Wys tans plasings met die etiket Corona-19. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Corona-19. Wys alle plasings

2021/11/03

Terugskouing en vooruitskouing op C-19

Vanoggend weer afgekom op die volgende boodskap wat op 9 April 2020 aan ons dosente en studente uitgestuur is. Die Corona-pandemie/histerie was toe nog net onlangs in swang. Belangriker, ons was oppad om weer Paasfees te vier. 

Geagte BA en NGOS dosente en studente 

Hier waar ons byna op die vooraand van Goeie Vrydag is, staan ons stil by Jes. 26:20: "Kom, my volk, gaan in jou binnekamers en sluit jou deur agter jou toe, verberg jou vir ‘n klein oomblik, totdat die grimmigheid verbygaan."

 Jesaja verwys na God se oordeel in sy tyd wat die inwoners van die aarde geregtigheid sou leer. Dit klink baie toepaslik, maar om dit hier, net voor Goeie Vrydag en in die virus-tyd, vir ons toe te pas in die lig van die hele Bybel, moet ons op twee sake let: 1. Skuiling in tye van God se oordeel en 2. Skuiling by die plek wat God aangedui het.

1.       Skuiling in tye van God se oordeel

Die patroon van oordeel en skuiling vir gelowiges is duidelik in die Bybel. God bring sy oordeel, en Noag gaan skuil in die Ark. God bring sy oordeel oor Egipte, en die Israeliete gaan skuil in die huise met bloedbestrykte kosyne. God bring oordeel oor Jerigo, en Ragab en haar huis skuil in die huis met die rooi tou wat sterk herinner aan die vroeëre huise met rooi deurposte. Ook in Jesaja se tyd lees ons daarvan. Dit herinner sterk aan die verlede, maar wys ook heen na die toekoms, want die volk word hier spesifiek opgeroep word om in hul binnekamers te gaan. Die Here Jesus verwys waarskynlik ook hierna wanneer Hy in die bergpredikasie in Mt. 6:6 ons oproep om na die binnekamer te gaan vir gebed. En dit sluit natuurlik ook aan by die Psalms waar die Here soveel keer aangeroep word as Rots, Skuilplek of Bergvesting. En soos die bekende Spreuke 18:10 dit stel: “Die Naam van die HERE is ‘n sterk toring; die regverdige hardloop daarin en word beskut.” Vriende, laat ons dan in hierdie tyd onthou dat daar in tye van oordeel altyd ’n besondere skuilplek in die Naam van die Here is, in besonder daar in ons binnekamers waar ons Hom aanroep. As daar een ding is waarvoor ons die inperkingstyd kan gebruik, is dit hiervoor.

2.       Skuiling by die plek wat God aangedui het.

Die gedeelte in Jesaja is ook duidelik ’n terugverwysing en die besondere toepassing vir ons, veral hier op die vooraand van Goeie Vrydag, is die skuiling wat die Israeliete gehad het tydens die Paasfees met die dood van die eersgeborenes in Egipte. Die HERE sou met sy oordeel by huise verbygaan, net as hy die bloed van die paaslam aan die deurposte sien (Ex.12:13,22-23). Niks anders sou die oordeel weghou nie – nie die sogenaamde karakter van die mense wat binne was, of die sterkte van die huis, of die sogenaamde geneesmiddels wat mense gebruik het nie, want dit alles was steeds met sonde bevlek.