Wys tans plasings met die etiket Chestertoniaanse Calvinisme; Wilson; Barfield. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Chestertoniaanse Calvinisme; Wilson; Barfield. Wys alle plasings

2022/04/05

Oom Ches en wêreldbeskouing (1)

“Die funksie van die verbeelding is nie soseer om vreemde dinge vas te maak nie, maar eerder om vasgestelde dinge vreemd te maak.” – G.K. Chesterton.

Een van die voorste kenners van oom Ches, Dale Alquist, beskryf hom as ’n omvattende denker (complete thinker).[i] Dit is ’n baie besondere eienskap waarin hy uniek begaafd was. Die betekenis hiervan kan miskien makliker verstaan word as ons hoor wat die filosoosf en digter, Owen Barfield, oor die bekende C.S. Lewis, ’n ander omvattende denker gesê het: “Wat hy oor alles gedink het was vervat in enigiets wat hy gesê het.”[ii] Barfield het ook iets anders oor Lewis gesê wat hierby aansluit: Lewis het geregtigheid leesbaar gemaak. Eintlik moet ’n mens dit in Engels hoor om die kadense en woordspel te waardeer: “Lewis made righteousness readable.” Lewis was in baie opsigte die een wat die aflosstokkie by oom Ches oorgeneem het. En vir wie dit dalk nog nie weet nie: Chesterton se werk, The Everlasting Man, was een van die werke wat die jong Lewis gehelp het om sy weg na die lig te vind.

Maar verbind nou hierdie genoemde unieke vermoëns: (1) Om makro-sake reeds in mikro-sake vervat te sien en in mikro-formaat reeds makro-kwessies te hanteer, en om (2) die vermoë te hê om dit deur aardse beelde so te beskryf dat dit op grondvlak tuiskom en wat (3) goedige Jan-alleman se verbeelding kan laat ontbrand, en jy het ’n potente, gevierde vermoë wat mense sal laat luister. Dit is waarom C.S. Lewis en oom Ches vandag nog gelees word.  

Eintlik behoort elkeen wat die mantel van gelowige dra op een of ander manier iets hiervan te vertoon. Dit staan gewoon in verband met die heerlike amp wat op die koninklike, priesterlike, en profetiese kinders van God geval het. Die meeste van ons groei geleidelik hierin, maar daar is baanbrekers wat ons inspireer om met veer in die tred verder op en verder in te gaan. Dit maak van jou, om ’n gesegde van prof. Bennie van der Walt te gebruik as hy oor wêreldbeskouing praat, ’n siener in plaas van ’n kyker. Ons het baie meer sulke sieners nodig. Te veel Afrikaners is net met die profeet Siener behep, maar besef nie dat ons ander soorte sieners ook nodig het nie.

Dit beteken eintlik niks anders nie as dat ons die amp van gelowige ernstig opneem vir die hele samelewing. En waar ’n hele universiteit dit wil doen, kry jy iets soos die stoere ideaal van die destydse Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoë Onderwys (PU vir CHO). Genoemde prof. Van der Walt en medestanders het in navolging van manne soos Totius en HG Stoker baie gedoen in die strewe om studente-kykers volwasse sieners te laat word. En nou is daar nuwe plekke soos die AAA - APA, Aros en Akademia - wat die fakkel oorgeneem het om steeds ’n nuwe geslag sieners te help vorm. Die vraag is egter ook nou: Hoe kan ons leer uit die foute en die prestasies van hulle wat ons voorgegaan het en hoe kan ons die saak nou nie bloot herhaal nie, maar op hulle skouers staan om sieners ook met nagsig te help?

Oom Ches se omvattend-beeldryke benadering kan help om ’n volgende geslag aan te vuur om ons Calvinistiese voorgangers se bydraes te kombineer met sy grootse aanslag. In volgende aflewerings sal ons dan ook iewers moet uitkom by die begrip van ’n Chestertoniaanse Calvinisme.