Wys tans plasings met die etiket evangelie-wet. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket evangelie-wet. Wys alle plasings

2025/06/18

Die vreugde en koste van dissipelskap

Lees: Eksodus 19:1-9

Gedagte vir kinders: Kinders van die Here wys elke dag vir die wêreld aan wie hulle behoort.

Oorsig: Die kinders van Israel het Egipte verlaat tydens Paastyd, dit is die 14de van die eerste maand Nisan/Abib, dit beteken dat toe hulle in die derde maand (Sivan) ná die uittog in die woestyn Sinai aangekom het, dit aan die begin van die maand ongeveer 45 dae ná die uittog was dat hulle by Sinai aangekom het (v. 1). Daarom is baie verklaarders van mening dat Here se verskyning op Sinai en die tien gebooie se afkondiging op die 50ste dag na die Pasga, dit is Pinksterdag, plaasgevind het (vgl. Lev. 23:5,15-16; Num. 28:26). Die volk het daar by Sinai, komende vanaf Rafidim, teenoor die berg laer opgeslaan waar die Here aan hulle sou verskyn (v.2). Daar het Moses opgeklim na God toe en die HERE het hom van die berg af toegeroep. Ons sien reeds hier hoe Moses as ’n tipe middelaar tussen God en die volk optree. Die HERE het vir Moses gesê dat hy die volgende aan die huis van Jakob, die kinders van Israel moet verkondig: Hulle het self gesien wat die HERE aan die Egiptenaars gedoen het en dat Hy Israel na Hom toe gebring het soos wat ’n arend sy kleintjies op sy vlerke dra (v.3-4). Hierin hoor ons die vrye genade van die HERE met Israel.

Maar hiermee saam: As die volk dan nou getrou (terdeë) (1) na die HERE se stem luister en (2) sy verbond hou, sal hulle sy besondere persoonlike eiendom uit al die volke wees, al het die hele aarde aan Hom behoort (v.5). Hulle sou dus uitstaan as lig in die duisternis en vir die wêreld wys hoe dit lyk waar God woon. So sal hulle vir Hom, let wel, ’n koninkryk van priesters en ’n heilige nasie wees. Dit moes Moses aan die kinders van Israel meedeel (v.6). Moses het toe gekom en die oudstes van die volk laat roep en hulle al hierdie woorde voorgehou wat die HERE hom beveel het (v.7). Toe het die volk eenparig almal saamgestem en gesê dat hulle alles wat die Here gespreek het sal doen. So het Moses as middelaar weer die woorde van die volk aan die HERE oorgebring (v.8).

Die Here het toe vir Moses gesê dat Hy in ’n dik wolk na Hom sal kom en dat die volk sal kan hoor as Hy met Moses spreek. Dit sal meewerk dat hulle altyd aan Moses glo, want Moses het die woorde van die volk aan die HERE meegedeel (v.9). Die Here sou dus nog ’n maal deur sy verskyning by Sinai met die afkondiging van die tien gebooie vir die volk bevestig dat Moses sy kneg en middelaar is deur wie Hy met hulle sou praat.     

Besprekingsvraag: Hoe sien ons die vreugde sowel as koste van dissipelskap in hierdie gedeelte?

Insig: Dit was ’n besondere uitspraak dat Israel ’n koninkryk van priesters genoem is, maar beslis nie iets heeltemal nuut nie. Adam was geskape om ’n priester-koning in die tuin van Eden te wees en Israel sou nou hierdie roeping kollektief as besondere volk voortsit. Israel sou ’n koninkryk van priesters vir die wêreld wees wat vir die wêreld oor God leer en vir die wêreld tot God kon bid. Innerlike beteken dit sulke koninklike priesters God deur gereinigde kennis leer ken en in liefde en aanbidding van Hom groei. Uiterlik beteken dit ook dat die nasies in verwondering sou wees oor hulle God se regverdige wette vir hulle samelewing (Deut. 4:7-8). Abraham het reeds die belofte gehad dat in hom al die geslagte van die aarde geseën sou word (Gen. 12:1-3). Hier moes Israel as draer van Abraham se beloftes dit voortsit deur ’n koninklike priesterdom vir die wêreld te wees. Hulle was ook die draers van die beloftes oor die Messias wat in Christus waar geword het. In Christus as verteenwoordiger van Israel, kan al die geslagte van die aarde nou geseën word vir elkeen wat in Hom glo en voor Hom buig. In die Nuwe Testament word hierdie roeping nou verder voortgesit deur die Kerk van Jesus Christus. Die Kerk is nou ’n koninklike priesterdom uit al die nasies om die deugde van God aan die wêreld te verkondig van Hom wat hulle in Christus geroep het tot sy wonderbare lig (vgl. 1 Pet. 2:5,9-10). Die Kerk sit dus nou die roeping van Israel voort en daarom kan ons met waardering luister oor wat God deur hierdie Woord vandag nog steeds vir sy Kerk sê. Dit gaan hier oor die vreugde van dissipelskap sowel as die koste van dissipelskap (Brueggemann).

