies te onderhou (v.9). Hy gee toe ’n voorbeeld. Moses leer in die tien gebooie om jou vader en moeder te eer (Ex. 20:12) en later selfs dat hy wat vader of moeder vloek sekerlik moet sterwe (vgl. Ex. 21:15,17). Hulle het egter gesê dat as jy sekere geld bedoel vir die ouers, as offer vir die tempel belowe, jy nie iets vir vader of moeder hoef te doen nie (v.10-12). Dit kom dan daarop neer dat jy God se wet eintlik kragteloos maak deur jou byvoegings. Hulle het ook baie ander dinge op dieselfde manier gedoen. Daarna het Hy ook die skare saamgeroep om dit vir almal verder te verduidelik (v.14).  

Besprekingsvraag: Presies wanneer en hoe raak ons moderne Fariseërs? 

Insig: Ons moet hier probeer om eers in die skoene van die Fariseërs te kom sodat die krag van Christus se vermaning ons dieper kan tref. Die Fariseërs was deel van ’n vernwuwingsbegewing onder die Jode wat seker wou maak dat God se volk weer sal uitstaan op aarde. Hulle het hulself beskou as dissipels van Moses wat sedert Josua die opdragte van die wet hou, ook soos dit mondeling voortgesit is (in die sg. halakah). Die doel was om mense te help om God se wet te onderhou. Wanneer dit weer suiwer gevolg sou word, sou die wêreld dan sien hoe God vir Israel seën. Hul basiese uitgangspunte was: (1) wees prontuit oor wat God se wil is, (2) maak baie dissipels, en (3) bou ’n heining van beskerming rondom die wet. In kontak met ’n heidenwêreld, het hulle toe  bepaalde gebruike aangeneem wat aanvanklik net vir priesters by die offers en die eet van offers nodig was (vgl. Ex. 30:17-21; Num. 18:11-13). Hulle het dus ’n soort priesterskap van alle gelowiges, sonder Christus, reeds in die ou verbond begin voorstaan. Die feit is egter dat God se Woord dit nie so beveel het nie. Boonop mis hulle die feit dat seremoniële seremonies hul vervulling vind in die koms van Christus. Daarom moet ons die vermaning hoor: (1) Ons kan deur byvoegings aan die Woord van God die gang en trajekte van die Bybel in Christus mis. (2) Ons kan deur die fokus op uiterlike kenmerke die punt mis oor wie waarlik rein is voor God.

2024/06/13

So klein en tog so groot

Lees: Mk. 4:26-34

Gedagte vir kinders: Die Woord van die Here is soos saad wat in die grond geplant word.

Oorsig: Die Here Jesus se gelykenisse spreek tot ons op ’n baie praktiese vlak en hier openbaar Hy aan ons hoe saad heenwys na sy Koninkryk. In sy bediening het Hy by geleentheid aan die mense verduidelik dat die Koninkryk van God vergelyk kan word met saad wat ’n mens in die grond gooi (v.26). En dan, na die saaiwerk, gaan slaap iemand dan en wat gebeur? Die saad spruit uit en word groot, stukkie vir stukkie en sonder dat ons verstaan hoe dit gebeur. Daar is iets so vol lewe en krag in die saad self dat dit vanself vrug voortbring. Eers is daar net die halm, maar later die aar, en dan uiteindelik die volle koring in die aar. En dan, wanneer die vrug dit toelaat, is dit tyd om die sekel in te steek en te oes, omdat die oes daar is (v.27-29).

