Wys tans plasings met die etiket Leksionarium B. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Leksionarium B. Wys alle plasings

2024/09/28

Die laaste van almal en almal se dienaar

Lees: Mark. 9:30-37

Gedagte vir kinders: As jy werklik groot wil wees, moet jy bereid wees om almal te dien.

Oorsig: Na die verheerliking van die Here Jesus op die berg en die genesing van ’n doofstomme seun daarna, het hulle verbygetrek deur die noorde van die land wat Galilea genoem word. Die Here Jesus wou nie hê dat iemand moes weet nie (v.1) . Die rede was dat Hy vir die tweede maal (vgl. Mk. 8:31 en Mk. 10:32-34) prontuit vir sy dissipels geleer het hoe alles sou afspeel: Die seun van die mens word oorgelewer in die hande van mense en hulle sal Hom doodmaak. Nadat Hy gedood is Hy op die derde dag opstaan (v.31; vgl. Dan. 7:18,21,25; 12:2). Die dissipels het hierdie woorde wat vir hulle geklink het soos ’n gelykenis of beeldspraak, nie verstaan nie. En hulle was bang om Hom uit te vra (v. 32). Miskien wou hulle nie dom klink nie, of miskien was hulle bang om dit nog meer reguit te hoor.

So het hulle in Kapernaum in ’n huis gekom, waarskynlik die huis van Petrus en Andreas wat Hy in daardie gebied gebruik het (vgl. 1:29; 2:1). Daar het Hy hulle gevra wat hulle met mekaar op die pad geredeneer het (v. 33). Hulle het egter stilgebly omdat hulle op die pad met mekaar gepraat het oor wie die grootste is (v.34). En toe Hy in die huis gaan sit het, wat in daardie tyd die lerende posisie van die Meester was, het Hy vir hulle gesê: As iemand die eerste wil wees, moet hy die laaste van almal en almal se dienaar wees (v.35).

Hy het toe (1) ’n kindjie geneem en (2) hom hul midde laat staan en (3) sy arm om hom geslaan (v.36) En toe het Hy vir hulle gesê: Elkeen wat een van sulke kindertjies (1) in my Naam ontvang, (2) ontvang My. En elkeen wat My ontvang, ontvang nie My nie, maar (3) Hom wat My gestuur het (v.37). So het die Here Jesus selfs kinders as die onbelangrikes graag ontvang en so was Hy bereid om die laaste van almal en almal se dienaar te word toe Hy ons sonde op Hom geneem het aan die kruis. Maar daarom het God hom ook opgewek uit die dood en die Naam gegee wat bo elke naam is. Hy wat so met die dissipels (en ons paat0 het dit eerste gedoen, in ons plek. Daarom kan dit nou vir ons moontlik wees deur die krag van die Heilige Gees om ook so te lewe.  

Besprekingsvraag: Hoe maak ons seker dat ons die kruis saam met die dissipels beter begryp? 

Insig: Die Goddelike logika van laastes wat eerste is, is nie iets wat vanself deel van ons lewe is nie. Ons sien dit van ver af maklik raak in dieselfde soort reaksies van die dissipels wanneer die drie uitdruklike aankondigings van die Here Jesus oor sy sterwe en opstanding voor sy kruisiging gemaak word. Wanneer Hy die eerste aankondiging doen, wil Petrus Hom eerder vermaan (vgl. 8:31-33). Wanneer Hy sy derde aankondiging doen, wil sommige sekerheid hê oor hul posisie op trone langsaan Hom (vgl. 10:32-37). En hier na sy tweede aankondiging, verneem ons dat hulle eerder op die pad praat oor wie die grootste is (vgl. v. 31-34). Hulle verwag ’n troon, ’n kroon, sonder die kruis. Ons moet nie maar dink dat dit bloot die dissipels voor die kruis is nie, maar eerder ons elkeen se geneigdheid. So maklik gaan dit steeds om kroon sonder die kruis, en om eerste te wees en die grootste te wees. En so verval ons maklik in jaloerse kompetisie en hoogmoed en magstryde. Dit is waarom nasies teen nasies uiteindelik oorlog voer, en dit is ook maklik die rede vir interne politiek in enige besigheid of maatskappy. Ja, selfs wanneer ons hoor van Jesus Christus en sy kruis, kan ons steeds soos die dissipels beheer word deur vleeslike kategorieë. Dit skreeu veral wanneer ons soos Diotrefes eerste probeer wees in die Kerk (3 Joh. 1:9). Daarom moet ons luister as die Here Jesus hier reeds Koninklik vanuit sittende posisie ook ons met gesag leer. 

2024/09/19

Here, kom my ongeloof te hulp!

Lees: Mark. 9:14-29

Gedagte vir kinders: Die Here Jesus kom mense te hulp wat Hom in hulle swakheid aanroep. 

Oorsig: Nadat die Here Jesus verheerlik is op die berg en drie van sy dissipels dit gesien het, het Hy saam met hulle teruggekeer na sy dissipels. Daar het ’n groot klomp mense om die dissipels vergader en daar was ook skrifgeleerdes wat met die dissipels argumenteer het. Die skare was dadelik, toe hulle Hom sien, verbaas en het na Hom gehardloop en gegroet (v.14-15). Hy het die skrifgeleerdes toe gevra waarom hulle met die dissipels argumenteer (redetwis). Een uit die skare het toe geantwoord: Meester, ek het my seun met ’n stomme gees na U gebring. En waar die gees die seun ook aangryp, (1) skeur hy hom en (2) hy kry skuim in die mond en (3) hy kners met sy tande en (4) word styf. En ek het u dissipels gevra om hom uit te dryf, en hulle kon nie.” (v.16-18). Normaalweg kon hulle, maar nie hier nie.    

