2013/07/05

Mistasting oor gelykheid

Kom ons voltooi die mistasting trilogie met 'n derde aflewering wat ook wyer strek as ekonomie. Dit gaan oor die gebruiksfrekwensie van die woord gelyheid, meer bekend as "equality." Dit gebeur dikwels dat mense die woord in ons land gebruik om apartheid mee te demoniseer. Nou, ek dink nie dit is wys om enige tydperk uit die verlede te verheerlik as sonder sondesmet nie. Maar ek dink ook nie dit is goed om sonder nuansering en definisie die verlede te demoniseer nie. Die woord gelykheid word darem alte breedkwastig gebruik. Ilana Mercer herinner ons in haar onlangse besinning oor die Amerikaners se Independance Day aan iets wat baie meer gedebatteer behoort te word: Gelykheid voor die wet en gelykheid van regte was die oorspronklike bedoeling van die Amerikaners se onafhanklikheidsverklaring. Hulle wou dieselfde regte as die Engelse hê. Maar dit het nie terselfdertyd ook sosiale en ekonomiese gelykheid beteken nie. Dit vind geen ondersteuning in die politieke tradisie wat uit die Declaration of Independance voortgevloei het nie. Daar is wel 'n beweging wat hierdie saak verder wou laat strek, sê Mercer. Dit word die Franse Revolusie genoem. Hierdie onderskeid lyk vir my baie belangrik indien ons sinvoller wil gesels oor die verlede en hede van ons eie land.