2023/03/28

15 Kolpunte vir die prediking

Ek het onlangs via ’n student weer te doen gekry met ’n handige skema wat sy mentors in ’n ander konteks (blykbaar afkomstig van prof Jorrie Jordaan) vir hom gegee het. Dit bied ’n handige werkswyse aan die hand waarvan hy sy prediking vanuit die Skrif kon struktuur. Treffend is alreeds die begin: Die hele proses behoort biddend benader te word.

Daardie basiese skema word opsommend hieronder geplaas en met geen oogmerk om verbatim aan te haal nie. Daarna gaan ek poog om, vir wat dit ook al werd mag wees, uit te bou met ’n paar gedagtes wat waarskynlik in die oorspronklike werk ook aandag kry. Die bedoeling hier is om in joernaal-formaat dit hier te stoor vir snuffelaars vir die toekoms, en met ’n tweeledige doel. Sommige lesers mag dalk meer byklank by my eerste afdeling vind en ander moontlik by die pulse van my tweede afdeling. En as ’n omnivoor miskien ook soms gelukkiger lyk, wel, dan vind vermenigvuldigende vreugde mos plaas, veral wanneer hoorders uiteindelik hierdeur geseën word.

Hier volg dan Prof. Jorrie se struktuur volgens hoorsê vanaf mentors uit die Dopperwêreld:


Oorhoofs: Hou aan om sonder ophou te bid. Preekskryf is biddend.

1.      Eksegese: (Templaat sal varieer hangende die konteks en die wyse van eksegese elke week bv.

Kanoniek sal nie elke week tydens ‘n reeks gedoen word nie.)

Kanoniek:

1. Tema

2. Doel van boek

3. Plasing van boek

4. Plasing van Hoofstuk

Struktuur:

Algemene notas:

Verklarende Eksegese:

 

2.      Dogmaties

Godsopenbaring:

1. God die Vader

2. God die Seun

3. God die Heilige Gees

Toepassing: (Hoe is Christus die hermeneutiese sleutel tot die toepassing?)

Sintese

1. Indikatief

2. Belofte

3. Imperatief.

     3.  Preekindeling

Ek vra om verskoning dat ek die oorspronklike skema nie in sy volle konteks hier aan die orde stel nie. Dit sal moontlik in die toekoms aangevul word. Bogenoemde bied wel reeds genoeg stof tot dankbaarheid. Enige prediker wat na sout en lig in die prediking streef, sal weet dat die skema baie waardevol is. Op hoorsê-vlak daarom reeds dankbetoon aan Prof. Jorrie en al sy kollegas en mentors en voorgangers. Hierdie skema bring ook letterlik die belangrike X-faktor in die prediking wat so nodig is om blote godsdienstigheid en moralisme te troef. Over geset synde, dit help predikers om dit te vermy waaraan Prof. Johan Cilliers ons meer as ’n kwarteeu gelede al aan herinner het aan die hand van Luther se skokwoorde: Die “uitwissing” van God op die kansel (annihilatio dei).

As gevolg van die sneller wat bogenoemde skema aftrek, hier is 15 kolpunt-opmerkings wat poog om daarby aan te sluit, dit soms net anders te stel, en hopelik verder aan te vuur. Dit is spesifiek gerig op die proses nadat die basiese eksegese (punt nommer een hierbo) reeds gedoen is. Ek doen dit aan die hand van ’n aantal hoe-vrae waarvan sommige soms oorvleuel:

  • Hoe is daar tydlose temas in die gedeelte aan die orde wat toe en nou geldig steeds is, en wat bloot in tydvak, toepassings en metodes verskil, maar nie in beginsel nie?
  • Hoe kom hierdie tema heilshistories aan die orde, met ander woorde, waar staan dit in die ontvouing van die verlossingsgeskiedenis?
  • Hoe is die tydlose temas spesifiek vandag relevant?
  • Hoe ontsluit Jesus Christus die temas wat geïdentifiseer is?
  • Hoe spruit bepaalde moraliteit (tropologie) en visie (anagogie) uit die ontsluiting in Christus voort vir vandag?
  • Hoe verstaan ons die werk van die Triniteit in die gekose tydlose temas?
  • Hoe vermaan, vertroos, bemoedig die gedeelte ons?
  • Hoe rus die imperatief in die indikatief in die gedeelte?
  • Hoe word die indikatief heerlik en begeerlik aan die gemeente voorgehou?
  • Hoe word die hoofmaal ingelei deur ’n voorgereg (inleiding) en afgesluit met ’n nagereg (slot)?
  • Hoe duidelik funksioneer die struktuur logies langs die weg van die ratio om dit vir die hoorder maklik     te maak om te luister?
  • Hoe funksioneer beeldspraak (metafoor) en digkuns (dikwels uit die liedereskat) om die saak langs die weg van intellectus in die hoorder se hart vas te maak?
  • Hoe funksioneer al die elemente van die liturgie om die regte atmosfeer van aanbidding vir die boodskap te gee?
  • Hoe funksioneer die gebede se kern (uitgeskryf waar moontlik) om diensbaar te wees aan die boodskap?
  • Hoe funksioneer die liedere om diensbaar te wees aan aanbidding en die boodskap? 

Hierdie punte behoort verder verduidelik te word. Daaroor meer op ’n volgende keer.