Wys tans plasings met die etiket Hermeneutiek. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Hermeneutiek. Wys alle plasings

2024/11/19

Die vierperdewa: uitgebrei

Hierdie artikel het oorspronklik by Standpunte verskyn, wat intussen ophou bestaan het. Dit is 'n uitbreiding van 'n vroeëre plasing alhier.

Sekere debatte hoef net lank genoeg aan te hou om by die binêre sis-geluide uit te kom: “Liberalis!” “Fundamentalis!” ’n Bekende werkswyse by die FAK is egter om nie te maklik by hierdie lis-tige brandmerke ingetrek te word nie. Die rede hiervoor, so voer alternatiewe modernes aan, is dat ons dalk te maklik die onderliggende probleem miskyk. Dit kan so maklik gebeur dat die twee pole ten diepste net teenoorstaande gevalle van dieselfde verdagte uitgangspunt is. Die bekendste voorbeeld hiervan is seker die holrug onderwerp van apartheid. Toenemend vra mense vandag daarom of grondiger besinning oor iets soos gemeenskapsfederalisme nie dalk die pro en anti-retoriek in nuwe bane kan stuur nie. Hierdie gesonde soeke na dieper sake wat polarisering moontlik kan ontsluit, is verfrissend en dring ons terselfdertyd ook om die bronne van ons gevestigde tradisies met nuwe moed op te soek. 

Half-gehoor
By die opsoek van tradisies wat die toets van die tyd deurstaan het, word dit egter ook duidelik dat ’n aansluitende saak ons aandag vra. Dit is dat ons eerlik genoeg moet wees om na te gaan of ons reg laat geskied aan hoe ’n bepaalde tradisie intern sy eie vraagstukke en probleme probeer uitsorteer het. Uiteindelik sou ’n mens wel die harde vraag moes vra of ’n hele tradisie nie dalk op sand bou nie, maar dit kan eers gedoen word nadat daar deeglik geluister is. Gebeur dit nie, is ons gewoon in strooipop-land waar die opponente van ’n ander tradisie hulself eenvoudig nie herken in die karikatuur wat ons van hulle oprig nie. N.P. Van Wyk Louw se woorde aan diegene wat streng en omvattend wil dink, kan gerus maar weer afgestof word: “Streng dink is: logies dink met gebruikmaking van begrippe wat behoorlik krities ondersoek is. ... min mense besef hoe verward die begrippe is waarmee hulle hul hele lewe werk - hoe vol van hul eie vooroordele, hoe half-gehoor en hoe verweef met verkeerde assosiasies; 'n mens kan sê: hoe besoedel met emosionaliteit.”


Dink byvoorbeeld aan iets soos die klassieke liberale tradisie. Vanweë die lading wat die woord liberaal in Afrikaans dra, kan diegene wat grondig vanuit hierdie tradisie werk hulself enersyds nie herken in dit wat sekere regse Afrikaners aan hulle toedig nie, maar andersyds ook nie in dit wat sekere linkse Afrikaners van hulle maak nie. Die verskil tussen denotasie en konnotasie speel ’n baie belangrike rol as jy nugterheid wil behou in sulke gesprekke. Ons gaan nie nou verder ingaan op die verskil tussen die klassieke liberale tradisie en die glibberalisme nie. Daarvoor is daar baie meer bekwames wat die woord kan voer. Ons gaan wel in op daardie ander gewraakte woord wat die teenparty graag gebruik om diegene wat nog aan substansie en permanente dinge glo, te brandmerk en te bevraagteken: fundamentalisme. Vanweë my eie agtergrond en belangstelling gaan ek dit benader met betrekking tot hoe die saak vandag dikwels in geloof en teologie hanteer word.

Ook wanneer ons die saak van fundamentalisme in die teologie van naderby beskou, is dit belangrik om eers te onderskei tussen bepaalde tradisies en die nabootsers daarvan. Doen ons dit nie, is een van die gevolge dat groot name soos Augustinus, Thomas Aquinas, Johannes Calvyn, en soveel ander figure betrek word in ’n f-tipering wat nie reg laat geskied aan die groot erfenis wat ons van hulle ontvang het nie. As jy jou vereenselwig met die belydenis van postmoderne vloeibaarheid sal jy miskien verplig wees om die groot geeste hierbo genoem, wel so te beskou, want hulle daag inderdaad diegene uit wat meen dat realisme net in jou kop en in konvensies bestaan. Hulle doen dit egter vanuit ’n ryk metafisiese onderbou en diegene wat te gemaklik met die woord “fundamentalisme” smeertogte onderneem, behoort eerder te vra of een van die gewilde mantras van vandag nie dalk toegepas moet word met drie vingers wat terugwys nie: Jou benoeming sê dalk meer van jouself as van dit wat jy probeer herbenoem. Want om die saak vir permanente dinge onbeskaamd op die tafel te plaas, beteken nog glad nie dat jy jou oog vir verskeidenheid hoef te verloor nie. Genoemde figure was deel van ’n ryk tradisie waar daar juis gevra is hoe vastheid en variasie lieflike danse kan uitvoer asook hoe konstansie en dinamiek saam met mekaar op reis mag gaan. 

