2011/08/02

God se werk en ons werk (2)

Beloftes maak skuld. Reeds hier is die voorneme gemaak om verder in te gaan op die tema van God se werk en ons werk. As jy so kyk na hierdie blog se lysie van mees gelese artikels, blyk dit dat hierdie tema vuurwarm bly. In hierdie posstuk gaan ek een van die twee genoemde teologiese turke opsommend aan die woord stel deur kernaanhalings uit sy een genoemde geskrewe stuk. Net om enige misverstand by voorbaat af te sny: Beide woordvoerders wat behandel sal word erken God se soewereinititeit in mense se redding. Beide erken dat God se werk en ons werk alleen binne hierdie raamwerk beredeneer kan word. Hulle is dus Calviniste soos die mense sê. Jy sou hulle ook monergiste kon noem as jy nuwe woorde soek wat in die sagte vlees kan insny en die eelte op die ore met woorde soos Calviniste wil vermy. Kortom: Hierdie twee manne wil soli deo gloria oor 'n mikrofoon met 'n goeie klankversterker uitroep.

Maar binne hierdie soli deo gloria-raamwerk kan ons nog steeds onderskei tussen (1) wat God in sy genade gee en (2) dit waartoe Hy ons binne hierdie genade oproep om aktief - weliswaar bekragtig deur sy Gees - te doen. In 'n sekere sin sou ons kon stel dat een van ons spreker-skrywers maar net waarsku teen verwaarlosing van (1) en die ander een weer waarsku op verwaarlosing van (2). Het ek al gewys op hulle raamwerk waarin hulle die debat voer? Verskoon tog vir die herhaling, maar die raamwerk vir hierdie gesprek is belangriker as 'n raam vir jou amptelike huweliksfoto. Daarsonder is dinge eenvoudig nie reg omlyn nie. In hierdie posstuk sal ons luister na Tullian Tchividjian (terloops, hy is 'n kleinseun van Billy Graham, met oupa se spreekgawes en boonop nogal reformatories! Jammer dames, hy is reeds getroud).

Tullian waarsku teen die verwaarlosing van (1) in ons lewe met God: Die besef dat alles genade alleen is en dat God alles in Christus alleen gee. Hy stel dit onomwonde dat dit onmoontlik is dat iemand wat God se genade leer ken het, ooit passief kan bly. Jy kan nie. Dit is onmoontlik, is sy eenvoudige gevolgtrekking. Volgens Tchividjian is die rede vir mense se passiwiteit en louheid nie dat hulle gemaksugtig geraak het in die evangelie nie, maar dat die evangelie nie genoegsaam tot hulle (tot ons!) deurgedring het nie:

The fact is, however, that the only way licentious people start to obey is when they get a taste of God’s radical, unconditional acceptance of sinners.

Tchividjian ag hierdie smaak van God se genade as deurslaggewend. Hy gee 'n nugterheidstoets wat baie van ons ongemaklik behoort te laat rondskuif. Hy gee die nugterheidstoets met groter skop as  'n halfglas skoon mampoer. Gereed? Hier kom dit: Of dit nou 'n preek, 'n boek, 'n blog of 'n kwetter (twitter) is - as die

uiteindelike indruk gegee word dat dit gaan om wat jy moet doen, eerder as op dit wat Christus gedoen het, is die evangelie nie effektief gekommunikeer nie en moet die kommunikeerder weet dat die verwantskappe met die Fariseers baie sterk is. Lees die vorige sin asseblief weer. Op vlymskerp wyse stel Tchividjian dit so:

The difference between “religion” and the gospel is that religion gives burdens by announcing that Jesus plus something equals everything while the gospel absorbs burdens announcing that Jesus plus nothing equals everything....

Tchividjian wys ons aan die hand van Tim Keller op 'n ou waarheid wat ons so maklik vergeet: Die Bybel gaan nie oor ons nie. Dit gaan oor Jesus Christus en wat Hy kom doen het. Sterker gestel, die Bybel wil jou nie bloot 'n soet seuntjie of soet dogterjie maak nie. Die Bybel wil jou eerder in die eerste plek aan die God voorstel wat met sy genade in mense se lewens inbreek, selfs teen jou wil in en jou red van die sonde en gebrokenheid wat jyself en ekself nooit maar nooit kan oorkom nie.

Dit geld, voer Tchividjian aan, nie net vir ons aanvanklike regverdiging nie, maar ook vir vir ons daaglikse heiligmaking. Ook ons heiligmaking vind plaas wanneer ons voortdurend weer aangevuur word deur die evangelie. Daarom stel Tchividjian dit duidelik dat ons grootste taak eintlik is om weer en weer die evangelie te onthou; weer en weer die evanglie op te soek; weer en weer die realiteit van ons regverdiging te ontdek en te herontdek. Dit vra harde werk, stel Tullian. Maar dit is die tipe werk aan ons kant wat van ons gevra word. En soos ons by hierdie vuurtjie warm word, word ons lewens verwarm. Meer nog, kry ons olie op ons vuur. Tullian wys in hierdie verband op die volgende aangrypende uitspraak van Luther: 

What is indisputable is the fact that unbelief is the force that gives birth to all of our bad behavior and every moral failure. It is the root. “The sin underneath all sins”, said Martin Luther, “is the lie that we cannot trust the love and grace of Jesus and that we must take matters into our own hands.”

Kom ons plaas eers 'n komma hier voordat ons op 'n volgende keer na Kevin DeYoung se ander kant gaan luister. Tchividjian se boodskap -  wat ook die boodskap van die kerk van die eeue is - het nodig om diep by ons in te sink. Die selfverlossingsdrang is soos 'n koors wat alte maklik binne sekere omstandighede weer en weer by ons uitbreek - ook as ons probeer om vir die Here te leef. Ons het nodig dat die evangelie van Jesus Christus ons telkens weer oorrompel, ons hare deurmekaar vryf en laat duisel voor die genade van God wat inderdaad onbeskryflik groot is. Ja, ook vir jou! Dit gee ons moed en durf om as begenadigdes vir God te gaan lewe. As ons wil praat oor God se werk en ons werk, behoort hierdie punt in ons harte ingegraveer te wees. Vermoeide en belaste mense soos ons kan nie anders lewe nie.