2011/08/05

God se werk en ons werk (3)

Hierdie is die noodsaaklike opvolg op die vorige skrywe. Begin hier as jy die draad steeds nie volg nie. Die geseënde spanningslyn verdiep as ons ons tweede teologiese turk, Kevin DeYoung aanhoor. Hy en Tchividjian is meer as net Facebook vriende. Hulle albei speel saam in dieselfde reformatoriese span. Hoewel hul bouvorm nie so lyk nie, sou ons hulle posisies kon vergelyk met die vaskop- en loskopstut in 'n rugbyspan. Beide het die doel om die bal oor die doellyn te help dra, maar tog verskil hul aksente so effe.

Tchividjian is die vaskop-man. Hy wil deeglik seker maak dat ons geanker is in die evangelie, die volle evangelie en niks anders as die evangelie nie. Dit is dat alles wat nodig is vir ons ewige redding en vir aanvaarding voor God, reeds volledig deur Jesus Christus bewerkstellig is, vasgemaak is deur sy kruisdood en opstanding vir ons. Jy sal hierdie bevrysingsbasis nooit uitput nie. Al jou lanseerwerk begin hier. En as dinge begin skeefloop? Dan sê Tchividjian moet jy seker maak of al die indikatiewe motore op jou evangelie-basis nog op volle sterkte vuur. So praat die vaskop voorryman wat 'n meester is in evangeliese ankerwerk.

Maar 'n reformatoriese span het ook 'n loskop voorryman nodig. Onlangs oor die radio sê die Springbokvleuel van die wêreldbekerwenner '95-span, Pieter Hendriks, dat 'n loskop ietwat malkop-voortvarend moet wees en dat die Sprinkbokke so 'n iemand in daardie posisie nodig het. Wel, die tyd sal leer watter kandidaat die rol kan vervul, en Cheetah-getrou kan jy raai oor wie ek bevooroordeeld sou wees. Maar wat die baie belangriker reformatoriese span betref, gee Kevin DeYoung al die regte tekens dat ons hom maar gerus op loskop kan oorweeg. Kevin wil seker maak dat ons vorentoe dryf. Hy gee Tullian se vaskop ankerposisie toe, maar stel ook:

Growing in godliness is a fight of faith–a fight to believe the truth about our justification, our adoption, a fight to believe all that God says about us by virtue of our union with Christ. But growing in godliness is more than trusting; it is also trusting enough to obey. The New Testament gives us commands, and these commands involve more than remembering, revisiting, and rediscovering the reality of our justification. We must also put on, put off, put to death, strive, and make every effort.

Kevin is besorg daaroor dat ons die indikatiewe afspeel teen die imperatiewe. Daar is egter net eenvoudig te

veel opdragte in die Skrif waarin ons tot aksie opgeroep word. Dit is weliswaar evangelie-gedrewe aksie, Geesgewerkte aksie, aksie in die opstandingskrag van Christus, maar dit is iets waartoe ons aktief opgeroep word en wat nie bloot in ons slaap gaan gebeur nie. Die rus in Christus steek jou aan die brand met binnebrand-woema wat meer as agt silinder dryfkrag moontlik maak. Daardie woema wil en moet ry - met krag, liefde en selfbeheersing. Dit is ongeveer wat DeYoung sê as hy oorvertaal word in parafrase-styl. Kevin stel dat hy aan 'n boekie werk en ons kan gerus daarna uitsien. Vrae soos die volgende wil hy aanroer en probeer ophelder: Kan 'n geregverdigde sondaar God behaag met sy of haar gehoorsaamheid? Is die geregverdigde sondaar vir God tot 'n las as hy of sy sondig? Kan ons versekerd wees in ons gehoorsaamheid, nie op selfregverdigende wyse nie, maar omdat ons gedoen het wat ons beveel is? Hoe motiveer die Skrif ons tot gehoorsaamheid?

DeYoung gaan steun ook sterk op die reformatoriese tradisie in sy betoog - onder meer op Martyn Lloyd-Jones se hantering van die hele Romeine 6. Maar dit is sy ander ondersteuning wat ons veral behoort te boei: Wilhelmus A Brakel. As jy nie weet wie hy is nie, ken jy nog nie naastenby die Voortrekkergeskiedenis vanuit sy wortels nie. A Brakel was die Voortrekkers se stapelvoedsel as dit kom by hulp om die Bybel te verstaan. Met sinspeling op sy naam, as hy mense wel oor iets laat braak het, was dit oor verdunde interpretasie van die Bybel. En nou kom 'n Engelstalige Amerikaner en herinner ons in Amerikaanse Ingels aan wat die Voortrekkers se segsman gesê het. Hierdie wêreld is inderdaad 'n vreemde plek! DeYoung haal met 'n paar kantlynnotas uit A Brakel aan in volume 4 waar hy ingaan op die redes waarom Christene soms nie groei soos hulle behoort te groei nie:

He gives five reasons: 1) They presume upon grace. 2) They doubt their conversion. 3) They are discouraged by their progress. 4) They conform themselves to the world. 5) They are lazy. Remembering our justification may be the antidote for reasons 2 and 3, but effort is required with number 5. Many Christians “are hindered in their walk solely by lazines.” Later a Brakel observes, “We indeed desire to be in an elevated spiritual frame and to grow as a palm tree, but we are not willing to exert any effort–and thus we also do not receive it. . . .Therefore, Christians, to the task! Strive to grow in both habitual and actual grace” (Volume 4, 154). It is precisely this exhortation that I fear is missing from some quarters of evangelicalism. 

Om DeYoung se betoog tot 'n einde te bring: Hy reken dat sommige Christene wat moedeloos is oor hul karige groei, uit die Bybel wel getroos moet word deur die werk van Christus: Alles wat nodig is vir die wenpaal en doellyn, is alreeds volmaak gedoen! Hy reken egter ook dat daar genoeg gedeeltes in die Bybel is wat aantoon waarom ander Christene gestol het in hul wandel met God. Dit is gewoon omdat hulle lui is, sê Kevin DeYoung. Iemand moet hulle reguit daarop wys.

Wie is reg? Tchividjian of DeYoung? Dit is maklik om te sê "beide". Ons tydsgees rig ons af vir en-en benaderings en soms is dit ook inderdaad goed. Nie alles in die lewe is of-of nie. Die groot saak om uit te maak is verder of ons te make het met 'n interne debat binne dieselfde span en of 'n kernpunt in die groot stryd, die groot antitese, in die geding is. Hier lyk dit my of ons met vaskop en loskop benaderings te doen het binne dieselfde reformatoriese span. Maar dit sal niks help as ons hieroor net toeskouers is wat die spel ure lank analiseer om te bepaal waar iemand anders aangeslaan het nie. Daar is 'n doellyn waarna ons kan en moet dryf. Die geheim is die rus in Christus. Die gevolg hiervan is vuur in jou are om vir God en sy koninkryk met passie te leef.