2025/02/24

Verlos van gebondenheid en magte

Lees: Jesaja 52:7-12

Gedagte vir kinders: Die goeie nuus oor Jesus is dat Hy die Koning is wat ons red en bewaar.

Oorsig: Die profeet Jesaja het die volk gewaarsku dat hulle in ballingskap sou gaan en ons lees daarvan in die eerste gedeelte van die boek Jesaja in hoofstuk 1-39. Vanaf Hoofstuk 40 begin hy egter ook daarmee saam vertroosting te gee aan hulle wat in ballingskap gegaan het. Die Here sou hulle ook weer uit die ballingskap bevry en daar word onder andere besondere dinge oor Iemand gesê wat die Kneg van die Here genoem word. In hoofstuk 52 praat die profeet baie spesifiek oor die bevryding uit Babel wat sou plaasvind. Hierdie heerlike bevryding het daarmee saam ook gespreek van die grootste bevryding wat sou kom deur Jesus Christus.

In vers 7 roep die profeet uit oor (1) die hoe lieflik die voete is van hom wat die goeie boodskap bring. Hy brei uit en se dat (2) hierdie boodskap vrede laat hoor. Dit is (3) die goeie tyding (letterlik: goeie boodskap van goedheid) wat gebring word en wat (4) verlossing laat hoor. Die wese daarvan gaan daaroor dat aan Sion, die berg in Jerusalem waarop die tempel gebou is, gesê word: Jou God is Koning! Dan roep die profeet op om te let op die wagte (op die mure van Jerusalem). Hy stel dit so: Hoor! Jou wagte! Want die wagte (1) verhef die stem en (2) hulle jubel almal saam. Die rede is dat hulle vlak voor hulle oë sien hoe die HERE terugkeer na Sion (v.8). Dit het waarskynlik in die onmiddellike konteks gedui op die amptelike terugtog met die tempelgereedskap, geborg deur Koning Kores wat later plaasgevind het (vgl. Esra 1:5,7). 

Dan roep die profeet uit dat die vervalle puinhope van Jerusalem moet uitbreek en almal saam moet jubel, aangesien die HERE sy volk getroos en Jerusalem verlos het (v.9). Want die HERE het sy heilige arm ontbloot voor die oë van die nasies en dat al die eindes van die aarde die verlossing (heil) van onse God sal sien (v.10). Jesaja roep daarna die weggevoerde ballinge op met (1.1) die oproep, “Vertrek, vertrek!”’ In die proses moet hulle (2.1) nie aanraak wat onrein is nie. Hulle word weer opgeroep (1.2): “gaan uit hulle midde uit, en (2.2) reinig julle. Die rede is dat hulle draers is van die heilige voorwerpe van die HERE (v.11). Dit het gewys op die tempelgereedskap wat hulle sou terugbring na Jerusalem. Die profeet sê dan dat hulle nie baie haastig sal weggaan soos vlugtelinge (destyds uit Egipte) nie. Nee, die HERE sal voor hulle uittrek en ook hulle agterhoede wees soos vroeër met die wolkkolom en vuurkolom in die woestyn (v.12).         

Besprekingsvraag: Watte geestelike boodskap het die terugkeer uit die ballingskap steeds?

