2024/01/29

Bok en Bernice se nuwe strydlied

Die treffer-lied van Bokvan Blerk en Bernice West, “Die Afrikaner maak so”, is Vrydag, 26 Januarie 2024, vrygestel en maak steeds groter opgang. Dit is ’n lied waarin identiteit en die positiewe trots van Afrikaner-wees, ritmies en treffend, dansend en strydend, vry teen die wereld en werwend aan die orde gestel word. Daar word prontuit in hierdie bewustelik ongerepte weergawe geweier om sondebok te speel vir ander volke se sondes. Die lied is daarom ook duidelik ’n proteslied, positief gestem, teen die veragting en selfveragting van die Afrikaner. Dit het gebeur omdat opregte skuldgevoel met valse skuldgevoel verwar word. Die Bybel is duidelik daaroor dat daar iets soos ’n verswakte gewete kan wees wat veral deel is van diegene wat nog swak is in die geloof (vgl. 1 Kor. 8:12 en Rom. 14). Dit is ook waar van hulle wat afvallig geraak en die tien gebooie prysgee het vir die liberale tien gebooie. Sulke mense sal noodwendig ’n verwarde skuldgevoel ontwikkel, met gepaardgaande verwarde middelaars en verwarde versoening.

Die lied van Bok en Bernice bepleit terugekeer na die wortels van die Afrikaner: “Onthou wie jy is.” Dit betken nie liefdeloosheid teenoor ander nie, maar eerder net natuurlike liefde vir die eie. Die gevierde joernalis, Christelike apologeet en Pro-Boer, G.K. Chesterton, het by geleentheid benadruk dat hierdie soort liefde nie blind is vir die eie sonde nie, maar dat dit wel gebonde bly. Hy het dit so gestel: “Liefde is nie blind nie; dit is die laaste ding wat dit is. Liefde is gebonde; en hoe meer dit gebind is, hoe minder is dit blind.”[1] 


Eie foute word daarom nie ontken nie, maar dit gaan nie oor tot selfveragting of veragting van hulle aan wie jy gebonde is nie. Juis daarom, het Chesterton, terwyl hy sy eie land met genoeg foute steeds vermanend liefgehad het, gereken dat die Boere geregtig was om lief te wees vir hul eie en hul eie te verdedig in die Anglo-Boereoorlog.

Chesterton het identiteit en patriotskap spesifiek opgestel teen imperialisme, maar ook teen kosmopolitane wat verskillende groepe ongekwalifiseerd wou laat saamwoon. Hy het daarop gewys dat ook kosmopolitane se oplossing nie opweeg teen gesonde en gebonde patriotskap nie. Hy het die volgende roemryke woorde laat hoor:  

Kosmopolitisme gee ons een land, en dit is goed; nasionalisme gee ons honderd lande, en elkeen van hulle is die beste. Kosmopolitisme bied 'n positiewe, maar patriotisme 'n koor van superlatiewe. Patriotisme begin die lof van die wêreld by die naaste ding, in plaas daarvan om dit op die verste te begin, en dus verseker dit, wat miskien die belangrikste van alle aardse oorwegings is, dat niks op aarde sal weggaan sonder die behoorlike waardering daarvan nie. Waar daar ook al ’n vreemd gevormde berg op een of ander eensame eiland is, waar daar ook al ’n naamlose soort vrug in een of ander duistere woud groei, verseker patriotisme dat dit nie in die duisternis sal ingaan sonder om in ’n lied onthou te word nie.[2]

Johan Vorster se lied deur Bernice en die Bok wil ook seker maak dat Afrikaners en hul identiteit en erfenis en doel nie in die duisternis sal ingaan sonder om in ’n lied te onthou te word nie. Maar dit roep ook tot roepingsgedrewe aksie terwyl dit dag is. Chesterton was van mening dat Engeland in ’n sekere sin hulself nog nie eens ordentlik gekoloniseer het nie. Vandag kan ons ook vra: Woon die Afrikaner nog in, in sy eie erfenis? Het die kosmopolitaanse gees, ook genoem Suid-Afrikanisme, nie al genoeg sy duisende verslaan nie? Vorster se protesterend-positiewe lied gee aanduidings dat die liefde vir die eie identiteit en die mooi in die eie geskiedenis reeds en steeds opgesoek word. Welgedaan! Want om jou naaste te lief te hê soos jouself beteken dat die eie en die naaste nie teenoor mekaar staan nie. Dit kan egter net waar word wanneer die eerste gebod hiermee saam gelees word: Dat ons God sal liefhê in Wie dit alleen waar is en gestalte kry deur sy Seun en sy Heilige Gees.



[1] Chesterton, [1908] 2009. Orthodoxy. Chicago: Moody, p.10.

 

[2] Chesterton, 2004. The Patriotic Idea, in The Chesterton Review, Vol 30,3/4:225-245:225.