Wys tans plasings met die etiket Johannes. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Johannes. Wys alle plasings

2024/08/17

Na wie toe sal ons gaan?

Lees: Joh. 6:60-71

Gedagte vir kinders: Die Here Jesus het die woorde van die ewige lewe. 

Oorsig: Nadat die Here Jesus vir die mense verduidelik het dat Hy die Brood van die lewe is en dat sy vlees geëet en sy bloed gedrink moet word, het baie van sy volgelinge (dissipels) gesê: “Hierdie woord is hard, wie kan daarna luister?” (v.60). Vroeër wou hulle Hom met geweld Koning maak, maar sy woorde het hulle nou laat wegdraai. Tog het Hy geweet dat hulle hieroor murmureer (let wel) en hulle net gevra oor wat hulle dan sal doen as hulle die Seun van die mens sien opvaar waar Hy tevore was (v.61-62). Hy het ook verder verduidelik dat dit die Gees is wat lewend maak en dat die vlees van geen nut is hiervoor nie. Die woorde wat Hy egter tot hulle gespreek het (en tot ons), is gees en is lewe (v.63).

Hy het hulle ook daarop gewys dat daar sommige is wat nie glo nie. Hy het ook van die begin af geweet wie hulle was wat nie glo nie en wie hy was wat Hom sou verraai (v.64). Hy het toe vir hulle verduidelik dat dit om hierdie rede was dat Hy vir hulle gesê het dat niemand na Hom toe kan kom as dit hom nie deur sy Vader gegee is nie (v.65). Daarna het baie van sy dissipels teruggegaan en nie meer saam met Hom gewandel nie (v.66). Dit is toe dat die Here vir die twaalf apostels wat Hy aangestel het, gevra het of hulle nie ook wil weggaan nie (v.67).

Soos elders (vgl. Mat. 16:15-16) het Petrus ook hier namens die groep geantwoord: “Here, na wie toe sal ons gaan? U het die woorde van die ewige lewe. En ons het geglo en erken dat U die Christus is, die Seun van die lewende God.” (v.68-69). Die Here Jesus se antwoord hier was nie om Petrus op die skouer te klop nie. Hy het eerder daarop gewys dat al het Hy twaalf uitverkies om sy apostels te wees, dat een nogtans ’n duiwel was, met ander woorde, ’n instrument in die hand van die duiwel was. Daarmee het Hy Judas Iskariot bedoel, die seun van Simon. Hy sou die Here Jesus verraai en was een van die twaalf (v. 71).  

Besprekingsvraag: Watter alternatiewe soek mense op wat van Jesus Christus wegdraai? 

Insig: Jesus Christus probeer duidelik nie om sy woorde ter wille van mense aan te pas nie. As dit vir sommige tot aanstoot is en hulle Hom dan wil verlaat, moet dit maar gebeur. Dit is selfs deel van ’n bepaalde reiniging wat moet plaasvind. Hier sien ons ’n suiwering vanaf die skare, na dissipels, na die apostels self, en uiteindelik selfs onder die apostels. Natuurlik was die Here Jesus se woorde oor sy vlees en bloed op daardie tydstip moeilik verstaanbaar vir die oorspronklike hoorders. Maar diegene wat bereid was om nederig by Hom te leer (vgl. Mat    11:29), sou mettertyd beter begryp en verstaan.

2024/08/08

Om Jesus Christus te eet en te drink

Lees: Joh. 6:36-59

Gedagte vir kinders: Die Here Jesus roep ons op om in Hom te glo en by Hom te woon.  

Oorsig: Die Here Jesus het sopas in sy gesprek met die skare die groot uitspraak gemaak dat Hy die brood van die lewe is. Wie na Hom toe kom en in Hom glo, sal nooit honger of dors kry nie. Nou gaan Hy voort om dit te verduidelik. Hy wys hulle daarop dat iemand Hom miskien wel kan sien, mar Hom tog nie glo nie (v.36). Tog sal die Vader diegene aan Hom gee wat wel na Hom sal kom en Hy sal sulke mense wat kom, nooit uitwerp nie (v.37). Die Here Jesus verduidelik dan dat Hy uit die hemel neergedaal het om God se wil te doen wat Hom gestuur het. En God se wil is dat Jesus niemand sal verloor wat aan Hom gegee is nie en dat Hy hulle sal opwek in die laaste dag (v.38-39). Die Here Jesus verduidelik toe verder dat dit die Vader se wil is dat elkeen wat in die Seun glo, die ewige lewe mag hê. So iemand sal eendag in die laaste dag opgewek word (v.40).

Die Jode het toe hieroor gemurmureer omdat Hy Homself die brood genoem het wat uit die hemel neergedaal het. Hulle het mos geweet Josef is sy pa (v. 41-42). Die Here Jesus het egter geantwoord dat niemand na Hom sal kom as die Vader nie iemand trek nie. Sulke mense sal Hy wel opwek in die laaste dag. Hy haal toe uit Jes. 54:13 aan om te wys dat sulke mense deur God self geleer sal wees. Elkeen wat dit by die Vader geleer het, kom na Hom toe, maar net Jesus het die Vader self gesien (v.42-46). Toe verklaar Hy weer plegtig dat elkeen wat in Hom glo, reeds die ewige het en dat Hy die brood van die lewe is (v.47-48).