Insig: Dit is belangrik dat ons die letterlike en oorspronklike konteks goed in die oog kry, aangesien dit ons baie help om geloofwaardig die geestelike betekenis na ons toe deur te trek.  Hierdie gedeelte toon aan ons waar die Ou Testament alreeds van die goeie boodskap en goeie tyding praat wat later toegepas word op die evangelie (Rom. 10:15). 

2023/03/28

15 Kolpunte vir die prediking

Ek het onlangs via ’n student weer te doen gekry met ’n handige skema wat sy mentors in ’n ander konteks (blykbaar afkomstig van prof Jorrie Jordaan) vir hom gegee het. Dit bied ’n handige werkswyse aan die hand waarvan hy sy prediking vanuit die Skrif kon struktuur. Treffend is alreeds die begin: Die hele proses behoort biddend benader te word.

Daardie basiese skema word opsommend hieronder geplaas en met geen oogmerk om verbatim aan te haal nie. Daarna gaan ek poog om, vir wat dit ook al werd mag wees, uit te bou met ’n paar gedagtes wat waarskynlik in die oorspronklike werk ook aandag kry. Die bedoeling hier is om in joernaal-formaat dit hier te stoor vir snuffelaars vir die toekoms, en met ’n tweeledige doel. Sommige lesers mag dalk meer byklank by my eerste afdeling vind en ander moontlik by die pulse van my tweede afdeling. En as ’n omnivoor miskien ook soms gelukkiger lyk, wel, dan vind vermenigvuldigende vreugde mos plaas, veral wanneer hoorders uiteindelik hierdeur geseën word.

Hier volg dan Prof. Jorrie se struktuur volgens hoorsê vanaf mentors uit die Dopperwêreld:

2023/01/27

Hofsitting met afvalliges

Lees: Miga 6:1-8

Gedagte vir kinders: Die HERE is altyd goed en geduldig, maar ook reguit met sy kinders.

Oorsig: Die profeet Miga tree op in dieselfde tyd as Jesaja. In hoofstuk 6 lees ons van ’n soort hofsitting waar die profeet die volk aankla en antwoorde vra en gee omdat God met hulle ’n verbond gesluit het. Vandag kan ons dit steeds hoor as profetiese woorde teenoor mense wat in ’n verbond met God staan omdat hulle gedoop is. Ons hoor eerstens dat selfs die skepping, die berge en die heuwels, as getuies opgeroep word. Ons hoor ook dat God twis (’n dispuut verklaar) met die volk en hulle wetlik aankla (regsgeding hou) in ’n tipe hofsituasie (v.1-2).

 Tog noem God hierdie sondige volk steeds “my volk” en Hy vra hulle dringend (“Antwoord My!”) wat Hy hulle verkeerd aangedoen het en waarmee Hy hulle moeg gemaak het (v.3). Hy noem vier dinge uit hulle geskiedenis om te wys dat Hy net goed was vir hulle. Hy het (1) hulle losgekoop uit die slawehuis van Egipte. Hy het (2) vir hulle leiers gegee in Moses en Aaron en Mirjam (v.4). Hy herinner hulle verder (3) hoe Hy Balak se plan om Israel  deur Bileam te vervloek, omgekeer het (Num. 22-24). Hy herinner hulle ook (4) aan die Here se sorg vanaf Sittim (laaste plek buite Kanaän waar hulle gesondig het – Num.25) tot by Gilgal (eerste plek oorkant die Jordaan binne Kanaän – Josua 5) wat God se regverdige dade illustreer (v.5).

Die profeet gaan dan aan om Israel se moontlike reaksie op God se aanklag te gee en daarmee ook duidelik te maak wat dit is wat God van hulle verwag. Eers word gevra of brandoffers en jaaroud kalwers die manier is om God te ontmoet. In die volgende rondte word dit in die oortreffende trap gevra of die Here besonder baie sal hou van (welbehae) in duisende ramme en tienduisende strome van olie. Dan word dit nog meer ekstreem gestel en gevra of die eersgeborene gegee moet word as offer vir die eie sonde of soos onder heidene geredeneer is – “die vrug van my liggaam vir die sonde van my siel” (v.6-7). En dan gee die profeet die Bybelse eenvoud oor hoe God genader behoort te word. Hy wys eerstens dat God dit tog duidelik bekend gemaak het. Dit kom daarop neer dat die Here van elke mens verwag om (1) reg te doen, (2) God se goedertierenheid lief te hê (te ken en uit te leef), en (3) nederig voor jou God te leef. Dit beteken dat ons sal besef wie Hy is, wie ons is, hoe nodig ons Hom het in elke situasie, en dit ook uitleef voor en met ander (horisontaal en vertikaal - v.8).