Die Here Jesus het dit ook verder aangevul met ’n bykomende beeld. Hy het weer gevra waarmee die koninkryk van God vergelyk kan word en watter soort gelykenis daarmee kan help (v.30). Toe het hy die beeld van ’n mosterdsaad gebruik wat een van die kleinste bekende sade in daardie tyd was. En tog, wanneer dit gesaai is, kom dit op en het die groter geword as die groentesoorte. Sommige verklaarders verduidelik dat dit ’n manier gehad het om enige stuk grond in te neem. Die Here Jesus brei dan die beeld uit en stel dit voor asof dit groot takke maak vir die voëls (v.31-32). Dit herinner ons aan die beeld van Es. 17:23; 31:6 en Dan. 4:9. Daar is Israel beskryf is as die skynbare klein volkie, maar wat so uitgroei dat die voëls (nasies) by hulle tuiskom, eerder as by die Empaaier. Nou stel die Here die mosterd-struik so voor, dat dit takke uitstoot sodat die voëls van die hemel (nasies) onder sy skaduwee nes kan maak. So sou die koninkryk van God uiteindelik die vervulling wees van dit waarna Israel alreeds heengewys het.

En so het die Here Jesus ook deur ander gelykenisse die Woord tot hulle gespreek volgens wat hulle kon verstaan (v.33). Hy het nie sonder gelykenisse met hulle gespreek nie. Die rede is dat die tyd vir ander maniere voor sy kruisiging en opstanding nog nie gereed was nie. Tog het Hy afsonderlik vir sy dissipels dit alles uitgelê (v.34). En vandag is ons, die wat ore het om te hoor, in die bevoorregte posisie om om te hoor wat Hy vir die dissipels verduidelik, sowel as om in die res van die Bybel te hoor wat hy verder openbaar het aan sy apostels. En tog is die gelykenisse so ryk dat ons nooit daarmee klaarkry nie. Dit bevat beelde wat ons op ons moet laat inwerk om ’n verbeelding te ontwikkel wat gerig is op die Koninkryk van God.   

Besprekingsvraag: Hoe gee hierdie gedeelte hoop in situasies wat verlore lyk?

Insig: Ons word hier opgeroep om diep na te dink oor die wonderbare en misterieuse krag van saad en daarmee van die Woord en die koninkryk van God. Die krag van die koninkryk is bedoel om ons lewensvisie om te dop. Wat is regtig belangrik en wat het regtig mag? As ons besef wie Jesus Christus is, en hoe kragtig die skynbare klein begin is wat in Hom op die wêreld losgebreek het en steeds voortgaan, slaan dit ons asem weg. Ja, die koringkorrel moes eers in die grond val en sterf (Joh. 12:24), maar die oes was en is ontsaglik groot. Dit oortref uiteindelik selfs Empaaiers waarby mense van die aarde dikwels rus en vrede soek in ruil vir magserkenning. In en deur die Kerk van Jesus Christus word die koninkryk van God in tyd en ruimte wêreldwyd sigbaar. Selfs diegene wat daarteen wil optree, kan nie help om dit na te boots deur skole en instellings van sorg en liefdadigheid nie. Ons word daarom geroep om visie te behou vir Kerk en Koninkryk in tye van skynbare swakheid.

2024/05/29

Die Here van rus en verademing

Lees: Mk. 2:23-3:6

Gedagte vir kinders: Die Here Jesus het vir ons ware rus en lewe gebring.

Oorsig: Markus 2-3 vertel van vyf geleenthede aan die begin van die Here Jesus se bediening waar Hy homself openbaar (Vergifnis-gewer, Geneesheer en Bruidegom). Hier openbaar Hy hom as Here van die Sabbat en verduidelik wat die diepste bedoeling van die Sabbat is. Sy bediening was baie besig en dikwels het hulle nie eens tyd gehad om te eet nie (vgl. 3:20; 6:31; 8:1). So het hulle dan op ’n sekere Sabbat deur gesaaides geloop en die honger dissipels het begin om are te begin pluk (v.1). Die wet van die Here het toegelaat dat arm mense van die lande af kon eet, sonder om ekstra saam te neem (Deut. 23:25-26). Die wet het wel bepaal dat daar nie beroepswerk soos oes op die Sabbat mag plaasvind nie (Ex. 34:21).

