2024/11/19
Die vierperdewa: uitgebrei
2023/05/24
Geloofwaardige getuies in sy diens
Gedagte vir kinders: Daar is niks wat die Here se werk kan
keer nie.
Oorsig: Na die Here Jesus se Hemelvaart,
het sy dissipels vanaf die Olyfberg omgedraai na Jerusalem wat omtrent ’n
sabbatsreis (ongeveer 1 km) ver was (v.12). Daar het hulle na die bovertrek gegaan
waar hulle gewoonlik gebly het. Hierdie 11 apostels (sonder Judas Iskariot) se
name was Petrus en Jakobus en Johannes, en Andreas, Filippus en Thomas, en Bartholomeüs
(Natanael) en Mattheus, en Jakobus, die seun van Alfeus, en Simon die Yweraar (Seloot),
en Judas, die seun van Jakobus. (v.12-13). Hulle het almal in dieselfde gesindheid
(eendragtig) aangehou met bid en smeking, saam met hulle ’n aantal vroue asook
Maria die moeder van Jesus en sy broers (v.14).
In daardie tyd het Petrus in hulle
midde opgestaan toe hulle omtrent 120 was. Hy het toe vir hulle gesê dat die
Skrif vervul moes word wat die Heilige Gees alreeds deur die mond van Dawid gesê
het aangaande Judas wat die leier was van die wat Jesus gevange geneem het
(v.15-16). Daarom het Judas die lot van hierdie bediening van verraad verkry en
’n stuk grond gekoop met sy loon van onreg en vooroor geval en oopgebars sodat
al sy ingewande uitgestort het. Dit het bekend geword aan al die mense van
Jerusalem en die grond is in hul eie taal Akeldama genoem wat Bloedgrond
beteken (v.17-19). So staan deur reeds in Ps. 69:25 dat sy woonplek woes moet word en daar geen
inwoner sal wees nie (vgl. ook Joh. 2:17 wat Ps. 69:4 aanhaal). Ook dat ’n ander
een sy opsienersamp moet neem (v. 20; vgl. ook Ps. 109:8).
Petrus het toe gesê dat daar onder
die manne iemand gekies moet word wat saam met hulle rondgegaan het vanaf die
tyd wat die Here Jesus sy openbare bediening begin het – vanaf die doop van
Johannes die Doper af tot en met die Hemelvaart. So een moes dan saam met hulle
getuie wees van die Here Jesus se opstanding (v.21-22). Daar is toe twee voorgestel:
Josef wat Barsabas genoem is en die bynaam Justus (betekenis: geregtigheid)
gehad het, en Matthias (v. 23). Saam met sommige kerkvaders kry ons die indruk
uit die name dat Matthias met net een naam wat tweede genoem word, moontlik ’n bietjie
minder in aansien was. Hulle het toe gebid en gevra dat die Here wat die harte
van almal ken, moes wys wie Hy uitverkies het om die dienswerk (bediening) van apostel
te verkry waarvan Judas afgewyk het en na sy eie plek gegaan het. Daarna het
hulle die lot gewerp en die lot het op Matthias geval. En hy is toe gekies en
aangewys om saam met die elf apostels te wees (v.24-26).
Besprekingsvraag: Is die vertelling oor Judas hier in stryd met Mat. 27:3-10?
Insig: Hoe presies is Judas Iskariot dood? Verskil dit nie met Mat. 27:3-10 nie? Die eenvoudigste verklaring is dat die Skrifgedeeltes mekaar aanvul en ons so ’n voller prentjie kry. Ons hoor so eggo’s van ’n verraderlike Absalom wat hang (Mattheus), sowel as van ’n trouelose Agab met bloedbevlekte grond (Handelinge); van selfpynigende wroeging (Mattheus; vgl. Joh. 17:12) en verbondswraak (Handelinge; vgl. Ps. 69;109).
2022/03/03
Oom Ches vir ons tyd
Maroela Media het hierdie stuk goedgunstig geplaas. Dalk kan dit 'n reeks word:
Sommige studente begin al meewarig glimlag as ek oom Ches vir die soveelste keer aanhaal. Ek praat nou van G.K. Chesterton, veelsydige Britse Joernalis (1874-1936). “Maar hy is dan Ingels”, hoor ek iemand sê, “en hy was Rooms-Katoliek”, voeg iemand anders ingelig by. My eerste antwoord is eenvoudig dat ons Heer se genade groter is as wat ons dink. En my verdere antwoord is dalk oorbekend: God het daarvoor gesorg dat mense hom nie verafgod nie, en hom daarom maar Engelsman en Rooms Katoliek gemaak. Maar hier is my troefkaart in Afrikaner-land. Chesterton was pro-Boer tydens die Anglo-Boereoorlog.