Gelaagde misterie
Om egter meer spesifiek te raak: Hoe het die groot geeste die Bybel gelees as dit dan nie as fundamentalisties beskrywe moet word nie? En hoe is dit in gesprek met die wetenskap van die dag gebring? Ons gaan vir eers net aandag gee aan hoe die Bybel gelees is, aangesien dit die eerste plek van misverstand is. Karikature begin alreeds hier en indien daar nie insig is in hoe die Skrif, die tradisie, die rede en ervaring deur die eeue ingespan is om raamwerke en interne kontroles vir geloofwaardige Bybellees te ontwikkel nie, is dit sinneloos om verder te vra hoe die gesprek van die teologie met die vakwetenskappe (let wel, nie “die wetenskap” nie) behoort te verloop. Die feit is dat die sogenaamde fundamentalistiese en primitiewe Skrifuitleg van die kerkvaders glad nie so eendimensioneel plaasgevind het as wat dit vandag soms voorgehou word nie. Inteendeel, dit was tot oorbodens toe vol van simboliese lading, dramatiese samehang, en van ontvouende en gelaagde betekenis en misterie. Die uitnemende voorbeeld hiervan is sekerlik die Middeleeuse Quadriga, 'n teologiese metode van Bybelverstaan wat vandag nog baie peste en plae binne en buite die kerk kan uitroei.

2023/05/24

Geloofwaardige getuies in sy diens

Lees: Hand. 1:12-26

Gedagte vir kinders: Daar is niks wat die Here se werk kan keer nie.

Oorsig: Na die Here Jesus se Hemelvaart, het sy dissipels vanaf die Olyfberg omgedraai na Jerusalem wat omtrent ’n sabbatsreis (ongeveer 1 km) ver was (v.12). Daar het hulle na die bovertrek gegaan waar hulle gewoonlik gebly het. Hierdie 11 apostels (sonder Judas Iskariot) se name was Petrus en Jakobus en Johannes, en Andreas, Filippus en Thomas, en Bartholomeüs (Natanael) en Mattheus, en Jakobus, die seun van Alfeus, en Simon die Yweraar (Seloot), en Judas, die seun van Jakobus. (v.12-13). Hulle het almal in dieselfde gesindheid (eendragtig) aangehou met bid en smeking, saam met hulle ’n aantal vroue asook Maria die moeder van Jesus en sy broers (v.14).

In daardie tyd het Petrus in hulle midde opgestaan toe hulle omtrent 120 was. Hy het toe vir hulle gesê dat die Skrif vervul moes word wat die Heilige Gees alreeds deur die mond van Dawid gesê het aangaande Judas wat die leier was van die wat Jesus gevange geneem het (v.15-16). Daarom het Judas die lot van hierdie bediening van verraad verkry en ’n stuk grond gekoop met sy loon van onreg en vooroor geval en oopgebars sodat al sy ingewande uitgestort het. Dit het bekend geword aan al die mense van Jerusalem en die grond is in hul eie taal Akeldama genoem wat Bloedgrond beteken (v.17-19). So staan deur reeds in Ps. 69:25 dat sy woonplek woes moet word en daar geen inwoner sal wees nie (vgl. ook Joh. 2:17 wat Ps. 69:4 aanhaal). Ook dat ’n ander een sy opsienersamp moet neem (v. 20; vgl. ook Ps. 109:8).

Petrus het toe gesê dat daar onder die manne iemand gekies moet word wat saam met hulle rondgegaan het vanaf die tyd wat die Here Jesus sy openbare bediening begin het – vanaf die doop van Johannes die Doper af tot en met die Hemelvaart. So een moes dan saam met hulle getuie wees van die Here Jesus se opstanding (v.21-22). Daar is toe twee voorgestel: Josef wat Barsabas genoem is en die bynaam Justus (betekenis: geregtigheid) gehad het, en Matthias (v. 23). Saam met sommige kerkvaders kry ons die indruk uit die name dat Matthias met net een naam wat tweede genoem word, moontlik ’n bietjie minder in aansien was. Hulle het toe gebid en gevra dat die Here wat die harte van almal ken, moes wys wie Hy uitverkies het om die dienswerk (bediening) van apostel te verkry waarvan Judas afgewyk het en na sy eie plek gegaan het. Daarna het hulle die lot gewerp en die lot het op Matthias geval. En hy is toe gekies en aangewys om saam met die elf apostels te wees (v.24-26).      

Besprekingsvraag: Is die vertelling oor Judas hier in stryd met Mat. 27:3-10?

