2024/01/19

Die manne van Nineve en ons

Lees: Jona 3:1-10

Gedagte vir kinders: God is genadig teenoor slegte sondaars wat nederig tot Hom nader.

Oorsig: Jona was die eerste keer ongehoorsaam aan God se opdrag om na die heidenstad en omstreke van Nineve toe te gaan (vgl. vgl. Gen. 10:8-12). Hy het weggevlug op ’n skip na Tarsus en op die skip het ’n hewige storm van God hulle amper laat omkom, totdat Jona erken het dat hy van God wegvlug. Uiteindelik het hulle hom oorboord gegooi en die storm het bedaar. Toe het heiden-matrose die Here aanbid. Jona is egter deur ’n groot vis van die HERE ingesluk waar hy ernstig gebid het. Drie dae later het die vis hom op droë land uitgespoeg. Ons gelese hoofstuk begin waar die woord vir die tweede maal tot Jona gekom het (v.1).

Die HERE het Jona weer beveel om na die groot stad(staat) van Nineve toe te gaan en te verkondig wat die HERE hom beveel (v.2). Jona het toe gereedgemaak en op God se bevel gegaan na die ontsaglike groot stad (letterlik groot voor God). Dit het drie dagreise per voet geneem om daardeur te loop (v.3). Jona het een dagreis ver in die stad ingegaan en begin preek en gesê: Nog veertig dae, dan word Nineve verwoes (v.4. Die getal veertig is dikwels in die Woord ’n getal van toetsing en beproewing). Die mense van die wrede stad, Nineve, het verbasend genoeg God se boodskap deur sy profeet geglo en ’n vasdag uitgeroep. Groot en klein het dit ook bewys deur ’n rougewaad aan te trek wat daarop dui dat hulle nie maar net wou aangaan met hul gewone lewe nie (v.5).

Hierdie berig het ook die koning/goewerneur van Nineve bereik. Selfs hy het opgestaan van sy troon af as teken van respek en boonop sy koninklike mantel afgehaal en klere van rou aangetrek en as koning selfs in die as gaan sit as teken van sy bedelaarskap. Hy het ook ’n bevel laat uitroep en gesê: Op las van die koning saam met die groot manne (edeles: “nobles”): Geen mens of dier, beeste of kleinvee mag aan iets proe nie. Dit het beteken dat selfs die diere saam met die mense nie mag eet soos gewoonlik of water drink nie. Mens en dier moes ’n rougewaad om hê as bewys dat hulle alle normale versiering eenkant laat. Hulle moes ook ernstig tot God roep, saam met hulle liggaam wat uitroep vir voeding. Daarmee saam moes elkeen hulle van hul verkeerde weg en onreg bekeer wat deel van hul lewe geword het (v.6-8). Die koning se hoop was dat God hulle dalk sou jammer kry en hulle nie in sy toorn laat vergaan nie. God het ook inderdaad hulle werke van bekering gesien en Hom omgekeer (berou gehad) van dit wat Hy sou doen oor hul sonde en dit nie gedoen nie (v.9-10).

Besprekingsvraag: Wat is die tekens van ware verootmoediging in iemand se lewe?

Oorsig: God se oordeel is ’n werklikheid oor sonde en daarom is verootmoediging en bekering onder mensekinders nie ’n opsie nie. Nineve, later hoofstad van Assirië wat Israel sou wegvoer, was bekend vir hul wreedheid. Hulle was boonop deel van die Assiriese imperiale projek om deur vrees, wreedheid en onreg te onderdruk, te verower en te heers. ’n Honderd jaar later het die Here hulle deur die profeet Nahum finaal daaroor veroordeel (vgl. Nahum). Maar hier het hulle nog geleentheid vir omkeer gehad en hulle het die geleentheid van die proeftyd van 40 dae aangegryp.

Daar kom ’n einde aan die geleentheid vir verootmoediging en gebed en bekering. Die Here Jesus begin sy bediening ook duidelik met die oproep tot bekering. Een of ander vorm van bekering en oproep tot transformasie is in enige stelsel onvermydelik, maar die vraag is volgens watter standaard. Skynbaar weet die Nineviete nog steeds diep in hul wese dat hulle sonde hul aankla, want hulle glo die boodskap van oordeel.

Die wyse van verootmoediging dui ook hier op die egtheid. Dit word openbaar in bepaalde gesindheid, rituele, gebed, en bekering en van verkeerde weë en selfs die diere, hul bron van ekonomie, word betrek. Die gesindheid van die koning en die edeles is dat God miskien sal raaksien. Hulle kan dit nie eis nie, maar hulle het hoop oor die 40 dae wat gegee word. Hulle rituele van vas en rougewaad spreek uiterlik van wat innerlik aan die gang is en die hele stad neem deel, van die koning en gesienes tot die diere wat betrek word. Die Here Jesus verwys ook na hulle gesindheid in sy bediening (vgl. Mt. 12:41). Kollektiewe en uiterlike en egte bewys van wat innerlik aangaan, is iets anders as individuele skynheilige verootmoediging om deur mense gesien te word (vgl. Mat. 6:16-18). Die bewys lê verder in lewens wat werklik verander vanaf die slegte na die regte pad en regmaak waar jy kan (Luk. 19:8-9). Dit hang ook saam met gebed wat bedoel om die stem in die hoogte te laat hoor (vgl. Jes. 58:4). Deur die diere wys hul bekering ook in hul beursies.              

Ons leer ook hier oor die God wat nooit verander nie, maar wat terselfdertyd ook hier beskryf word as iemand wat berou het oor die onheil (v.10; vgl. Joel 2:13). God kan nie verander nie (Num. 23:19; 1 Sam. 15:29), maar juis daarom kan sy oordeel verander wanneer sondaars hulle bekeer. Deur sy genade kan sondaars se status wel verander, wanneer mense Hom aanroep en hulle bekeer en Hy sy geregtigheid aan hulle gee. Selfs al is dit wreedaardige Nineviete vol ongeregtigheid wat rooi soos skarlaken is (vgl. Jes. 1:18). Hy is altyd dieselfde teenoor sonde, maar ook altyd dieselfde teenoor sondaars, hoe besmet ook al, wat ootmoedig tot Hom nader om hul sonde te vergewe en te bedek. Die Nineviete se ootmoed, al was dit net hulle geslag, word soos die slegte koning Agab deur God raakgesien (vgl. 1 Kon. 21:25-29).  Daar is niemand wat so toornig soos God is teenoor sonde nie en daar is niemand wat so genadig soos God is en soos God kan vergewe nie (vgl. Miga 7:18-19). Die kruis van Jesus Christus is die duidelikste openbaring daarvan, ook hoe dit gelyktydig waar kan wees. Maar juis daarom word ons opgeroep om ons toevlug tot Christus te neem. Hy is die rede waarom God terselfdertyd kan straf en vryspreek. Hy is die rede waarom die oordeel nog uitgestel word en die mees geharde sondaar wat na Hom toe kom, hoop mag hê. In Hom mag ons nie net die vloek van God vryspring nie, maar mag ons sy seën ken. Die manne van Nineve sal eendag opstaan om ons te veroordeel as ons Hom wat soveel meer as Jona is, afgewys het (Mt. 12:41). Laat ons dan by die manne van Nineve leer hoe ware verootmoediging lyk en dit in Christus uitleef. 

Werke geraadpleeg:

P. Cary. Jonah. Brazos Theological Commentary.

J. Bergsma, The Word of the Lord. Year B.

Matthew Henry.

D.C. Timmer, Tyndale, Obadiah, Jonah and Micah: An Introduction and Commentary.

J. Byas, Jonah for Normal People.