Wanneer ’n
publikasie reeds in 1995 verskyn het, en dit spreek in 2021 steeds asof dit gister
geskryf is, het iets merkwaardig plaasgevind. Dit is die indruk waarmee Joyce
Little ’n mens agterlaat in haar publikasie, The Church and the Culture
War: Secular Anarchy or Sacred Order. Hoewel Little vanuit Rooms Katolieke
perspektief skryf, is verreweg die meeste elemente wat sy hanteer ook vir
Protestante van waarde. Ook waar ’n mens in Protestantse forsheid verplig voel
om die stem te laat hoor, is daar moontlikhede om die saak om te bou tot iets
wat steeds waarde het. Die rede is dat Little op besondere wyse die hedendaagse
wêreldbeskouing uitpak en punt vir punt weerlê met die antiek-tydlose
benadering wat oor eeue heen kom. Little toon oortuigend aan hoe al die
bekende mantras van ons dag eintlik maar net ’n (wan)orde verteenwoordig wat streef
om ’n alternatief te bied op die oorspronklike orde van God. Uiteindelik kom
dit neer op die heilige orde van God wat verruil word vir sekulêre anargie.
Volgens Little skep sekulêre anargie weer al die redes vir een of ander vorm
van tirannie wat dan noodwendig moet oorneem om ’n mate van orde te
herstel.
Boute en moere van twee teenoorstaande
ordes
In sewe hoofstukke gaan Little stelselmatig te werk om die verskillende elemente uitmekaar te haal wat opgestel word teen God se heilige orde vir die samelewing en wat die Kerk veronderstel is om te verkondig en te bewaar. Op treffende wyse lei sy in deur die hedendaagse konsep van mag vanuit veral die feminisme in teenstelling te bring met die konsep van gesag. In die opvolgende hoofstukke hanteer sy abstrakte taal teenoor geïnkarneerde taal (hfst. 2); syfer teenoor sakrament (hfst. 3), gelykstelling teenoor hiërargie (hfst. 4); keusevryheid teenoor selfgeskenkte vryheid (hfst. 5); outonomie teenoor kerklike moederskap (hfst. 6); en feministiese suspisie teenoor die vertroue van Maria as uiting van ’n nuwe Eva en van die Kerk (hfst. 7). Little sluit die werk af met ’n epiloog waarin sy twee films (Crimes and Misdemeanors vs. Groundhog Day) naby aan 1995, met mekaar vergelyk en waarin sy die uiteenlopende wêreldbeskouings in die twee films aantoon. Elkeen van Little se hoofstukke verdien selfstandige behandeling en diep nadenke. Little se boek is daarom die tipe werk wat maklik met rooiwyn gepaard sou kon gaan. Hierdie publikasie bied werklik die geleentheid vir opvoedingsinstansies om meer grondliggend na te dink oor die sogenaamde waardes wat elke instelling belangrik ag. Reeds die woord, waardes, wat ook deur een van Little se hoofstukke met Orwelliaanse nuutspraak (Orwellian newspeak) in verband gebring sou word, behoort ons te laat oorweeg of die woord norme nie ’n beter keuse is nie. En verder sou Little se werk kon help om die normes en waardes as boute en moere van ’n bepaalde wêreldbeskoulike enjin uitmekaar te haal en stuk vir stuk in oënskou te neem. In hierdie aflewering word daar oorsigtelik op die eerste hoofstuk ingegaan.