Wys tans plasings met die etiket Kant. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Kant. Wys alle plasings

2020/03/13

Hamann en heerlike hindernisse

Hier volg sommer net 'n paar eerste indrukke, of eerder prikkels, oor Johann Georg Hamann (1730-1788). Hy word wat statuur betref, redelik algemeen as die gelyke van Kant en Hegel geag. Wat hom so besonders maak, is dat hy alreeds as vriend en tydgenoot van Kant op 'n beter alternatief gewys het. Wanneer sovele vandag nou wonder wat ons met onse postmoderne generasie en sy Z.2's moet maak, rys Hamann omhoog as grondliggende aanbieder van 'n alternatiewe post-sekulêre visie. 

Tussen John Betz en Oswald Bayer se sekondêre werke oor Hamann kan 'n Christen reeds oriënterend verlore en verwonderd raak oor hierdie baie spesiale gesant. In die agttienhonderds al kon hy die tipe lewe spreek wat aan die begin van die een-en-twintigste eeu eers meer berekend waardeer kon word vir die klare wyn wat dit is. Ja, 'n mens kan ook maklik ontsteld word dat jy nou eers van hom kennis neem. Maar dalk was jy, was ons, nog net nie gereed nie. Kyk, as iemand die postmoderne era reeds twee eeue vantevore kon antisipeer en meer nog, 'n kragtige antwoord daarop kon ontwikkel, behoort ons die hoede af te haal oor 'n man wat verbygestap het in die geskiedenis. Ons behoort ook vir mekaar te erken as ons hom aangehoor het, dat hy eintlik net kon sê wat hy gesê het as die gees van God in hom gewoon het. 'n Mens kry iets van die gevoel van ontsetting wat aan die hof van Farao en Nebukadnesar moes vaardig wees toe Josef en Daniel drome kon uitlê wat deur die waarheid daarvan reeds seggingskrag gehad het, maar ook deur die toekoms as bokant die tye geëer sou word. Praat die uwe nou in hiperbool net om aandag te trek? Laat die leser maar lees en dan self besluit, maar so van lees gepraat, kom ons begin deur sommer net vanuit Bayer se eerste bladsye te wys op hoe Hamann sy lesers uitgedaag en aangevuur het. 

Hamman skryf welbewus moeilik. Hy rig deurdag hindernisse op vir sy lesers, sê Bayer. Waarom?

2014/05/28

GeKant teen die waarheid

Hier volg enkele dele uit Reardon se reeds genoemde artikel in Afrikaans. Sy verduideliking is kort, maar baie kragtig. Daar lê wêrelde en geskiedenisse opgesluit in sy woorde. En die bepaalde soort Kantiaanse skaduwee wat hy aantoon moet nie misgekyk word nie. Dit is, dink ek, nie moontlik om die benarde posisie van teologie in Suid-Afrika te begryp sonder hierdie insig van Reardon nie. Die betekenis en invloed van Nominalisme en Voluntarisme moet baie duideliker in ons woordeboeke onderstreep wees. Dit help baie om die storie van teologie in Amerika, maar ook Suid-Afrika, te ontrafel:

"Populêre moraliteit in die huidige Amerikaanse kultuur is diep in die skuld by beide die Nominalisme van die Laat Middeleeue en die Voluntarisme van die Verligting. Aangesien ek hierdie skuld as betreurenswaardig beskou, sal dit dalk goed wees om te begin met 'n kort verduideliking van hierdie terme.

Volgens die Nominalisme van die Laat Middeleeue, word ons konsepte geskep deur ons denke. Na aanleiding van hierdie teorie, neem ons inligting, verkry deur ons sintuie, en ons gebruik hierdie data om samehangende vorm te gee aan daardie abstraksies wat as "idees” bekend staan. Dit beteken dan dat "waarheid" 'n skepping is van ons denkprosesse. Ons deel die gemeenskaplike "name" (nomina) van die dinge, maar nie die eintlike waarheid waarna hierdie name verwys nie.

Hierdie teorie van kennis vorm die basis van die Verligting se Voluntarisme. Volgens hierdie morele skool, skep die menslike wil (voluntas) die morele norme, baie soos wat die menslike verstand abstrakte konsepte skep. Morele redenasie is diensbaar aan 'n verbintenis van die wil, en morele norme word bevestig deur die morele keuses. Die morele wet is gebaseer op 'n morele besluit.

Buite hierdie keuse is daar geen morele wet nie, net soos wat daar geen "waarheid" buitekant menslike opvattings daarvan is nie. Die enigste "morele beginsel" is 'n akte van die keuse. Alle etiek is gekose etiek. Daar is geen blywende morele norme wat werklik - in re - "daar buite" is nie. Daar is niks wat "bestaan​​" wat bevele aan die gewete kan dikteer nie."

Reardon eindig sy betoog met die volgende woorde: "Hier is my eenvoudige tese: Die mens se kapasiteit vir morele persepsie is inheems aan sy geskape wese. Of sy persepsie verlig is deur die Evangelie en verhef deur Goddelike genade, of nie, is irrelevant tot die oorsprong daarvan; daar is wette waardeur alle mense gebind is as gevolg van die geskape orde."

2014/05/27

Deutrek van Kantiaanse liberalisme

Soms is dit goed om vanuit ander oorde te hoor wat aangaan. Hier is ’n artikel afkomstig uit die Ortodokse Kerk, van ene Patrick Henry Reardon.  Hy verwys aan die einde na iemand wat deesdae nogal gereeld op die radar verskyn, maar waarvan die meeste onder ons nog net gehoor het: Maximus die Belydende! 

Kom ons stel die vraag na die belang van Maximus vir ’n oomblik ter syde. Hierdie artikel plaas na my mening kort en kragtig die vinger op die pols van twee basiese sake wat onderliggend voortdurend 'n rol speel in ons (modernisties/postmodernistiese) gesprekke: Nominalisme en Voluntarisme. Die briljantheid van die artikel lê myns insiens in Reardon se vermoë om die eenvoud van die twee geite aan die orde te stel. 

En dit gooi natuurlik olie op my vuur in die vermoede dat ons teologie deurtrek is, nie van Oxi-Vite soos in die kostelike advertensie nie, maar van Kantiaanse liberalisme. In 'n volgende aflewering sal ons die masjiengeweer op Afrikaans stel en dele uit die artikel vertaal.