Hy het toe na hulle vaders, die Israeliete in die woestyn, gewys wat die manna geëet en tog gesterwe het. By Hom is egter die brood waardeur iemand nie sterwe nie (v.49-50).  Hy is die lewende brood wat uit die hemel neergedaal het waardeur iemand lewe tot in ewigheid. Die brood wat Hy gee is sy liggaam (vlees) wat Hy vir die lewe van die wêreld sou gee. Die Jode het toe met mekaar hieroor gestry en nie verstaan nie (v.51-52). Die Here Jesus het toe nog duideliker vir hulle gesê dat as hulle nie die liggaam van die Seun van die mens eet en sy bloed drink nie, hulle geen lewe in hulself het nie. Net sulke mense het die ewige lewe en Hy sal sulkes opwek in die laaste dag. Want net sy vlees is waarlik spys en net sy bloed waarlik drank (v.53-55). Iemand wat dit doen, bly in Hom en lewe in Hom soos wat Hy deur die Vader lewe (v.56-57). Hy is die brood wat anders as die manna  van destyds is, boord waardeur iemand tot in ewigheid lewe. Dit alles het Hy in die sinagoge in Kapernaum geleer (v.58-59) .   

Besprekingsvraag: Van Ou Testament gedeeltes is die brood van die lewe die vervulling?  

Insig: Wanneer die Here Jesus ons leer dat Hy die Brood van die lewe is, moet ons dit teen die agtergrond van die Ou Testament verstaan. Die boom van die lewe in die paradys was bedoel om tot die ewige lewe te voed. Hier openbaar Christus nou dat Hy self die brood van die lewe is. Daarmee sê Hy terselfdertyd ook aan die Israeliete wat reken dat Hy eers moet bewys dat Hy groter as Moses is, dat Hy soveel meer Moses en as manna doen. Die manna het na een dag sleg geword (Ex. 16:19-20), maar Jesus Christus gee lewe tot in ewigheid. Wie deur Hom gevoed word, sal ook opgewek word op die laaste dag. Uiteindelik bly die dood ’n verskrikking vir elke sterfling. Maar hier openbaar ons Here hoe die dood in en deur Hom getroef word. Hy is die voedsel en drank van die ewige lewe (nagmaalsformulier). Hy bied soveel meer as hemelse manna van die Ou Testament.

2024/08/03

Jou diepste honger, jou grootste dors

Lees: Joh. 6:22-35

Gedagte vir kinders: Die Here Jesus kan ons diepste honger vir ewige versadig. 

Oorsig: In Johannes 6 hoor ons van Johannes se weergawe van die vermeerdering van die vyf e brode en twee vissies. Johannes noem die sewe wonders van die Here Jesus in sy evangeliebeskrywing baie spesifiek “tekens”. Almal moet verstaan dat sy wonderwerke tekens is van iets groter en heerliker: Die Koninkryk van God wat deur Jesus Christus deurbreek in hierdie wêreld. Daarom lees ons net na die vermeerdering van die brode, van die storm waar die Here Jesus op die see loop en net daarna van sy gesprek met die skare waarin Hy die teken van die broodvermeerdering se dieper betekenis vir hulle geleidelik uitlê.

Die skare kry Jesus aan die anderkant van die meer nadat hulle oorvaar met skuite vanaf die plek van broodvermeerdering, in die omgewing van Kapernaum. En toe wil hulle weet hoe Hy daar gekom het (v.22-25). Die Here antwoord hulle vrae egter baie ondersoekend. Hy wys hulle daarop dat hulle Hom eintlik net soek omdat hulle mae vol geword het. Hy roep hulle toe op om eerder te fokus op die voedsel (spys) wat bly tot in die ewige lewe. Dit is wat die Seun van God aan hulle sal gee, want Hy is deur die Vader bevestig (verseël) as die Een wat dit sal doen (v.26-27). Hulle vra toe wat hulle moet doen om God se werk deur te voer (volbring) en die Here Jesus het geantwoord dit daarin bestaan dat hulle sal fokus op wat God doen en dat hulle glo in die Een wat God gestuur het (v.28-29).

Hulle vra Hom toe ’n teken sodat hulle in Hom kon glo. Hulle het verwys na Moses se teken van manna in die woestyn (v.30-31). Manna uit die hemel was tog ’n groter werk as brood op aarde wat vermeerder. Die Here antwoord toe dat hulle moet besef dat dit nie Moses was die brood uit die hemel gegee het nie, maar sy Vader en dat Hy die ware brood gee. En die brood van God is hy wat uit die hemel neerdaal en aan die wêreld die lewe gee (v.32-33). Hulle vra toe om altyd aan hulle hierdie brood te gee (v.34). Dit is toe dat die Here antwoord met een van sy sewe “Ek is”-uitsprake in Johannes: “Ek is die brood van die lewe; wie na My toe kom, sal nooit honger kry nie; en wie in My glo, sal nooit dors kry nie” (v.35). Die volk in die woestyn het aanvanklik nie die manna herken toe dit aan hulle gegee is nie en hierdie mense herken nie die Here Jesus nie. Maar Hy verduidelik dat hulle Hom moet leer erken as die ware brood uit die hemel. Die manna en die broodvermeerdering het eintlik na Hom heengewys. Hyself, die brood van die lewe, die Here Jesus, kan ons geestelike honger en dors vir ewig versadig.   

Besprekingsvraag: Hoe leer ken ons die Here Jesus as die brood van die lewe?   