Daar was egter Fariseërs wat gemeen het dat dit nie reg was nie. Die Here het hulle toe gewys op Dawid wat by geleentheid in nood was saam met sy manskappe en honger gehad het (let wel) en hoe hy in die huis van God (vgl. 1 Sam. 21:2-7) in die tyd van Abjatar wat later hoëpriester geword het, toonbrode geëet het wat elke Sabbat vervang is, en normaalweg net vir die priesters bedoel was (vgl. v. 24-26; Ex. 25:30; Lev. 24:5-9). Hieruit moes hulle reeds aflei dat Sabbat gemaak is vir die mens en nie die mens vir die Sabbat nie. En hulle moes hierdeur ook verstaan die Seun van die mens Here is van die Sabbat (v.27-28).  

Hierdie saak is verder gevoer toe die Here Jesus in ’n sinagoge gegaan het op die Sabbat en daar ’n man met ’n verdorde hand was. Weer het hulle hom dopgehou sodat hulle Hom kon aankla as Hy werk doen op die Sabbat (3:1-2). Die Here Jesus het egter nie weggedeins vir hulle mensgemaaktye reëls nie en vir die man met die verdorde hand gesê om op te staan in hulle midde. Toe het Hy die mense gevra of ’n mens op die Sabbat goed of kwaad moet doen, ’n lewe red of doodmaak. Hulle het stilgebly, omdat hulle nie werklik wou hoor nie (v.3-4). Die Here Jesus het hulle toe met toorn aangekyk omdat hulle nie wou uitkom vir lewe nie terwyl Hy gelyktydig bedroef was oor hulle harde harte. Hy het toe vir die man gesê: Steek jou hand uit! Die man het dit toe uitgesteek en sy hand is herstel, nie net bietjie nie, maar herstel soos die ander een (v.5). Dit het veroorsaak dat die Fariseërs gaan raad hou het met ondersteuners van koning Herodes (Herodiane). Hulle was normaalweg nie vriende met mekaar nie, maar in Jesus het hulle ’n gemeenskaplike vyand gesien wat hulle nader aan mekaar gebring het en om planne te maak hoe om Hom om te bring (v. 6; vgl. Ps. 2).    

Besprekingsvraag: Hoe wys Dawid hier heen na die bediening van Jesus Christus?

Insig: Die doel van die Sabbat, wat rus beteken, was om aan mense verademing te gee, verligting van die las van slawerny en lyding (vgl. Deut. 5:15; Ps. 84; 103:1-5). Die verbod op beroepswerk (vgl. Lev.23:24-28) was daarop gerig dat mense egte gemeenskap met God en mekaar, en daarom vernuwing en feestelikheid kon beleef. Dit was so gepas dat die Here Jesus juis op hierdie dag genees, omdat Hy die groot Geneesheer en Hersteller van lewe is. 

2024/02/23

Deurkruisde oorwinning

Lees: Mark 8:27-38

Gedagte vir kinders: Die Here Jesus is ons Verlosser omdat Hy bereid was om vir ons te sterf.

Oorsig: In sy bediening op aarde het daar ʼn belangrike oomblik in die Here Jesus se bediening aangebreek. Hulle het uitgegaan daar na die dorpe in die Noorde van Israel wat Cesarea-Filippi genoem word. Dit was die gebied waar Filippus, die seun van Herodes, die Keiser wou eer en ook sy naam daarby noem. Dit was ’n heidense gebied waar die Keiser as godheid behandel is en ook waar die Griekse god, Pan, vereer is. En juis daar, te midde van die ander godsdienste vra Hy toe vir sy dissipels wie die mense se dat Hy is (v.1). Hulle het geantwoord dat sommige sê Johannes die Doper en ander Elia, en ander een van die profete. En toe vra Hy hulle persoonlik: Maar julle, wie se julle is Ek? Petrus het toe geantwoord: U is die Christus (Gesalfde; v.28-29).     