Insig: Hoe presies is Judas Iskariot dood? Verskil dit nie met Mat. 27:3-10 nie? Die eenvoudigste verklaring is dat die Skrifgedeeltes mekaar aanvul en ons so ’n voller prentjie kry. Ons hoor so eggo’s van ’n verraderlike Absalom wat hang (Mattheus), sowel as van ’n trouelose Agab met bloedbevlekte grond (Handelinge); van selfpynigende wroeging (Mattheus; vgl. Joh. 17:12) en verbondswraak (Handelinge; vgl. Ps. 69;109). 

2022/03/03

Oom Ches vir ons tyd

Maroela Media het hierdie stuk goedgunstig geplaas. Dalk kan dit 'n reeks word:

Sommige studente begin al meewarig glimlag as ek oom Ches vir die soveelste keer aanhaal. Ek praat nou van G.K. Chesterton, veelsydige Britse Joernalis (1874-1936). “Maar hy is dan Ingels”, hoor ek iemand sê, “en hy was Rooms-Katoliek”, voeg iemand anders ingelig by. My eerste antwoord is eenvoudig dat ons Heer se genade groter is as wat ons dink. En my verdere antwoord is dalk oorbekend: God het daarvoor gesorg dat mense hom nie verafgod nie, en hom daarom maar Engelsman en Rooms Katoliek gemaak. Maar hier is my troefkaart in Afrikaner-land. Chesterton was pro-Boer tydens die Anglo-Boereoorlog. 


Hy was die tipe man wat Boere nie sal omgee om oom Ches te noem nie, want sy hart was op die regte plek. En oom Ches had ’n baie besondere gawe: Hy kon en kan vistas vir jou oopbreek wat jy eenvoudig nie sien kom het nie. En hierdie gawe is so belangrik vir elkeen van ons wat hartlik stry om minder soos murmurerende Israeliete en meer soos positiewe Kalebs te leef. Dit is ook uiters belangrik vir ’n geslag wat blykbaar dink dat die huidige opvolge van 50 skakerings van grys na die donkerder en dierliker kant toe, die enigste fassinering is wat daar is, al roep die donker ook al hoe dieper in. 

2021/10/05

Tipologie as wapen en wêreldbeskouing

Ek onthou vaagweg hoe ek iewers in my studente-dae in beleë moderne interpretasie van die Bybel, begin leer het dat sekere maniere van Bybelverstaan onaanvaarbaar is. Twee van die maniere wat slegte name gekry het was om die Bybel te psigologiseer of te tipologiseer. Die bedoeling was om so daarteen te waak dat die Bybel nie van sy betekenis in die onmiddellike verband losgemaak word vir ander agendas nie. Dit sou inlees in die Bybel tot gevolg hê en ons moes die Bybel lees vir wat daar staan, sonder om iets van buite af in te forseer.  

Wat nie vir my geleer is nie, altans nie aanvanklik in die liberale opleiding waaraan ek blootgestel is nie, is dat die Bybel altyd-alreeds  met bepaalde raamwerke benader word en dat 'n bepaalde neo-evolusionêre metode sluipend toegang kry wanneer dit nie pertinent hanteer word nie. Daar is ook nie vir my geleer dat die tipologiese lees van die Bybel van die veronderstelling  uitgaan dat die Bybel nie net op mikrovlak gelees moet word nie, maar ook op makrovlak en dat tipologie erns maak met die die makrovlak van die Bybel. Soos wat Patrick Fairbairn dit treffend verduidelik: Die kerkvaders het die Bybel in die lig van die geheel gelees, terwyl moderne eksegete geneig is om al die klem op die besondere teks in die onmiddellike konteks te wil lees. 

Ongelukkig het die huidige tydvak van fragmentering van die Teks daartoe gelei dat die tastende en tierende tipologiese visie op die geheel erg skade gely het. En tog sien al hoe meer mense in dat ons weer 'n tyd betree waar beide benaderings met nuwe vuur met mekaar mag en moet omgaan. Maar dan sal ons moet leer om tipologie te rehabiliteer en nie oor te gee aan gekaapte en verskraalde moderne opvattings daarvan nie. 

'n Lang aanhaling wat praat

Onderstaande het ek by Scott Hahn gevind. Die waarde van Hahn is dat hy dit nie bloot as metodiek aanbied nie, maar werklik help om dit as 'n omvattende idee aan die orde te stel wat jou hele uitkyk kan verlig. Tipologie kan jou wêreld omkeer. Ja dit roer aan die senuwees van jou hele wêreldbeskouing. Om dit te verduidelik, gaan ek vir Hahn self oor tipologie aan die orde stel, met een belangrike bywerking. Deur hierdie tolk gaan hy Afrikaans praat:   
 

