2013/07/12

As die Vierperdewa jou storm

Quadriga

Peter Leithart maak hier 'n groot aanspraak. Hy stel dat dat die Middeleeuse Quadriga, 'n metode van Bybelverstaan, baie peste en plae in die kerk kan uitroei. Voordat sy aanspraak verder aan die bod kom, is dit nodig om voor hierdie vierperdewa te staan terwyl dit op jou afstorm.

Tydens die Middeleeue kristalliseer ’n uitlegmetode vanaf die vyfde eeu wat uiteindelik as die "Vierperdewa" (Quadriga - kyk na die foto. HT:romancoins), bekendstaan. Die Quadriga word die klassieke formulering van die Middeleeuse uitlegmetode, maar dit span ook die allegoriese uitlegmetode in. Juis daarom is dit later met groot teenstand afgewys. Dit blyk egter dat min geleerdes allegorie verstaan en daarom ook nie tussen goeie en slegte allegorie kan onderskei nie. Op 'n ander keer meer daaroor. Maar luister en kyk vir nou eers na die groter prentjie van die vierperdewa. Gee dit 'n kans om jou te bestorm, en kyk of jy nie dalk simpatie ontwikkel nie.



Volgens die vierperdewa metode is daar vier betekenisse in elke Bybelse teks: (1) die letterlike betekenis, (2) die allegoriese betekenis (die belangrikste basis vir die leerstellinge van die kerk), (3) die “tropologiese” betekenis (wat die morele implikasies van ’n teks uitspel) en (4) die “anagogiese” betekenis (wat die eskatologiese betekenis vervat). Dit was veral David Steinmetz wat  alreeds in 1980 oortuigend betoog het dat hierdie viervoudige manier van Skrifverstaan in die ou kerk gladnie lukraak was nie. Steinmetz se sterk woorde het 'n standaardverwysing geword wat vandag nog dawer:

"Die Middeleeuse teorie van die gelaagde betekenis in die Bybelse teks, met al sy foute, het gefloreer omdat dit waar is, terwyl die moderne teorie van 'n enkele betekenis, met al sy deugde, vals is. Totdat die histories-kritiese metode krities begin raak oor sy eie teologiese fondamente en 'n verstaansteorie ontwikkel wat pas by die aard van die teks wat dit interpreteer, sal dit beperk bly, soos dit verdien, tot die gilde en die akademie - daar waar die vraag na waarheid eindeloos uitgestel kan word."

Kom ons kyk aan die hand van Steinmetz in meer diepte na die vier betekenissie. Die letterlike verstaan het gewoonlik die drie teologiese deugde - geloof, hoop, en liefde - met betekenis bedien. Die allegoriese sin het geleer wat die kerk behoort te glo en het gekorrespondeer met geloof. Die tropologiese sin het individue geleer wat hulle behoort te doen en dus ooreengestem met liefde. Die anagogiese sin het verwys na die toekoms en die kerk se verwagting en so ooreengestem met hoop. Hierdie hermeneutiese teorie het die kerk gehelp om selfs ’n moeilike gedeelte soos die einde van Ps. 137 direk te kon bid.

Die belang van hierdie hermeneutiek is in die vorige eeu weer op geloofwaardige wyse met krag laat herleef in die werk van die Rooms Katoliek, Henri de Lubac. Ook ’n gereformeerde hermeneutikus soos Vern Poyhtress wat met ’n multi-perspektiwiese benadering werk, is nie bloot afwysend teenoor die Quadriga nie:

"Die viervoudige Middeleeuse allegoriese benadering tot interpretasie, hoewel te oorvloedig, kan gesien word as 'n deurmekaar en swak geformuleerde benadering tot interpretasie wat poog om Skrifgedeeltes vanuit vermenigvuldigde perspektiewe te sien. Dit beteken dat in die besonder gevra kan word of gedeeltes 'n verwantskap het met onmiddellike proposisionele waarheid (letterlike betekenis), met morele toepassings (psigiese of morele waarheid), met vervulling in Christus en die Kerk (geestelike betekenis), of met die belofte van die hemelse Jerusalem waarna ons geskiedenis lei (anaogogiese betekenis). Die feit is dat vele gedeeltes tot 'n sekere mate al vier hierdie dimensies vertoon, tesame met ander dimensies, as ons hulle sien in die konteks van die hele kanon van die Bybel. Die allegoriese benadering sou nie so lank kon oorleef het as dit nie greintjie van die waarheid gehad het nie."

Grant en Tracy wys daarop dat baie Franciskane al vier betekenisse as van gelyke waarde beskou het, maar dat iemand soos Thomas Aquinas die letterlike betekenis as die basis vir die ander drie beskou het. Die hoofsaak van wat nou gesê is, is dit: Gaan lees Peter Leithart se artikel wat aan die begin genoem is. Ek sluit hierdie skrywe af deur die laaste twee paragrawe van sy betoog te vertaal. As dit nie belangstelling wek nie, kan  jy gerus maar 'n ander dokter vir hermeneutiese medisyne inroep:

"In 'n kerk waar die letterlike sin van die Skrif afgelag word as mite, eis die Quadriga ernstige aandag op vir ware geskiedenis asook vir die grammatiese, sintaktiese, en semantiese kenmerke van die teks waar die einste geskiedenis opgeteken is. En tog, waar baie ongeregverdig tevrede is met net die letterlike sin, toon die Quadriga dat die letterlike sin 'n toegang verleen tot die komplekse patroon van die Skrif, wat die tapisserie van die die geskiedenis self is. In 'n kerk waar die kerk se rol soms geminimaliseer word, leer die Quadriga dat die kerk se verhaal die verhaal van die Bybel is, aangesien die kerk aan Christus behoort en sy liggaam op aarde is (1 Kor. 12:12). In 'n kerk wat geplaag word deur antinomianisme, roep die Quadriga op om aandag te gee aan die opdragte van die Skrif. In 'n kerk wat aan die anderkant net soveel deur moralisme geplaag word, dwing die Quadriga ons om te sien dat die indikatief van in Christus te wees deur sy Gees, altyd voorafgaan en die enigste fondament vir gehoorsaamheid is. Waar eskatologieë ondergerealiseer is, dring die Quadriga aan dat Christus alreeds die realisering van Israel se hoop is; waar eskatologiee oorgerealiseerd is, wys die Quadriga konstant na die heerlikheid wat nog sal kom.

Dit sou te ver gaan om te sê dat die Quadriga al ons hermeneutiese siektes genees, maar dit genees wel 'n ontsaglike aantal daarvan. En nie net hermeneutiese siektes nie. Die Quadriga is nie net 'n metode van lees nie, maar 'n praktiese teologie en 'n spiritualiteit, 'n historiografie, 'n etiek, en 'n politiek, 'n manier om ons sintuie te oefen om Christus nie net oral in die Skrif te sien nie, maar oral en in alles."