Die Here Jesus het hulle toe streng beveel om niemand van Hom te vertel nie. Die rede is dat mense, selfs die dissipels, nog nie begryp het wat dit beteken het dat Hy die Gesalfde is nie. Hy het hulle toe begin leer dat die Seun van die Mens (vgl. Esegiël se “mensekind”; Dan. 7:13) baie moet ly en verwerp word deur die godsdienstige leiers, die ouderlinge en owerpriesters en skrifgeleerdes, en gedood word en na drie dae opstaan (v.30-31). Dit het hulle egter nie verstaan nie, maar Hy het dit reguit vir hulle gesê. Petrus het toe die Here eenkant geneem en oor sy woorde oor lyding begin bestraf. Maar die Here Jesus het Hom omgedraai na sy dissipels en hulle aangekyk en Petrus bestraf en gesê: Gaan weg agter my, satan (teenstander), want jy bedink nie die dinge van God nie, maar van die mense (v.32-33). 

Hy het toe die skare saam met sy dissipels na Hom geroep en vir hulle uitgespel wat dit beteken om Hom te volg. So iemand moet bereid wees om homself te verloën en bereid wees om die kruis op te neem, wat booswigte en slawe gedoen het wanneer hulle op pad was na hul kruisdood, die mees skandelike dood van hul tyd, en Hom so te volg. Die Here het verduidelik dat elkeen wat sy lewe wil red, dit sal verloor, maar dat elkeen wat sy lewe om die evangelie ontwil verloor, dit sal red. Hy het hulle ook gevra wat dit sal help om die hele wêreld te win, maar aan jou siel skade te ly. Want wat sal ’n mens kan gee as losprys vir sy siel? Hy het dit toe ook verder duidelik gemaak dat elkeen wat hulle vir Hom en sy woorde skaam in ’n ontroue (owerspelige) geslag, moet weet: die Seun van die mens sal Hom ook skaam wanneer Hy kom in die heerlikheid van sy Vader met die heilige engele (v.34-38).      

Besprekingsvraag: Op watter maniere kan ons steeds vandag soos Petrus hier wees?

Insig: Christus se vraag hier word uiteindelik vir ons elkeen persoonlik: Maar julle, en jy, wat sê jy van die Jesus wat onder ons kom woon het? Die plek waar Jesus dit vra, tussen die skynbaar magtigegodsdienste, toon aan dat die vraag juis gevra kan/moet word te midde van magtige heersende opinies. Ook vandag hoor ons steeds heelwat antwoorde van die tydsgees, waarvan sommige baie vroom voorkom: Hy is besonders, soos een van die profete, selfs soos Elia wat hemel in die opgeneem is (vgl. Mal. 3:1; 4:5). As ons egter in ag neem wat Christus van Homself geopenbaar en gesê het, bevredig “groot profeet” nie. Hy was of ’n duiwelse verleier en/of sielsiek met ’n god-kompleks, of Hy was wel groter as enige profeet. 

Petrus bely dat Hy die Christus is. Daarmee erken hy het dat Jesus die Gesalfde uit die geslag van Dawid is (vgl. Ps. 2:20; 89:38). In Markus is hierdie belydenis ’n draaipunt waarnatoe daar opgebou is. Maar van hier af word dit ook duidelik uitgespel wat dit beteken - dat dit op lyding en die kruis uitloop. Steeds word ons idees van sukses en oorwinning en prestasie saam met Petrus uitgedaag. 

2024/02/01

Kragtige Bediening

Lees: Mark. 1:29-39

Gedagte vir kinders: Die Kerk verkondig die Naam van die Here Jesus is en die Bose moet vlug.

Oorsig: In die vorige deel het ons gehoor van die eerste kragtige teken wat die Here Jesus gedoen het om te wys dat die koninkryk van God deur Hom naby die mense gekom het. Dit het juis op die Sabbat gebeur en in die sinagoge. Dadelik toe hulle uit die sinagoge in Kapernaum gegaan het, het hulle saam met Johannes en sy broer Jakobus, in die huis van Simon en sy broer, Andreas gekom. (v.29). Die skoonma van Petrus (hy was dus getroud; vgl. 1 Kor. 9:5) het siek gelê aan koors (Lukas, die dokter noem dit ’n hewige koors; vgl. Luk. 4:38) en dadelik het hulle die Here Jesus daarvan gesê (v.30).

