Wys tans plasings met die etiket Halleluja. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Halleluja. Wys alle plasings

2021/11/05

Halleluja wat jou oopmaak

Lees: Psalm 146            

Gedagte vir kinders: Loof die Here uit die dieptes van jou hart, ook as jy nie reg voel nie.

Oorsig: Psalm 146 begin en eindig met die woord “Halleluja”. Om die waarheid te sê, vanaf Psalm 146 tot en met die einde van Psalm 150, begin en eindig elkeen van die laaste vyf Psalms met die woord “Halleluja”. Dit beteken letterlik: “Loof die HERE!” Dit gaan daaroor dat die Here met heilige jubeling besing word vanuit die diepste van jou wese.

In die Psalms het ons met mense te make wat eerlik is oor hul emosies. Ons hoor dikwels van teëspoed, worstelinge, aanvegtinge, sondebesef, hartseer, terneergedruktheid, en klaagliedere. Maar feitlik altyd werk die Psalms deur na hoop en lofprysing aan die einde. En waar dit nie so eindig nie (byvoorbeeld Ps. 88), bevat net die volgende Psalm die wonderlikste elemente van hoop en lof. Gelowiges is dus nie gevrywaar van beproewinge nie, maar daar word altyd deurgewerk na die punt van geloof, hoop en danksegging. Die Psalms as geheel eindig in die groter prentjie ook so met die laaste vyf Psalms wat reën met Hallelujas. Dit bied ook 'n prentjie op die einde van elke gelowige. Dit wys ons ook hoe gebede eindig wanneer gebed lank genoeg aanhou.