2021/10/05

Die nuwe wyn van die nuwe verbond

Lees: Joh. 2:1-11           

Gedagte vir kinders: God se nuwe wyn het deur Jesus Christus reeds begin.

Oorsig:  Ons lees hier van die derde dag vandat die Here Jesus na Galilea begin gaan het. Daar was ’n bruilof in Kana en Jesus se moeder was daar (v.1). Jesus en sy dissipels - ons weet hier in Johannes reeds van vyf - was ook na die bruilof genooi. Om een of ander rede het daar wyn kortgekom en die moeder van Jesus het Hom toe vertel dat hulle geen wyn het nie (v.3). Die Here Jesus het toe ’n bepaalde afstand tussen Hom en sy moeder geskep en haar as “vrou” aangespreek – die amptelike beleefde groetwyse van daardie tyd (v.4). Sy moes so leer dat Hy in sy openbare werk as die Gesalfde meer as net haar seun was. Hy het haar daarop gewys dat sy uur nog nie gekom het nie (v.4). In Johannes wys die uur wat gekom het, telkens op die kruisdood van Christus waar Hy vir ons sondes sou sterf.

Maria het toe vir die dienaars gesê dat hulle alles moes doen wat Jesus vir hulle sê om te doen (v.5). Daar was by daardie geleentheid ses klipkanne volgens die reinigingsgebruike van die Jode. Elkeen van hulle het omtrent so 90 tot 100 liter water gehou (v.6). Jesus het toe vir hulle gesê om daardie kanne vol water te maak en hulle het dit toe in gehoorsaamheid tot bo toe volgemaak (v.7). Nadat hulle dit gedoen het, het Hy vir hulle gesê om daaruit te skep en vir die hoofdienaar (NAB vertaal seremoniemeester) te bring (v.8).

Die hoofdienaar proe toe nie water nie, maar wyn en was duidelik verbaas, want net daarna het hy die bruidegom geroep (v.9). Hy het nie soos die dienaars geweet dat die wyn wat hy proe uit ’n ander oord kom nie. Die hoofdienaar sê toe vir die bruidegom dat dit mos die logiese gewoonte is om eers die goeie wyn voor te sit en later, wanneer die gaste goed gedrink het, die slegste. Maar dit was nou glad nie wat hier gebeur het nie. Die goeie wyn is dan tot op daardie stadium bewaar (v.10). Dit het bevestig dat die water wat wyn geword het, van die beste gehalte was. Johannes noem hierdie eerste wonderwerk in Kana in Galilea ’n “teken” (v.11). Die eerste teken sou ook vertaal kon word as die Jesus se beginsel-teken. Die woord, teken, bevestig dat die wonderwerke ’n dieper doel gehad het – om heenwysings en verduidelikings te wees van die Here Jesus se verlossingswerk. Deur hierdie eerste teken of beginsel-teken het die Here Jesus sy heerlikheid as Messias geopenbaar wat feestelikheid en oorvloed sou bring. Sy dissipels het hierdeur nog vaster in Hom geglo (v.11). Die bedoeling is dat ons saam sal glo wanneer ons dit hoor.          

Besprekingsvraag: Waarom was dit so gepas dat die Here Jesus se eerste teken by ’n bruilof plaasgevind het en hoe kan ons hieraan meedoen?

Insig: Dit is baie insiggewend dat die Here Jesus sy eerste teken of beginsel-teken juis by ’n huwelik doen. Dit sê meer van ons as van Hom wanneer ons hieroor verbaas is. Die Ou Testament is vol van huweliksbeelde wat heenwys na die verbondsverhouding tussen God en sy volk (vgl. Hooglied; Jes. 54:5; 62:5; Hos. 2:16-25). Die beeld van wyn en oorvloed word ook gereeld in verband gebring met die verwagting van die Messias (Gen. 49:10-12; Amos 9:13; Joel 4:18). Net vantevore in Johannes lees ons dat die Here Jesus vir Natanael daarop wys dat die dissipels sal beleef dat die hemel oop is (Jn. 1:52). En hier begin hulle en ons iets van hierdie heerlikheid te sien.

Dit is insiggewend dat ons spesifiek van die derde dag lees. Dit is die derde dag na die vorige vier dae van Johannes 1. Dit verteenwoordig dus ’n volheid van sewe dae en wys tegelyk ook terug en vorentoe na die derde dag van heerlikheid. Reeds by die berg Sinai lees ons van die Here wat op die derde dag sy heerlikheid aan die volk openbaar het (vgl. Ex. 19:10-11,16-20; Hos. 6:2). Daar het die volk telkens gesê dat hulle alles sal doen wat die Here sê (Ex. 19:8; 24:3,7). Hier hoor ons hoe Maria, as verteenwoordiger van die getroue Kerk, die dienaars ook beveel om te doen “net wat Hy vir julle sê”. Dit dui hier op die nuwe verbond wat Christus gebring het. Die feesvreugde van die Messiaanse eeu was op hande. Christus het reeds met sy amptelike bediening begin en Hy sou die beloftes van bruilofsvreugde tussen God en sy volk ’n werklikheid maak. Om dit aan te dui, sluit Hy aan by die reinigingsgebruike (vgl. Num. 19:9-19). Die kanne moes volgemaak word met water. En uit die reinigingswater sou die beste wyn voorkom. Christus sou dus die reinigingswette vervul op ’n heerlike wyse. Water word wyn in oormaat. Dit dui op vervulling, heerlikheid, volheid en oorvloed. In Christus kan die Messiaanse feesvreugde begin. Eendag sal dit tot volmaak wees (Op. 19:9).

Maar dit sou slegs op een wyse moontlik word en die Here verwys reeds daarna as Hy vir sy moeder stel dat sy uur nog nie gekom het nie. Jesus sien reeds dat die wyn wat Hy sou gee, net ’n voortdurende realiteit kon word deur die uur van sy kruisdood. Hy sou Homself moes gee om die Messiaanse feesvreugde ’n werklikheid te maak. En Hy het! So drink ons vandag nog van daardie wyn wanneer ons in die Nagmaal sy offer herdenk. En die bedoeling is dat ons saam met die dissipels die heerlikheid van die nuwe verbond sal sien en smaak en glo.     

Geraadpleegde Werke:

Thomas Aquinas se kommentaar op Johannes.

Francis Martin, The Gospel of John

Matthew Henry

John Gill