2022/04/28

'n Lam asof Hy geslag is

Lees: Openb. 5:1-14  

Gedagte vir kinders: Alle eer aan Jesus Christus, die Lam, wat ook die Leeu is.

Oorsig: Openbaring 5 brei uit op die gesig wat Johannes in Openbaring 4 sien. Dit gaan oor ’n gesig van die hemelse tempel en wat daar gebeur. In Openbaring 5 verneem ons van ’n boek(rol) in die regterhand van Hom wat op die troon sit. Dit was aan die binnekant en buitekant beskrywe en met sewe seëls verseël (v.1). ’n Sterk engel het toe met ’n groot stem geroep en gevra wie waardig is om die boek se seëls te breek die die boek oop te maak, maar daar was niemand in die hemel of op die aarde nie. Johannes het toe baie gehuil omdat niemand waardig was om die boek oop te maak of daarin te kyk nie (v.2-4).

Een van die 24 ouderlinge (verteenwoordigers van alle gelowiges – van die 12 stamme in die OT en die 12 apostels in die NT. Vgl. Op. 4:4-6) het toe vir hom gesê om nie te huil nie. Hy moes eerder kyk na (1) die Leeu, (2) Een uit die stam van Juda, Hy wat (3) die wortel van Dawid is. Hý het oorwin om die boek oop te maak en die seëls te breek (v.5). Johannes sien toe in die middel van die troon en die vier lewende wesens (gérubs, vgl. Ex. 25:18, Es. 1:5 e.v.) en die ouderlinge, ’n Lam asof Hy geslag is, met sewe horings en sewe oë. Dit dui op die kragtige werking van die Heilige Gees oor die hele aarde. Die Lam het toe gekom en die boek geneem uit die regterhand van God. (v.6-7). Toe Hy dit neem, val die vier lewende wesens en die 24 ouderlinge voor die Lam neer met siters en goue skale vol reukwerk, wat dui op die liedere en gebede van die heiliges (gelowiges). Hulle sing toe ’n nuwe lied en sê dat die Lam waardig is om die boek te neem en die seëls oop te maak. Die rede is dat Hy geslag is en die gelowiges (“ons”) vir God met sy bloed gekoop het uit elke stam en taal en volk en nasie en hulle (ons) konings en priesters vir onse God gemaak wat as konings op die aarde sal heers (v.8-10).

Johannes het toe ’n stem van baie engele rondom die troon gehoor, van die lewende wesens en van die ouderlinge. Hulle getal was miljoene (tienduisende van tienduisende en duisende van duisende) en hulle het met ’n groot stem gesê: Die Lam wat geslag is, is waardig om sewevoudige hulde te ontvang – krag, rykdom, wysheid, sterkte, eer, heerlikheid, en lof (v.11-12). Johannes voeg hierby dat hy elke skepsel wat in die hemel, aarde en onder die aarde was, hoor sê het: “Aan Hom wat op die troon sit en aan die Lam kom toe die lof en die eer en die heerlikheid en krag tot in ewigheid!” En die vier lewende wesens het hierop gesê: Amen! En die 24 ouderlinge het neergeval en die Lam aanbid wat lewe tot in alle ewigheid (v. 13-14).   

Besprekingsvraag: Wat beteken dit dat Jesus Christus gelyktydig die Leeu en die Lam is?

Insig: Wat het gebeur toe Jesus Christus met sy Hemelvaart in die hemel aankom? Ons hoor iets daarvan in Dan. 7, maar ook in Openbaring 5. Dit is belangrik, want deur die Hemelvaart word ons vanaf die verlede tyd ingeneem in die teenwoordige tyd. Ons kry ’n indruk van wat steeds in die hemel gaande is. Ons hoor eers dat Johannes huil. Waarom? Omdat die boek van geregtigheid toe is. Sonder Christus bly God se Verbondsboek wat spreek van geregtigheid en verlossing, geslote. Dan kan daar nie sprake wees van ’n gebroke werklikheid wat hanteer word nie. Alles wat verkeerd is, al die onreg, al die dood, al die sinlose dinge, het dan geen ware oplossing nie. Dan bly God se boek van geregtigheid verseël en bly ons in ons sonde en ellende. Ons lees in die Ou Testament van Josua wat met God se boek die volk die beloofde land ingebring het (Jos. 1) en later van koning Josia (2 Kron. 34:15-35:19) wat God se boek ter hand geneem het om God se reg in die land aan te bring, maar Iemand in die hemel is nodig om die God se Verbondsboek oop te maak om as alles tot vervulling te bring.    

En dan hoor ons die wonderlike boodskap dat dit nie nodig is om by huil te bly nie. Waarom? Die antwoord begin veelseggend: “Kyk...” Christus, die Leeu van Juda, die wortel van Dawid, kan die boek van geregtigheid vir ons oopmaak. En as Johannes kyk, hoor ons dat Hy Hom sien, maar tog ook vreemd-anders, nie as Leeu nie, maar as ’n Lam asof Hy geslag is, en tog in die middel van die troon. Die Lam is ons versoening. Maar ons hoor ook van sewe horings en sewe oë wat dui op die volle krag van die Heilige Gees wat deur Hom werksaam is oor die hele aarde (v.6).  Ja, die ware oorwinning gebeur anders as wat ons in ons vleeslikheid verwag of waarmee ons wil oorwin. Die weg van oorwinning loop deur sy offer en ons offers in Hom.

Wat pas by hulle wat hiervan hoor? Ons kry hier ’n heerlike gesig van die hele skepping wat juig oor hierdie wonderbare verlossing. Miljoene engele, die vier lewende wesens (gérubs, vgl. Ex. 25:18) en die 24 ouderlinge wat die priesterskap van alle gelowiges verteenwoordig, bring al die eer aan Jesus Christus. ’n Mens kan jou maar net begin voorstel hoe miljoene stemme van lof klink. Ons almal bring hulde aan iets. Hier hoor ons waar die sewevoudige hulde se eintlike tuiste is. Die hele skepping, dit wil sê elke skepsel bo, op, of onder die aarde bring hulde. En die verlostes uit elke hoofgroep van die mensdom – tale, volke en nasies – hulle word tot priester-konings gemaak om as konings op aarde te heers. Hierdie werklikheid begin nou reeds. En ons mag nou reeds in hierdie evangelie inleef en juigend saamsing.       

Geraadpleegde werke:

John Bergsma. The Word of the Lord. Year C.

Michael Barber. Coming Soon. Unlocking the Book of Revelation.

Douglas Wilson. When the Man Comes Around: A Commentary on the Book of Revelation.

Michael Bull. Moses and Revelation.

James Jordan. The Vindication of Jesus Christ.

Peter Leithart. International Theological Commentary. Revelation 1-11. (Leithart tree in insiggewende gesprek met Douglas Farrow oor sakratamentele implikasies).