Hy was die tipe man wat Boere nie sal omgee om oom Ches te noem nie, want sy hart was op die regte plek. En oom Ches had ’n baie besondere gawe: Hy kon en kan vistas vir jou oopbreek wat jy eenvoudig nie sien kom het nie. En hierdie gawe is so belangrik vir elkeen van ons wat hartlik stry om minder soos murmurerende Israeliete en meer soos positiewe Kalebs te leef. Dit is ook uiters belangrik vir ’n geslag wat blykbaar dink dat die huidige opvolge van 50 skakerings van grys na die donkerder en dierliker kant toe, die enigste fassinering is wat daar is, al roep die donker ook al hoe dieper in.
2021/10/05
Tipologie as wapen en wêreldbeskouing
2020/05/27
Ontvouende en gelaagde betekenis
2020/05/24
De Lubac vir teologiese woestyne
Daar is sommige boeke wat mos maar net jou nommer het. Hulle het eenvoudig die vermoë om jou verbeelding aan die brand te laat slaan. Soms is dit sekerlik ook 'n geval van tydsberekening, want op 'n gegewe tyd en plek in jou lewe is jy net meer gereed, of eerder dalk ryp, vir sekere waarhede. Natuurlik sluit dit nie ons vra en soek uit nie en veral nie die belofte dat daar oopgemaak sal word vir die wat klop nie, maar dit is eenvoudig wonderlik wanneer op 'n woord op sy tyd vir jou 'n lafenis is soos goeie tyding uit 'n ver land. Vandag het iets hiervan my weer getref toe ek na ou aantekeninge kyk van Bryan Hollon se werk, Everything is Sacred: Spiritual Exegesis in the Political Theology of Henri de Lubac.
Hollon is eintlik hier 'n skrywer van die tweede orde, want inderwaarheid toon hy net die relevansie van Henri de Lubac se denke vir vandag aan. Ek het reeds by meer as een geleentheid hieroor in die publieke arena gepraat of geskryf. Vergelyk byvoorbeeld hierdie artikel oor die Vierperdewa. Maar my ou aantekeninge het die besef laat posvat dat sekere goud-ertse nog nie deur hierdie skrywer in die derde orde oor De Lubac, genoegsaam gedeel is nie. En in Afrikaans kan dit veral 'n bydrae wees in die veld van Hermes waar postmodernes bereid is om altyd nog 'n voordrag in die hermeneutiek aan te hoor oor die oneindige uitstel van betekenis. Nie dat hierdie bydrae dit wil aanhelp nie. Inteendeel. Maar laat my toe om die gaping te slaan terwyl nimmereindig dan ook plek maak hiervoor. En om eerlik te wees, ek interpreteer vir Hollon ruim in die lig van verdere leeswerk. Die rede is dat probeer word om die possie so bevatlik as moontlik in Afrikaans te maak, asook om aan te dui hoe reformerende ombouings dit op die beste moontlike wyse sou kon interpreteer. Nou-ja, hier gaan ons.
Hollon wys hoe De Lubac die moontlikheid van sinvolle antwoorde anderkant hedendaagse bewegings bied - bewegings wat nogal die skaal in 'n postsekulêre rigting laat swaai. Hy gee punte vir die Postliberale en Radikale Ortodokse (RO) bewegings in die teologie, maar dan toon hy ook aan hoe De Lubac en die Nouvelle Theologie anderkant hierdie vermeldenswaardige projekte beweeg. Hier sal daar nie in diepte ingegaan word op sy betoog nie, maar daar sal wel 'n paar gedagtes deurgegee word wat soos water vir moeë lywe kan wees wat teologiese woestyne en mirage op mirage moet trotseer.
De Lubac het volgens Hollon 'n spesifieke opvatting van Christelike mistiek. Christelike mistiek kan vir De Lubac net een ding beteken en dit is vereniging met die Drie-enige God van die Christelike openbaring, en wat in Christus gerealiseer word deur sy genade (vgl. loc. 4205 van 6183). Christelike mistiek is daarom ook altyd Trinitaries. Vir De Lubac is Christelike mistiek daarom in wese niks anders nie as die deelnemende verstaan van die Heilige Skrif. Die misterie is dus deel van die betekenis en mistiek beteken, as ek reg verstaan, om die betekenis deelnemend te leer ken (vgl. loc. 4258). Die Skrif is daarom ook die prisma waardeur die Christologiese eenheid van die heelal begryp word. Sjoe, dit klink belowend, nie waar nie? Maar daar is meer.
Die geestelike eksegese van die Christelike Skrifte, soos beoefen deur die Patristiese en Middeleeuse teoloë, dien volgens De Lubac daartoe om die hele werklikheid te verlig in die lig van Christus. Vir De Lubac speel hierdie geestelike eksegese verder ’n konstitutiewe rol in die Kerk se deelname in die lewe van die Triniteit. En verder is De Lubac ook uitgesproke daaroor dat indien hierdie deelname in Christus verbygegaan word, daar verval word vanaf Christelike mistiek in natuurlike mistisisme. (vgl. loc. 4265). Maar wat kan dit alles vir ons vandag beteken?
