2021/10/05

Oor verbondseën, welgeluksalig en shalom

Lees: Ps. 128     

Gedagte vir kinders: Die Here seën elkeen wat Hom vrees en getrou lewe in die kultuuropdrag.

Oorsig: Hierdie Psalm is een van die bedevaartsliedere wat strek vanaf Ps. 120 tot Ps. 134. Die Israeliete het hierdie liedere jaarliks gesing wanneer hulle opgetrek het vir hulle feeste in Jerusalem. Ons sing dit vandag nog op pad na die hemelse Jerusalem. Psalm 128 sluit aan by Psalm 127 en vertel van ware seën. Ons moet hoor dat die hoogste vorm van geluk (“welgeluksalig”) deel is van elkeen wat die Here vrees (aanbid, met heilige ontsag, eerbied en respek voor Hom lewe – v.1)

Sulke mense is nie lui nie, maar werk met hulle hande en die Here seën dit met opbrings wat seker is. Hulle is gelukkig en dit gaan met hulle goed (v.2). Hierdie seën strek ook verder as die individu na die hele gesin. Die vrou van die man word vergelyk met ’n vrugbare wingerdstok binne-in die huis. Die wingerdstok het ondersteuning nodig, maar is vol vrug wanneer dit versorg en gekoester word. Die kinders word weer vergelyk met jong olyfboompies (v.3). Die staan hier onder meer vir kragtige potensiaal vir die toekoms. Die Psalmis bevestig dan dat diegene wat die Here vrees, so geseën sal wees (v.4).

Hierna word die seën verder oor sulke mense uitgeroep en ons hoor van die bron van hierdie seën – uit Sion. Dit is die berg in Jerusalem waarop die tempel gebou is. Die seën kom vanaf die tempel – daar waar die versoening en lewe met God bedien word.

Die voorspoed van Jerusalem word hierby betrek as omgewing waarin die wens waar sal wees vir al die dae van die geseënde se lewe. Dit gaan dus oor almal se voorspoed wat lewe vanuit God se versoening. Vandag pas ons dit toe op die Kerk van Christus wat die vervulling hiervan is. Dit gaan dus om ’n bede tot seën vir die godvresende enkeling, en die gesin, saam met al die kinders van God en die wens is ook vir al die dae van jou lewe (vers 5). Dit gaan egter nie net oor al die dae van ons eie lewe nie, maar ook om die lewe van die toekomstige geslagte en dat ons ook die kinders van ons kinders mag aanskou (v.6). Die kindskinders is die teken van die Here se seën oor hulle wat kom en Hom ook sal ken en dien. Op hierdie wyse brei die seën uit en word die Shalom van God (“vrede”) uitgeroep oor die Israel van God wat in die Nuwe Testament die kinders van God genoem word.                         


Besprekingsvraag: Wat is die verskil tussen verbondseën en voorspoedsteologie?

Insig: Hierdie Psalm leer duidelik, soos Matthew Henry reeds opgemerk het, dat ware godsdiens en godvresenheid die beste vriende is van uiterlike voorspoed. Hulle wat waarlik heilig lewe, is ook waarlik gelukkig. Ons moet wegkom van die idee dat godvresenheid met lang gesigte vereenselwig word. Heiligheid beteken eenvoudig om konsekwent te wandel in die reiniging van God. Dit is ten minste gelyk aan iemand wat nie vuil en slordig rondloop nie. Positief gestel: Die Shalom van God waarmee die Psalm hier eindig, gaan oor die diepste reiniging, vrede, vervulling en florering denkbaar. Eendag sal dit volmaak wees, maar dit begin reeds in hierdie lewe. God se Shalom is omvattend. Dit sluit die geestelike en materiële saam in. Ons hoef nie in teenreaksie op die voorspoedsteologie op te tree asof alle seëninge net geestelik of net eendag waar sal wees nie. Die probleem van voorspoedsteologie is dat dit verdienstelik redeneer, op ’n plat vlak, en op ’n een-tot-een basis. Gedeeltes soos Job en Ps. 73 help ons om ’n diepte-beskouing hieroor te behou waarin ons ons plek voor God ken en tevrede is met die misterie wat dit steeds omring. Ons bly op spoor hieroor wanneer ons Hom voor alles stel. Dit is egter duidelik dat God wil seën in tyd en ewigheid.

Dit is verder ook duidelik vir wie hierdie seën bedoel is: vir elkeen wat die Here vrees en in sy weë wandel (v.1). Geslag of ras of rykdom of armoede bepaal nie hierdie saak nie. Onthou weer Petrus hieroor toe dit duidelik word dat die nuwe verbond op nuwe wyses deurbreek na alle mense (Hd. 10:34-35). En tog moet ons nie hieroor bloot individualisties dink nie. Dit is duidelik dat dit hier verbondsmatig hanteer word. Die godvresende man se gesin – die vrou en die kinders - word saam betrek. En van daar af sien ons weer hoe dit verbind word aan die voorspoed van die hele Jerusalem en die shalom-uitroep oor Israel herinner verder dat dit net binne die groter uitdyende konteks die volheid kry wat vir die kinders van God bestem is.

Ware geluk word hier ook nou verbind aan die godvresende uitlewing van die kultuuropdrag – nie bloot aan geld of goed of mag nie. Reeds aan die begin het God die mens die opdrag gegee om te vrugbaar te wees en oor sy skepping te heers, dit te bewerk en te bewaak (vgl. Gn. 1:28, 2:15; Ps. 127:1). Nie leeglê nie, maar die werk van die hande word hier beloon. Saam hiermee hoor ons ook die vrugbare vermeerdering en seën van die huisgesin wat ’n vreugde is. Lewensin word gevind wanneer ons elkeen op unieke wyse binne eie omstandighede aan die kultuuropdrag aandag gee. Die gesin is die basiese verbondsbousteen van die samelewing. Dit is nie bloot ’n twintigste eeuse konstruk nie. Dit wys ook heen na die familie van God. Daarom mag ons hier ook heenwysend ook reeds iets sien van die Bruid van Christus wat vrugbaar is en van kinders wat soos olyfboompies is en wat later ook die heidene insluit wat deel van die verbond sou word (vgl. Rom. 11:17-24). Laat ons onthou om dit ook telkens, soos hier, in verband te bring met elkeen wat die Here vrees en met die vrede oor Jerusalem en die volle Israel van God.  

Geraadpleegde Werke:

John Gill

Matthew Henry

Korte verklaring

Jamieson-Fausset-Brown