2020/05/27

Ontvouende en gelaagde betekenis

In die vorige posaflewering het ek later 'n skakel bygevoeg wat die moeite werd is om hier ook apart te lys. Dit is in 2015 geskryf vir Standpunte. Hier is 'n aptytwekker uit die stuk vir diegene wat dalk verder wil naslaan oor die Middeleeuse Quadriga oftewel vierperdewa. Dit is natuurlik ook by hierdie kuierplek al voorheen genoem en die skrywe by Standpunte is ook van hierdie kuierplek af verder ontwikkel:

...Die feit is dat die sogenaamde fundamentalistiese en primitiewe Skrifuitleg van die kerkvaders glad nie so eendimensioneel plaasgevind het as wat dit vandag soms voorgehou word nie. Inteendeel, dit was tot oorbodens toe vol van simboliese lading, dramatiese samehang, en van ontvouende en gelaagde betekenis en misterie. Die uitnemende voorbeeld hiervan is sekerlik die Middeleeuse Quadriga, ‘n teologiese metode van Bybelverstaan wat vandag nog baie peste en plae binne en buite die kerk kan uitroei...

2020/05/24

De Lubac vir teologiese woestyne

Daar is sommige boeke wat mos maar net jou nommer het. Hulle het eenvoudig die vermoë om jou verbeelding aan die brand te laat slaan. Soms is dit sekerlik ook 'n geval van tydsberekening, want op 'n gegewe tyd en plek in jou lewe is jy net meer gereed, of eerder dalk ryp, vir sekere waarhede. Natuurlik sluit dit nie ons vra en soek uit nie en veral nie die belofte dat daar oopgemaak sal word vir die wat klop nie, maar dit is eenvoudig wonderlik wanneer op 'n woord op sy tyd vir jou 'n lafenis is soos goeie tyding uit 'n ver land. Vandag het iets hiervan my weer getref toe ek na ou aantekeninge kyk van Bryan Hollon se werk, Everything is Sacred: Spiritual Exegesis in the Political Theology of Henri de Lubac.

Hollon is eintlik hier 'n skrywer van die tweede orde, want inderwaarheid toon hy net die relevansie van Henri de Lubac se denke vir vandag aan. Ek het reeds by meer as een geleentheid hieroor in die publieke arena gepraat of geskryf. Vergelyk byvoorbeeld hierdie artikel oor die Vierperdewa. Maar my ou aantekeninge het die besef laat posvat dat sekere goud-ertse nog nie deur hierdie skrywer in die derde orde oor De Lubac, genoegsaam gedeel is nie. En in Afrikaans kan dit veral 'n bydrae wees in die veld van Hermes waar postmodernes bereid is om altyd nog 'n voordrag in die hermeneutiek aan te hoor oor die oneindige uitstel van betekenis. Nie dat hierdie bydrae dit wil aanhelp nie. Inteendeel. Maar laat my toe om die gaping te slaan terwyl nimmereindig dan ook plek maak hiervoor. En om eerlik te wees, ek interpreteer vir Hollon ruim in die lig van verdere leeswerk. Die rede is dat probeer word om die possie so bevatlik as moontlik in Afrikaans te maak, asook om aan te dui hoe reformerende ombouings dit op die beste moontlike wyse sou kon interpreteer. Nou-ja, hier gaan ons.  

Hollon wys hoe De Lubac die moontlikheid van sinvolle antwoorde anderkant hedendaagse bewegings bied - bewegings wat nogal die skaal in 'n postsekulêre rigting laat swaai. Hy gee punte vir die Postliberale en Radikale Ortodokse (RO) bewegings in die teologie, maar dan toon hy ook aan hoe De Lubac en die Nouvelle Theologie anderkant hierdie vermeldenswaardige projekte beweeg. Hier sal daar nie in diepte ingegaan word op sy betoog nie, maar daar sal wel 'n paar gedagtes deurgegee word wat soos water vir moeë lywe kan wees wat teologiese woestyne en mirage op mirage moet trotseer.

De Lubac het volgens Hollon 'n spesifieke opvatting van Christelike mistiek. Christelike mistiek kan vir De Lubac net een ding beteken en dit is vereniging met die Drie-enige God van die Christelike openbaring, en wat in Christus gerealiseer word deur sy genade (vgl. loc. 4205 van 6183). Christelike mistiek is daarom ook altyd Trinitaries. Vir De Lubac is Christelike mistiek daarom in wese niks anders nie as die deelnemende verstaan van die Heilige Skrif. Die misterie is dus deel van die betekenis en mistiek beteken, as ek reg verstaan, om die betekenis deelnemend te leer ken (vgl. loc. 4258). Die Skrif is daarom ook die prisma waardeur die Christologiese eenheid van die heelal begryp word. Sjoe, dit klink belowend, nie waar nie? Maar daar is meer.

