2011/08/15

Psalms en roomys!

Daar is waarskynlik diegene wat wonder: Nou wanneer gaan ons nou iets hoor van die nuwe omgewing wat die Fanie homself in bevind? Wel, hier is 'n eerste aflewering.

Wat kry jy as jy Bethlehem en Potchefstroom kruis? Antwoord: Iets wat jou herinner aan Moscow, Idaho in die VSA. Met rollende heuwels rondom die dorp en koring wat witryp op die heuwels wuif, voel 'n mens baie maklik in hierdie landelike omgewing tuis. Die universiteit van die dorp, die University of Idaho (afgekort as die U of I) het ontwikkel uit 'n landbouopleidingsentrum. Hierdie sentrum is blykbaar aanvanklik gestig om mense in die verre afgeleë Weste te help om effektiewer te boer. Hieruit het baie dinge voortgevloei - onder meer 'n volwaardige universiteit. Ongeveer dertien kilometer uit die dorp is die dorp Pullman met ook sy eie universiteit in die aangrensende staat, Washington - Washington State University. Maar die Kollege waarby ek ingeskryf is in die universiteitsdorp Moscow is die plek waar ek wil uitkom.

Hierdie kollege, soos baie Christelike privaatinstellings, stel nie belang in staatsubsidie nie, gewoon omdat hulle nie op enige kompromitterende wyse gebind wil wees aan staatsregulering in sake hul opleiding nie. En waarmee begin hul toe die nuwelinge in te wy by die eerste oriënteringsgeleentheid? Psalmsing en roomys! Meer konkreet - Psalms in kanon en in stemme saam met 'n skuiftrompet, en roomys waarop jy smarties, neute, sjokolade, en nog 'n ander paar heerlike dinge kan strooi. Dit alles in die soel somersaandlug op die plein voor die kollegegebou met nuuskierige dorpsbewoners wat voortdurend kom kyk wat gebeur. Wat was aangenamer, die Psalmsing of die roomys? Die vraag is verkeerd. Dit gaan hier om geseënde skuld deur assosiasie!

In die opname van die openingsplegtigheid die daaropvolgende dag kan die ligvoetse en vrolike Psalmsang aan die begin ook gehoor word. Hulle sing nie Psalms alleen nie, maar het wel 'n gesonde vooroordeel daarvoor. Baie Psalms by hulle het skynbaar 'n ligte toonaard. Dit verteenwoordig blykbaar 'n bepaalde tradisie waaroor ek meer sal uitwei as die oningeligtheid eers bietjie gedokter is. Maar hier is die openingsgeleentheid vir die wat belangstel. Film kan nie alles vasvang nie, maar dit gee tog 'n idee. Hierdie ouens se etos en Christelike volwassenheid is op 'n vlak wat merkwaardig en inspirerend is. Die boodskap van die spreker vanuit Kol. 3 met die stentorstem was kragtig en behoort ons almal wat onsself met die erenaam Christen noem, te inspireer: Jy is reeds dood. Gaan leef nou roekeloos vir God se koninkryk en gaan stry die goeie stryd.