Insig: Hierdie skare doen iets voortreflik. Hulle soek na die Here Jesus. En hulle kry hom uiteindelik. En tog, in die vind van Christus, konfronteer Hy hulle oor hulle eintlike motiewe. Dit gaan meer vir hulle oor hulle versadiging deur die fisiese brood (v.26). Hulle wou hom aanvanklik alreeds by die vermeerdering van die brood met geweld Koning maak (v.15), maar waarom? Om ’n aardse koning te hê wat hulle kan versorg en bevry van Rome? Beide ’n teologie van patriotisme sowel as ’n teologie van bevryding kan verkeerde motiewe hê. Waarom is Christus nou eintlik vir jou belangrik? Wil jy Hom dalk ook eintlik net inspan vir een van jou begeertes of agendas?

2024/05/22

Die Koninkryk en wedergeboorte

Lees: Joh. 3:1-17

Gedagte vir kinders: Elkeen wat in die Here Jesus Christus glo, sal nie verlore gaan nie.

Oorsig: In Johannes 3 hoor ons die eerste keer in hierdie evangelie hoe die Here Jesus sy lering uitspel. Hy doen dit teenoor ’n man uit die Fariseërs met die naam van Nikodemus wat ’n leier (owerste) was van die Jode (v.1). Die Fariseërs was godsdienstige mense wat meer op hulle tradisies gesteld was as op die Woord van God. Hierdie Nikodemus het in die nag na Jesus gekom en gesê: “Meester (Rabbi), ons weet dat u ’n leraar is wat van God gekom het, want niemand kan hierdie tekens doen wat U doen as God nie met hom is nie.” (v.2). ’n Mens sou verwag dat die Here Jesus hom hieroor sou prys, maar Hy het geweet dat sommige mense se geloof maar baie oppervlakkig is en wat die mens  se diepste probleem was (vgl. 2:23-25).

Die Here antwoord Nikodemus toe dadelik oor die koninkryk: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie.” (v.3) Nikodemus het nie verstaan nie en gevra hoe iemand wat oud dan weer deur die skoot van sy moeder gebore kan word (v.4). Jesus het toe geantwoord dat dit beteken dat iemand uit water en Gees gebore moet word om die koninkryk van God in te gaan (v.5; vgl. Es. 36:25-27) Hy het verder verduidelik dat net die sondige vlees uit sondige vlees gebore kan word, en dat net die Heilige Gees die geboorte deur die Gees kan bewerk (v.6). Hy het bygevoeg dat Nikodemus hom nie oor die uitspraak moet verwonder nie, en verduidelik dat dit gebeur soos die wind wat waai waar hy wil, maar dat ons nie weet vanwaar die wind kom of waarheen dit gaan nie. En tog sien ons die werking van die wind. Nikodemus het toe gevra hoe hierdie wonderlike saak in mense se lewe kan gebeur (v.7-9).         

Die Here het toe vir Nikodemus gevra waarom hy, leraar van Israel, nie hierdie dinge weet nie (v.10). As hulle sy (“ons”) getuienis oor die aardse wedergeboorte nie glo nie, hoe sou hulle die hemelse kant glo? (v.11-12). Dit behels dat niemand kan opvaar in die hemel nie, behalwe Hy, die Seun van die mens, wat uit die hemel neergedaal het (v.13). En soos Moses die slang in die woestyn verhoog het, so moet Hy verhoog word sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê (v. 14-15; vgl. Num. 21:4-9). Die rede is dat God die wêreld so lief gehad het dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê. Want die Seun is nie in die wêreld gestuur om te veroordeel nie, maar eerder om te red. (v.16-17). 

Besprekingsvraag: Hoe is die Persone van die Drie-eenheid elk betrokke by ons redding?

Insig: Ons kyk na hierdie bekende grootse gedeelte tydens Triniteit-Sondag en fokus daarom hier saam met die gang van die Teks eers op die werk van die Gees (v. 4-9), dan die Seun (v.10-15) en dan die Vader (v.16-17). Eerstens dan: Die koninkryk van God kan net vir ons ’n werklikheid word deur die werk van die Gees. Johannes koppel dit ook aan water (v.5; vgl. Joh. 1:33; 4:10, 13-14; 7:37-39). Beide Lutherane en Rooms Katolieke verbind hierdie werk van die Gees daarom ook direk aan die doop (vgl. Hand. 22:16; Tit. 3:5). Gereformeerdes erken ook die band, maar sien dit nie so direk nie (vgl. Gal. 3:26,27; Kol. 2:12, Ef. 5:26; NGB 34; HK 26-27). Uiteindelik getuig die Doop wel kragtig van die reiniging en nuwe lewe in Christus deur sy Gees wat gepaard gaan met nuwe harte (Es. 36:25-27). Die Doop getuig van en roep na die wonderbare werking van die Gees wat intiem daarmee verbind nis. Dit kan voor, tydens of na iemand se Doop gebeur, maar die water en die Gees getuig uiteindelik saam van die heerlikheid van die nuwe verbond waarin iets gebeur wat net God se Gees in ons kan doen. Dit is misterieus en ontembaar soos die wind en ons kan dit nie verklaar nie, maar ons sien die werkinge in mense se lewens. En dit bevestig dat daar radikaal iets fout is met die gevalle mens. Nie afkoms of voortreflikheid kan ons daaruit help nie. Iets van Bo is nodig wat net die Gees kan doen.

2024/03/12

Kyk na die Gekruisigde

Lees: Joh. 3:14-21

Gedagte vir kinders: God het die wêreld so lief gehad dat Hy Jesus Christus vir ons gegee het.

