Wys tans plasings met die etiket prediking. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket prediking. Wys alle plasings

2023/03/28

15 Kolpunte vir die prediking

Ek het onlangs via ’n student weer te doen gekry met ’n handige skema wat sy mentors in ’n ander konteks (blykbaar afkomstig van prof Jorrie Jordaan) vir hom gegee het. Dit bied ’n handige werkswyse aan die hand waarvan hy sy prediking vanuit die Skrif kon struktuur. Treffend is alreeds die begin: Die hele proses behoort biddend benader te word.

Daardie basiese skema word opsommend hieronder geplaas en met geen oogmerk om verbatim aan te haal nie. Daarna gaan ek poog om, vir wat dit ook al werd mag wees, uit te bou met ’n paar gedagtes wat waarskynlik in die oorspronklike werk ook aandag kry. Die bedoeling hier is om in joernaal-formaat dit hier te stoor vir snuffelaars vir die toekoms, en met ’n tweeledige doel. Sommige lesers mag dalk meer byklank by my eerste afdeling vind en ander moontlik by die pulse van my tweede afdeling. En as ’n omnivoor miskien ook soms gelukkiger lyk, wel, dan vind vermenigvuldigende vreugde mos plaas, veral wanneer hoorders uiteindelik hierdeur geseën word.

Hier volg dan Prof. Jorrie se struktuur volgens hoorsê vanaf mentors uit die Dopperwêreld:

2011/06/24

Wettisisme kan maklik dominee(r)

Johan Cilliers het in Suid-Afrika dit alreeds meer as ’n dekade gelede aanhangig gemaak – Die uitwissing van God op die kansel. Hy het die uitdrukking by die onvergeetlike Luther gekry wat op kenmerkende dissonante diskoers geprotesteer het teen die uitwissing van God - die annihilatio Dei in ons optrede. Cilliers het dit van toepassing gemaak op kanseloptrede in die land en die dipstokkie ingesteek by die plek wat veronderstel is om die minste tekens hiervan te dra – radiopreke. Dit wil sê daar waar die kispreke gelewer word. Net jou beste vir die radio, jou persoonlike “onderskeidingspreek,” sou ’n mens vermoed. Cilliers en sy span se bevinding: Wettisisme dominee(r) in Suid-Afrikaanse prediking, tot sover as 90% in die preke wat geanaliseer is.

’n Mens sou seker kon debatteer oor die norme wat aangelê is, maar Johan Cilliers se pleitrede was redelik eenvoudig: Moenie deur jou prediking probeer om God uit te wis nie, maar eerder om Hom uit te wys (Die titel van die opvolg in sy bekende trilogie). Jy wis uit wanneer jou oproepe suggereer dat mense die potensiaal het om die knoop deur te haak. Daarmee ken jy van meet af aan hoogstens ’n assistent-rol aan God toe. Dit is nie ’n onskuldige oefening nie. Die evangelie word so uitgewis, het Cilliers geprotesteer. En as jy konsekwent deurdink moet jy erken dat jy God probeer uitwis.

Hierdie skoktaktiek bly maar nodig vir ons wat alte maklik aan God die assistent-rol wil uitdeel. Dit is nie die boodskap van die Bybel nie. Die goeie nuus is juis dat God se hande nie afgekap is deur ons onvermoë of , onwilligheid nie. Hy is die Hoofrol-Held. Hy het die Gordiaanse knoop deurgehaak, die onmoontlike Sisifus klip tot bo gerol, die koninkryk van God deur Christus nie ’n moontlikheid nie, maar ’n werklikheid gemaak.

En daarom sê dr. Cilliers: Moenie naakte oproepe en bevele aan mense gee nie. Sorg dat jou oproepe en vermanings altyd rus in die groot dade van God. In terme van verhewe taal: Sorg dat jou imperatiewe nooit naak is nie. Laat hulle geklee wees, ja rus in die indikatiewe van die Skrif. En toe lees ek vanmore dieselfde gedagte deur John Stott hier raak. Hierdie saak vra inderdaad internasionaal ons aandag:

"Too many sermons are written 'in the imperative mode', whereas the religion of the Bible  'is written largely in the revealing language of the indicative mode' . . . The power of the religion of the Bible is to be found in its affirmations"

Dr. Cilliers was in sy hoofprotes geregverdig. Ons Afrikaanse bloed het inderdaad nie hierdie probleem vrygespring nie. Ons weerspieël dit selfs in ons taal: “Moenie vir my preek nie” bedoel gewoonlik “moenie naakte vermanings uitdeel nie.” Maar egte preke doen dit juis nie. Egte preke wys jou op die groot en ware verhaal, die eukatastrofe wat jou verhaal kan omdop. Daarom kan egte preke magtige dinge verrig. God gebruik dit om mense vry te preek.

Met erkenning aan dr. Johan: Daar is tog ’n wêreldse verskil tussen

·         “Heilig julle sodat die Here groot dade kan doen” en
·         “Heilig julle, want die Here gaan groot dinge doen;

tussen

·         “Ek wil jou reinig as jy aan die volgende voorwaardes voldoen” en
·         “Ek wil, word gereinig.”

Tien raaie watter frases kom uit die Bybel (vgl. Jos. 3:5; Mat. 8;3).

Daarom die belangrike vraag aan ons elkeen: Lees jy die Bybel op ’n indikatiewe of ’n imperatiewe manier? Toegegee, beide moet funksioneer. Maar die vraag is watter een doen die drawerk. Lees weer die aanhaling uit Stott. Eersgenoemde sien God in die hoofrol en is bly. Laasgenoemde sien hulself in die hoofrol en kan net bly wees as hulle daarvan hou om in ’n waan te lewe.