2024/02/23

Deurkruisde oorwinning

Lees: Mark 8:27-38

Gedagte vir kinders: Die Here Jesus is ons Verlosser omdat Hy bereid was om vir ons te sterf.

Oorsig: In sy bediening op aarde het daar ʼn belangrike oomblik in die Here Jesus se bediening aangebreek. Hulle het uitgegaan daar na die dorpe in die Noorde van Israel wat Cesarea-Filippi genoem word. Dit was die gebied waar Filippus, die seun van Herodes, die Keiser wou eer en ook sy naam daarby noem. Dit was ’n heidense gebied waar die Keiser as godheid behandel is en ook waar die Griekse god, Pan, vereer is. En juis daar, te midde van die ander godsdienste vra Hy toe vir sy dissipels wie die mense se dat Hy is (v.1). Hulle het geantwoord dat sommige sê Johannes die Doper en ander Elia, en ander een van die profete. En toe vra Hy hulle persoonlik: Maar julle, wie se julle is Ek? Petrus het toe geantwoord: U is die Christus (Gesalfde; v.28-29).     

Die Here Jesus het hulle toe streng beveel om niemand van Hom te vertel nie. Die rede is dat mense, selfs die dissipels, nog nie begryp het wat dit beteken het dat Hy die Gesalfde is nie. Hy het hulle toe begin leer dat die Seun van die Mens (vgl. Esegiël se “mensekind”; Dan. 7:13) baie moet ly en verwerp word deur die godsdienstige leiers, die ouderlinge en owerpriesters en skrifgeleerdes, en gedood word en na drie dae opstaan (v.30-31). Dit het hulle egter nie verstaan nie, maar Hy het dit reguit vir hulle gesê. Petrus het toe die Here eenkant geneem en oor sy woorde oor lyding begin bestraf. Maar die Here Jesus het Hom omgedraai na sy dissipels en hulle aangekyk en Petrus bestraf en gesê: Gaan weg agter my, satan (teenstander), want jy bedink nie die dinge van God nie, maar van die mense (v.32-33). 

Hy het toe die skare saam met sy dissipels na Hom geroep en vir hulle uitgespel wat dit beteken om Hom te volg. So iemand moet bereid wees om homself te verloën en bereid wees om die kruis op te neem, wat booswigte en slawe gedoen het wanneer hulle op pad was na hul kruisdood, die mees skandelike dood van hul tyd, en Hom so te volg. Die Here het verduidelik dat elkeen wat sy lewe wil red, dit sal verloor, maar dat elkeen wat sy lewe om die evangelie ontwil verloor, dit sal red. Hy het hulle ook gevra wat dit sal help om die hele wêreld te win, maar aan jou siel skade te ly. Want wat sal ’n mens kan gee as losprys vir sy siel? Hy het dit toe ook verder duidelik gemaak dat elkeen wat hulle vir Hom en sy woorde skaam in ’n ontroue (owerspelige) geslag, moet weet: die Seun van die mens sal Hom ook skaam wanneer Hy kom in die heerlikheid van sy Vader met die heilige engele (v.34-38).      

Besprekingsvraag: Op watter maniere kan ons steeds vandag soos Petrus hier wees?

Insig: Christus se vraag hier word uiteindelik vir ons elkeen persoonlik: Maar julle, en jy, wat sê jy van die Jesus wat onder ons kom woon het? Die plek waar Jesus dit vra, tussen die skynbaar magtigegodsdienste, toon aan dat die vraag juis gevra kan/moet word te midde van magtige heersende opinies. Ook vandag hoor ons steeds heelwat antwoorde van die tydsgees, waarvan sommige baie vroom voorkom: Hy is besonders, soos een van die profete, selfs soos Elia wat hemel in die opgeneem is (vgl. Mal. 3:1; 4:5). As ons egter in ag neem wat Christus van Homself geopenbaar en gesê het, bevredig “groot profeet” nie. Hy was of ’n duiwelse verleier en/of sielsiek met ’n god-kompleks, of Hy was wel groter as enige profeet. 

Petrus bely dat Hy die Christus is. Daarmee erken hy het dat Jesus die Gesalfde uit die geslag van Dawid is (vgl. Ps. 2:20; 89:38). In Markus is hierdie belydenis ’n draaipunt waarnatoe daar opgebou is. Maar van hier af word dit ook duidelik uitgespel wat dit beteken - dat dit op lyding en die kruis uitloop. Steeds word ons idees van sukses en oorwinning en prestasie saam met Petrus uitgedaag. 

