2021/10/22

Vreugde deur herinnering, gebed, en belofte

Lees: Psalm 126            

Gedagte vir kinders: Saai, al is dit met trane, want deur Jesus Christus sal jy oes met vreugde.

Oorsig: Psalm 126 is deel van die bedevaartsliedere. Dit is moontlik gesing wanneer die Israeliete opgetrek het vir hulle jaarlikse feeste in Jerusalem. Ons sing dit steeds op pad na die nuwe Jerusalem. Die Psalm het duidelik twee dele. Ons hoor eers van ’n wonderbaarlike bevryding toe die Here die lot van Sion verander het (v.1-3) en dan van ’n nuwe gebed en profesie (v.4-6). Sion was die berg waarop die tempel gebou is en staan hier vir die kinders van God wie se versoening met Hom op sy  geopenbaarde weg van versoening gebou is. Die lot van Sion gaan dus oor die omstandighede van sulke mense wat wonderlik verander het.

Die spesifieke omstandighede hier verwys waarskynlik na die terugkeer uit die ballingskap. Die volk se ontrou aan die Here het veroorsaak dat die tien stamme van Israel deur Assirië (721 v.C.) weggevoer is, en Juda en Benjamin later deur Babilonië (598-587 v.C.). Uiteindelik, na 70 jaar (vgl. Jer. 25:11; 29:10; Dan. 9:2; 2 Kr. 36:22; Esra 1:2) in Babel en omstreke,  het koning Kores, wonder bo wonder, ’n bevel uitgevaardig en die volk kon terugkeer na hulle eie land en hulle kon God weer in vryheid aanbid.

Die volk het beleef dat die Here hulle lot verander het en dit was asof hulle droom (v.1) Wat ‘n vreugde het hulle nie hieroor beleef nie! Lag en jubel was in hulle mond en op hulle tong. (v.2). Selfs die heidene het daaroor gepraat. Dit was so groot dat die heidene nie anders kon as om raak te sien dat God groot dinge aan sy volk gedoen het nie (v. 2). Die Psalmis bevestig dan dat die Here wel groot dinge aan hulle gedoen het en dat hulle bly was (v.3).

Net hierna verander die herinnering aan die verlede na ’n gebed in die hede. Daar is nuwe uitdagings.  Indien dit die volk was wat teruggekeer het, was daar soveel nuwe hindernisse in die land wat hulle weer moes opbou. Die Psalmis vra dat iets sal gebeur soos die waterstrome in rivierbeddings wat in die droë Suidland skielik kon opdaag vanuit die hoërliggende gebiede en lewe gebring het in die woestyngebied (v.4). Ná die gebed word daar ook ’n profesie uitgespreek. Die wat bly saai, al is dit met trane, sal tog later jubel wanneer daar geoes word. (v.5).  Die Psalmis brei dan verder hierop uit in beskrywende taal. Die saaier mag selfs heeltyd loop en huil as hy die saadkoring dra wat hy uitsaai. Tog sal hy sekerlik, en die woord sekerlik word beklemtoon, met gejubel later kom en die gerwe van sy oes dra (v.6).         

Besprekingsvraag:  Pas die faktore wat die saaier kan verhinder om te saai, op ons toe. 

Insig: Wanneer die Here ons lot werklik verander, gebeur dit bokant die verwagting. Dit is part en deel van die evangelie en beeld presies uit wat evangelie beteken.

Die gebed hier om verandering van lot het ten diepste reeds gebeur toe die verlossing van Israel uit Sion gekom het (vgl. Ps. 14:7). Jesus Christus het gekom om alle gelowiges se lot vir altyd te verander - vanaf sondig, onrein en skuldig, na ontsondig, rein en vrygespreek. Die Here gee ook verdere uitkoms in die lewe van sy kinders en in die lewe van die Kerk, maar ons moet dit altyd weer verbind aan die grootste uitkoms ooit. Die terugkeer uit die ballingskap was soos ’n nuwe eksodus (Jer. 30:3,18), maar Jesus Christus het die eksodus van alle tye gebring (vgl. Lk. 9:31). Die weeklikse fees van bevryding en oorwinning op Sondag, help ons hiermee. Ons moet nooit ons uitkomste vergeet nie.

Die herinnering behoort ons ook aan te vuur om in nuwe benoudheid weer die Here aan te roep. Ons ervarings van uitkoms moet altyd weer verder aangevul en uitgebou word. Ons bid daarom om die volheid van die bevryding. Eendag sal dit volkome wees op die nuwe hemele en aarde. Tot dan is daar altyd weer nuwe beproewinge en omstandighede wat ons moet hanteer. Dit geld vir jouself, iemand anders se lewe, of ’n ander Kerk of land wat uitkoms benodig. Laat ons dan op Christus se groot uitkoms fokus en ook die mini-uitkomste in ons lewens en daarom verder bid vir onsself en vir ander. Dit is ook treffend hier dat die weg van uitkoms op twee maniere beskryf word. Daar is die skielike strome van vers 4, maar daar is ook die saaier wat saai en mettertyd maai. Laat ons dankbaar wees vir albei soorte uitkomste.    

Dit is ook duidelik dat dit intussen ons taak is om te saai, al is dit ook met trane. Daar kan baie omstandighede wees wat veroorsaak dat ons wil huil. Dit kan die statuur van die saaier wees (die sondigheid of onsekerheid in onsself), of die grond (harde harte van mense) of die moeilike weer (omstandighede). Wat ons egter duidelik moet hoor, is dat hierdie faktore wat in die voorsienigheid van God op ons pad gebring is, ons nie minder moet laat saai nie. Dit is die antwoord op enige uitdagende geval – in jouself, in ander en in moeilike omstandighede. Trane kan wel gepaard gaan met nuwe fondasies wat gegrawe moet word (vgl. Esra 3:12). Maar moenie ophou nie. Saai gaan oor elke inisiatief in diens van God se koninkryk. Die belofte is so heerlik wanneer daar klem op “sekerlik” in vers 6 geplaas word. Daarom, omdat die groot uitkoms reeds gekom het met Christus se kruisdood, opstanding en hemelvaart, vanwaar Hy vir ons intree, mag ons weet dat ons werk nie tevergeefs is nie (1 Kor. 15:58). 

Geraadpleegde werke:

John Gill

Jammieson-Fausset-Brown Bible Commentary

Matthew Henry

Jason Byassee, Brazos Kommentaar

Geoffrey Grogan, Psalms.

Derek Kidner, Psalms.