Nate Wilson is 'n opkomende Christenskrywer wat op die oomblik sy aandag daarop toespits om veral die verbeeldings van kinders so te voed dat hulle grootoog verwondering oor God en sy wêreld nie taan nie, maar toeneem. Ek het al menigmaal gedink dat sy verhale beter voedsel vir verwondering is as menige teologie-, filosofie-, of motiveringsboek. En tog het ek nog nie daarby uitgekom soos dit hoort nie. Sal 'n plan iewers moet maak. Nate Wilson, of N.D. Wilson soos hy bekend staan in die outeursfeer, het die gawe om jou nuut na bekende dinge te laat kyk en dan te laat wonder hoekom jy dit nie self raakgesien het nie.
Hier is 'n bydrae wat hy onlangs vir die bekende webwerf, desiringgod.org, geskryf het en welverdiende aandag trek. Ek het dit probeer vertaal vir diegene wat dit dalk net onder oë sal neem indien dit in onse taal getooi en geplooi is.
Daar is een moontlike misverstand wat sogenaamde "nuwe hervormers" hiermee kan hê en wat ek sou wou noem die kat-aan-die-stert misgissing: Omdat mites en oorgelewerde verhale soms soveel ooreenkomste met die Bybel se ware verhaal vertoon, is dit vir die agterstevoor-kundiges die bevestiging dat die Bybel net nog 'n voorbeeld van mites en sages is. Dit is kat-aan-die-stert logika. Hanteer hierdie kat soos dit hoort op jou skoot en dan verstaan jy dat die Bybel se boodskap so kragtig is dat selfs mites en sages nie kan help om dit na te boots nie. Wanneer hierdie kat van die regte kant benader word, kan dit ons help om beter te begryp in watter WERKLIKE fantasie ONS leef met die (on)gelooflikste ontknoping denkbaar. En soos iemand iewers gesê het: Die beste omtrent hierdie fantasie is dat dit waar is. Mag hierdie bydrae van N.D. Wilson help om jou en my oë oop te spalk vir die krag van die wonder(like) boodskap van die Bybel en daarom ook van verhale aan ons kinders wat daarvan afgelei en daarop geskoei is:
Verhale is sielekos: Moenie jou kinders laat verhonger nie
My kinders het al baie verhale gehoor. Sommige is so in die verbygaan opgemaak (Die Wilson Kinderavonture). Sommige het "hobbits" bevat, sommige apostels, sommige dwergies, en sommige manne wat vasgevang was in verskriklike ooloë (hulle oupagrootjies). My kinders het stories gehoor oor B-17 eskaders, en afweerders wat myne getref het, en hulle oumagrootjie se dierbare vriendin, Corrie Ten Boom. Hulle het verhale gehoor uit die geskiedenis, en hulle het verhale gehoor wat ons fiksie noem. En ek was geseënd om te aanskou hoe hulle oë glinster van vreugde, en hoe hulle jong siele swel en groei met storiekos. Verhale is meer as vermaaklikheid. Moenie diegene vrees wat die liggaam kan vernietig nie - leeus, weermagte, reuse, konings, vuurdemone, keisers, groot rotte, of buurtboelies.