Oorsig: Ons lees hier van Nikodemus, ’n man uit die Fariseërs, wat soekend was en in die nag na Jesus gekom het. Die Here het hom toe geleer van ’n nuwe geboorte wat nodig is as iemand die koninkryk van God wil sien. Nadat Hy telkens vir Nikodemus daarop gewys het dat dit iets is wat net God kan doen en Nikodemus radeloos was oor hoe so iets kan gebeur, het die Here hom terug verwys na ’n besondere gebeurtenis in die Ou Testament toe die Israeliete met ’n houding 9murmureer) teenoor God gekla het. Die Here het toe slange onder die volk gestuur om hulle oor hul ondankbaarheid te straf (vgl. Num 21:4-9). Toe die volk besef het dat hulle besig was om te sterwe, het hulle tot die Here geroep en God het Moses toe bevel om ’n koperslang op ’n paal op te rig en dat almal wat na hierdie koperslang “kyk”, sal lewe.

En toe leer die Here vir Nikodemus en ons dat net soos die koperslang daar op ’n paal die weg tot genesing en nuwe lewe was, so sal Hy ook verhoog moet word om lewe te gee (v.14). Dit beteken dat Hy aan ’n kruis verhoog moes word bo die aarde en uiteindelik in die hemel.  Sodat elkeen wat in Hom glo nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe sal hê. En toe het Hy dit nog verder verduidelik in die heerlik bekende woorde: “Want so lief het God die wêreld gehad dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê” (v.15-16).

Die Here het toe verder verduidelik dat God sy Seun juis nie in die wêreld gestuur het om die wêreld te veroordeel nie, maar dat die wêreld deur Hom gered kan word (v.17). Elkeen wat in Hom glo, word eenvoudig nie veroordeel nie. Aan die ander kant,  die Een wat nie in hierdie wonderlike antwoord van God glo nie, is alreeds veroordeel omdat hy nie geglo het in die Naam van die eniggebore Seun van God nie (v.18). En die oordeel is dit: dat die lig in die wêreld vol duisternis ingekom het, maar dat mense die duisternis liewer gehad het as die lig, omdat hulle werke boos was (v.19). Dit werk eenvoudig so dat elkeen wat kwaad doen, die lig haat en sy bose werke nie bestraf wil hê deur die lig nie (v.20). Aan die ander kant is dit so dat hy wat die waarheid doen, na die lig kom, sodat sy werk openbaar kan word, dat hulle in God gedoen is (v.21). Dit laat ons besef hoe nodig ons Jesus Christus het wat ons kan reinig sodat ons kans sien om in die lig te kan staan (vgl. 1 Joh. 1:7,9).    

Besprekingsvraag: Wat leer ons oor die eenvoud van die evangelie in die woord “kyk”?

Insig: In Joh. 3 hoor ons van twee kante af wat nodig is om vry te kom van die sonde wat ons so diep en terminaal aangetas het. In die eerste gedeelte (v.1-12) verneem ons van die aardse dinge wat vir mense nodig is om nuut te word. Nikodemus was veronderstel om te weet dat iets drasties nodig is. Hy moes ten minste geweet het van Israel se doodstoestand in die ballingskap en Esegiël se wonderlike beloftes oor ’n nuwe gees en water wat uitgegiet word wat heerlik reinig (vgl. Es. 11;19; Es. 36:25-27). Hy moes tog ook geweet het dat dit in lyn was met die profete wat reeds voor en na na Esegiël hierop gewys het en dat dit in verband gestaan het met die nuwe daad van God (vgl. Jes. 44:3; Jer. 31-34; Joel 2:28-29). Die hele Ou Testament loop daarop uit dat alles vasgeloop het en dat iets nuut nodig is. Dit is ook tekenend van ons eie vleeslike lewe. Daarvan getuig reeds die groot beloftes van die profete. In die tweede gedeelte (v.13-21) verneem ons watter hemelse dinge hiervoor nodig is. 

2024/03/01

Ons nuwe tempel

Lees: Joh. 2:13-25

Gedagte vir kinders: Die Here Jesus is ons tempel deur wie ons God aanbid.

Oorsig: Ons lees in Johannes, anders as in die sinoptiese evangeliebeskrywinge, drie keer van ’n Pasga in Jerusalem (vgl. Hfst. 2,6,18-19). Dit is hoe ook hoe ons aflei dat die Here Jesus se bediening ongeveer drie jaar lank was. Hier verneem ons van die eerste keer toe die Here Jesus opgegaan het na Jerusalem vir die Pasga. Die mense wat ver gekom het, kon hulle diere verkoop, met die geld reis na Jerusalem, en daar dan met die geld diere koop wat hulle as offers kon bring (vgl. Dt. 14:24-26. Let op die oorvloedige lewe hieroor). Ongelukkig het sommige besigheidsmense, die geldwisselaars, die situasie ook uitgebuit om geld te maak (toerisme-strik). Boonop lyk dit of hulle die markplek vir die diere saam met die geldwisselaars sommer verskuif het na die tempel self, daar in die buitehof waar die heidene toegelaat is om te kom bid (v.13-14; vgl. Mark. 11:15-17; Jes. 56:7; 2 Kr. 6:32-35).

