2021/11/18

Hemelvaart en heerskappy

Lees: Daniel 7                 

Gedagte vir kinders: Jesus Christus is die Koning en sterker as enige koninkryk op aarde.    

Oorsig: Ons ken die eerste deel van die boek Daniel (hfst.1-6) redelik goed wat oor Daniel en sy vriende in Babel gaan. Ons is minder bekend met die tweede deel (hoofstuk 7-12). Dit handel oor gesigte wat die Here aan Daniel gegee het oor wat verder sal gebeur in die wêreldgeskiedenis. Soos Openbaring word dit soms apokaliptiek genoem en beteken letterlik (apo+kalipsis) dat die bedekking weggeneem word. Dit hou dikwels verband met die einde van bepaalde eras en die voleinding van die wêreld (eskatologie) of eras wat daarna heenwys.

In Daniel 7 lees ons van Daniel se gesig van vier wêreld-koninkryke. Dit kom baie ooreen met die gesig van die beeld van Nebukadneser (Dan. 2). Ons kan Daniel 7 breedweg in twee dele indeel. Vers 1-14 handel oor die gesig en vers 15-28 handel oor die verklaring daarvan. Daniel vertel van die gesig  van vier groot gediertes wat uit die see opklim (v.1-8). Ons hoor van (1) ’n  leeu met vlerke soos ’n arend. Dan hoor ons van (2) ’n dier wat lyk soos ’n beer met drie ribbes in sy bek. Hierna is daar (3) ’n dier soos ’n luiperd met vier vlerke en vier koppe (vgl. ook Op.13:1). Die vierde dier (4) was vreeslik en skrikwekkend en sterk met groot ystertande. Dit was verskillend van die vorige diere en het tien horings gehad. Tussen hierdie horings het daar ’n ander klein horinkie opgekom wat drie ander ontwortel het en baie groot gepraat het.  

Hiermee saam sien Daniel vir God (die oue van dae – ancient of days) op die troon en praat daaroor in simbole-taal (v.9-10).

 Sy kleed was wit soos sneeu (reinheid) en die hare van sy hoof soos skoon wol (wysheid). Die troon was van vuurvlamme (krag en heerlikheid) en die wiele brandend (Hy kon oral heengaan). Duisende der duisende het Hom gedien en voor Hom gestaan en die boeke is geopen (sy orde en reg en geregtigheid). Hy het al die diere se heerskappy weggeneem (v. 11-12). Daniel het toe een gesien soos die Seun van ’n mens wat by God kom en aan Hom is die eer en heerskappy en koningskap vir altyd gegee en al die volke en nasies het Hom vereer. Daniel het toe veral oor die skrikwekkende vierde dier en die klein horing verdere verduideliking gekry. Die vier diere verteenwoordig vier wêreldordes, maar uiteindelik kry die heiliges van God die ewige koningskap (v.22,27). Die horinkie sou God se kinders mishandel, en probeer om hulle godsdiens (tye en wet) te verander (v.24-26). Dit sou net ’n kort rukkie wees (halwe tydperk van ’n week – tyd, tye, halwe tyd) en dan sou hierdie heerskappy vir altyd verdelg word en sou alles aan die kinders van God oorgegee word .           

Besprekingsvraag: Hoe leer Daniel ons om getrou te wees in wêreldse koninkryke?

Insig: Ons dink soms dat honderde jare tussen die Ou en Nuwe Testament verloop het waaroor God niks gesê het nie. Hier sien ons dat God wel openbaar het wat die hooflyne van die gebeure sou wees totdat die Messias kom. Verklaardes was tradisioneel ten regte oortuig dat die vier dele van die beeld van Nebukadneser se droom (Dn. 2) en die vier diere hier op dieselfde wêreldryke dui: Die Babiloniërs, die Medo-Persiërs, die Grieke en die Romeine voor die koms van Christus. Dit beteken dan dat die klip wat die beeld vermorsel in Daniel 2 en die Seun van die mens wat al die mag ontvang in Daniel 7, duidelik in verband staan met gebeure in die Romeinse wêreldryk en daarom met Jesus Christus (vgl. Dan. 2:44-45; 7:13-14). Dit beteken dat die klein horinkie wat vernietig en vernietig word, se eerste toepassing by figure soos Julius Caesar of Nero in die Romeinse tydperk gesoek moet word (Vgl. ook Op. 13:1). 