Die Here het toe na haar gegaan, haar hand geneem en haar opgerig (letterlik: opgewek) en ons lees dat die koors haar dadelik verlaat het. Wat het sy toe gedoen? Sy het die mense bedien (diakoneo). Toe dit aand geword het en die son onder was (m.a.w. net na die Sabbat), het hulle na die Here Jesus almal gebring wat (1) ongesteld was en (2) van duiwels besete was (v.32). Daar was so ’n toeloop dat die hele stad eintlik by die deur saamgekom het (v.33). Baie wat aan allerhande soorte siektes gely het, het Hy gesond gemaak en baie duiwels is uitgedryf. Hy het die duiwels egter nie toegelaat om te praat nie, omdat hulle Hom geken het (v.34).

Die volgende oggend, vroeg in die more, toe dit nog diep in die nag was, het Hy opgestaan en uitgegaan en na ’n eensame plek vertrek en daar gebid (v.35). Simon (Petrus) en die wat by Hom was het Hom gevolg (gesoek), en toe hulle Hom vind vir Hom gesê: “Almal soek U.” Die Here Jesus het egter vir hulle gesê: “Laat ons na die naburige dorpe gaan, sodat Ek ook daar kan preek.” Die Here Jesus het dus nie daarin belang gestel om mense se verskillende behoeftes en nuuskierigheid te bevredig nie. Hy het sy rede ook daarna gegee oor waarom hulle na die ander naby dorpe moes gaan: “... want daarvoor het Ek uitgegaan.” (v.36-38). En so het die Here deur die hele Galilea, daar in die Noorde van Israel, rondgegaan en spesifiek in die sinagoges  twee dinge gedoen as teken van die koninkryk wat gekom het: Hy het (1) gepreek en (2) duiwels uitgedryf (v.39). Die Here Jesus het dus nie bloot sy eie ding probeer doen nie, maar aangesluit by die aanbidding van sy tyd waar die God van Israel vereer en sy Woord gehoor en geleer is. En prediking het voor duiweluitdrywing en genesing gekom.   

Besprekingsvraag: Hoe sit die Kerk van Christus vandag nog steeds sy bediening voort?

Insig: Die bediening van die Here Jesus het dit sigbaar kom toon dat die wêreld baie gebroke is, maar ook dat sy redding en genesing groter is.  Hy is die groot Geneesheer wat gekom het om liggaam en siel te verlos van die magte van die duisternis en van die Bose. Ons kan dit net begin waardeer as ons besef dat iets drasties fout is in hierdie wêreld. Die Bybel maak dit duidelik dat die wêreld besmet is deur die sondeval. Duiwels wat beheer oor mense kry, allerhande siektes en kwale en gebrokenheid is bewyse van die gevalle werklikheid waarin ons leef. Maar deur sy aardse bediening toon Jesus Christus dat Hy omvattend red en heelmaak en dat dit eendag volmaak sal wees. Die Sabbat was teken van die rus en vrede en herstel wat eenmaal volkome sal wees. Daarom was dit so gepas dat bevryding op hierdie dag gestalte sou kry. Die Kerk getuig steeds daarvan, insonderheid op die oorwinningsdag.  

Ons sien ook duidelik waartoe die Kerk van Jesus bevry word. Daarvan is die skoonmoeder van Petrus so ’n wonderlik eenvoudige teken. Die oomblik toe sy genees word, begin sy om diensbaar te wees. Let op: Ons word gered en heelgemaak om diensbaar aan ander te wees. Dit het in die kern gestaan van Christus se koms na die aarde (vgl. Mk. 9:33-37; 10:42-45). Die Kerk het deur die eeue ook bekend gestaan as die instelling wat dien en wat lyding versag.

2024/01/25

Gesagvol om te leer en te bevry

Lees: Mark. 1:21-28

Gedagte vir kinders: Die Here Jesus bevry ons van onreinheid en die bose magte. 

