2024/01/26

Oor vrees, wapenrusting en loon

In Gen15: 1 lees ons:

“Ná hierdie dinge het die woord van die HERE tot Abram gekom in ʼn gesig en gesê: Vrees nie, Abram, Ek is vir jou ʼn skild en jou loon is baie groot.”

Hierdie beloftes aan die vader van die gelowiges is steeds van krag vir gelowiges wat in die voetspore van Abraham wandel. Dit beteken vandag dat ook jy in die verbond met God, soos vervul in Christus, leef. Kom ons deel God se grootste woorde vir sy Kerk, elke verbondskind en selfs elke verbondsvolk, op in die verskillende dele wat in hierdie vers na ons kom:

  • 1.      Vrees nie.
  • 2.       Ek is vir jou ’n skild
  • 3.       Jou loon is baie groot.

Abraham ontvang hierdie oproep en belofte net nadat hy vier kragtige konings met hulle stadstate oorwin het. Hulle kon dalk herontplooi teen hom. Boonop het hy pas geen loon aanvaar by die koning van Sodom nie, sodat hulle geen aanleiding kon hê om te sê dat hulle Abraham ryk gemaak het nie. In hierdie omstandighede kom die HERE na Abraham. Let op: Hierdie ontmoeting en beloftes is baie groter as Abraham se pas afgelope oorwinning. God se genadige ontmoeting met ons is ook altyd groter as enige sukses wat ons behaal.   

Abraham kon na sy oorwinning so maklik net fokus op sy veldslag en die naam wat hy vir homself gemaak het. Maar hier hoor ons weer waarin sy ware grootheid lê: In die God wat reeds aan hom beloftes gegee het van ’n land, ’n nageslag en ’n naam wat seën aan die nasies sou bring – die God wat dit hier herbevestig.

Die God van die verbond herbevestig dit ook steeds vir elkeen wat in sy beloftes lewe. Jou God,  kind van die Here, roep ook jou steeds op om nie te vrees nie. Waarom? Want (1) Hy is jou skild teen die vurige pyle van die bose. En as die HERE Hom verbind het om jou skild te wees, kan die Bose magte maar kom. Hy belowe ook verder (2) aan elkeen wat in Christus is: Jou loon is groot. Die gevolge hiervan in ons lewe is dat vrees en grypsug en die neiging om ander te elmboog om voor te kom, sy trekkrag verloor. Want jy is in Hom reeds skatryk, jy is in Hom sterk en jou skild teen die Bose is in plek.

Wat wat was Abraham se loon? Dit was baie fisies, maar ook geestelik. Dit was ’n land en ’n nageslag, maar dit  wat sou uitloop op die Messias in wie die HERE al die geslagte van die aarde sou seën met alle geestelike seëninge in die hemele. So kan die getroue Kerk van Christus tot vandag toe ’n seën wees vir die nasies, ook in Suid-Afrika. 

In sy eie tyd word Abraham reeds ’n seën vir die nasies in die kleine toe hy vyf konings red uit die hand van vier groot vyandige konings. Vandag gebruik die HERE steeds sy verbondsvertrouelinge om bose vyande te oorwin en ’n seën te wees vir die mense rondom hulle, ook ongelowiges. Maar in langdurige kennismaking behoort hulle ook agter te kom waarin dit alles gesetel is. By Abraham was dit vinnig te sien deur die altare vir die lewende God wat hy oral opgerig het waar hy geleef het op grond van God se beloftes. Dit staan vir ware aanbidding. Ware aanbidding is die grondslag van ’n geseënde kultuur en ’n geseënde politiek.

Die Kerk van Jesus Christus is vandag die openbare getuienis daarvan. Daarom is dit onmoontlik dat ons seën op die lange duur kan belewe sonder lewenskragtige kerke. Vreesloosheid met God as ons skild, en die bewus wees van die loon in Christus word net versterk in gemeenskap met God - privaat, maar ook in die openbare aanbidding. Laat ons dan ons stiltetye en ons weeklikse verbondsvernuwingsfees, elke Sondag, nie versuim nie.