2024/02/16

Toetsing en voorsiening

Lees: Gen. 22:1-18

Gedagte vir kinders: Die Vader het die kruisoffer van die Here Jesus in ons plek voorsien.

Oorsig: Nadat Isak gebore is deur God se belofte toe Abraham reeds 100 jaar oud en Sara 90 jaar oud was, toe Isak al groot was en ten minste hout kon dra, het daar ’n besondere ding gebeur. God het Abraham op die proef gestel en Abraham by die naam geroep: Abraham! Abraham het gehoorsaam geantwoord en toe het God vir hom gesê om Isak, sy enigste (eniggebore/geliefde) te neem wat hy liefhet en om te gaan na die land Moria. Daar moes hy Isak offer as brandoffer op een van die berge wat God sou aanwys (v.1-2).

Abraham het toe gehoorsaam en sommer die more vroeg klaargemaak (vgl. Gen. 21:14) en sy esel opgesaal  en twee dienaars saam met hom en Isak geneem, saam met hout vir die brandoffer (v.3). Op die derde dag het Abraham die plek van ver af gesien en vir die dienaars gesê om by die esel te bly. Hy en Isak sou verder sal gaan om te aanbid en dan terugkom (v.4-5). Hy het toe die hout op Isak gesit en hyself het die vuur en die mes geneem. Isak het vir Abraham gevra waarom daar vuur en hout is, maar nie ’n lam vir die brandoffer nie. Abraham het toe geantwoord (telkens: “my seun”) dat God vir Homself die lam vir ’n brandoffer sal voorsien. So het hulle saamgeloop (v.6-8). Toe hulle by die plek kom wat God aangewys het, het Abraham (1) die altaar gebou en toe (2) die hout reg gelê. Daarna het hy (3) sy seun Isak gebind en hom op die altaar bo-op die hout gesit. En toe neem Abraham die mes (v.9-10).

Toe roep die Engel van die van die hemel af: “Abraham, Abraham!” En Abraham se antwoord: Hier is ek! Hy het toe gesê dat hy nie sy hand na die seun moes uitsteek nie en bygevoeg: “... want nou weet Ek dat jy God vrees, en jou seun, jou enigste, van My nie teruggehou het nie.” (v.11-12). Toe sien Abraham skielik ’n ram wat agter in die bos met sy horings vasgeraak het. Abraham het toe die ram geneem en as brandoffer in die plek van Isak geoffer en die plek genoem: Die HERE sal voorsien! So word daar vandag nog gesê: Op die berg van die Here sal dit voorsien word (v.13-14). Die Engel van die HERE het toe weer na Abraham geroep: “Ek sweer by myself, spreek die HERE, omdat jy dit gedoen het en jou seun, jou enigste, nie teruggehou het nie, dat ek jou (1) ryklik sal seën en (2) jou nageslag grootliks sal vermeerder.” Hy het gesê dat hulle soveel sal wees soos die sterre en soos die sand. Sy nageslag sou verder (3) die poort van die vyande in besit neem, en (4) dat in Abraham se nageslag al die nasies van die aarde geseën sou word. Dit alles omdat Abraham na sy stem geluister het (v.15-18).

Besprekingsvraag: Hoe wys Abraham en Isak heen na die Nuwe Testament?

Insig: Die wandel met God deur die geloof is vol opwinding, maar sluit ook hoë eise in. Ons beleef so ’n lewe soms as skynbaar teenstrydig (paradoksaal). Na soveel jare word die belofte oor Isak se geboorte uiteindelik waar, en nou moet Abraham sy enigste seun wat uit God se belofte gebore is, gaan offer? Ons hoor egter van die begin af dat Abraham beproef word. So kom ook ons by definitiewe toetsings/beproewings in ons lewe. In ’n wêreld waar alles verdra word (tolerance) en definitiewe offers dan gebring word, maak dit nie sin nie, maar by God wel. Dink ook aan Job. Waarom toets/beproef God ons? 

2024/02/01

Kragtige Bediening

Lees: Mark. 1:29-39

Gedagte vir kinders: Die Kerk verkondig die Naam van die Here Jesus is en die Bose moet vlug.

