Die uitdrukking "'n persoonlike verhouding met die Here" word dikwels goedbedoeld onder Christene gebruik. Daarmee wil ons aandui dat die verbondsverhouding met God iets persoonliks is wat jou hart opeis. Christenskap is nie maar bloot 'n filosofie of gedragskode waar jou kop en jou hart en jou hande op verskillende kontinente bly en net so nou en dan vir vuisvergaderings byeen kom nie. Nee, Christenskap beteken dat jou wese in beslag geneem is en dat daar 'n wonderlike, intieme en egte verhouding tussen jou en God is. Dit is mos kindertuin kategese, sou baie reken. Of nee, wag: Dit is die enigste kategese wat nodig is. Solank kinders net dit gesnap het, net dit in hul harte geskrywe staan, is alles reg. Kategese met al die leerstellinge en doktrines en dogma kan hierdie proses maklik net belemmer. Persoonlike verhouding, persoonlike verhouding - dit is wat saak maak. So lui die postmoderne kategese, Postmodern Cats 101, 201 en 301 se handleidings.
Maar het die Heidelberg Cats (Heidelbergse Kategismus) dan geen antwoord hierop nie? Hulle het, maar blykbaar wil mense nie meer luister nie. Miskien is dit ons skuld. Ons dis dikwels die HK in rasionalistiese gewaad op en is so abstrak en eksistensieel afgewater as wat kan kom - 'n byna onvergeeflike sonde as jy toevlugsoorde soos Veldkamp, om maar een van die bekendstes te noem, op jou rak het. Dit word vertel dat Abraham Kuyper die kinders so kon boei dat hulle op die punte van hulle stoele gesit het as hy vir hulle kategese gegee het. Gebeur dit nog in ons aanbiedings van die 52 weke? Blykbaar het die vissers van sy eertydse gemeente in die week sy verklaring op die Kategismus, E Voto Dordraceno saam see toe geneem om te bestudeer.
Ek wil dit waag om myself baie bloot te stel. As jy nie die moeite wil doen om die Heidelbergse Katte se waarheid met goeie beplanning, passie en kleur oor te dra nie, of ten minste binne 'n konteks van liefde, warmte en geborgenheid nie - en hier is my kop nou op die blok - los dit liewer heeltemal uit. Laat 'n Arminianis wat die Bybel glo hulle eerder met vuur tot by die troon van genade bring as wat hulle deel word van die gevriesde uitverkiesdes.
Maar ons is nog steeds by tweede (derde, vierde) prys. Daar is die eerste prys of ten minste iets wat baie beter is. Dit is vir seker beter as baie goedbedoelde gebrabbel oor die persoonlike verhouding met die Here. Waarom so sterk hierteen standpunt inneem? Het die eerste paragraaf dan nie by die skrywer self ingesink nie? Dit het en drie hoeras daarvoor. Maar, die begrip persoonlike verhouding met die Here, is op sigself so wyd dat jy met 'n ossewa en selfs 'n paar liberale teoloë bo-op daarbinne kan draai. Die groot vraag is: Hoe spel jy jou persoonlike verhouding met die Here? Dit is die vraag wat al die verskil maak. Kom ons neem 'n voorbeeld: Richard Niebuhr het die liberale teologie se definisie van 'n persoonlike verhouding met die Here by geleentheid so beskrywe:
'n God sonder toorn,
bring mense sonder sonde
in 'n koninkryk sonder oordeel
deur die bedienige van 'n Christus sonder 'n kruis
Dit is ongelukkig hoe baie steeds vandag implisiet 'n verhouding met die Here spel as die Bybel en die HK nie meer funksioneer nie. Sonder om die algemene genade daar te ontken, gaan kyk maar net Oprah-verwante programme. En moenie dink dit gaan nie gepaard met mense wat ernsig is met vroom uitdrukkings daarby nie. Wie wil dan nou stry teen mense wat so gevoelvol hieroor is? Beslis nie die duiwel nie. Want sien, bogenoemde beskrywing is 'n pseudo-verhouding wat naar maak, wat die vrees en geregtigheid van God nie ken nie en nie sidder vir die kake van die hel nie. Beteken dit dat hier 'n pleidooi gelewer word vir die rehabilitering van helleprediking? Soos die gevierde apostel dit stel: Nee, stellig nie! In elk geval nie soos wat dit maklik bloot moralisties verstaan word nie: Wees nou 'n goeie seuntjie of dogtertjie sodat jy nie hel toe hoef te gaan nie. Stellig nie! Maar waarvan ons