Wys tans plasings met die etiket Chestertoniaanse Calvinisme; Wilson. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Chestertoniaanse Calvinisme; Wilson. Wys alle plasings

2022/04/07

Oom Ches en wêreldbeskouing (3)

“Mense het altyd een van twee dinge: óf ’n volledige en bewuste filosofie óf die onbewustelike aanvaarding van die gebreekte stukkies van een of ander onvolledige en versplinterde en dikwels gediskrediteerde filosofie.” – G.K. Chesterton.

Ons het die vorige keer begin stilstaan by die moontlikheid van iets soos ’n Chestertoniaanse Calvinisme. Is dit moontlik dat Calviniste ten minste op gekwalifiseerde wyse deur iemand soos Chesterton geinformeer kan word? ’n Calvinis soos Douglas Wilson dink wel so en meen dat oom Ches kan help om wêreldbeskouing te laat vlieg. In hierdie aflewering hou ons hierdie vlug vanuit ’n ander hoek dop. Ons luister in op ’n hedendaagse Chestertoniaan se beskrywing van oom Ches se benadering tot iets soos wêreldbeskouing. Dale Alquist, een van die voorste kenners van Chesterton vandag, beskryf hom deur middel van die begrip omvattende denker (a complete thinker). Sy inleiding en eerste hoofstuk in sy boek wat oor oom Ches as omvattende denker handel, word hier ingespan.[i] Alquist se beskrywing word samevattend behandel met enkele opmerkings oor die raakvlakke met Calvinistiese benaderings oor dieselfde sake. Dit geskied in twee aflewerings onder die volgende drie hoofde: (1) Waaroor dit in omvattende denke gaan, (2) hoe die mondering daarvan lyk, en (3) wat die grondslag van so ’n aanslag is.