2023/03/18

Lig en Verligting

Lees: Joh. 9

Gedagte vir kinders: Jesus  is deur die Vader gestuur om ons van sonde te genees.

Oorsig: In Johannes lees ons van die Ek is-uitsprake van die Here Jesus (vgl. Joh. 6:35; 10:9,11,14; 11:25; 14:6; 15:1,5.) Hierdie een gebeur by die fees van die ligte wat saamgaan met die Jode se viering van die huttefees. Daar het die Here Jesus gesê (Joh. 8:12): “Ek is die lig van die wêreld; wie My volg, sal sekerlik nie in die duisternis wandel nie, maar sal die lig van die lewe hê.” In hoofstuk 9 lees ons nou hoe dit in die praktyk gedemonstreer is.

Ons lees van ’n man wat blind was vanaf sy geboorte, maar die Here Jesus het hom raakgesien. Hy help sy dissipels reg as hulle vra of hy blind was deur eie of sy ouers se sonde: Die werke van God sou in Hom geopenbaar word. Christus smeer toe klei aan sy oë, en sê vir Hom om hom te gaan was in die badwater van Siloam (Uitgestuur). Die man het dit gedoen en hy kon toe sien! (v.1-7). Hierna lees ons van die mense wat hom vroeër geken het se eenvoudige vrae oor wat gebeur het en die man se eerlike antwoorde oor die eenvoud waarin Jesus Christus met hom gewerk het totdat hy kon sien. Hy het egter nie meer verder kontak met Jesus gehad nie (v.8-12). Ons lees hierna van die Fariseërs se agterdogtige vrae wat selfs verdeeldheid onder hulleself bring, omdat die genesing op die Sabbat gebeur het, asook die man se eenvoudige antwoorde (v.13-17). Daarna hoor ons dat die man se ouers ondervra word. Hulle erken wel dat hy blind was, maar hulle ontwyk die antwoorde verder en gooi die bal terug na die seun self, omdat hulle bang was om uit die sinagoge geban te word (v.18-23).

Die Fariseërs wend hulle daarna vir die tweede keer direk tot die man wat siende geword het en vra nou meer uitdagende vrae. Die man is egter nie bereid om hulle hul sin te gee en bly by sy eenvoudige antwoord oor wat hy beleef het dat Christus vir hom gedoen het. Hy weet een ding wat niemand kan ontken nie – hy was blind en nou sien hy. Hy ontmasker hulle ook deur sy vrae en hulle skors (verban ) hom (v.24-34). Daarna lees ons dat die Here dit hoor en die man weer opsoek. Hy openbaar Homself nou verder aan die man as die Seun van God. Hierop gee die man ’n antwoord van geloof en aanbidding (v.35-38). Dit lei tot die Here Jesus se woorde: Hy is die lig wat  mense laat sien, maar in die proses ook tot ’n oordeel vir hulle wat hardnekkig wil maak asof hulle self kan sien en eintlik geestelik blind is. Sulke mense bly in hulle sonde omdat hulle maak asof hulle Christus nie nodig het nie.

Besprekingsvraag: Watter konflik bring die lig van Christus daarmee saam?  

Insig: Die betekenis en gevolge van Jesus Christus as Lig van die wêreld, word hier dramaties uitgebeeld. Die aangrypende gebeure het hier ook ’n simboliese dimensie:

Ons is almal vanaf geboorte reeds verblind in ons sondes. Maar wanneer Christus ons raaksien, onder hande neem, wanneer ons was by die Gestuurde (Siloam - Christus deur die Heilige Gees – Joh.12:44;14:26), begin ons om te sien en ’n nuwe skepping te wees (2 Kor. 5:17). Dan mag mense selfs wonder mense wat met ons gebeur het, want jy is en jy is nie dieselfde nie (v.8-9). En ’n sekere ironie voltrek homself. Dit word so duidelik dat sommige wat sê dat hulle sien, nie werklik sien nie, en selfs die wat sien vervolg. Maar die wat nie kan sien nie en dit erken, word siende (vgl. Mt. 11:25-30). Godsdienstiges en leiers met Christus-weerstand, ja elkeen word hier opgeroep om ’n deeglike Christus-gebaseerde oudit oor hul lewe te doen.

Die weg na die lig van Christus is egter nie kompleks nie. Die man word eenvoudig raakgesien, hanteer, en beveel om soos Naäman destyds, te gaan was by ’n spesifiek plek (vgl. 2 Kon. 5:10). Siloam beteken uitgestuur en dui op Christus die Gestuurde by wie die lewende water is (Joh. 4:10), by wie ons genesing vind deur sy afwassing. Siloam was ook die plek wat die water van die Gihon-rivier opgedam het. Gihon was een van die riviere in die Paradys en in Jerusalem is dit beskou as terugwysend en heenwysend na die herstelde Paradys (Gen. 2:13; 2 Kr. 32:20). By die huttefees (Joh. 7-9) was water en lig telkens ter sprake en is daar gebid om God se nuwe water wat uit sy troon en uit die paradys sou uitstroom en wat die nuwe dag van lig sou aankondig (Es. 47; Sag. 14:7-8; Jes. 8:6). Hierdie nuwe skepping word in die Kerk nou in die doop aangekondig en is in vroeë Kerk photismos (Verligting) genoem. Want by die doop erken ons dat ons en ons kinders sonder Christus geestelik blind is, maar in Hom gewas, verlig, gesalf word, om te kan sien en vir God te lewe.

En as ons dit nie (meer) so beleef nie? Laat die ontvouing oor Christus jou hier lei oor wie Hy is: Man, profeet, van God, Seun van God (v.11,17,33,38). Glo in Hom en aanbid Hom (v.38). Ja, gaan terug na jou doop en besef wat reeds daar gebeur het en vra waar dit dan skeefgeloop het. Is Jesus Christus jou lig? Het die sorge van die wêreld jou dalk verstik? (Mt.13:22). Moet jy dalk iets baie spesifiek in hierdie lydenstyd en Paastyd bely wat jou van God verwyder het? Die Gestuurde het gekom sodat ons afgewas, verlig, gesalf kan word. En so ook gestuurdes in die Gestuurde te word.

Werke geraadpleeg

Matthew Henry

Ignatius Catholic Study Bible, New Testament.

John Bergsma, The Word of the Lord. Year A.

Frederick Dale Bruner, The Gospel of John: Pillar New Testament Commentary.