Oorsig: In die vorige deel het ons gehoor van die eerste kragtige teken wat die Here Jesus gedoen het om te wys dat die koninkryk van God deur Hom naby die mense gekom het. Dit het juis op die Sabbat gebeur en in die sinagoge. Dadelik toe hulle uit die sinagoge in Kapernaum gegaan het, het hulle saam met Johannes en sy broer Jakobus, in die huis van Simon en sy broer, Andreas gekom. (v.29). Die skoonma van Petrus (hy was dus getroud; vgl. 1 Kor. 9:5) het siek gelê aan koors (Lukas, die dokter noem dit ’n hewige koors; vgl. Luk. 4:38) en dadelik het hulle die Here Jesus daarvan gesê (v.30).

Die Here het toe na haar gegaan, haar hand geneem en haar opgerig (letterlik: opgewek) en ons lees dat die koors haar dadelik verlaat het. Wat het sy toe gedoen? Sy het die mense bedien (diakoneo). Toe dit aand geword het en die son onder was (m.a.w. net na die Sabbat), het hulle na die Here Jesus almal gebring wat (1) ongesteld was en (2) van duiwels besete was (v.32). Daar was so ’n toeloop dat die hele stad eintlik by die deur saamgekom het (v.33). Baie wat aan allerhande soorte siektes gely het, het Hy gesond gemaak en baie duiwels is uitgedryf. Hy het die duiwels egter nie toegelaat om te praat nie, omdat hulle Hom geken het (v.34).

Die volgende oggend, vroeg in die more, toe dit nog diep in die nag was, het Hy opgestaan en uitgegaan en na ’n eensame plek vertrek en daar gebid (v.35). Simon (Petrus) en die wat by Hom was het Hom gevolg (gesoek), en toe hulle Hom vind vir Hom gesê: “Almal soek U.” Die Here Jesus het egter vir hulle gesê: “Laat ons na die naburige dorpe gaan, sodat Ek ook daar kan preek.” Die Here Jesus het dus nie daarin belang gestel om mense se verskillende behoeftes en nuuskierigheid te bevredig nie. Hy het sy rede ook daarna gegee oor waarom hulle na die ander naby dorpe moes gaan: “... want daarvoor het Ek uitgegaan.” (v.36-38). En so het die Here deur die hele Galilea, daar in die Noorde van Israel, rondgegaan en spesifiek in die sinagoges  twee dinge gedoen as teken van die koninkryk wat gekom het: Hy het (1) gepreek en (2) duiwels uitgedryf (v.39). Die Here Jesus het dus nie bloot sy eie ding probeer doen nie, maar aangesluit by die aanbidding van sy tyd waar die God van Israel vereer en sy Woord gehoor en geleer is. En prediking het voor duiweluitdrywing en genesing gekom.   

Besprekingsvraag: Hoe sit die Kerk van Christus vandag nog steeds sy bediening voort?

Insig: Die bediening van die Here Jesus het dit sigbaar kom toon dat die wêreld baie gebroke is, maar ook dat sy redding en genesing groter is.  Hy is die groot Geneesheer wat gekom het om liggaam en siel te verlos van die magte van die duisternis en van die Bose. Ons kan dit net begin waardeer as ons besef dat iets drasties fout is in hierdie wêreld. Die Bybel maak dit duidelik dat die wêreld besmet is deur die sondeval. Duiwels wat beheer oor mense kry, allerhande siektes en kwale en gebrokenheid is bewyse van die gevalle werklikheid waarin ons leef. Maar deur sy aardse bediening toon Jesus Christus dat Hy omvattend red en heelmaak en dat dit eendag volmaak sal wees. Die Sabbat was teken van die rus en vrede en herstel wat eenmaal volkome sal wees. Daarom was dit so gepas dat bevryding op hierdie dag gestalte sou kry. Die Kerk getuig steeds daarvan, insonderheid op die oorwinningsdag.  

Ons sien ook duidelik waartoe die Kerk van Jesus bevry word. Daarvan is die skoonmoeder van Petrus so ’n wonderlik eenvoudige teken. Die oomblik toe sy genees word, begin sy om diensbaar te wees. Let op: Ons word gered en heelgemaak om diensbaar aan ander te wees. Dit het in die kern gestaan van Christus se koms na die aarde (vgl. Mk. 9:33-37; 10:42-45). Die Kerk het deur die eeue ook bekend gestaan as die instelling wat dien en wat lyding versag.