2011/08/11

Dis hoe dit is - met en sonder Steve

In Suid-Afrika dink baie wat die frase "dis hoe dit is" hoor, onmiddellik aan Steve Hofmeyr en sy program(lied) op Kyknet. Steve is vir baie die voor die hand liggende eerste konnotasie. Maar daar is 'n ander kandidaat met 'n bedekte konnotasie wat baie kragtiger is. Hy kamoefleer hom met die frase "dis hoe dit is" beter as die beste voetsoldaat. Deur hierdie frase in ons monde en in ons koppe sluip hy in by ons geselskappe by die braaivleisvure, by ons debatte op verhoë, by ons wetenskapseminare. Ja, hy sluip in selfs by ons diep en minder diep mymeringe in ons badkamers. Sy van is mnr. Ologie - 'n bekende van in die wêreld van Ologieë. Maar sy naam wek oral siddering: Ide. Hy is beter bekend as ...

Ideologie kan op verskillende maniere verstaan word, sê die geleerdes vir ons. Dit kan beteken (1) dat 'n bepaalde idee buite die maat ons lewens beheers. Dit kan ook beteken (2) al daardie onbewuste aannames oor wat ons as vanselfsprekend ag ("dis hoe dit is"). Dit kan ook (3) bloot dui op 'n algemene agenda, 'n algemene opinie of algemene oortuiging. Kies jou kaart, maar weet dat hierdie kandidaat met meer as een weergawe kaart speel.

Dit is veral die "dis hoe dit is"- kaart (nr. 2) wat hier van toepassing is. Beide Protestante en Marxiste - elk uit verskillende hoek en met verskillende doelstellings - het lankal al teen hierdie streep in ons in opstand gekom. "Dis hoe dit is" kan 'n valse bewussyn wees, het hulle met vuur in hul oë en harte getuig.
 Mnr. Ideologie kan jou presies so verlam om 'n patetiese huidige stand van sake as normaal te beskou. "Dis hoe dit is" sê jy en "daarmee basta" daarby. Maar so immuniseer jy jou ook teen verbeeldingryke herkonfigurasie van die wêreld. Jy berus eenvoudig in die status quo van die hede binne 'n groter of kleiner groep en kan jouself nie indink dat daar ander maniere van kyk en lewe moontlik is nie.

Ons het almal so 'n geselsprogram met onsself en met ander aan die gang. Ons hoef nie net van "Dis hoe dit is met Steve" te praat nie. Ons kan maar ons eie name invoeg: "Dis hoe dit is met Abrie", "met Barend" of "met Christina". Die program self is onvermydelik. Hy hardloop in jou kop met of sonder jou toestemming - in die raadsaal, die ontspanningsaal, die  kerkraadsvergadering.

Die program self kan ek en jy nooit werklik keer nie. Wat ons wel kan doen, is om dit te bestuur. Waarmee? Dit is nie genoeg om in 'n aandoening van vroomheid te stel dat dit met die Bybel moet wees nie. Die Bybel is dik en elke ketter het sy letter. Boonop het mnr. Ideologie die manier om die "dis hoe dit is" geselsprogram in jou lewe op een of ander wyse godsdienstig te sanksioneer. Die apartheidsera het hulle verse gehad en die "struggle"-kamerade ook hulle eie verse. En ons sal skynbaar tot die oordeelsdag redeneer oor watter verse die beste is vir ons eie geselsprogram waarin mnr. Ideologie die regisseur en ons die programaanbieders is.

Dit is waarom ons God so nodig het. Ons moet ons geselsprogram aan Hom onderwerp en ideologie-kritiek behoort in die voorbereiding ingewerk te word. Dit sluit in dat Hy sal bepaal wie ons na ons geselsprogramme nooi vir invloed, maar veral dat Hy die regisseur onder hande sal neem. Dit sluit ook in dat ons sal luister hoe Hy sy kerk deur die eeue gelei en van baie ideologie-regisseurs bewaar en bevry het. Kortom: Ons moet die Here vra om mnr. Ideologie in ons eie programme te tem en te genees. En dan moet ons in ons persoonlike geselsprogramme werklik probeer hoor wat die gas wat ons uitgenooi het sê, ook as jy nie van hom of haar hou nie.

Daarmee saam moet ons natuurlik ook probeer agterkom wie die regisseur in die kop van die gas is. Ook die gas het 'n eie geselsprogram met 'n regisseur. Die hermeneutikus (interpretasie-deskundige), Paul Ricoeur, het ons lankal daarop gewys dat egte verstaan ten minste altyd twee vername komponente moet bevat - herwinning en suspisie. Jy probeer werklik hoor wat die ander persoon werklik wil sê, maar jy hou ook rekening met ideologieë wat die teenparty (en jou) maklik kan beïnvloed.

My en jou eie "dis hoe dit is" geselsprogramme kan nuwe betekenis en lewe kry. As Mnr. Ideologie, die super kamoefleerder eers uitgeken en onder die mag van God gebring is, kan "dis hoe dit is met Abrie", "met Barend" of "met Christina", baie interessanter wees. Die rede is eenvoudig: Jou breinvore waarin jy wroeg word oopgebreek vir moontlike nuwe bane om op te wandel. En terselfdertyd is jy ook bedag daarop om nou nie net in iemand  anders se breinvore te gaan swoeg nie. Hiervoor is nodig dat ons met meer as woorde sal weet wat dit is om jou aan God te onderwerp. Hieroor dalk meer op 'n volgende keer.