Besprekingsvraag: Waarom is heidene geneig tot ydele herhaling van gebede en offers?

Insig: Die HERE spreek in hierdie hofgeding deur sy profeet reeds eeue voor Christus vandag steeds met ons wat in die tyd van die nuwe verbond in Christus leef. Afgedwaalde verbondskinders word dringend twee basiese vrae gevra: “My volk, my kind, (1) wat het Ek, die HERE aan jou gedoen, (2) waarmee het Ek jou vermoei?" En dan die arresterende opvolg: "Antwoord my!”

2022/07/14

Een ding is nodig

Lees: Luk. 10:38-42

Gedagte vir kinders: Ons rus eers by die Here Jesus voor ons vir Hom gaan werk.

Oorsig: Die Here Jesus was op pad na Jerusalem om die offer vir ons sondes te bring. Hy het mense onder meer geleer wat dit beteken om ’n dissipel van Hom te wees, en so het hulle op hul reis by ’n sekere dorp gekom (waarskynlik Betanië) waar Hy tuis gegaan het in die huis van Martha. Sy was moontlik ’n weduwee wat die huis by haar man geërf het. Martha het ’n suster gehad met die naam van Maria en in Joh. 11 lees ons van hulle, waar ons ook hoor van Lasarus, hulle broer, wat uit die dood opgewek is. Die Here Jesus het moontlik daar oorgebly as Hy opgegaan het na Jerusalem vir die jaarlikse feeste. Ons weet ook uit die Bybel dat die Here Jesus hierdie drie mense liefgehad het (Joh. 11:5). Hy kon selfs van Lasarus teenoor sy dissipels praat as “Lasarus, ons vriend...” (Joh. 11:11). Hier lees ons van Maria dat sy in die huis van Martha aan die voete van die Here Jesus gesit en na sy woord geluister het (v.38-39).

Martha, aan die ander kant, was baie besig. Sy was mos die eienaar van die huis en alles moes in orde wees vir die gaste. Maar iets het Martha baie gepla: Sy het toe gaan staan waar die Here besig was en aan die Here Jesus gevra: “Here, gee U nie om dat my suster my alleen laat bedien nie? Sê dan vir haar dat sy my moet help.” (v.40). Die Here Jesus het haar op ’n besondere wyse geantwoord. Hy het twee keer haar naam genoem: “Martha, Martha.” Dit wys vir ons dat Hy baie persoonlik en liefdevol met haar gepraat het en tog ook ferm. Hy het haar daarop gewys dat sy besorg en verontrus (onrustig) kon raak oor baie dinge (v.41). Maar daar was eintlik net een ding nodig, het die Here Jesus gesê. 

2011/08/05

God se werk en ons werk (3)

Hierdie is die noodsaaklike opvolg op die vorige skrywe. Begin hier as jy die draad steeds nie volg nie. Die geseënde spanningslyn verdiep as ons ons tweede teologiese turk, Kevin DeYoung aanhoor. Hy en Tchividjian is meer as net Facebook vriende. Hulle albei speel saam in dieselfde reformatoriese span. Hoewel hul bouvorm nie so lyk nie, sou ons hulle posisies kon vergelyk met die vaskop- en loskopstut in 'n rugbyspan. Beide het die doel om die bal oor die doellyn te help dra, maar tog verskil hul aksente so effe.

