Wys tans plasings met die etiket Galasiërs. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Galasiërs. Wys alle plasings

2024/07/27

Om te leef deur die Gees

Lees: Gal. 5:16-26

Gedagte vir kinders: Die Here roep ons om die Heilige Gees in ons te laat werk.

Oorsig: Die apostel Paulus is besig om die Galasiërs te praat oor ware vryheid deur Jesus Christus. Hulle moet hierdie vryheid nie so uitlewe dat dit daarop uitloop dat hulle die sondige lewe van die vlees uitlewe en mekaar dan byt en opeet (verslind) nie (v.13-15). Dan spel hy uit wat dit beteken vir Christene: Wandel deur die Heilige Gees se krag; dan sal julle nooit die begeertes van die sondige mens (vlees: sarks) deurvoer (volbring) nie (v.16). Die apostel verduidelik dan dat hulle as nuwe mense in Christus nou in ’n stryd gewikkel is waar die sondige mens (vlees) begeertes het wat teenoor die werk van die Heilige Gees in hulle staan, en die Heilige Gees werk weer goeie begeertes wat teenoor die sondige mens se werke staan. Hierdie begeertes staan teenoor mekaar sodat hulle nie maar kan doen wat ook al by hulle opkom nie (v.17).

Die apostel gaan dan voort om die werke (meervoud) van die vlees uit te spel en op te stel teenoor die vrug (enkelvoud) van die Gees. Die lys van vleeslike werke is nie volledig nie, maar voorbeelde van “dergelike dinge” (v.21). Ons kan dit hier indeel in seksuele sondes (sewende gebod: owerspel hoerery, onreinheid, ongebondenheid), heidense afgodery en bygeloof  (eerste gebod: afgodery en towery), relasionele sondes (onderlinge verhoudinge, d.w.s. tweede tafel van die wet: vyandskap, twis, jaloersheid toornigheid, naywer, tweedrag, partyskap, afguns, moord), en ongebonde oorgawe aan die liggaam (dronkenskap, brassery). Die wat sulke dinge doen sal die koninkryk van God nie beërwe nie (v.19-21).

Hierteenoor stel die apostel die negevoudige vrug van die Gees. Ons kan dit breedweg indeel in drie ankerdeugde wat in God gegrond is (liefde, blydskap, vrede), drie deugde wat  veral met ons naaste te doen het (lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid), en drie deugde wat veral met ons persoonlike verantwoordelikheid te make het (getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing (v.22). Vgl. laasgenoemde met die laaste werke van die vlees. Hierdie vrug is nie teen die wet nie (v. 23) en daarom kan ons daaraan lug en oorgawe gee in ons lewe. Die apostel versterk hulle dan deur daarop te wys dat dit moontlik is omdat hulle aan Christus behoort en daarom deur Hom die vlees en sy hartstogte gekruisig het (v.24). Deur Jesus Christus se kruisiging het hulle deel gekry aan hierdie gekruisigde lewe. Daarom kan hulle dit nou deur die geloof ken dat sy Gees in hulle werk (vgl. Gal. 3:1,5). So moet hulle dit nou ook in die geloof steeds laat geld en daarom deur die Gees wandel (v.25). Daarom kan hulle nie soekers wees van ydele eer wat uit die eie-ek opkom en vanuit daardie punt mekaar uittart en mekaar beny (v.26) nie.

Besprekingsvraag: Kan ons die sondes van die ou mens in ons ooit te bowe kom?

Insig: Die Christen is in hierdie lewe onvermydelik in ’n stryd betrokke. Dit geld op elke lewensterrein en elke ouderdom – ouer, tiener, laerskoolkind, getroud, enkellopend, bestuursposisie, teeskinker of posbode. Die Christen beleef daagliks twee soorte verskillende begeertes wat op hom of haar appel maak: Die werkinge van die Heilige Gees teenoor die begeertes van die sondige natuur. Die vlees (sarks) moenie hier verwar word met die blote liggaamlike en materiële nie, maar beteken eerder die sondige ou mens na die sondeval. Die vuil prent hiervan in sy werkinge word hier teenoor die heerlike kenmerke van die nuwe lewe opgestel. Vergelyk en sien die verskil van die lelike teenoor die lieflike. Laat die groter prent diep op jou inwerk. Daarna kan ons op onderdele dieper ingaan.