Wys tans plasings met die etiket Cyrillus van Jerusalem. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Cyrillus van Jerusalem. Wys alle plasings

2022/06/07

Juigende en profetiese optrede

Lees: Hand. 2:14a, 22-36

Gedagte vir kinders: Omdat Jesus terug was by God, is die Heilige Gees nou by ons.   

Oorsig: Petrus bring hierdie boodskap op Pinksterdag toe die Heilige Gees uitgestort is, en ons fokus in besonder op die tweede deel van sy preek. In die eerste gedeelte verdedig Petrus die gebeure by Pinkster toe die gelowiges in allerhande tale oor die groot dade van God deur Jesus getuig het. Dit was die vervulling van dit waaroor die profeet Joel geprofeteer het – God se Gees op al sy kinders. Daarna verduidelik Petrus wat dit met Jesus te make het (v.22 e.v.).

Petrus wys daarop dat Jesus die Nasarener, ’n man was wat deur God aangewys is deur kragte en wonders en tekens en wat niemand kon ontken nie. Deur God se raad en voorkennis is Jesus toe oorgelewer en deur heidene, goddelose manne, het die Jode hom laat kruisig en ombring (v.22-23). God het Hom egter opgewek, nadat Hy die smarte van die dood ontbind het (let wel, “nadat”), want dit was onmoontlik dat Jesus daardeur vasgehou sou word (v.24). Petrus wys dan op Ps. 16:8-11 waar Dawid reeds profeties hiervan getuig het. Daar getuig Dawid van Christus dat Hy die Here altyddeur voor hom sien en dat God by Hom was dat Hy nie sou wankel nie. Daarom was Jesus Christus se hart bly en sy tong het gejuig en kon sy vlees rus in hoop. Hy het ook geweet dat God sy siel nie aan die doderyk sou oorlaat of sy Heilige oorgee om verderwing te sien nie. Die Here sou eerder aan Hom die paaie van die lewe bekend maak en Hom vervul met vreugde by sy aangesig (v.25-28).             

Petrus wys dan daarop dat die Psalm nie van Dawid waar kon wees nie, aangesien Dawid se graf nog steeds by hulle is. Dawid was egter ’n profeet en het geweet dat God vir hom gesweer het dat die Christus uit hom gebore sou word om op sy troon te sit (vgl. Ps. 132:11; Luk. 1:32). Dawid het dus vooruit gesien en profeties gespreek van die opstanding van Christus en dat sy siel nie in die doderyk verlaat is en sy vlees ook nie verderwing gesien het nie (v.29-31).