Wys tans plasings met die etiket Identiteit. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Identiteit. Wys alle plasings

2024/01/29

Bok en Bernice se nuwe strydlied

Die treffer-lied van Bokvan Blerk en Bernice West, “Die Afrikaner maak so”, is Vrydag, 26 Januarie 2024, vrygestel en maak steeds groter opgang. Dit is ’n lied waarin identiteit en die positiewe trots van Afrikaner-wees, ritmies en treffend, dansend en strydend, vry teen die wereld en werwend aan die orde gestel word. Daar word prontuit in hierdie bewustelik ongerepte weergawe geweier om sondebok te speel vir ander volke se sondes. Die lied is daarom ook duidelik ’n proteslied, positief gestem, teen die veragting en selfveragting van die Afrikaner. Dit het gebeur omdat opregte skuldgevoel met valse skuldgevoel verwar word. Die Bybel is duidelik daaroor dat daar iets soos ’n verswakte gewete kan wees wat veral deel is van diegene wat nog swak is in die geloof (vgl. 1 Kor. 8:12 en Rom. 14). Dit is ook waar van hulle wat afvallig geraak en die tien gebooie prysgee het vir die liberale tien gebooie. Sulke mense sal noodwendig ’n verwarde skuldgevoel ontwikkel, met gepaardgaande verwarde middelaars en verwarde versoening.

Die lied van Bok en Bernice bepleit terugekeer na die wortels van die Afrikaner: “Onthou wie jy is.” Dit betken nie liefdeloosheid teenoor ander nie, maar eerder net natuurlike liefde vir die eie. Die gevierde joernalis, Christelike apologeet en Pro-Boer, G.K. Chesterton, het by geleentheid benadruk dat hierdie soort liefde nie blind is vir die eie sonde nie, maar dat dit wel gebonde bly. Hy het dit so gestel: “Liefde is nie blind nie; dit is die laaste ding wat dit is. Liefde is gebonde; en hoe meer dit gebind is, hoe minder is dit blind.”[1]