Wys tans plasings met die etiket Nehemia. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Nehemia. Wys alle plasings

2025/01/24

Woordverkondiging en feestelikheid

Lees: Nehemia 8:1-13

 

Gedagte vir kinders: God se Woord vorm ons om heilig en vol vreugde te wees.

Oorsig: Esra en Nehemia vertel ons van die heropbou van Jerusalem se tempel en die mure, die sentrum van Israel se geloof, nadat hulle teruggekeer het uit die ballingskap (458-445 v.C.). Maar ook die mense moes opgebou word (vgl. Esra 7-10; Neh. 7-13). In Nehemia 8 hoor ons van die openbare proklamasie van God se Woord onder leiding van Esra en watter effek dit gehad het.

In die sewende maand (Tishri – Sept/Okt), terwyl die kinders van Israel in hulle dorpe was, het hulle soos een man op die plein voor die Waterpoort bymekaar gekom en aan Esra die skrifgeleerde gevra om die boek van die wet van Moses wat die Here beveel het (let wel), te bring. Esra die priester, het toe die wet voor die vergadering gebring, bestaande uit manne, vroue en almal wat met verstand kon luister. Dit was die eerste dag van die sewende maand, die dag van trompetgskal en die nuwe siviele jaar, en ook die maand waarin die huttefees later gevier is  (v.1-3; , vgl. Lev. 23:24,34). Esra het voorgelees vanaf ligdag tot die middag, in teenwoordigheid van almal wat kon verstaan. Almal het aandagtig geluister (v.4). Esra het op ’n houteverhoog gestaan wat hulle vir die geleentheid gemaak het en langs hom aan sy regterhand was ses manne, en aan sy linkerhand sewe. Toe Esra die boek oopmaak, het die hele volk opgestaan (v.5-6).      

Esra het toe begin met lofprysing en die hele volk het geantwoord, “Amen, amen!”, met opheffing van hul hande en hulle het gebuig en die Here aanbid met die aangesig na die aarde toe. Toe het dertien ander mans wie se name genoem word, saam met die Leviete die volk in die wet onderrig, terwyl die volk op hul plek bly staan het (v.7-8). Hulle het uit die boek, die wet van God (1) duidelik voorgelees en (2) dit verklaar, sodat (3)  die mense verstaan het wat voorgelees is. Nehemia (goewerneur) en Esra (priester en skrifgeleerde) en die Leviete het die volk onderrig. Die volk het gehuil toe hulle die woorde van die wet hoor. Hulle is egter onderrig om nie te huil nie, omdat die dag heilig was aan die Here (v.9-10). Hulle is eerder aangemoedig om lekker spys te eet, soet dranke te drink en porsies te stuur aan hulle vir wie niks berei is nie, omdat die dag heilig was aan hulle (onse) HERE. Hulle moes nie bedroef wees nie omdat die blydskap van die Here hulle beskutting was (v.11). Die Leviete het die hele volk tot bedaring gebring en opgeroep om stil te wees, omdat die dag heilig was en huilende gesigte nie daarby pas nie (v.12).  

Besprekingsvraag: Waarom vind ons dit vreemd om te hoor dat heiligheid en vreugde saamgaan?

Insig: Ons het hier te make met die belangrike plek van proklamasie binne die verbondsvernuwing van die volk van God, asook die belangrike plek van vreugde in die Here daarin.