Lees: Mattheus 1:18-25
Gedagte vir kinders: Jesus Christus is waarlik God en waarlik mens.
Oorsig: Mattheus begin sy evangelie met ’n geslagsregister van
Jesus wat Christus genoem word (1:1,16). Hy toon aan dat Jesus na sy mensheid
aan sy wettige (nie-biologiese) vader op aarde se kant, uit die geslag van
Abraham en Dawid is aan wie die groot beloftes oor die Messias gemaak is.
Daarna vertel hy ons oor die geboorte van Jesus Christus. Hy wys daarop dat
Maria swanger was deur die Heilige Gees toe sy moeder Maria verloof was aan
Josef, maar voordat hulle saamgekom het in die huwelik (v.18). In daardie dae
was ’n verlowing die eerste wettige stap in die sluiting van ’n huwelik, maar
hulle het nog nie saamgebly nie. Dit het eers na die tweede wettige stap
gebeur. Ons kan ons daarom indink wat Josef moes gedink het toe Maria swanger reeds
was. Daar kon tog net een rede wees: Iemand anders het by haar geslaap.
Josef was ’n
regverdige man en volgens die Ou Testament moes hy sulke ontrouheid nie aanvaar
het nie en kon hy skei (vgl. Deut. 22: 13-24). Maar hy was regverdig en barmhartig en wou dit nie ’n
openbare saak maak nie en wou in die geheim van haar skei (v.19). Hy het so die
risiko loop dat mense sou dink dat hy dalk die slegte man was wat nie sy
verantwoordelikheid aanvaar nie. Terwyl hy dit in gedagte gehad het, het ’n
engel van die Here in ’n droom aan hom verskyn en gesê: “Josef, seun van Dawid,
wees nie bevrees om Maria, jou vrou by jou te neem nie, want wat in haar verwek
is, is uit die Heilige Gees.” (v.20) Die engel het verder gesê dat sy ’n seun
sal hê en dat Josef hom Jesus moes noem. Dit is die Griekse naam vir Josua wat
beteken “die Here verlos”. Die Engel het verder verduidelik dat Jesus sy volk
van hulle sonde (let wel) sal verlos (v.21).
Mattheus
verduidelik dan dit alles gebeur het sodat die woord uit Jes. 7:14 (uit die Griekse
vertaling, die Septuaginta, die LXX) vervul sou word wat die Here deur die
profeet gespreek het: Kyk die maagd sal swanger word en ’n seun baar, en hulle
sal hom Emmanuel noem. Dit beteken, as dit vertaal word: God met ons (v.22-23).
Toe Josef uit die slaap uit wakker geword het, het hy gedoen soos die engel van
die Here hom beveel het en sy vrou by hom geneem (v.24). Dit het beteken dat
die mense sou skinder oor die mense wat ’n kind gehad het voordat hulle huwelik
verseël is. Hy het egter nie by haar geslaap en intiem verkeer totdat sy haar
eersgebore Seun gebaar het nie. En hy het Hom Jesus genoem, soos hy beveel is
(v.25).
Besprekingsvraag: Wat leer hierdie gedeelte ons oor wie die Christus van die Skrifte is?
Insig: Hierdie agt verse is gelade met lering oor wie Jesus Christus is en wat Hy kom doen het. Dit gaan oor die vleeswording, ’n wonder wat ons verstand te bowe gaan. Een kommentator (Platt) noem hierdie wonder tereg die grootste wonder in die hele Bybel en die grootste misterie in die heelal. Want wat kan meer verstommend wees as dat God mens geword het in Jesus Christus? Dit is die belangrike basis wat ons help om sin maak van waarom Jesus Christus so belangrik, so onopgeefbaar, so onvervangbaar is.
Sy naam moes “die Here red” wees (Jesus), en die twee pertinente
figure in die Ou Testament met hierdie naam (vgl. Josua; Sag. 3 en 6) wys beide in
hul roeping na Hom. Want Hy is die opperste Leidsman en Hoëpriester wat sou kom en die
betekenis van sy Naam dra eintlik hier ’n dubbele landing. Want Hyself sou ons red soos die
Here in die Ou Testament gered het. Dit word ook duidelik in sy bediening dat
Hy baie meer as net 'n mens is. Wanneer Hy mag oor siekte, die
natuur, die demone en satan, en selfs die dood openbaar, word dit alreeds voor sy opstanding al duidelik dat Hy waarlik mens, maar ook waarlik God is. Hy praat ook soos een wat óf waansinnig is, óf waarlik God. Mattheus maak reeds van die begin af duidelik dat hier iets nuuts in die geskiedenis plaasvind, want Maria word
swanger bevind – nie uit Josef nie, maar uit die Heilige Gees. Dit laat ons
besef dat hierdie redding nie deur ons werke of voornemens of voortreflikheid kon plaasvind nie - of dit nou deur eie vermoë of gesamentlik deur tegnologie of opvoeding of politiek is nie. Daarom
is daar hier ’n ooreenkoms met die skepping in Genesis 1. Soos die Gees gesweef
het op die waters by die skepping en later in die mens ingeblaas is, so kom die
Gees oor Maria om iets nuuts te bring deur die geboorte van ’n rein mens wat sonder
sonde was.