Die Here Jesus het toe ’n sweep van toutjies gemaak en almal uit die tempel uit gedrywe, ook die skape en die beeste. Die kleingeld van die wisselaars het Hy uitgegooi en hulle tafels omgekeer. Hy het toe spesifiek vir die duiweverkopers gesê om hulle dinge daar weg te neem:  “Moenie die huis van my Vader (let op) ’n handelshuis maak nie.” (v.15-16). Sy dissipels het toe onthou dat daar geskrywe is in Ps. 69:10: “Want die ywer vir u huis het my verteer ...” Die Jode het toe vir Hom gevra-antwoord watter teken Hy kan toon wat Hom die reg gee om hierdie dinge te doen? Die Here Jesus het toe geantwoord: “Breek hierdie tempel af, en in drie dae sal Ek (let op) dit oprig.” Die Jode het toe gesê dat daar al 46 jaar aan die tempel gebou word (sedert 20 v.C. tot 64 n.C.). Hoe sou Hy dit in drie dae regkry om dit op te rig? (v.17-20).

Die Here het egter oor die tempel van sy liggaam gespreek. Toe Hy later opgestaan het uit die dode, het sy dissipels onthou dat Hy dit vir hulle gesê het. Voor sy opstanding was dit egter net vir hulle  uitdrukking/gesegde wat hulle nie verstaan het nie. Daarna het hulle dit beter verstaan en die Skrif geglo (vgl. Ps. 16:10-11) asook die woord wat Jesus gespreek het (v.21-22). En daar, tydens die Pasga in Jerusalem, het baie ook alreeds in sy Naam geglo omdat hulle die tekens gesien het wat Hy daar gedoen het. Maar die Here Jesus het Hom nie aan hulle toevertrou nie, maar Hy het almal geken, selfs sy eie dissipels. En Hy het nie nodig gehad dat iemand vir Hom sou getuig van wat in mense se diepste harte aangaan nie (v.23-25).          

Besprekingsvraag: Watter tempel is afgebreek en watter tempel is uiteindelik opgerig?

Insig: Die belangrikste stad in Israel was Jerusalem, die stad van Koning Dawid, en die belangrikste plek in Jerusalem was die tempel. Politiek en godsdiens is plofbare sake. Wie by oor tempelsake moeilikheid maak, kry vinnig met geweld te doen (vgl. Hand. 19). Hierdie tweede groot tempel deur Herodes begin bou, na die eerste tempel van Salomo was boonop besonder groots, een van die wonders van die antieke wêreld. Daar is reeds 46 jaar daaraan gebou en daar sou nog 37 jare gebou word tot die pragstuk klaar was. En tog was dit net vir ses jaar voltooi gewees voor dit tot die grond verwoes is in 70 n.C. Waarom? Omdat Jerusalem die boodskap van die beloofde Messias verwerp het (Luk.19:43-44). Wat is sy boodskap?

2023/12/13

’n Ware getuie van die koms van Christus

Lees: Joh. 1:6-8, 19-28

Gedagte vir kinders: Gestuurdes van die Here wys nie na hulleself nie, maar na Jesus Christus.

Oorsig: Johannes begin sy Evangelie deur te vertel van die Woord, Jesus Christus, wat in die begin by God was en self ook God was (v.1-4). Hy vertel dan dat daar in Hom die lig van die lewe was. En dan slaan die evangelieskrywer oor om te wys op ’n man wat deur God gestuur was en wie se naam Johannes (die Doper) was. Johannes was self nie die lig nie, maar moes kom om van die lig, Jesus Christus, te getuig (v.6-8). Johannes het begin deur die wêreld in opskudding te bring deur mense tot bekering te roep en hulle te doop in die Jordaan, ver weg van Jerusalem waar die tempel was. Dit het herinner aan Esegiël (36:25) se belofte dat die Here eendag skoon water op hulle sou giet dat hulle rein kan word. Johannes was boonop aangetrek soos Elia (vgl. 2 Kon. 1:8) en die mense het gewonder of hy die Elia is wat die Here belowe het deur Maleagi (Mal. 3:1; 4:5) en wat voor Hom sou uitgaan.

Die Jode het toe uit Jerusalem priesters en Leviete gestuur om hom te vra: Wie is u? (v.19). Johannes het dit toe baie duidelik erken dat hyself nie die Messias (die Christus) is nie (v.20). Hulle vra hom toe of Hy Elia is (vgl. Mal. 4:5) en of Hy die profeet is (vgl. Dt. 18:15-22). Telkens het hy nee geantwoord (v.21). Dit is dus duidelik dat Johannes oor drie sake pertinent nee geantwoord het: Hy is nie die Christus, of Elia self wat weer opgestaan het, of die Profeet wat Moses belowe het nie. En toe vra hulle hom wie hy dan wel is sodat hulle antwoord kan gee aan die wat hulle gestuur het (v.22).       

Johannes het toe geantwoord dat hy die stem is van een wat roep in die woestyn soos die profeet Jesaja (40:3) het: Maak die pad van die Here reguit. Dit beteken dat hulle gereed moes maak om die Here te ontvang (v.23). Die wat gestuur was, was uit die Fariseërs. Dit was ’n beweging wat die toewyding aan God onder die mense wou vernuwe, maar hulle het dit gedoen deur allerhande bykomstige dinge uit hulle tradisie by die Here se Woord te voeg. Hulle vra hom toe waarom hy die mense doop as hy dan nie die Christus of Elia of die profeet was nie (v.24-25). Johannes het hulle toe geantwoord dat hy wel met water doop, maar dat onder hulle Iemand staan wat hulle nie ken nie. Hierdie een het na hom gekom, maar het voor Hom geword en hy is nie eens waardig om sy skoenriem los te maak nie (v.26-27). Dit alles het gebeur in Betábara aan die oostekant van die Jordaan waar Johannes besig was om te doop (v.28). Dit is waar die volk aanvanklik in die land Kanaän ingekom het.

