2013/07/31

Die dors van jaloesie

Hier is nou 'n verklaring wat meer dinge verduidelik as wat ons dalk wil hoor. Dit help jou om 'n enigma te ontrafel. Dit is 'n raaiselagtige fenomeen wat nie net in SA manifesteer nie. Kyk egter dieper as net die voor die hand liggende toepassings in Suid-Afrika. Niemand van ons wil graag hoor dat jaloesie nader aan ons beginsels en stryde is as wat ons dink nie: "Thus it was precisely in those parts of France where there had been most improvement that popular discontent ran highest."

'n Boer in die Bothaville distrik het my vertel van sy ontnugtering toe hy opheffingswerk begin doen het op sy plaas, veral nadat hy 'n boer-van-die-jaar toekenning ontvang het. Die vakbond het skielik op hom toegesak en hy het meer probleme met sy werkers gehad as ooit tevore. Waarom? Bogenoemde artikel verduidelik die psigo-politiek ten grondslag van sulke tipe aksies.

Moet egter nie die drie vingers verbygaan wat terugwys nie. Die artikel toon aan hoe dieselfde saak ook in Frankryk plaasgevind het. Ook in Afrikaners se binnegevegte kan ons dieselfde motiewe vinnig ruik indien ons neuse oop is. Hoe meer mense dieselfde is, hoe meer begeer hulle dieselfde dinge en hoe makliker bots hulle ambisies. Enige volkstaat behoort hierdie feite deeglik te verreken. Die volgende vertaling uit die genoemde stuk moet dalk iewers gegraveer word:


"Onder die jaloerses is die dors na sosiale vooruitgang onversadigbaar. Sodra hulle een rang op die sosiale leer opgeskuif het, is hulle oë op die volgende skuif gevestig. Hulle is afgunstig op diegene wat hoër op is, maak nie saak hoe min die verskil is nie. Die feit is dat hulle meer waarskynlik jaloers sal wees op hul onmiddellike vriende of naaste mense - hulle wat net 'n bietjie beter af is - as op glanspersone of miljoenêrs wat onvergelykbaar beter af is. Die posisie van laasgenoemde skyn obereikbaar te wees, maar van die naaste wat net 'n minimale beter voordeel het, is hulle in die versoeking om te dink: 'Ek kan amper in sy plek wees.'"

Girard se insig help om dit makliker te verstaan as jy rekening hou met die verskil tussen interne en eksterne bemiddelaars van begeerte. Waar begeertes dieselfde is en die aanvraag groter as die aanbod is, is jaloesie om die draai. Die ongemaklike ding met jaloesie is dat dit een van die laaste dinge is wat ons vir onsself erken. Dit maak jou kleinlik lyk en Jaloesie en Selfregverdiging loop graag saam. Jaloesie loop ook op 'n draf-stap saam met Begeerte en Jy-Bluf-Jouself. Ons geestesgesondheid - Suid-Afrika se geestesgesondheid - sal baie beter daaraan toe wees as ons met Jaloesie en haar maatjies rekening hou.