2022/04/22

Openbaring op Sondag

Lees: Openb. 1:4-18              

Gedagte vir kinders: Jesus Christus het die sleutels van die dood in sy hande   

Oorsig: Die boek Openbaring gaan oor dit wat Jesus Christus aan Johannes bekend gemaak het om aan die Kerk van Christus deur te gee. (vgl. Mat. 24). Dit word spesifiek gerig aan sewe gemeentes in Asië (vandag Turkye), verteenwoordigers van die Kerk van Christus van alle tye. Johannes begin met ’n toesegging van genade en vrede. Dit kom vanaf Hom wat is en wat was en wat kom en van die sewe Geeste wat voor sy troon is - die volmaakte teenwoordigheid van die Heilige Gees (v.4). Dit kom ook vanaf Jesus Christus van wie drie dinge genoem word. Hy is (1) die getroue getuie (maturia), (2) die Eersgeborene uit die dode, en (3) die Owerste oor die konings van die aarde (v.5). Aan Hom word dan hulde gebring en daar word drie dinge genoem wat Hy gedoen het. Hy het (1) gelowiges (“ons”) liefgehad, (2) van hulle sonde gewas in sy bloed, en (3) gemaak tot konings en priesters vir sy God en Vader. En dan word heerlikheid en krag tot in alle ewigheid aan Hom toegebring (v.5-6). 

Hierna word Dn. 7:13-14 en Sag. 12:10 op Christus van toepassing gemaak. Hy wat kom met die wolke gaan oor Hom wat met sy Hemelvaart by die Vader gekom het en nou word Hy verkondig sodat elke oog Hom kan sien en berou kry oor hulle sonde. So sal dit gebeur totdat elke oog Hom finaal sal sien kom (v.7). Hierna bevestig die Here dat Hy die begin (Alfa) en die einde (Omega) is en wat is, was en wat kom, die Almagtige (v.8). Johannes vertel dan dat hy - Christenbroeder en deelgenoot - na die eiland Patmos verban was oor die getuienis van Jesus Christus. Op die Dag van die Here, die Sondag, was hy in die Gees en het ’n groot stem gehoor wat Homself weer Alfa en Omega noem en beveel om aan die sewe gemeentes in Asië te skryf (v.9-11). 

Toe Johannes omdraai om te sien wie met hom praat, sien hy sewe goue kandelaars (gemeentes - v. 20) en tussen die kandelaars Christus, die Seun van die mens, met ’n lang kleed en goue gordel om die bors wat herinner aan ’n priester. Sy hoof en hare was baie wit (reinheid), sy oë soos ’n vuurvlam (verterend) en sy voete soos koper (onverbreeklik), en sy stem soos baie waters (gesag). In sy regterhand was sewe sterre (boodskappers - v. 20) en uit sy mond het ’n tweesnydende swaard (die Woord) gegaan en sy aangesig was soos die son in sy krag (heerlikheid). Johannes het soos ’n dooie neergeval aan sy voete, maar Christus het sy regterhand op hom gelê en gesê om nie te vrees nie. Hy het bevestig dat Hy die sleutels van die doderyk en die dood het. Dit moes Johannes baie bemoedig het. Dit bemoedig ons ook steeds.

Besprekingsvraag: Waarom troos dit ons dat die verheerlikte Christus ons Hoëpriester is?

Insig: Die boek Openbaring open met ’n visie van die verheerlikte Christus in die hemelse tempel. Ons lees van kandelaars en Christus wat gekleed is soos ’n priester. Die priesters in die Ou Testament het God se genade en vergifnis bedien en die mense geseën en God se Naam op hulle gelê (vgl. Lev. 4:20; Num. 6:6:22-27). Hier hoor ons die genade en vredetoeseggings en ons sien Hom in wie dit gegrond is - ons enigste Hoëpriester wat nou ons PriesterKoning in die hemel is. Adam was aanvanklik as priester-koning aangestel en het gefaal omdat hy nie sy lewe wou oorgee om te veg teen die satan nie. Christus, die Eersgeborene uit die dode en Owerste oor die konings van die aarde (v.5), het ons liefgehad, sy lewe oorgegee en nou kan ons in sy bloed gewas word om weer priesters en konings vir God te wees (v.5-6). 

Gelowiges mag Christus nou reeds in die geloof in sy heerlikheid aanskou en getroos lewe en sterwe. Ons hoor in die genadetoesegging dat Hy saam met die Vader en die Gees genoem word (v.4-5). So word ons in die gemeenskap met die Drie-enige God bevestig. Ons hoor ook later dat Christus op dieselfde wyse as die Here, die Alfa en die Omega genoem word (v.8,11,17-18). En ons aanskou Hom in die geloof as ons enigste Hoëpriester wat sy bloed vir ons gestort het, die dood oorwin het, en die goue gordel oor sy priesterkleed bevestig dat die offer wat gebring is, volkome is (v.13). Ons sien Hom ook as die Owerste van die aarde uit wie se mond die tweesnydende swaard van die Woord gaan (v.5,16; vgl. Hebr. 4:12). Johannes wat soos ’n dooie aan sy voete val, is hier die voorbeeld van wat elke mens se reaksie voor die groot Koning sal wees. Is iets van hierdie Godsbewussyn en Christusbewussyn nou reeds by ons aanwesig? 

Maar gelowiges kry ook troos wanneer ons hoor wat Christus met Johannes doen. Die regterhand word op hom gelê en hy word bemoedig om nie te vrees nie. Vrees en dood word hier aan mekaar verbind en ons word opgeroep om raak te sien wie die sleutels van die dood het. Christus het deur die dood gegaan, vir ons, en daaruit gekom om te bevestig dat Hy die een is wat ons daardeur kan neem sodat Hy wat lewe tot in alle ewigheid, die laaste sê oor ons het. Daarom kan ons Hom ook nou waardeer as die Een wat tussen die goue kandelare, sy gemeentes, wandel, en moet ons ag gee op die Woord as tweesnydende swaard wat uit sy mond gaan. Dit is ook opvallend dat hierdie gesig aan Johannes gegee word op die Dag van die Here. Sondag en gemeenskap met die verheerlikte Christus en openbaring staan in die nouste verband met mekaar. Ons mag in die eredienste nou reeds sy teenwoordigheid en lewende Woord smaak totdat geloof oorgaan in aanskoue.

Geraadpleegde werke:

John Bergsma. The Word of the Lord. Year C.

Michael Barber. Coming Soon. Unlocking the Book of Revelation.

Douglas Wilson. When the Man Comes Around: A Commentary on the Book of Revelation.

Michael Bull. Moses and Revelation.

James Jordan. The Vindication of Jesus Christ.