Lees: Jer. 1:4-10, 17-19
Gedagte vir kinders: Wanneer die HERE roep, belowe Hy om by ons te
wees in moeilike tye.
Oorsig: Die profeet Jeremia het veertig
jaar lank die Woord gebring aan Juda en ander koninkryke en nasies, totdat Juda
in gevangenisskap (ballingskap) weggevoer is na Babel. Daarna het hy in die
land agtergebly en moes steeds beleef hoe die volk wat oorgebly het,
ongehoorsaam was. In Jeremia 1 lees ons waar Jeremia se roeping as profeet begin
het.
Ons lees
dat die Here hom reeds geken het voordat hy in die moederskoot gevorm is en
voordat hy gebore is. Reeds toe al was hy bestem as profeet vir die nasies
(v.5). Jeremia was nog baie jonk toe die HERE hom geroep het, waarskynlik nog
voor sy twintigs, en hy het gereken dat hy te jonk is (v.6). Die HERE het egter
geantwoord dat hy dit nie moes sê nie. Hy moes eerder gehoorsaam wees (v.7). Hy
moes nie vrees nie, omdat die HERE beloof het dat Hy Jeremia sou uitred (v.8).
Die HERE
het hierdie roeping bevestig deur Jeremia se mond aan te raak. Daardeur het Hy
bevestig dat Hy sy woorde in Jeremia se mond lê (v.9). Hy het ook deur ses
besondere woorde duidelikheid gegee oor wat Jeremia deur sy woorde oor nasies
en koninkryke sou doen. Vier daarvan was negatief en twee positief. Hy moes enersyds
uitruk, omgooi, vernietig en verwoes. Maar hy moes ook bou en plant (v.10).
Hierna het die HERE twee beelde aan Jeremia gegee wat Hy verklaar het en waarop
ons nie nou ingaan nie.
Ons hervat die woorde aan Jeremia by vers 17. Die Here het Jeremia beveel om sy heupe te omgord. Dit het beteken dat hy gereed moes maak vir sy taak en daarmee ook gereed om die goeie stryd te stry. Hy moes alles aan die volk oordra wat God beveel en hy moes nie verskrik wees nie. Indien hy sou toelaat dat vrees hom oorweldig, sou die HERE sy vrees bevestig en hom daaraan oorgee om te skrik vir sy vyande. Hy het egter ook aan Jeremia getoon waarom Hy nie verskrik moes wees nie: Want die HERE sou hom maak soos die volgende beelde van krag: ’n versterkte stad, ’n ysterpilaar en kopermure.