Die geestelike eksegese van die Christelike Skrifte, soos beoefen deur die Patristiese en Middeleeuse teoloë, dien volgens De Lubac daartoe om die hele werklikheid te verlig in die lig van Christus. Vir De Lubac speel hierdie geestelike eksegese verder ’n konstitutiewe rol in die Kerk se deelname in die lewe van die Triniteit. En verder is De Lubac ook uitgesproke daaroor dat indien hierdie deelname in Christus verbygegaan word, daar verval word vanaf Christelike mistiek in natuurlike mistisisme. (vgl. loc. 4265). Maar wat kan dit alles vir ons vandag beteken?

Wel, om mee begin, dien Hollon 'n harde hou aan die geleerdes van RO-faam uit. Hy waardeer hulle wel, maar wys daarop dat die feitlik afwesige eksegetiese element van die Skrif in hulle bydraes oor die algemeen, die rede is waarom RO nie werklik anderkant die spekulatiewe dekonstruksie van die sekulêre lewe kan beweeg nie. En dit is juis hier waar hy van mening is dat De Lubac sterker nagevolg moet word deur die RO-mense wat hom as belangriker as Barth ag omdat hy die moderne dualisme oorkom het. Laat ons dan verder luister hoe De Lubac sy weergawe van Christelike mistiek toepas vanuit die Skrif. Hollon som dit op as die verstaan van die Skrif wat voortgaan vanaf geskiedenis na allegorie (d.w.s. die betekenis in Christus), na tropologie (moraliteit) in die najaag van die eskatologiese visie op God (anagogie) (vgl. loc. 4429). Ons sal langer by allegorie stilstaan, aangesien die ander fases daarin ingebed lê.

Allegorie, wat vandag so maklik as willekeurige vergeesteliking verstaan word, was volgens De Lubac egter iets heel anders in die beste hanterings van die kerkvaders. Dit was die middel waardeur die Jesus van die geskiedenis ook as die alomteenwoordige Christus gesien is en in samehang hiermee was tropologie (die morele dimensie) die wyse waardeur die Kerk kon deelneem aan Christus (vgl. loc. 4486). Wat allegorie betref, is geglo dat geestelike betekenis reeds in die geskiedenis opgesluit lê en dat dit daarom profeties ingeskryf is in die feite, en so is die alomteenwoordigheid van Christus, die Logos, dan veronderstel. Dit beteken dus dat die aanname van allegoriese interpretasie eintlik groots was. Dit is dat daar 'n ontologiese verbondenheid tussen die Ou Testament en die Messias is en nie bloot 'n ekstrinsieke (veruitwendigde) ooreenkoms nie. Du Lubac kies daarom teen die begrip tipologie omdat dit volgens hom nog te veel net op die oppervlakte bly en nie genoegsaam die volle ontologiese verbondenheid veronderstel nie. Allegoriese betekenis verenig vir De Lubac nie net die heilsgeskiedenis nie, maar ook die Kerk se teenwoordigheid en toekoms in 'n ontologiese band (vgl. loc. 4501). So vind hierdie tipe allegoriese uitleg in Christus oral ongeforseerd in die Ou Testament plaas en stel so die Kerk in staat om Christus ook oral in die hede en in die toekoms te sien (vgl. loc. 4534). Dit bied dan ook die egte grond om by die morele implikasies van die teks - tropologie - stil te staan. 

2020/03/13

Hamann en heerlike hindernisse

Hier volg sommer net 'n paar eerste indrukke, of eerder prikkels, oor Johann Georg Hamann (1730-1788). Hy word wat statuur betref, redelik algemeen as die gelyke van Kant en Hegel geag. Wat hom so besonders maak, is dat hy alreeds as vriend en tydgenoot van Kant op 'n beter alternatief gewys het. Wanneer sovele vandag nou wonder wat ons met onse postmoderne generasie en sy Z.2's moet maak, rys Hamann omhoog as grondliggende aanbieder van 'n alternatiewe post-sekulêre visie. 

Tussen John Betz en Oswald Bayer se sekondêre werke oor Hamann kan 'n Christen reeds oriënterend verlore en verwonderd raak oor hierdie baie spesiale gesant. In die agttienhonderds al kon hy die tipe lewe spreek wat aan die begin van die een-en-twintigste eeu eers meer berekend waardeer kon word vir die klare wyn wat dit is. Ja, 'n mens kan ook maklik ontsteld word dat jy nou eers van hom kennis neem. Maar dalk was jy, was ons, nog net nie gereed nie. Kyk, as iemand die postmoderne era reeds twee eeue vantevore kon antisipeer en meer nog, 'n kragtige antwoord daarop kon ontwikkel, behoort ons die hoede af te haal oor 'n man wat verbygestap het in die geskiedenis. Ons behoort ook vir mekaar te erken as ons hom aangehoor het, dat hy eintlik net kon sê wat hy gesê het as die gees van God in hom gewoon het. 'n Mens kry iets van die gevoel van ontsetting wat aan die hof van Farao en Nebukadnesar moes vaardig wees toe Josef en Daniel drome kon uitlê wat deur die waarheid daarvan reeds seggingskrag gehad het, maar ook deur die toekoms as bokant die tye geëer sou word. Praat die uwe nou in hiperbool net om aandag te trek? Laat die leser maar lees en dan self besluit, maar so van lees gepraat, kom ons begin deur sommer net vanuit Bayer se eerste bladsye te wys op hoe Hamann sy lesers uitgedaag en aangevuur het. 