Oorsig: Nadat die Here Jesus sy openbare bediening begin en sy eerste dissipels geroep het, het hulle in Kapernaum gekom in die Noorde van die land, aan die noordweste kant van die see van Galilea. Dit was ’n tipe basis van operasie vanwaar hulle verder gewerk het. Hy het dadelik op die Sabbat in die sinagoge ingegaan en begin leer (v.21). Die mense was verbaas/verslae (ekplesso) oor sy leer, want dit was baie anders as dit waaraan hulle gewoond was. Hy het hulle geleer soos een wat gesag in Homself het en nie soos die skrifgeleerdes van hulle tyd nie (v.22). Die skrifgeleerdes was gewoond om heen weer na gesagvolle bronne te verwys en fyn uitgewerkte argumente daarmee saam te voer. Maar hier was iemand wat met gesag gepraat het asof (omdat) Hy ’n besondere profeet van God is.

Hierdie gesag sou ook op ’n ander manier vinnig duidelik word, want daar was ’n man met ’n onreine gees in die sinagoge wat uitgeskreeu het (v.23). Hoe het dit gelyk en geklink? Ons weet nie, maar dit is duidelik dat hierdie man nie beheer oor homself gehad het nie en onrustig was oor die gesagvolle en heerlike woorde wat uit die mond van die Here Jesus gegaan het. Hy het geskreeu dat die Here Jesus moes ophou met sy lering. Hy het ook gevra wat “’ons” (let wel) met U te doen het” en gevra of Hy gekom het om “’ons” (let wel) te verdelg. Hy het verder uitgeroep dat hy weet wie Jesus Is: die Heilige van God! (v.24). Die Here Jesus het hom egter bestraf (let wel) en met gesag gesê: “Bly stil en gaan en uit hom uit!” (v.25). Dit het glad nie gepas dat die belydenis oor wie Jesus is uit die mond van onreine geeste kom nie. 

Die onreine gees het die man toe stuiptrekkings laat kry en met ’n groot stem geskreeu en uit hom uitgegaan. Almal wat dit gesien het was verstom/verbaas (thambeo) sodat hulle onder mekaar gevra en gesê het: Wat is dit? Watter nuwe leer is dit dat Hy met gesag ook aan die onreine geeste bevel gee en hulle Hom dan ook gehoorsaam is? (v.27). Hulle het met ander woorde raakgesien dat dit wat die Here Jesus geleer het, in lyn is met sy gesag om ook onreine geeste bevel te gee en hulle Hom gehoorsaam is. Die gerug oor Jesus Christus het toe dadelik begin versprei in die hele omtrek van Galilea, daar in die Noorde van Israel.

Besprekingsvraag: Kan onreine geeste vandag ook verskuild in die Kerk aanwesig wees?

Oorsig: Die Here Jesus het gekom om die magte van die Bose en die duisternis te oorwin. Reeds in hierdie eerste wonder waarvan Markus vertel, hoor ons wat dit beteken dat die koninkryk van God naby gekom het. Dit gebeur ook op die Sabbatdag en in die sinagoge. Die Sabbat was teken van God se verbond met en bevryding van sy volk (Ex. 31:16; Dt. 5:15) en die sinagoge was die plek waar dit gedenk en die Skrifte gelees en gebid is. Dit was dus die tyd en plek wat op besondere manier getuig het van God se teenwoordigheid en bevryding. Jesus Christus en sy lering bring egter daar onreinheid en onheiligheid na die oppervlakte. Dit behoort steeds so te wees in die Kerk van Christus waar die Skrifte in Christus gesagvol uitgelê word (vgl. 1 Kor. 14:24-25). Dit maak ons ook bewus waarom gesamentlike, egte verootmoediging en skuldbelydenis, in die erediens so noodsaaklik is.     

2023/12/07

Wanneer die hemel skeur

Lees: Mk. 1:1-13

Gedagte vir kinders: Die Here Jesus se koms is goeie nuus vir die hele wêreld.