Besprekingsvraag: Watter redes was daar om Johannes die Doper as eg te beskou?

Insig: Jerusalem, met hul Sanhedrin en die gestuurde priesters en Leviete en Fariseërs in die agtergrond, neem kennis dat daar ver by die Jordaan iets aan die gang is. As geestelike leiers was hulle veronderstel om die tekens te onderskei. Hulle moes tog voorgeloop het om na te speur oor die koms van die Messias en sy boodskapper met optrede wat daarmee in lyn is. Mag en posisie en eie tradisies en gebruike wat die Woord ontkrag, lei egter tot geestelike blindheid en kollektiewe illusies. 

2023/04/29

Omvou en uitgestuur

Lees: Joh. 20:19-31

Gedagte vir kinders: Hulle wat in Jesus glo, sonder dat hulle Hom gesien het, is baie gelukkig.

Oorsig: Die Here Jesus het uit die dood opgestaan op die eerste dag van die week. Op daardie dag, in die aand, het die dissipels bymekaar gekom en die deure gesluit uit vrees vir die Jode. Maar Jesus het skielik in hulle midde gestaan en vir hulle gesê: “Vrede vir julle!” Daarna het Hy sy hande en sy gewys om te bevestig dat dit Hy was, en toe was die dissipels verskriklik bly (v. 19-20). Die Here Jesus het toe weer vir ’n tweede keer vir hulle gesê: “Vrede vir julle!” En Hy het hulle toe ’n opdrag gegee: “Soos die Vader My gestuur het, stuur ek julle ook.” Daarna het Hy op hulle geblaas en gesê: “Ontvang die Heilige Gees.” (v.21-22). Hy het vir hulle gesê dat as hulle die mense hulle sondes vergewe, dan sou dit vergewe word, en as hulle die mense se sondes teen hulle hou, sou dit teen hulle gehou word (v.23; vgl. Mt. 16:19).

Thomas, wat een van die 12 apostels was en Didimus (tweeling) genoem is, was nie saam daar toe dit gebeur het nie. Toe die ander hom vertel dat hulle die Here gesien het, het hy in ongeloof geantwoord dat as hy nie die merke van die spykers en die spies sien aan sy hande en sy sien en daaraan raak nie, sal hy nooit glo nie (v.24-25). En toe kom die Here Jesus Thomas se ongeloof sowaar tegemoet. Want agt dae daarna (sewe dae in ons taal, want die Jode het die dag wat dit gebeur het saamgetel), met ander woorde weer op die eerste dag van die week, het dit weer gebeur. Die dissipels was saam met Thomas binne met die deure gesluit. En Jesus het gekom en in hul midde gestaan en weer gesê: “Vrede vir julle!” (v.26).

Daarna het Hy vir Thomas gesê om sy vinger te bring en in sy hande te kyk, en om sy hand in sy sy te steek. En Hy het hom opgeroep om nie ongelowig te wees nie, maar gelowig. Thomas het Hom geantwoord (let wel, nie maar bloot ’n uitroep in die lug gegee nie): My Here en my God! (v.27-28). Daarmee het hy bely dat Jesus God is, soos Johannes reeds in die eerste hoofstuk gesê het (1:1). Hy het daarmee ook bely dat Jesus sy persoonlike (“’my”) Here en God is. Die Here Jesus het toe vir Thomas gesê dat hy geglo het omdat hy gesien het, en toe ’n saligspreking uitgespreek: Salig is elkeen wat Hom nie gesien het nie en tog geglo het (v.29). So het Hy ’n saligspreking uitgespreek oor elkeen, ook ons, wat nog sou glo. Johannes gaan dan voort en vertel dat die Here Jesus nog baie ander wonders (“tekens”) gedoen het wat hy nie vertel het nie. Dit wat hy wel vertel het, se doel is dat die lesers kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God; en dat ons deur te glo, die lewe kan hê in sy Naam (v.30-31).

Besprekingsvraag: Watter waarde het die ongelowige Thomas vir ons?

Insig: Die Here Jesus  verskyn twee keer op die eerste dag van die week aan die dissipels, in hulle midde. So vestig Hy ’n beeld van wanneer, waar en hoe die Here Jesus Homself steeds besonders openbaar:

2023/04/06

Die magnetiese krag van die kruis

Lees: Joh. 12:12-33

Gedagte vir kinders: Jesus Christus is vir ons gekruisig sodat baie mense gered kan word.

Oorsig: Ons lees in al die evangeliebeskrywinge van die intog in Jerusalem. In Johannes verneem ons van ’n groot menige feesgangers, met baie wat spesifiek kennis geneem het van Lasarus se opwekking uit die dood. Hulle het palmtakke, die simbool van feesviering en oorwinning, opgeneem. Hulle het dit gedoen toe hulle hoor dat Jesus na Jerusalem kom en Hom tegemoet gegaan met woorde uit Ps. 118:25: “Hosanna (Here, red ons) ... Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here!” En hulle het bygevoeg: “die Koning van Israel” (v.12-13).