Hamman skryf welbewus moeilik. Hy rig deurdag hindernisse op vir sy lesers, sê Bayer. Waarom?

2017/02/21

Teologiese sterre - stigters of getuies?

Dit maak nogal 'n verskil of jou teologiese sterre deel van 'n groter konstellasie vorm en of hulle eintlik planete word waarom jy weer en weer wentel. In die teologie is daar sekerlik vir beide benaderings 'n plek, op voorwaarde dat die Son van Geregtigheid die eintlike verwysingspunt bly. En tog is dit so dat egte katolisiteit nie maar net wil wentel rondom een ster nie, maar die volheid in die oog wil kry. Jy kan nie anders as om vanaf 'n bepaalde ster te lanseer nie, veral as dit so 'n soliede een is, maar uiteindelik is daar tog verdere vistas moontlik. 

In my eie tradisie het ek al gewonder watter verskil dit in aanpak sou maak indien Johannes Calvyn byvoorbeeld nie as enigste basiese verwysingspunt gebruik word nie (dikwels ook meer volgens hoorsê), maar konsekwent eerder as deel van 'n groter skare kerkvaders. Skaars was hierdie gedagtes koud, toe ek onlangs op 'n besinning van Nicholas Healy in verband met Thomas Aquinas afkom. Healy neem die Franse reformatoriese Rooms-Katoliek, Henri de Lubac, se deelnemende interpretasie van Aquinas oor natuur en genade in beskerming teenoor sy onlangse neo-Thomistiese kritici. Formidabele figure soos Lawrence Feingold, Ralph McInerny, Reinhard Hütter en Stephen Long getuig dat De Lubac se deelnemende Thomas-vlag nie die volle Aquinas-lading dek nie. Thomas se tekste oor natuur en genade word, veral deur Feingold se bydrae, tot op mikro-vlak oopgedek. Volgens getuies kan De Lubac se interpretasie van Thomas nie hierdie mikroskoop-behandeling deurstaan nie. Sy sogenaamde horisonverskuiwende interpretasies van die man van Aquino wat hom nie dualisties wil verstaan oor natuur en genade nie, maar eerder as 'n paradoksale eenheid, moet gevolglik met 'n rooi gesig agter gelaat word. 

Nie so vinnig nie, maan Healy egter. Hy is van mening dat daar benaderings in die interpretasie-metodiek is wat uit die oog verloor word wanneer die kamera te veel op nabyskote die aandag vestig. Luister 'n mens na Healy, besef jy vinnig dat sy woorde op meer as een groot kerkfiguur van toepassing gemaak kan word:

"De Lubac interprets Thomas as an authoritative witness to a tradition that precedes him. This is the reason why de Lubac is constantly citing earlier voices in the tradition—Irenaeus, Augustine, Gregory of Nyssa, Maximus the Confessor, Bernard of Clairvaux, Anselm — precisely in order to shed light on the teaching of Thomas Aquinas. And this is the reason why de Lubac’s writings on nature and grace are saturated with references to Scripture. Feingold, on the contrary, simply begins with Aquinas and then microscopically traces the tradition of commentary on Aquinas’s writings. In other words, Feingold takes Aquinas as constituting a tradition.

2013/07/12

As die Vierperdewa jou storm

Quadriga

Peter Leithart maak hier 'n groot aanspraak. Hy stel dat dat die Middeleeuse Quadriga, 'n metode van Bybelverstaan, baie peste en plae in die kerk kan uitroei. Voordat sy aanspraak verder aan die bod kom, is dit nodig om voor hierdie vierperdewa te staan terwyl dit op jou afstorm.

Tydens die Middeleeue kristalliseer ’n uitlegmetode vanaf die vyfde eeu wat uiteindelik as die "Vierperdewa" (Quadriga - kyk na die foto. HT:romancoins), bekendstaan. Die Quadriga word die klassieke formulering van die Middeleeuse uitlegmetode, maar dit span ook die allegoriese uitlegmetode in. Juis daarom is dit later met groot teenstand afgewys. Dit blyk egter dat min geleerdes allegorie verstaan en daarom ook nie tussen goeie en slegte allegorie kan onderskei nie. Op 'n ander keer meer daaroor. Maar luister en kyk vir nou eers na die groter prentjie van die vierperdewa. Gee dit 'n kans om jou te bestorm, en kyk of jy nie dalk simpatie ontwikkel nie.