Verdere toepassings hiervan beteken dat ons die patroon hiervan ook verder in die geskiedenis van die Kerk raaksien. Ons kan die analogie van 'n wyserhorlosie gebruik om iets hiervan beter te verstaan. Die patroon van magte wat die Kerk wil vernietig kom telkens na vore, maar dit wys nog net dat die lang wyser nog 'n keer in die geskiedenis omgegaan het. Die kortwyser is nog nie noodwendig op 12 nie. Eendag sal dit wel so wees. Intussen weet ons dat die Kerk te midde van die wêreldmagte haar werk doen. 

Ons word hierdeur opgeroep om altyd weer en verder te kyk as die mag en glans van wêreldryke (vgl. v. 9,11). Daarom kan die massa-media nie ons Woord of ware Noord wees nie. Wêreldryke vergaan en vertoon slagtande as jy net genoeg tyd gee. Hulle was al dikwels in die geskiedenis verantwoordelik vir baie verskrikking. Ja, in God se beskikking het hulle ook soms as skuilings gedien vir God se kinders, maar die dierlike aard daarvan kan skielik byt en verskeur. Wêreldmagte is dikwels bloot ons eie-ek wat groot geskrywe staan. Sonder Christus word ons, word wêreldmagte gou skrikwekkend dierlik. Dit is ook belangrik om te besef dat elkeen van hierdie ryke gereken het dat hulle die antwoord op die vorige orde is, en telkens was dit tydelik en ’n illusie. Die harde werklikheid van die sondeval beteken dat ons ook moontlik ander ordes kan beleef, maar geen orde kan waarlik blywend nuut wees en voortdurende vernuwing bring nie. Iets meer as dit is nodig.

Dit bring ons by die goeie nuus van die gedeelte. Te midde van die wêreldryke laat God sy koninkryk kom op deurslaggewende wyse in die volheid van die tyd. Die beskrywing, Seun van die mens, word deur die Here Jesus in sy aardse bediening gebruik (Mrk. 13:26). Tydens sy verhoor sluit Hy ook by hierdie woorde van Daniel aan om te bevestig dat Hy wel die Seun van die mens is (Mrk. 14:62-64; Ps. 110). Hiervoor word Hy gekruisig, want die Lam is nodig om ons van ons dierlike slagtande te bevry. Maar hierdie Lam oorwin die dood. Hy staan nie net op uit die dood nie. Hy vaar ook op na die hemel en kom by die Vader aan. Wat het gebeur toe Hy daar aankom? Daniel vertel ons reeds hiervan. Die Seun van die mens het alle mag en heerlikheid ontvang. Hy is reeds Koning van die konings vir al die nasies en alle wêreldmagte. Hy het die enigste nuwe orde reeds ingelei. Dit is reeds besig om in erkenning toe te neem en eendag sal dit finaal volle erkenning kry. Die wonderlike is dat God se kinders, die heiliges, vereenselwig word met Hom en sy koninkryk op die allerintiemste manier (v.22,27). Sy koninkryk is hulle koninkryk. Daarom is dit so belangrik om in Hom gevind te word. Daarom mag gelowiges koningskinders wees in die volle sin van die Woord. Daarom behoort die Kerk nie net priesterlik nie, maar ook koninklik tot die heersers van hierdie eeu te spreek.

Geraadpleegde werke:

John Gill

Jammieson-Fausset-Brown Bible Commentary

Matthew Henry

Paul House, Tyndale

Iain Duguid, REC

Ralph Davis, The Message of Daniel

Peter Leithart, Revelation 12-22 (Insiggewende verbandlegging tussen Daniel 7 en Openbaring 13 en 17)

Keil & Delitzsch (Belangrik vir ’n goeie oorsig oor die probleme van moderne kommentare wat Antiochus Epifanus en die Makkabeërs as verklaringsprinsipe in Daniel gebruik).