Oorsig: Die evangelie volgens Markus word soms die haastige of dringende evangelie genoem. Markus val ook sommer met die deur in die huis: Die begin van die evangelie van Jesus Christus, die Seun van God (v.1). Dit is alreeds ’n mondvol. Die woord “begin” laat dink ons aan die begin van die skepping. Markus dui aan dat hy nou van ’n nuwe begin gaan praat wat moontlik geword het deur die evangelie (blye nuus) oor die ware Seun van God. In daardie tyd is ’n keiser beskou as ’n gode-seun en dat sy regering goeie nuus vir die wêreld was. Markus dui nou aan dat hy van die ware goeie nuus gaan vertel oor die ware Koning.

Markus wys dan daarop dat daar in die profete (Jesaja 40:3) geskrywe is dat die Here sy boodskapper sou stuur wat sou uitroep dat die weg van die Here dringend gereed gemaak moet word in die woestyn (v.2-3). Uiteindelik het Johannes die Doper toe gekom en was besig om in die woestyn te doop en die doop van bekering tot vergifnis van sonde te verkondig (v.4). In daardie tyd is mense uit ander nasies wat hulle tot die God van Israel bekeer het, so gedoop, maar hier word mense uit die hele Israel en Jerusalem deur hom gedoop in die Jordaanrivier terwyl hulle hul sonde bely (v.5). Deur die Jordaan het Israel destyds in die beloofde land ingekom het en hier het mense deur Johannes ’n nuwe begin met God gemaak.   

Johannes die Doper was gekleed met kameelhare en ’n leergordel om sy heupe en het sprinkane en wilde heuning geëet (v.6). Hy het so herinner aan die klere van die profeet Elia oor wie daar groot beloftes was dat iemand soos Hy weer sou optree (vgl. 2 Kon. 1:8; Mal. 4:5-6). Johannes het vir die mense gesê dat Een wat sterker is ná Hom kom en dat hy nie eens waardig is om soos ’n slaaf sy skoenriem los te maak nie. Hy sou nie soos Johannes die mense met water doop nie, maar eerder met die Heilige Gees (v.7-8). In daardie dae het Jesus van Nasaret in Galilea gekom en is deur Johannes in die Jordaan gedoop. En dadelik het daar toe iets baie groot gebeur. Toe Jesus opklim uit die water, het die hemel geskeur (vgl. Jes. 64:1) en die Heilige Gees het soos ’n duif op Hom neergedaal (v. 9-10). Daar het ook ’n stem uit die hemel gekom: U is my geliefde Seun in wie ek ’n welbehae het (v. 11; vgl. Ps. 2:7; Jes. 42:1). Die Heilige Gees het toe vir Christus uitgedryf in die woestyn. Jesus Christus het vir veertig dae in die woestyn die satan trotseer en is versoek. So het Hy vir ons verlossing van die begin af gestry. Hy was daar saam met die wilde diere en die engele het Hom gedien (v.12-13).

Besprekingsvraag: Hoe sien ons die Drie-enige God raak in die doop van Jesus Christus?

Insig: Johannes die Doper staan met sy een voet in die Ou Testament en die ander in die Nuwe Testament. Hy verteenwoordig die oorgang tussen die ou en nuwe verbond. Dit gaan hier oor ’n aardskuddende gebeurtenis en dit word bevestig deur die hemel wat skeur (v.10; vgl. Jes. 64:1). Keiser Oktavius se geboorte is in 9 v.C. besing as blye nuus (evangelie) wat die gelaat van die wêreld vir altyd sou verander. Maar hier word die ware Verlosser bekend gestel wat die ware vervulling van God se beloftes is. Die rabbi’s het iets van die nood van die wêreld besef deur die mense te leer dat jy nog nie gebid het as jy nie gebid het vir die koms van die Messias nie. Steeds laat die Here ons vandag in situasies kom om ons te laat besef hoe nodig ons die Messias het. Markus vertel ons van die goeie nuus van die ware Messias en die radikale nuwe ding wat God in die wêreld kom doen het deur sy Gesalfde.