Tchividjian is die vaskop-man. Hy wil deeglik seker maak dat ons geanker is in die evangelie, die volle evangelie en niks anders as die evangelie nie. Dit is dat alles wat nodig is vir ons ewige redding en vir aanvaarding voor God, reeds volledig deur Jesus Christus bewerkstellig is, vasgemaak is deur sy kruisdood en opstanding vir ons. Jy sal hierdie bevrysingsbasis nooit uitput nie. Al jou lanseerwerk begin hier. En as dinge begin skeefloop? Dan sê Tchividjian moet jy seker maak of al die indikatiewe motore op jou evangelie-basis nog op volle sterkte vuur. So praat die vaskop voorryman wat 'n meester is in evangeliese ankerwerk.

Maar 'n reformatoriese span het ook 'n loskop voorryman nodig. Onlangs oor die radio sê die Springbokvleuel van die wêreldbekerwenner '95-span, Pieter Hendriks, dat 'n loskop ietwat malkop-voortvarend moet wees en dat die Sprinkbokke so 'n iemand in daardie posisie nodig het. Wel, die tyd sal leer watter kandidaat die rol kan vervul, en Cheetah-getrou kan jy raai oor wie ek bevooroordeeld sou wees. Maar wat die baie belangriker reformatoriese span betref, gee Kevin DeYoung al die regte tekens dat ons hom maar gerus op loskop kan oorweeg. Kevin wil seker maak dat ons vorentoe dryf. Hy gee Tullian se vaskop ankerposisie toe, maar stel ook:

Growing in godliness is a fight of faith–a fight to believe the truth about our justification, our adoption, a fight to believe all that God says about us by virtue of our union with Christ. But growing in godliness is more than trusting; it is also trusting enough to obey. The New Testament gives us commands, and these commands involve more than remembering, revisiting, and rediscovering the reality of our justification. We must also put on, put off, put to death, strive, and make every effort.

Kevin is besorg daaroor dat ons die indikatiewe afspeel teen die imperatiewe. Daar is egter net eenvoudig te

2011/08/02

God se werk en ons werk (2)

Beloftes maak skuld. Reeds hier is die voorneme gemaak om verder in te gaan op die tema van God se werk en ons werk. As jy so kyk na hierdie blog se lysie van mees gelese artikels, blyk dit dat hierdie tema vuurwarm bly. In hierdie posstuk gaan ek een van die twee genoemde teologiese turke opsommend aan die woord stel deur kernaanhalings uit sy een genoemde geskrewe stuk. Net om enige misverstand by voorbaat af te sny: Beide woordvoerders wat behandel sal word erken God se soewereinititeit in mense se redding. Beide erken dat God se werk en ons werk alleen binne hierdie raamwerk beredeneer kan word. Hulle is dus Calviniste soos die mense sê. Jy sou hulle ook monergiste kon noem as jy nuwe woorde soek wat in die sagte vlees kan insny en die eelte op die ore met woorde soos Calviniste wil vermy. Kortom: Hierdie twee manne wil soli deo gloria oor 'n mikrofoon met 'n goeie klankversterker uitroep.

Maar binne hierdie soli deo gloria-raamwerk kan ons nog steeds onderskei tussen (1) wat God in sy genade gee en (2) dit waartoe Hy ons binne hierdie genade oproep om aktief - weliswaar bekragtig deur sy Gees - te doen. In 'n sekere sin sou ons kon stel dat een van ons spreker-skrywers maar net waarsku teen verwaarlosing van (1) en die ander een weer waarsku op verwaarlosing van (2). Het ek al gewys op hulle raamwerk waarin hulle die debat voer? Verskoon tog vir die herhaling, maar die raamwerk vir hierdie gesprek is belangriker as 'n raam vir jou amptelike huweliksfoto. Daarsonder is dinge eenvoudig nie reg omlyn nie. In hierdie posstuk sal ons luister na Tullian Tchividjian (terloops, hy is 'n kleinseun van Billy Graham, met oupa se spreekgawes en boonop nogal reformatories! Jammer dames, hy is reeds getroud).