Wat het Hy kom doen en wat was die doel
van die vleeswording? Die engel in Josef se droom, wat droom soos die Josef van
Genesis, spel dit uit en dit arresteer ons elkeen, want dit konfronteer ons met
ons grootste probleem en ons grootste gebondenheid. Die mense van die Ou Testament
het geweet dat sonde hulle uit die paradys en uit die allerheiligste deel van
die tempel gehou het. Hulle het ook geweet wat gebondenheid is deur die
oorheersing van die vreemde magte en moondhede soos Egipte, Babel en Rome. Hierdie
Verlosser, sê die engel egter, sal ons van iets nog sterker en gevaarliker
verlos, iets wat ons weghou van God en dieper as enigiets bind – ons sonde. Van
binne af, uit onsself, sou ons dit nooit kon uitsorteer nie. Daarom moes Hy van
buite af in ons menslike toestand indaal om die sonde in ons plek te dra en die
kettings daarvan te verbreek. Dit dring ons tot selfondersoek. Maak ons dalk nóg staat op enigiets anders vir bevryding? En daarom kan ons
die woord sonde nie in die Kerk vermy as ons ons diepste probleem wil hanteer
nie. Maar dit bring ons nie tot wanhoop nie, want Jesus Christus het juis gekom
om ons diepste probleem effektief te hanteer. Laat ons altyd onthou: Die
blye boodskap van lig oor wie Jesus Christus is, beteken dat ons nie wegskram
van die donkerste sondeleer oor onsself nie. Sy totaal-unieke geboorte bevestig
dit. Ons hoor by Abraham en Isak en Simson en Samuel alreeds dat God se
beloftes waar word deur unieke geboortes wat net Hy kon waar maak. Dit het
alreeds kragtig getuig dat God se redding nie kom deur menslike vernuf of krag
nie. Maar hier gebeur iets in die vervulling wat ongekend is. Dit is ’n maagd
wat swanger word uit die Heilige Gees. Dit is nie vergelykbaar met die heidense
verhale van gode wat in sonde met vrouens gemeenskap het nie, en dit is ook
iets anderkant dit waarna die Ou Testament met unieke geboortes uit man en vrou vooruit gewys het. Want om te doen wat Hy gekom het om te doen, kon net gebeur deur Hom waarlik God en waarlik mens is.
Dit roep ons op tot onderwerping aan Hom en sy redding. Dit beteken nederigheid, bekering en geloof in Hom wat mens geword het vir ons. Dit beteken dat ons nie hierdie teken wat vir ons gegee is, sal minag soos Agas toe die belofte van ’n maagd vir die huis van Dawid vir die eerste keer gegee is nie (Jes. 7:13-14). Want in Jesaja 7 leer ons, wanneer ons daaroor verder lees, dat Immanuel beteken dat God naby gekom het, om te red, maar ook te oordeel, soos in Agas se tyd. Dit het dan ook in Mattheus se tyd later gebeur met Herodes en die godsdienstige leiers. Maar elkeen wat Hom in nederigheid erken en ontvang as die Een wat ook jou sonde kan hanteer, het die belofte dat God met jou is om jou te verlos, te bewaar en te beskerm. In die Ou Testament was die spesiale plek waar God Homself openbaar het, die tempel in Jerusalem. Dit is vervul in Jesus Christus wat van sy vlees as die tempel kon praat. Hy is steeds die Een in wie God met ons is as Verlosser en Bewaarder. En ons mag nou intieme gemeenskap met God in Christus oral beleef. As ons se dat ons sy nabyheid nie beleef nie, moet ons eerstens ondersoek instel of ons nog naby die vuur van sy genademiddele staan: die Woord, die gemeenskap van die gelowiges, die armes en die Nagmaal. Dit gaan ook nie net om persoonlik warm te voel nie, want Hy, die verhoogde Koning, stuur ons ook uit na die wêreld. Die versekering dat Hy met ons is tot aan die voleinding van die wêreld, staan spesifiek in verband met die wat sy Kerk het om te gaan en dissipels te maak van al die volke (vgl. Mat. 28:17-20). So begin en eindig Mattheus dan met die heerlike belofte dat God met ons is deur Jesus Christus.
Werke geraadpleeg
Frederick D
Bruner, Matthew: A Commentary.
Peter Leithart,
Jesus as Israel, Volume 1.
Matthew Henry.
David Platt,
Exalting Jesus in Matthew (Christ-Centered Exposition Commentary)
Curtis Mitch
en Edward Sri, The Gospel of Matthew.