Wys tans plasings met die etiket versoening. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket versoening. Wys alle plasings

2022/04/28

'n Lam asof Hy geslag is

Lees: Openb. 5:1-14  

Gedagte vir kinders: Alle eer aan Jesus Christus, die Lam, wat ook die Leeu is.

Oorsig: Openbaring 5 brei uit op die gesig wat Johannes in Openbaring 4 sien. Dit gaan oor ’n gesig van die hemelse tempel en wat daar gebeur. In Openbaring 5 verneem ons van ’n boek(rol) in die regterhand van Hom wat op die troon sit. Dit was aan die binnekant en buitekant beskrywe en met sewe seëls verseël (v.1). ’n Sterk engel het toe met ’n groot stem geroep en gevra wie waardig is om die boek se seëls te breek die die boek oop te maak, maar daar was niemand in die hemel of op die aarde nie. Johannes het toe baie gehuil omdat niemand waardig was om die boek oop te maak of daarin te kyk nie (v.2-4).

Een van die 24 ouderlinge (verteenwoordigers van alle gelowiges – van die 12 stamme in die OT en die 12 apostels in die NT. Vgl. Op. 4:4-6) het toe vir hom gesê om nie te huil nie. Hy moes eerder kyk na (1) die Leeu, (2) Een uit die stam van Juda, Hy wat (3) die wortel van Dawid is. Hý het oorwin om die boek oop te maak en die seëls te breek (v.5). Johannes sien toe in die middel van die troon en die vier lewende wesens (gérubs, vgl. Ex. 25:18, Es. 1:5 e.v.) en die ouderlinge, ’n Lam asof Hy geslag is, met sewe horings en sewe oë. Dit dui op die kragtige werking van die Heilige Gees oor die hele aarde. Die Lam het toe gekom en die boek geneem uit die regterhand van God. (v.6-7). Toe Hy dit neem, val die vier lewende wesens en die 24 ouderlinge voor die Lam neer met siters en goue skale vol reukwerk, wat dui op die liedere en gebede van die heiliges (gelowiges). Hulle sing toe ’n nuwe lied en sê dat die Lam waardig is om die boek te neem en die seëls oop te maak. Die rede is dat Hy geslag is en die gelowiges (“ons”) vir God met sy bloed gekoop het uit elke stam en taal en volk en nasie en hulle (ons) konings en priesters vir onse God gemaak wat as konings op die aarde sal heers (v.8-10).

2022/02/18

Ware versoening

Lees: Gen. 45:1-15  

Gedagte vir kinders: Deur Jesus Christus se kruisdood vir ons kan vyande vriende word.  

Oorsig: Josef, die onderkoning van Egipte, openbaar homself hier aan sy broers. Josef moes egter eers sy broers toets. Hy moes uitvind of God hulle harte al verander het. In hoofstuk 42-44 lees ons daarvan en die laaste toets was om te kyk wat hulle sou doen as hy sy bloedbroer as slaaf by hom wou neem. Dit is toe dat Juda hartroerend gepleit het en aangebied het om vir Benjamin in te staan. Dit het bevestig dat hulle wel verander het.

Josef se gesindheid was ook nie om hulle uit die hoogte te verneder toe hy hom aan hulle geopenbaar het nie. Hy het eers beveel dat al die Egiptenare van hom weggaan (v.1). Josef het in trane uitgebars sodat al die Egiptenare dit kon hoor (v.2) en dit bevestig dat sy hart baie ontroerd was teenoor sy broers en dat hy hulle vergewe het. Josef se broers was uit die aard van die saak verskrik (v.3). Josef het toe vir hulle bevestig dat hy hulle broer is wat hulle na Egipte verkoop het (v.4), maar hy het dadelik iets bygevoeg om hulle gerus te stel. Hy het gesê dat hulle nie bedroef of ontstel moes wees dat hulle dit gedoen het nie, want dit was God wat ook daar besig was. God het dit so bestem sodat lewens behou kon word (v.5). Hy het dit verder bevestig deur vir hulle te sê dat die saak groot is en daar nog net twee uit die sewe droë jare verby is (v.6). So het hy dit vir hulle duideliker probeer maak dat God hom vooruit gestuur het om ’n oorblyfsel te verseker wat tot ’n groot verlossing sou lei (v.7).

Vir ’n derde maal het hy herhaal dat hy God agter dit alles sien en nie teen hulle dade vaskyk nie.