Die Here Jesus het toe ’n jong esel gevind en daarop gaan sit. Dit het Sagaria 9:9 se woorde in vervulling laat gaan oor Jerusalem se Koning wat op die vul van ’n eselin sit. Die dissipels het later eers besef dat hulle so deel was van die Skrif wat vervul is (v. 14-16). Die skare het hiermee saam ook van Lasarus se opwekking uit die dood getuig. Dit het die skare nog groter gemaak. Die Fariseërs het met mekaar hieroor baklei dat hulle niks vorder nie en dat die hele wêreld agter Jesus aan loop (v.17-19). ’n Deel van hierdie hele wêreld was blykbaar Grieke wat Jodegenote (vgl. Hand. 13:43) geword het en op die Paasfees saam met die Jode aanbid het. Hulle het na die apostel, Filippus, gegaan en gevra dat hulle Jesus graag wil sien. Filippus het dit vir Andreas (beide het Griekse name) vertel en hulle weer vir die Here Jesus (v.20-21).

Jesus het geantwoord dat die uur gekom het dat die Seun van mens verheerlik (kruisiging tot hemelvaart) moes word. Hy verduidelik dit toe met die beeld van ’n koringkorrel wat eers in die grond moet sterf voordat die plant daaruit veel vrug kan dra (v.23-24). Hierdie patroon herhaal ook in elke dissipel se lewe wanneer iemand sterwe in Hom aan hulleself met die oog op die ewige lewe. Dit beteken dat Jesus gevolg moet word, en dat waar Hy is, sy dienaar ook sal wees en dat die Vader so iemand sal eer (v.25-26). Hy het toe gesê dat Hy ontsteld is oor dit wat nog moes gebeur. Hy sou die Vader egter nie vra om uitkoms nie, maar eerder dat die Vader sy Naam sal verheerlik. Hierop het ’n stem uit die hemel geantwoord: “Ek het dit verheerlik” (sy aardse bediening), “en sal dit weer verheerlik” (die kruisiging en opstanding - v.27-28)”. Sommige het gemeen dat dit ’n donderslag en ander dat dit ’n Engel was. Jesus het geantwoord dat dit vir hulle gebeur het en dat (1) dit die oordeel van die wêreld was en (2) dat die duiwel (owerste) buitentoe gedryf sou word. En (3) Hy sou  van die aarde af verhoog word en so almal na Hom toe trek. Daardeur het Hy gewys op sy kruisdood (v.29-33).  

2023/03/28

Al het jy ook gesterwe

Lees: Joh. 11:1-53

Gedagte vir kinders: Jesus Christus is sterker as die dood.

Oorsig: Ons lees hier van drie naby-vriende van die Here Jesus buitekant sy dissipelkring (vgl. ook Luk. 10:38-42): Lasarus en sy twee susters, Martha en Maria. Van Maria lees ons later dat sy die Here se voete gesalf en met haar hare afgedroog het (Joh. 12:1-11; maar anders as Luk. 7:36-50). Hier hoor ons nou dat Lasarus baie siek geword het. En die susters het toe ’n boodskap na die Here Jesus (buitekant Judea) gestuur dat hy, Lasarus, vir wie die Here Jesus liefgehad het, siek was (v.1-3). Die Here het egter nie dadelik gegaan nie, maar twee dae gewag totdat die tyd reg was, sodat God en sy Seun daardeur verheerlik sou word. Die dissipels wou egter keer, omdat mense onlangs die Here Jesus daar wou doodmaak. Jesus het hulle egter daarop gewys dat hulle in die lig moes wandel en nie bang wees vir die duisternis nie. Hy het hulle ook vertel dat Lasarus dood is, en dat dit tot geloof sou lei (v.4-16).

Daar aangekom, hoor hulle toe dat Lasarus al vier dae in die graf was. Martha het na Jesus toe uitgegaan en vir Hom gesê dat Lasarus nie sou gesterf het as Hy daar was nie. Tog het sy steeds geglo dat Jesus iets kon doen. Sy het ook geglo aan die opstanding eendag, maar toe wys die Here Jesus haar in sy Ek-is uitspraak, dat Hyself die opstanding en die lewe is. Wie in Hom glo, sal lewe, ook na die dood, en sal leef tot in ewigheid. Toe Hy haar vra of sy dit glo, het sy ja gesê en dat sy glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God, wat in die wêreld sou kom (v.17-27). Daarna het sy stilletjies na haar suster, Maria, gegaan en gesê dat Jesus haar roep. Maria het ook met dieselfde woorde as Maria begin en toe begin huil en so ook die mense wat saam met haar was. Dit het die Here Jesus geweldig hartseer gemaak. Hy het te gevra waar hulle Lasarus neergelê het. Hulle het Hom gewys en Jesus het geween (v.28-37).

By die graf (spelonk) het die Here weer baie hartseer geword,  en gevra dat hulle die steen wegrol. Toe het Hy gebid en die Vader gedank dat Hy Hom verhoor het en dat Hy bid sodat die mense kan glo. Daarna het Hy met ’n groot stem uitgeroep: “Lasarus, kom uit!” Lasarus het toe uitgekom, sy gesig met ’n doek toegedraai en aan die hande en voete met grafdoeke gebind. Die Here Jesus het toe beveel dat hulle moes losmaak en laat gaan. Baie het toe geglo, maar ander, veral onder die leiers, het net meer rede gesoek om Jesus dood te maak. Die hoëpriester het selfs gereken dit is beter dat een man sterwe as dat die hele nasie omkom. Dit was egter profetiese woorde oor wat Jesus Christus vir die wêreld sou doen (v.38-53).

Besprekingsvraag: Watter verskillende elemente is daar in Christus se antwoord aan Martha?