Tullian waarsku teen die verwaarlosing van (1) in ons lewe met God: Die besef dat alles genade alleen is en dat God alles in Christus alleen gee. Hy stel dit onomwonde dat dit onmoontlik is dat iemand wat God se genade leer ken het, ooit passief kan bly. Jy kan nie. Dit is onmoontlik, is sy eenvoudige gevolgtrekking. Volgens Tchividjian is die rede vir mense se passiwiteit en louheid nie dat hulle gemaksugtig geraak het in die evangelie nie, maar dat die evangelie nie genoegsaam tot hulle (tot ons!) deurgedring het nie:

The fact is, however, that the only way licentious people start to obey is when they get a taste of God’s radical, unconditional acceptance of sinners.

Tchividjian ag hierdie smaak van God se genade as deurslaggewend. Hy gee 'n nugterheidstoets wat baie van ons ongemaklik behoort te laat rondskuif. Hy gee die nugterheidstoets met groter skop as  'n halfglas skoon mampoer. Gereed? Hier kom dit: Of dit nou 'n preek, 'n boek, 'n blog of 'n kwetter (twitter) is - as die

2011/06/29

God se werk en ons werk (1)

In die vorige pos is gewys op die wet/evangelie dinamiek in terme van indikatief en imperatief. Net weer 'n verfrisser vir die wat dalk die eerste keer met die i-woorde met tief-eindes te doene kry: Indikatief (vgl. die Engelse woord indicate) dui die stand van gebeure aan - in die evangelie spesifiek op dit wat God sonder ons gedoen het. Imperatief (vgl. die Engelse woord imperative) dui op 'n bevel. Dit gaan oor die verband tussen die aanduiding van gebeure wat buite ons en los van ons ons plaasgevind het enersyds, en die oproepe wat anderyds tot ons kom waarin onsself iets moet doen. Kortom: God se werk en ons werk. Soos op enige ander gebied is daar woorde wat mettertyd ingeburger raak as die jargon woorde en kortpad woorde om sake te beskrywe. Skuus as indikatief en imperatief  die indruk gee van snobisties neerbuigende woorde. Enige voorstelle vir ander woorde wat meer ligvoets en verstaanbaar vir Jan Alleman mag wees is altyd welkom, maar dan moet dit meer wees as jou eie euforiese stimulante. Dit moet ingeburger kan raak by almal. Verdra asseblief die woorde ter wille van die groter saak waarom dit hier gaan. Dit gaan hier om die wet/evangelie dinamiek wat seker op sy duidelikste na vore tree in Fil. 2:12-13:

... werk julle eie heil uit met vrees en bewing; want dit is God wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae.

Deur die geskiedenis het die verband tussen God se werk en ons werk Christene nog altyd geboei. Dit is een van die mees basiese sake waarmee ons telkens gekonfronteer word. Die twee afgronde van  wettisisme en wetteloosheid (nomisme en antinominanisme) wink voordurend op hierdie weg as ons die stuurwiel hieroor nie goed vashou nie.

Twee gewaardeerde jonger ortodokse teoloë en vriende, Tullian Tchividjian en Kevin DeYoung, het hierdie debat onlangs met nuwe gloed op die tafel geplaas Kyk gerus hier en hier en hier om die klanke van begaafde jonger teologiese turke op te vang. Hulle debat is 'n bewys daarvan dat elke geslag hierdie sake opnuut vir hulself moet toe-eien. Wat mooi is, om te sien hoe hulle aanleun op hul klassieke tradisie. Ek kan my nie indink dat enige predikant wat besorg is oor sy gemeente en (sy eie) padhouvermoë nie hiervan 'n studie wil maak nie. Wat ek hier gaan doen is om die bespreking hiervan in 'n paar posstukke op te deel. Ter wille van hulle wat godsdiens swaar in Engels verteer sal ek in 'n eerste posstuk die basiese argument van die twee deur middel van treffende kernaanhalings uitlig ten einde 'n jeuk te veroorsaak by die wat nog nie behoefte voel om te krap nie. Daarna sal die treffende beelde en aanhalings aan die woord kom wat die twee here gebruik en wat ons gerus maar in ons herkou-lêers kan plaas. Daarna sal 'n waarderende evaluering gedoen word met 'n paar eie stuiwers terwyl daar so heerlik by hul evangeliese debatsfees aangesit word. Jy word saamgenooi. Hier is werklik evangelie-voeding. En bring jou smaakkliere saam, want dit word nie met 'n drup toegedien nie.