2024/01/25

Gesagvol om te leer en te bevry

Lees: Mark. 1:21-28

Gedagte vir kinders: Die Here Jesus bevry ons van onreinheid en die bose magte. 

Oorsig: Nadat die Here Jesus sy openbare bediening begin en sy eerste dissipels geroep het, het hulle in Kapernaum gekom in die Noorde van die land, aan die noordweste kant van die see van Galilea. Dit was ’n tipe basis van operasie vanwaar hulle verder gewerk het. Hy het dadelik op die Sabbat in die sinagoge ingegaan en begin leer (v.21). Die mense was verbaas/verslae (ekplesso) oor sy leer, want dit was baie anders as dit waaraan hulle gewoond was. Hy het hulle geleer soos een wat gesag in Homself het en nie soos die skrifgeleerdes van hulle tyd nie (v.22). Die skrifgeleerdes was gewoond om heen weer na gesagvolle bronne te verwys en fyn uitgewerkte argumente daarmee saam te voer. Maar hier was iemand wat met gesag gepraat het asof (omdat) Hy ’n besondere profeet van God is.

Hierdie gesag sou ook op ’n ander manier vinnig duidelik word, want daar was ’n man met ’n onreine gees in die sinagoge wat uitgeskreeu het (v.23). Hoe het dit gelyk en geklink? Ons weet nie, maar dit is duidelik dat hierdie man nie beheer oor homself gehad het nie en onrustig was oor die gesagvolle en heerlike woorde wat uit die mond van die Here Jesus gegaan het. Hy het geskreeu dat die Here Jesus moes ophou met sy lering. Hy het ook gevra wat “’ons” (let wel) met U te doen het” en gevra of Hy gekom het om “’ons” (let wel) te verdelg. Hy het verder uitgeroep dat hy weet wie Jesus Is: die Heilige van God! (v.24). Die Here Jesus het hom egter bestraf (let wel) en met gesag gesê: “Bly stil en gaan en uit hom uit!” (v.25). Dit het glad nie gepas dat die belydenis oor wie Jesus is uit die mond van onreine geeste kom nie. 

Die onreine gees het die man toe stuiptrekkings laat kry en met ’n groot stem geskreeu en uit hom uitgegaan. Almal wat dit gesien het was verstom/verbaas (thambeo) sodat hulle onder mekaar gevra en gesê het: Wat is dit? Watter nuwe leer is dit dat Hy met gesag ook aan die onreine geeste bevel gee en hulle Hom dan ook gehoorsaam is? (v.27). Hulle het met ander woorde raakgesien dat dit wat die Here Jesus geleer het, in lyn is met sy gesag om ook onreine geeste bevel te gee en hulle Hom gehoorsaam is. Die gerug oor Jesus Christus het toe dadelik begin versprei in die hele omtrek van Galilea, daar in die Noorde van Israel.

Besprekingsvraag: Kan onreine geeste vandag ook verskuild in die Kerk aanwesig wees?

Oorsig: Die Here Jesus het gekom om die magte van die Bose en die duisternis te oorwin. Reeds in hierdie eerste wonder waarvan Markus vertel, hoor ons wat dit beteken dat die koninkryk van God naby gekom het. Dit gebeur ook op die Sabbatdag en in die sinagoge. Die Sabbat was teken van God se verbond met en bevryding van sy volk (Ex. 31:16; Dt. 5:15) en die sinagoge was die plek waar dit gedenk en die Skrifte gelees en gebid is. Dit was dus die tyd en plek wat op besondere manier getuig het van God se teenwoordigheid en bevryding. Jesus Christus en sy lering bring egter daar onreinheid en onheiligheid na die oppervlakte. Dit behoort steeds so te wees in die Kerk van Christus waar die Skrifte in Christus gesagvol uitgelê word (vgl. 1 Kor. 14:24-25). Dit maak ons ook bewus waarom gesamentlike, egte verootmoediging en skuldbelydenis, in die erediens so noodsaaklik is.     

       

Die onreinheid wat na vore kom laat ons besef dat dit ook vandag in die Kerk van Christus kan skuil. Daar word soms onreine dinge geduld en so word terrein en vatplek aan die Bose gegee (vgl. Ef. 4:27). Markus maak ’n duidelike onderskeid tussen siekte en besetenheid. Besetenheid kom hier veral op ’n sekere tyd na vore, in die teenwoordigheid van Christus en sy lering. Ons moet ook besef dat besetenheid en die houvas van die Bose sal toeneem na die mate waarin ’n samelewing van die lewende God vervreemd raak. Daar bestaan eenvoudig nie neutrale terrein los die lewende God nie. Laat ons ook die algemene begintekens raaksien wat die pad na die duisternis aandui: Blindheid vir eie sonde en bepaalde ideologieë, met die gevolg van (kollektiewe) illusies; gewetens wat verskroeid raak, onwilligheid om Woord-korreksie te aanvaar, vyandigheid teenoor hulle wat vermaan.

Kyk egter ook na die heerlike gesag en lering van die Christus, die heilige van God, wat die onheiligheid ontbloot, maar ons ook daarvan bevry. Markus vertel van die sy progressiewe oorwinning oor die Bose totdat Hy die magte finaal uitklee aan die kruis (vgl. Kol. 2:14-15). Jesus Christus dra die Bose se vernietiging in ons plek. Reeds by die Doop word ons in Christus ingelyf en gemerk vir God en vir die goeie stryd stryd, soos ons Heiland, teen die Bose. Ja, die HERE self is ons skild teen die Bose (vgl. Gen. 15:1). Ons mag ook in Christus ons skuld bely en beleef dat ons voortdurend van alle ongeregtigheid gereinig word (vgl. 1 Joh. 1:7,9). Dit is die effektiefste manier om vry te bly van die vatplek van die Bose. Sommige tradisies maak ook ruimte vir eksorsisme wanneer dit deur meerdere kerklike gesag bevestig word as nodig en dan onder die toesig van die Kerk se ampte. Ook hier speel egte belydenis en bekering sonder drama steeds die vernaamste rol. Die goeie nuus is dat alle boosheid in beginsel in Jesus Christus opgeruim is en sal word. Laat ons dan die toevlug tot Hom neem en vas staan in die vryheid waarmee ons in Hom vrygemaak is. Laat ons in sy heiligheid en oorwinning wandel. En laat ons as liggaam van Christus onder leiding van die ampte sy gesag en lering en bevryding aan ander bedien.        

Werke geraadpleeg:

John Bergsma, The Word of the Lord. Year B.

Mary Healy, The Gospel of Mark.

Ben Witherington, The Gospel of Mark.  

Michael Card, The Gospel of Passion.