2011/11/22

Konserwatiewe en progressiewe impulse

Die etikette "konserwatief" en "liberaal", "konserveer" en "progressief", "linkses" en "regses", sal nie gou verdwyn nie. Die belangrike vraag is egter hoe ons hierdie beskrywings gebruik en bestuur sodat ons nie net in blote brandmerkery verval nie. Twee riglyne hieroor is belangrik.

Eerstens, ons moet nooit vergeet om die volgende minimum vrae saam te neem nie: Konserwatief of liberaal volgens watter standaard? Met watter motief? Met watter eindddoel? Hierdie vrae klink dalk abstrak, maar wie hulle eerlik aan hulself en ander vra sal gou vind dat dit die hele prentjie verander. Dit gee belangrike konteks sodat ons eie blinde kolle darem so 'n bietjie kleiner kan word.

Tweedens, ons moet nooit vergeet dat die evangelie 'n tweesnydende swaard is wat beide konserveerders en progressiewes uitdaag nie. Hier is 'n onlangse vars en insiggewende bydrae wat dit vir ons in terme van die sabbat en die rus in Christus verduidelik. Dit is 'n insiggewende manier om te verduidelik hoe die evangelie weerbarstig is teenoor ons soms geykte hanterings van konserwatief en liberaal en dit bring ons hele kultuur en sosiale gewoontes in die prentjie. Ek dink nie ons kan sommer wegdoen met bogenoemde beskrywings nie. Maar een ding is seker: Ook ons woordeskat en beskrywings moet geheilig en gesuiwer word deur die lewende Woord en evangelie wat ons oorlegginge en gedagtes van die hart beoordeel (vgl. Hebr. 4:12). Die sin van die genoemde artikel is dat dit ons op 'n praktiese vlak uitdaag en aanmoedig. Dit gee nuwe visie oor waarmee ons reeds besig is en ook besig behoort te wees.

2011/11/17

Dit het jy nie verwag nie

Om die Psalms van begin tot einde te lees dwing ons om ons eie vooropgestelde idees opsy te laat staan. Dit roep ons op om ons eie persepsies as die dryfkrag agter ons blootstelling aan die Psalms opsy te laat lê. Hierdie openheid gebruik God in sy vryheid om ons uit te daag, te konfronteer en, bo alles, om te dop op wyses wat ons nie kan kontroleer of selfs verwag nie.
- Gerald Wilson, p. 245 in Interpreting the Psalms: Issues and Approaches.

2011/08/11

Dis hoe dit is - met en sonder Steve

In Suid-Afrika dink baie wat die frase "dis hoe dit is" hoor, onmiddellik aan Steve Hofmeyr en sy program(lied) op Kyknet. Steve is vir baie die voor die hand liggende eerste konnotasie. Maar daar is 'n ander kandidaat met 'n bedekte konnotasie wat baie kragtiger is. Hy kamoefleer hom met die frase "dis hoe dit is" beter as die beste voetsoldaat. Deur hierdie frase in ons monde en in ons koppe sluip hy in by ons geselskappe by die braaivleisvure, by ons debatte op verhoë, by ons wetenskapseminare. Ja, hy sluip in selfs by ons diep en minder diep mymeringe in ons badkamers. Sy van is mnr. Ologie - 'n bekende van in die wêreld van Ologieë. Maar sy naam wek oral siddering: Ide. Hy is beter bekend as ...

Ideologie kan op verskillende maniere verstaan word, sê die geleerdes vir ons. Dit kan beteken (1) dat 'n bepaalde idee buite die maat ons lewens beheers. Dit kan ook beteken (2) al daardie onbewuste aannames oor wat ons as vanselfsprekend ag ("dis hoe dit is"). Dit kan ook (3) bloot dui op 'n algemene agenda, 'n algemene opinie of algemene oortuiging. Kies jou kaart, maar weet dat hierdie kandidaat met meer as een weergawe kaart speel.

Dit is veral die "dis hoe dit is"- kaart (nr. 2) wat hier van toepassing is. Beide Protestante en Marxiste - elk uit verskillende hoek en met verskillende doelstellings - het lankal al teen hierdie streep in ons in opstand gekom. "Dis hoe dit is" kan 'n valse bewussyn wees, het hulle met vuur in hul oë en harte getuig.

2011/06/08

Wanneer ons ore oopgaan ...

Hierdie skets is baie bekend, die verhaal dalk minder. Dit is die bekende skildery wat later gebruik is as logo vir die bekende maatskappy, His Master’s Voice. Dit is gemaak deur Francis Barraud wat sy hondjie Nipper geteken het wat na ’n opwenbare grammofoon luister. In die oorspronklike skets het die hondjie geluister na ’n fonograaf silinder. Hy het op ’n kis gesit wat gesuggereer het dat sy baas binne- in was. Barraud het Nipper aangeneem toe sy broer te sterwe gekom het. Hy is aangegryp toe hy eendag gesien het hoe aandagtig Nipper na die fonograaf geluister het toe hy die stem van sy oorlede baas herken het. Barraud het die skets gemaak het en later die kopiereg aan Gramophone Company verkoop. Dit het uitgegroei tot een van die suksesvolste logo’s ooit en die handelsmerk word vandag deur verskillende maatskappye wêreldwyd gedeel.