Insig: Ons kry hier so ’n eenvoudige en kragtige model vir gebed oor siekte: “Here, hy/sy vir wie u liefhet, is siek.” Die Here openbaar hier dat sy antwoorde nie altyd kom soos ons dit verwag nie en dat Hy soms wag, juis omdat Hy liefhet. Hier stel Christus die antwoord uit met twee dae (Lasarus dus in elk geval reeds dood) omdat Hy hiervan ’n teken vir alle tye wil maak, die sesde teken in Johannes, nog groter as die vyfde teken van die blinde man (Joh. 9), en in afwagting op die sewende en grootste teken van alle tye – Christus se sterwe en opstanding. Sodat hulle reeds voor sy dood kan glo dat Hy mag oor die dood het. Christus stel dus uit sodat Lasarus al meer as vier dae dood is en die ontbinding al begin het. Sodat mense kan sien wat gebeur as die grootste realiteit vir ons elkeen, die dood, met Hom gekonfronteer word.

2023/03/18

Lig en Verligting

Lees: Joh. 9

Gedagte vir kinders: Jesus  is deur die Vader gestuur om ons van sonde te genees.

Oorsig: In Johannes lees ons van die Ek is-uitsprake van die Here Jesus (vgl. Joh. 6:35; 10:9,11,14; 11:25; 14:6; 15:1,5.) Hierdie een gebeur by die fees van die ligte wat saamgaan met die Jode se viering van die huttefees. Daar het die Here Jesus gesê (Joh. 8:12): “Ek is die lig van die wêreld; wie My volg, sal sekerlik nie in die duisternis wandel nie, maar sal die lig van die lewe hê.” In hoofstuk 9 lees ons nou hoe dit in die praktyk gedemonstreer is.

Ons lees van ’n man wat blind was vanaf sy geboorte, maar die Here Jesus het hom raakgesien. Hy help sy dissipels reg as hulle vra of hy blind was deur eie of sy ouers se sonde: Die werke van God sou in Hom geopenbaar word. Christus smeer toe klei aan sy oë, en sê vir Hom om hom te gaan was in die badwater van Siloam (Uitgestuur). Die man het dit gedoen en hy kon toe sien! (v.1-7). Hierna lees ons van die mense wat hom vroeër geken het se eenvoudige vrae oor wat gebeur het en die man se eerlike antwoorde oor die eenvoud waarin Jesus Christus met hom gewerk het totdat hy kon sien. Hy het egter nie meer verder kontak met Jesus gehad nie (v.8-12). Ons lees hierna van die Fariseërs se agterdogtige vrae wat selfs verdeeldheid onder hulleself bring, omdat die genesing op die Sabbat gebeur het, asook die man se eenvoudige antwoorde (v.13-17). Daarna hoor ons dat die man se ouers ondervra word. Hulle erken wel dat hy blind was, maar hulle ontwyk die antwoorde verder en gooi die bal terug na die seun self, omdat hulle bang was om uit die sinagoge geban te word (v.18-23).

Die Fariseërs wend hulle daarna vir die tweede keer direk tot die man wat siende geword het en vra nou meer uitdagende vrae. Die man is egter nie bereid om hulle hul sin te gee en bly by sy eenvoudige antwoord oor wat hy beleef het dat Christus vir hom gedoen het. Hy weet een ding wat niemand kan ontken nie – hy was blind en nou sien hy. Hy ontmasker hulle ook deur sy vrae en hulle skors (verban ) hom (v.24-34). Daarna lees ons dat die Here dit hoor en die man weer opsoek. Hy openbaar Homself nou verder aan die man as die Seun van God. Hierop gee die man ’n antwoord van geloof en aanbidding (v.35-38). Dit lei tot die Here Jesus se woorde: Hy is die lig wat  mense laat sien, maar in die proses ook tot ’n oordeel vir hulle wat hardnekkig wil maak asof hulle self kan sien en eintlik geestelik blind is. Sulke mense bly in hulle sonde omdat hulle maak asof hulle Christus nie nodig het nie.

Besprekingsvraag: Watter konflik bring die lig van Christus daarmee saam?  

Insig: Die betekenis en gevolge van Jesus Christus as Lig van die wêreld, word hier dramaties uitgebeeld. Die aangrypende gebeure het hier ook ’n simboliese dimensie:

2021/10/05

Die nuwe wyn van die nuwe verbond

Lees: Joh. 2:1-11           

Gedagte vir kinders: God se nuwe wyn het deur Jesus Christus reeds begin.

Oorsig:  Ons lees hier van die derde dag vandat die Here Jesus na Galilea begin gaan het. Daar was ’n bruilof in Kana en Jesus se moeder was daar (v.1). Jesus en sy dissipels - ons weet hier in Johannes reeds van vyf - was ook na die bruilof genooi. Om een of ander rede het daar wyn kortgekom en die moeder van Jesus het Hom toe vertel dat hulle geen wyn het nie (v.3). Die Here Jesus het toe ’n bepaalde afstand tussen Hom en sy moeder geskep en haar as “vrou” aangespreek – die amptelike beleefde groetwyse van daardie tyd (v.4). Sy moes so leer dat Hy in sy openbare werk as die Gesalfde meer as net haar seun was. Hy het haar daarop gewys dat sy uur nog nie gekom het nie (v.4). In Johannes wys die uur wat gekom het, telkens op die kruisdood van Christus waar Hy vir ons sondes sou sterf.