Wys tans plasings met die etiket geslagtelikheid. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket geslagtelikheid. Wys alle plasings

2021/05/14

Boekbespreking: Gnostic America: A Reading of Contemporary American Culture & Religion according to Christianity’s Oldest Heresy, 2014, deur Peter Burfeind



 Waarom lyk dit deesdae of alles skielik intuimel? Waarom is daar sulke definitiewe optrede om alles wat voorheen aanvaarbaar was nou te bevraagteken en te vervang? Waarom kan ’n universiteit byvoorbeeld nou selfs begin reëlings tref dat studente nie eers meer as dames en here aangespreek behoort te word nie? Peter Burfeind, ’n leraar in die Lutherse tradisie, het ’n baie definitiewe antwoord. Soms kry ’n mens die gevoel dat hy ’n hamer gevind het en dat alle kwessies nou spykers is wat hy daarmee kan slaan. En tog, daar is net te veel spykers wat wel raakgeslaan word wanneer Burfeind die hamer optel.

Burfeind het jarelank (sedert die middel van die 1990’s) ondersoek ingestel na die ou dwaalleer van die Gnostisisme wat telkens nuwe gedaantes in die geskiedenis gekry het. Om die waarheid te sê, Burfeind wys daarop dat hierdie donker dwaalleer reeds in die Bybelse tye na vore getree het (vgl. 1 Johannes) en dat dit die Kerk soos ’n skaduwee deur die eeue heen volg. Burfeind reflekteer onlangs oor sy publikasie wat uiteindelik in 2014 verskyn het, Gnostic America, en noem die dwaling die duiwel se teologie. Hy stel dan dat hy geleidelik met sy navorsing begin besef het dat die probleem groter is as wat hy gedink het. Daarom wys hy uiteindelik in hierdie werk die invloed van die Gnostisisme in Amerika op godsdiens, kultuur en politiek. Sy toepassings toon egter duidelik aan dat dit nie net ’n probleem in Amerika is nie, maar ook in baie ander eertydse Westerse lande.

Waaroor gaan dit in die Gnostisisme en hoe is hierdie ou dwaling vandag steeds springlewendig?