His Master’s Voice se prentjie praat met jou hart en die beeld is lank voor die skildery reeds deur teoloë gebruik om ons verhouding met die Here te beskrywe. Calvyn het reeds gesê: ’n Hond blaf as sy baas aangeval word. Ek sal ’n lafaard wees as ek sien dat God se waarheid aangeval word en dan stilbly (Inst. 4.16.21). Kohlbrugge het die beeld van ’n baas en sy hond ook op ’n ander treffende manier gebruik. In sy verduideliking van die Heidelbergse Kategismus gee hy onder meer die volgende vrae en antwoorde:

Vraag: Wat is die dankbaarste skepsel wat God gemaak het?
Antwoord: Die hond.
Vraag: Waarin sal dan u dankbaarheid bestaan?
Antwoord: Daarin, dat ek by die genade bly, soos wat die hond by sy meester bly en my altyd weer opnuut tot hierdie genade begeef...die hond kruip juis dan die meeste na sy meester toe, wanneer hy slae van hom kry.

Karl Barth het in hierdie verband by geleentheid gesê dat die hond by Calvyn nie slegs deemoedig na sy baas toe kruip nie, maar dat hy ook wanneer sy baas hom roep en kommandeer, kan en moet opspring, blaf en byt.

Die skildery van Barraud herinner ons dat ware interpretasie begin, wanneer jóú Meester werklik gehoor word. Juis daarom kan Protestante die Reformasie vier as die tyd toe die Woord van God weer helder en duidelik gehóór is. Die lewende stem van die evangelie (viva vox evangelii) weerklink steeds, ook in ons land. Wie se ore geopen is om die Skrif waarlik te hoor, word vry, ook om hul eie leefwêreld en ander mense werklik te hoor. Effektiewe mense in God se koninkryk, hoor God nie net in sy Woord nie, maar leer ook om hierdie wêreld reg te hóór en te interpreteer sodat die regte salf vir die wonde gebring kan word. Ook om effektief te blaf en te byt as dit nodig is.
Om waarlik te hoor is baie meer ingewikkeld as wat dit dalk met die eerste oogopslag mag lyk. Die gaan oor wat die sogenaamde slim mense ons hermeneutiese probleem noem. Dit beteken in eenvoudige taal, ons probleem om te verstaan en te interpreteer. Oor die hele spektrum van menswees heen, word ons hiermee gekonfronteer. Hierdie probleem is dié gonswoord in sovele kringe. Ons het probleme om God se Woord reg te interpreteer. As wetenskaplikes het ons probleme om ons gegewens en statisitiek reg te interpreteer (omdat ons selektief is met die kritieria wat ons gebruik). Man en vrou sukkel om mekaar in die huwelik reg te interpreteer. Ouers en kinders sukkel om mekaar te verstaan. Die gemeente sukkel dikwels om die dominee te verstaan, en so kan ons aangaan.

Daar is ’n sug by ons almal dat ander ons sal verstáán vir wat ons werklik wil sê. Toegegee, Daar is dikwels verskillende interpretasies moontlik – vra maar die rugbyskeidsregters van die noordelike en suidelike halfrond! Die punt is net dat daar, soos by rubyskeidsregters, net soveel interpretasies is wat wel verdedigbaar is. Dit is juis waarom ons telkens met mekaar in gesprek moet tree. Ons het mekaar nodig om nie in ons eie wêreldjies te versmoor nie. Ons het mekaar nodig om die volheid van ’n saak te interpreteer. Die woorde, “jy hoor nie wat ek sê nie”, daag ons uit om nie op die bootjie na die kammaland van my eie wereldjie en sy interpretasies te klim nie. Daar is God en my naaste wat gehoor wil word, en so gehoor wil word dat ek reg laat geskied aan wat hulle sê.

En tog, juis dit is ons getuienis en heerlike belewenis in God se wêreld - dat ons mekaar tóg, al is dit met gestoei en genadiglik ook humor, wel kan hóór en daarom sinvoller werk en leef. Laat ons dan moeite maak met deugde soos eerlikheid, opregtheid, deursigtigheid, en werklik strewe om God en ons naaste beter te hóór. Nipper van His Master’s Voice-faam herinner ons dat dit begin by die luister na die Meester se stem. En, as ons so na sy effens skewe kop kyk, dat ernstig luister reflekteer in jou liggaamstaal.  

Hierdie pos is 'n verwerking van 'n artikel wat in Die Boodskapper van Oktober 2009 verskyn het.