2023/03/28

Al het jy ook gesterwe

Lees: Joh. 11:1-53

Gedagte vir kinders: Jesus Christus is sterker as die dood.

Oorsig: Ons lees hier van drie naby-vriende van die Here Jesus buitekant sy dissipelkring (vgl. ook Luk. 10:38-42): Lasarus en sy twee susters, Martha en Maria. Van Maria lees ons later dat sy die Here se voete gesalf en met haar hare afgedroog het (Joh. 12:1-11; maar anders as Luk. 7:36-50). Hier hoor ons nou dat Lasarus baie siek geword het. En die susters het toe ’n boodskap na die Here Jesus (buitekant Judea) gestuur dat hy, Lasarus, vir wie die Here Jesus liefgehad het, siek was (v.1-3). Die Here het egter nie dadelik gegaan nie, maar twee dae gewag totdat die tyd reg was, sodat God en sy Seun daardeur verheerlik sou word. Die dissipels wou egter keer, omdat mense onlangs die Here Jesus daar wou doodmaak. Jesus het hulle egter daarop gewys dat hulle in die lig moes wandel en nie bang wees vir die duisternis nie. Hy het hulle ook vertel dat Lasarus dood is, en dat dit tot geloof sou lei (v.4-16).

Daar aangekom, hoor hulle toe dat Lasarus al vier dae in die graf was. Martha het na Jesus toe uitgegaan en vir Hom gesê dat Lasarus nie sou gesterf het as Hy daar was nie. Tog het sy steeds geglo dat Jesus iets kon doen. Sy het ook geglo aan die opstanding eendag, maar toe wys die Here Jesus haar in sy Ek-is uitspraak, dat Hyself die opstanding en die lewe is. Wie in Hom glo, sal lewe, ook na die dood, en sal leef tot in ewigheid. Toe Hy haar vra of sy dit glo, het sy ja gesê en dat sy glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God, wat in die wêreld sou kom (v.17-27). Daarna het sy stilletjies na haar suster, Maria, gegaan en gesê dat Jesus haar roep. Maria het ook met dieselfde woorde as Maria begin en toe begin huil en so ook die mense wat saam met haar was. Dit het die Here Jesus geweldig hartseer gemaak. Hy het te gevra waar hulle Lasarus neergelê het. Hulle het Hom gewys en Jesus het geween (v.28-37).

By die graf (spelonk) het die Here weer baie hartseer geword,  en gevra dat hulle die steen wegrol. Toe het Hy gebid en die Vader gedank dat Hy Hom verhoor het en dat Hy bid sodat die mense kan glo. Daarna het Hy met ’n groot stem uitgeroep: “Lasarus, kom uit!” Lasarus het toe uitgekom, sy gesig met ’n doek toegedraai en aan die hande en voete met grafdoeke gebind. Die Here Jesus het toe beveel dat hulle moes losmaak en laat gaan. Baie het toe geglo, maar ander, veral onder die leiers, het net meer rede gesoek om Jesus dood te maak. Die hoëpriester het selfs gereken dit is beter dat een man sterwe as dat die hele nasie omkom. Dit was egter profetiese woorde oor wat Jesus Christus vir die wêreld sou doen (v.38-53).

Besprekingsvraag: Watter verskillende elemente is daar in Christus se antwoord aan Martha?

Insig: Ons kry hier so ’n eenvoudige en kragtige model vir gebed oor siekte: “Here, hy/sy vir wie u liefhet, is siek.” Die Here openbaar hier dat sy antwoorde nie altyd kom soos ons dit verwag nie en dat Hy soms wag, juis omdat Hy liefhet. Hier stel Christus die antwoord uit met twee dae (Lasarus dus in elk geval reeds dood) omdat Hy hiervan ’n teken vir alle tye wil maak, die sesde teken in Johannes, nog groter as die vyfde teken van die blinde man (Joh. 9), en in afwagting op die sewende en grootste teken van alle tye – Christus se sterwe en opstanding. Sodat hulle reeds voor sy dood kan glo dat Hy mag oor die dood het. Christus stel dus uit sodat Lasarus al meer as vier dae dood is en die ontbinding al begin het. Sodat mense kan sien wat gebeur as die grootste realiteit vir ons elkeen, die dood, met Hom gekonfronteer word.

Martha hoop steeds op iets (v.22), maar antwoord dat sy wel weet dat haar broer eendag in die algemene opstanding sal opstaan (v.24). Die Here Jesus verdiep haar siening met sy bekende Ek is-uitspraak. Hy is die opstanding en die lewe - nou, in die hede, alreeds. Ja, Hy is nou reeds die verpersoonliking van wat op daardie laaste dag sal gebeur. In Hom, in sy teenwoordigheid en beloftes, mag ons die opstanding en die lewe nou reeds smaak. Daarvan getuig die doop ook reeds. Christus maak hieroor ook twee belangrike verdere uitsprake. (1) Die lewe wat Hy gee, oorwin die liggaamlike dood (v.25), en (2) dit oorwin die geestelike dood (v.26). En dan vra Hy aan Martha of sy dit glo en sy begelei ons met een van die groot geloofantwoorde in die Bybel wat met die van Petrus en Thomas vergelyk kan word. “Ja, Here, ek glo dat u die Christus is, die Seun van God wat in die wêreld sou kom.”

Die wyse waarop Christus optree, is so aangrypend. Ons lees drie keer hoe ontsteld Hy is, Hy wat God is, oor die gebrokenheid wat die sonde gebring het (v.33, v.35, v.38). Ja, sy hart is baie bewoë oor sy mense se diepe hartseer. Maar dit dring Hom ook om te toon dat Hyself die antwoord op die dood is. Nadat die steen weggerol is, en Hy gebid het, roep Hy hard uit dat Lasarus moet uitkom. En Lasarus wat al ruik, kom uit en word losgemaak. So roep Hy steeds mense deur sy Woord uit hul sonde tot die lewe. En hulle word losgemaak van die oorblyfsels van sonde, die satan en die dood, en laat gaan om in sy opstandingskrag te lewe. So sal Hy ook eenmaal die dooies uitroep om te oordeel (Joh. 5:25,28-30). Want Hy het anders as Lasarus uit sy graf gekom, in heerlikheid, met die reuk van die lewe. Elke opstandingsdag bely ons dit opnuut. Totdat ons ontslaap om eenmaal soos Lasarus wakker geroep te word.

Werke geraadpleeg

Matthew Henry

Ignatius Catholic Study Bible, New Testament.

John Bergsma, The Word of the Lord. Year A.

Frederick Dale Bruner, The Gospel of John: Pillar New Testament Commentary.