2023/11/29

Ontvang jou Koning bly

Lees: Mk. 11:1-11

Gedagte vir kinders: Ons Koning, die Here Jesus, is sterk en nederig.

Oorsig: Die Here Jesus was op pad na Jerusalem waar Hy vir ons sonde sou sterf. In daardie laaste week in Jerusalem sou daar baie gebeur wat uiteindelik sou lei tot sy kruisiging. Hier lees ons van die besondere manier hoe Hy in Jerusalem ingekom het. Hulle het vanaf Jerigo se kant opgekom na Jerusalem langs ’n baie steil en opdraande pad. So het hulle naby Jerusalem gekom by Betfage en Betanie wat by die Olyfberg geleë was (v. 1; vgl. Sag. 9:9; 14:4-9). Daar het Hy vir hulle gesê om na die dorp reg voor hulle te gaan (Betfage of Betanie), en dat hulle daar dadelik as hulle inkom, ’n eselsvul sal vind wat vasgemaak is en waarop niemand nog gesit het nie (vgl. Num. 19:2; Dt. 21:3; 1 Sam. 6:7; Gen. 49:10-11). Hulle moes die eselsvul dan losmaak en hom bring, en as iemand vra waarom hulle dit doen, moes hulle antwoord: Die Here het hom nodig. Dan sou die persoon dadelik die eselsvul stuur (v.2-3).

Hulle het toe gegaan en die vul net so by ’n deur buite op die straat gevind en hom losgemaak. Sommige het toe gevra wat hulle maak en hulle het toe geantwoord soos Jesus beveel het en hulle het hulle toegelaat (v.4-6). So het hulle toe die vul na die Here Jesus gebring en hulle klere daarop gelê en Hy het toe op die vul gaan sit. Toe het baie mense hulle klere op die pad gegooi en ander het takke afgekap van die bome af en dit op die pad gestrooi (v.7-8). Dit was ’n bekende gebruik wanneer mense erkenning wou gee aan ’n koning wat op pad was (vgl. 2 Kon. 9:13). Die wat voor geloop het en die wat agter gevolg het, het uitgeroep: Hosanna! (Here red ons nou). Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here! Geseënd is die koninkryk wat kom in die Naam van die Here, die koninkryk van ons vader Dawid! Hosanna in die hoogste hemele! Dit is woorde wat kom uit Ps. 118:25-26 en wat die mense ook gesing het tydens Paastyd om die Here se verlossing te herdenk. Hulle het hiermee ook uitgesien na die finale Koning uit Dawid se nageslag wat die verlossing sou inbring.

En so het die Here Jesus in Jerusalem gekom by die tempel. Daar het God bepaal dat mense Hom sou ontmoet der offers volgens sy voorskrifte. Later het die profete uitgesien na die dag wat die aanbidding in Jerusalem herstel sou wees en al die nasies daar sou aanbid. Nadat die Here Jesus alles rondom die tempel bekyk het (Net Markus vertel hiervan, iets wat Petrus blykbaar duidelik bygebly het) en omdat dit al aand was, het Hy met die twaalf uitgegaan na Betanie.

Besprekingsvraag: Waarom ry die Here Jesus op ’n eselsvul en nie op ’n mooi perd nie?

Insig: Tydens sy aardse bediening wou die Here Jesus nie dat mense Hom voortydig as Messias of Christus verkondig nie (Mk. 8:29-30). Mense sou te maklik net aan ’n aardse koning en oorwinning dink. Hier, op pad na sy kruisiging, maak Hy Homself nou as die Messias-koning uit Juda bekend (Gen. 49:10-11), uit die geslag van Dawid (v.10). Die dier wat niemand nog gebruik het nie, dui op die heilige doel, hier vir ’n vrede-koning groter as Salomo (vgl. 1 Kon. 1:32-34). Sagaria 9:9 gee ooglopend hier die betekenis: