Gedagte vir kinders: Die Here Jesus wat opgeneem is in die hemel kom
weer.
Oorsig: Die Here het deur Lukas, die geneesheer, vir ons
twee kosbare Godgeïnspireerde getuienisse in sy Woord gegee. Die eerste boek
gaan oor alles wat die Here Jesus begin doen en leer het (v.1). Die tweede
boek, Handelinge, gaan oor alles wat die Here Jesus voortgegaan het om te doen deur
sy liggaam, die Kerk, in die krag van die Heilige Gees. Lukas skryf, soos in sy
eerste boek, aan Theofilus, wat een of ander belangrike persoon was, maar wat
hy nou op sy Naam noem. Theofilus beteken geliefde van God of Godliefhebber en
beide betekenisse is hier van toepassing, ook op elke gelowige en die bedoeling
is dat sommige wat lees ook so kan word. Lees Lukas en Handelinge daarom met
jou hart.
In sy eerste boek het
Lukas vertel van Jesus Christus tot by die punt van sy hemelvaart nadat Hy aan
die apostel wat Hy uitverkies het, deur die Heilige Gees bevele gegee het (v.
2). Hy het homself aan hulle as lewend na sy dood vertoon deur baie kentekens
en gedurende 40 dae aan hulle verskyn en oor die dinge van die koninkryk
gespreek (v.3). Hy het hulle toe ook bevel gegee om nie van Jerusalem weg te
gaan nie, maar om te wag op die belofte van die Vader wat hulle van hom gehoor
het (v.4). Hy het hulle toe gewys op die bediening van Johannes die Doper wat
met water gedoop het (vgl. Mat.3:11), maar dat hulle nou binnekort met die
Heilige Gees gedoop sou word (v.5). Die wat bymekaargekom het vra die here toe
of Hy in daardie tyd die koninkryk vir Israel weer gaan oprig (v.6). Die Here
Jesus het hulle geantwoord dat die tyd en geleentheid daarvoor hulle nie toekom
om te weet nie, omdat die Vader dit deur sy eie mag bepaal het (v.7). Hulle
moes eerder moes fokus op wat hulle taak was en hoe die koninkryk van God ’n
werklikheid sou word op aarde. Wat hulle kon weet is dat hulle krag sou ontvang
wanneer die Heilige gees oor hulle kom.
So sou hulle getuies wees in Jerusalem, die stad van god in die Ou testament.
Maar dit sou ook gelyktydig (sowel as) uitkring na die hele Judea en Samaria en
verder tot aan die uiterste van die aarde (v.8).
Daarna is die Here
Jesus opgeneem in die hemel terwyl hulle dit sien. ’n Wolk het Hom voor hulle
oë weggeneem (v.9). toe die dissipels nog so stip na die hemel kyk terwyl Hy
weggaan het daar twee manne in wit klere by hulle gestaan en gesê: manne van
Galilea, waarom staan julle en kyk na die hemele. Hierdie Jesus wat van julle
opgeneem is in die hemel, sal net so kom soos julle Hom na die hemel sien
wegvaar het (v.11).
Besprekingsvraag: Hoe wys Dawid as koning hier heen na Christus as
opgestane Koning?
Insig: Die Here Jesus se voortgaande werk na sy opstanding was enersyds nuut , maar kan andersyds net deur die lense van die Ou Testament na waarde begryp word. Ons verneem hier van die Een uit die nageslag van Dawid wie se ryk geen einde sal hê nie (Luk. 1:32-33). Hy vertoon Homself vir 40 dae lank na sy opstanding aan sy dissipels en eet en drink saam met hulle (Hand. 10:41). Om saam te eet dui op innige gemeenskap en verbondenheid, maar hier ook dat die Koninkryk in beginsel reeds gekom het (vgl. Luk. 22:16,18). Die 40 dae herinner ook aan die motief van toetsing en gereedmaking (vgl. Moses, Israeliete, Elia, Christus). Die dissipels se vraag oor die heroprigting van die koninkryk vir Israel was daarom uit fokus, maar nie ongegrond nie (v. 6). Hier is sprake van die Koning wat sy troon gaan bestyg met die hemelvaart en daarmee die troonbestyging waarvan die Psalms praat vervul (vgl. Ps. 2; 110; Dan. 7:13,14). En die proklamasie hiervan kring ook uit vanaf die stad van Dawid, Jerusalem, waar die Messias verwag is. Dit kring in konsentriese sirkels uit soos met Dawid destyds, vanuit Jerusalem, na sy stam en dan sy volk en bondgenote. Maar hier word dit nou vervul tot aan die eindes van die aarde. Rome wou graag met hulle paaie die Romeinse vrede na die verste gebiede bring. Hier hoor ons hoe dit eerder sou gebeur.