Wel, om mee begin, dien Hollon 'n harde hou aan die geleerdes van RO-faam uit. Hy waardeer hulle wel, maar wys daarop dat die feitlik afwesige eksegetiese element van die Skrif in hulle bydraes oor die algemeen, die rede is waarom RO nie werklik anderkant die spekulatiewe dekonstruksie van die sekulêre lewe kan beweeg nie. En dit is juis hier waar hy van mening is dat De Lubac sterker nagevolg moet word deur die RO-mense wat hom as belangriker as Barth ag omdat hy die moderne dualisme oorkom het. Laat ons dan verder luister hoe De Lubac sy weergawe van Christelike mistiek toepas vanuit die Skrif. Hollon som dit op as die verstaan van die Skrif wat voortgaan vanaf geskiedenis na allegorie (d.w.s. die betekenis in Christus), na tropologie (moraliteit) in die najaag van die eskatologiese visie op God (anagogie) (vgl. loc. 4429). Ons sal langer by allegorie stilstaan, aangesien die ander fases daarin ingebed lê.
Allegorie, wat
vandag so maklik as willekeurige vergeesteliking verstaan word, was volgens De
Lubac egter iets heel anders in die beste hanterings van die kerkvaders. Dit
was die middel waardeur die Jesus van die geskiedenis ook as die alomteenwoordige Christus
gesien is en in samehang hiermee was tropologie (die morele dimensie) die wyse
waardeur die Kerk kon deelneem aan Christus (vgl. loc. 4486). Wat allegorie
betref, is geglo dat geestelike betekenis reeds in die geskiedenis opgesluit lê en
dat dit daarom profeties ingeskryf is in die feite, en so is die alomteenwoordigheid
van Christus, die Logos, dan veronderstel. Dit beteken dus dat die aanname van
allegoriese interpretasie eintlik groots was. Dit is dat daar 'n ontologiese
verbondenheid tussen die Ou Testament en die Messias is en nie bloot 'n
ekstrinsieke (veruitwendigde) ooreenkoms nie. Du Lubac kies daarom teen die begrip tipologie omdat dit volgens hom nog te veel net op die oppervlakte bly en nie genoegsaam
die volle ontologiese verbondenheid veronderstel nie. Allegoriese betekenis
verenig vir De Lubac nie net die heilsgeskiedenis nie, maar ook die Kerk se
teenwoordigheid en toekoms in 'n ontologiese band (vgl. loc. 4501). So vind
hierdie tipe allegoriese uitleg in Christus oral ongeforseerd in die Ou Testament plaas en stel so die Kerk in staat om Christus ook oral in die hede en in die
toekoms te sien (vgl. loc. 4534). Dit bied dan ook die egte grond om by die
morele implikasies van die teks - tropologie - stil te staan.
2020/03/13
Hamann en heerlike hindernisse
2017/02/21
Teologiese sterre - stigters of getuies?
2013/07/12
As die Vierperdewa jou storm
Peter Leithart maak hier 'n groot aanspraak. Hy stel dat dat die Middeleeuse Quadriga, 'n metode van Bybelverstaan, baie peste en plae in die kerk kan uitroei. Voordat sy aanspraak verder aan die bod kom, is dit nodig om voor hierdie vierperdewa te staan terwyl dit op jou afstorm.
Tydens die Middeleeue kristalliseer ’n uitlegmetode vanaf die vyfde eeu wat uiteindelik as die "Vierperdewa" (Quadriga - kyk na die foto. HT:romancoins), bekendstaan. Die Quadriga word die klassieke formulering van die Middeleeuse uitlegmetode, maar dit span ook die allegoriese uitlegmetode in. Juis daarom is dit later met groot teenstand afgewys. Dit blyk egter dat min geleerdes allegorie verstaan en daarom ook nie tussen goeie en slegte allegorie kan onderskei nie. Op 'n ander keer meer daaroor. Maar luister en kyk vir nou eers na die groter prentjie van die vierperdewa. Gee dit 'n kans om jou te bestorm, en kyk of jy nie dalk simpatie ontwikkel nie.
2011/11/22
Konserwatiewe en progressiewe impulse
2011/11/17
Dit het jy nie verwag nie
- Gerald Wilson, p. 245 in Interpreting the Psalms: Issues and Approaches.
2011/08/11
Dis hoe dit is - met en sonder Steve
2011/06/08
Wanneer ons ore oopgaan ...
Hierdie skets is baie bekend, die verhaal dalk minder. Dit is die bekende skildery wat later gebruik is as logo vir die bekende maatskappy, His Master’s Voice. Dit is gemaak deur Francis Barraud wat sy hondjie Nipper geteken het wat na ’n opwenbare grammofoon luister. In die oorspronklike skets het die hondjie geluister na ’n fonograaf silinder. Hy het op ’n kis gesit wat gesuggereer het dat sy baas binne- in was. Barraud het Nipper aangeneem toe sy broer te sterwe gekom het. Hy is aangegryp toe hy eendag gesien het hoe aandagtig Nipper na die fonograaf geluister het toe hy die stem van sy oorlede baas herken het. Barraud het die skets gemaak het en later die kopiereg aan Gramophone Company verkoop. Dit het uitgegroei tot een van die suksesvolste logo’s ooit en die handelsmerk word vandag deur verskillende maatskappye wêreldwyd gedeel.