Wys tans plasings met die etiket Efesiers. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Efesiers. Wys alle plasings

2024/04/04

Ware bekering en ware goeie werke

Lees: HK, Sondag 33; Ef. 4:20-5:11

Gedagte vir kinders: Die Here roep ons elke dag weg van ons sonde en om vir Hom te lewe.

Oorsig: Ons leer in die Heidelbergse Kategismus, Sondag 33 van die lewe van ware bekering by ’n gelowige. Daar word maklik van bekering gepraat, maar die Kategismus wil ons aandag vestig op ware bekering. En vanuit die Bybel is die antwoord dat daar twee basiese kenmerke van bekering is wat ons ook twee kant van die dieselfde muntstuk kan noem: Dit gaan enersyds dat ’n mens die oue mens wat regeer word deur die sonde afsterf, en andersyds dat die mens wat deur Jesus Christus bevry is, opstaan in ons lewe (antw. 88).

Dit eis egter nodig dat ons dan groter duidelikheid kry oor wat presies hierdie twee kante van die munt van ware bekering beteken. Die afsterwing van die ou mens gaan (1) daaroor dat daar ’n berou uit die hart is (hartlike berou) dat ons God deur ons sondes toornig gemaak het. Sonde maak die skepping en mense stukkend en onrein en verbreek ons verhouding met die Here, en ware berou beteken dat ons dit begin besef. Maar dit beteken nie net berou diep in ons hart nie, dit beteken ook dat ons nou die sonde sien vir wat dit is en (2) dit daarom hoe langer hoe meer begin haat, eerste in ons eie lewe. Dit beteken ook dat ons (3) in ons dade en praktyke wegvlug/ontvlug van (die gevangenskap van) die sonde (antw. 89).Die ander kant van die munt van ware bekering, die opstanding van die nuwe mens, gaan (1) oor ’n vreugde uit die hart in God deur Jesus Christus. Ons verbly ons in die Here se vrymaking en om weer sy lig en liefde intiem te ken. Dit sluit in (2) ’n lus en liefde en om volgens die wil van God te lewe. God se wil is dus nie swaar nie (vgl. 1 Joh. 5:3-4) en die lus en liefde vir God se wil is die bewys daarvan (vgl. Ps. 119). Dit word ook gelewe en gewys, nie net in sommige van ons werke nie, maar (3) in al ons werke wat dan ook goeie werke genoem word (antw. 90).   

Ons moet egter ook baie duidelikheid hê oor wat goeie werke is. Positief gestel het dit drie basiese kenmerke: (1) Dit word gedoen uit ’n ware geloof. Die diepste rede is nie eiebelang of een of ander afgod wat jou dryf nie. (2) Die maatstaf vir ’n goeie werk is verder die wet van God. Dit is die enigste standaard wat tel. (3) Die doel van die goeie werk is ook duidelik – die eer van God. Dit gaan nie om ons eer of iets anders wat ons eintlik daarmee wil bereik nie. Negatief gestel beteken dit dat ons goeie werke gegrond is in (1) ons goeddunke of (2) insettinge van mense wat dit selfs al vas in wette beskryf het nie (antw. 91).

Besprekingsvraag: Hoe sal jy ’n ware bekering beskrywe?

Insig: Ware bekering is ’n groot saak, en die ego hou nie van hierdie konfronterende kwessie nie. Boonop gaan dit dikwels saam met ’n politieke konnotasie, van toegee aan een of ander stel politieke ideale. ’n Woord soos transformasie in Suid-Afrika veronderstel dikwels ’n soort bekering. Maar ook die oorgawe aan ’n ander orde impliseer ’n soort bekering. Daarom is die bykomende beskrywing van ’n “ware” bekering in die HK so belangrik. Die Skrif leer dat ’n ware bekering ’n radikale omkeer is van jou ego, jou gode, jou leefstyl, ja ook van jou visie op die samelewing, na die lewende God toe. Dit maak oproep op jou diepste hart (Joel 2:13), maar ook op uiterlike dade (Mat. 12:43-45), en dit gaan jou hele lewe lank aan, vanaf jou kinderdae tot en met jou sterwe. Daar is ’n wortelbekering en voortgaande bekering, maar die een veronderstel altyd die ander. En ten diepste kan dit net begin as God ons voor alles bekeer het (vgl. Dt. 30:6; Kl. 5:21).