2011/08/19

Die gees van Augustinus

Augustinus sê in die inleiding van Boek III van sy bekende werk, De Trinitate, veelseggende woorde oor sy gesogte publikasies. Ons kan gerus maar sy opinie oor sy uitsprake meet aan ons opinies oor ons eie uitsprake. Hy stel (1) dat hy eerstens nie bloot behoefte het aan 'n gawe leser/hoorder nie, maar ook 'n eerlike kritikus. Hy het (2) nie behoefte aan 'n blote naprater nie, sê hy, maar darem ook nie aan 'n kritikus wat net sy eie kritiek kan napraat nie. Hy vertrou ook (3) verder dat sy leser nie meer van hom sal hou as van die algemene en ontwyfelbare geloof nie. Hy gaan voort en ek vertaal vry:

Vir die eerste groep sê ek: Moenie aan my werke dieselfde eerbied betoon as aan die kanonieke Skrifte nie. Wat jy ook al vind in die Skrif wat jy voorheen nie geglo het nie, wel, glo dit onmiddellik. Maar wat jy ook al in my geskrifte vind wat jy nie tot dusver as seker geag het nie, as ek jou nie oortuig het dat dit seker is nie, gaan  voort om twyfel daaroor te hê. Vir die tweede groep sê ek: Moenie wat ek skryf kritiseer op grond van die standaard van jou eie vooroordele of beterweterigheid nie, maar op grond van die goddelike teks of onomkeerbare rede. As jy hierin enige waarheid vind, dan behoort dit nie bloot aan my nie, maar eerder aan beide van ons deurdat dit verstaan en omhels word deur ons altwee. As jy my uitvang in enigiets wat nie waar is nie, dan moet ek erken dat ek 'n fout gemaak het; maar van nou af, deur versigtiger te wees, kan beide van ons die eienaarskap van foute vermy.

Augustinus se werke bruis van die honger na God se waarheid soos dit in die Skrif gemyn word. Die simptome hiervan is die wyse wat hier pertinent aan die orde gestel is. Ons behoort in ons apologetiese styl hiervan kennis te neem. Mense behoort by ons 'n honger na die waarheid te bespeur wat diep uit ons siele opwel. Een van die kenmerke van so 'n honger en dors na die geregtigheid is dat jy graag hoor waar ander jou dalk reg kan help, op voorwaarde dat hulle nie in hul eie ideologie-web vasgevang is nie. Want dit gaan nie om jou of my nie. Dit gaan om God en sy waarheid wat Hy vir ons almal geopenbaar het en waarin ons almal hoe langer hoe meer behoort in te groei. Hierdie groei sal nooit ophou nie. Daarom bly dit altyd opwindend om verder na te speur, dieper te delf, verdere dimensies te ontdek. Beleef mense by ons hierdie Augustiniaanse gees?