Die Here Jesus het hom toe geantwoord: “O, ongelowige geslag, hoe lank sal ek by julle wees, hoe lank sal ek julle verdra? Bring hom na my toe.”(v.19). Hulle het die seun toe na Jesus gebring en toe die seun Hom sien, (1) laat die gees hom stuiptrekkings kry, en (2) hy val op die grond neer en (3) rol rond met skuim in die mond (v.20). Die Here Jesus vra toe vir die pa hoe lank dit al is wat dit die seun oorgekom het. Hy het toe geantwoord dat dit van sy kinderdae af was. Hy het uitgebrei en vertel dat die gees die seun selfs dikwels in die vuur en die water gegooi het om hom dood te maak. En toe voeg die man by: “Maar as U iets kan doen, ontferm U oor ons en help ons.” (v.21-22). Die Here Jesus het toe gesê: “’Wat dit betref – as jy kan glo, alle dinge is moontlik vir die een wat glo.” Die vader van die kind het toe dadelik met trane uitgeroep: “Ek glo, Here, kom my ongeloof te hulp!” (v.23-24).

Toe die Here Jesus sien dat ’n skare saamstroom het Hy die onreine gees bestraf en gesê: “Jou stom en dowe gees, Ek gebied jou, gaan uit hom uit en kom nooit weer in hom nie.” Nadat die gees (1) deur die seun geskreeu het, het hy hom (2) baie stuiptrekkings laat kry en toe (3) het hy uitgegaan. Die seun het gelyk (4) of hy dood is en die mense het ook gesê dat hy dood is. Maar die Here Jesus het hom (1) by die hand gegryp en (2) hom opgerig. En toe (3) het die seun opgestaan. (v.25-27). Toe die Here in die huis kom, vra sy dissipels Hom afsonderlik waarom hulle die gees nie kon uitdrywe nie. Die Here Jesus het toe gesê: Hierdie geslag (genos: KJV:soort) kan deur niks anders uitgaan as deur gebed (en vas – 53 vertaling) nie (v.28-29).  

Besprekingsvraag: Watter basiese patroon vir bediening kan ons uit hierdie gedeelte aflei? 

Insig: Ons vind die samehang van heerlike bergtop-ervarings met groot uitdagings in die dale, meermale in die Woord van God. Dink aan Moses wat van die berg afkom en die goue kalf onder die volk vind. Dink aan Die Here Jesus wat na sy doop en die stem uit die hemel, net daarna in die woestyn die satan moet trotseer. Hier is Hy pas verheerlik op die berg en die stem uit die hemel bevestig weer eens dat Hy groter is as dienaars uit die Ou en Nuwe Testament. Maar net hierna is daar die laaste genoemde groot demoniese uitdaging in Markus voor sy kruisiging. Laat ons daarom bedag wees op uitdagings na besondere hoogtepunte, maar laat ons ook Hom raaksien wat nou reeds verheerlik is in ons skynbaar hopelose situasies. Ons lees hier van uiterste gebrokenheid - ’n seun wat van kinds af verskeurd en doodsoekend is, en ’n kragtelose Kerk met twis met ander leiers in hul kragteloosheid. Kortom, hier is sprake van diegene wat die verheerlikte Christus moet verdra: ’n ongelowige geslag. Die goeie nuus is dat Hy ons wel verdra, en dat Hy selfs sy lewe oorgegee het sodat ons nie net verdra kan word nie, maar kinders van God wat groei in hulle geloof. Daarom word ons ook opgeroep om nie maar net te bly waar ons is nie, maar om hier ag te gee op sy antwoord en sy openbaring sodat ons geloof versterk kan word.

2024/09/16

Reinheid en onreinheid begin in jou hart

Lees: Mark. 7:14-23

Gedagte vir kinders: Mooi en lelike dinge begin in jou hart. 

Oorsig: Tydens die Here Jesus se bediening het sy woorde en dade bekend geword aan die godsdienstige leiers in die hoofstad van Jerusalem. Hy het egter dikwels daar in Galilea in die noorde waar Hy grootgeword het, bedien, en daarom kon hulle nie in alles vanuit Jerusalem ’n oog oor Hom hou nie. Op ’n stadium het hulle lede van die strengste godsdienstige party, die Fariseërs, asook sommige Skrifgeleerdes wat die wet ywerig saam met hulle eie mondelinge tradisie daaroor gehou het, Hom kom besoek.

Hulle sien toe dat die dissipels nie water op hulle hande gegiet het voor ete nie en daarom volgens hul rituele onrein was. Hulle het dit afgekeur (v.2). In die Ou Testament sien ons dat net die priesters onder sommige omstandighede sulke voorskrifte gehad het (Ex. 30:17-21; Num. 18:11-13). Maar in daardie tyd het die Fariseërs en die al die Jode nie geëet as hulle nie deeglik hande gewas het nie, omdat hulle vasgehou het aan die gewoontes (oorlewering/tradisie) van die ou mense (v.3). So wou hulle kontak met die heidenwêreld beperk. Nadat die Here Jesus hulle persoonlik geantwoord het (v. 4-13), het Hy die hele skare na Hom geroep om sy antwoord vir almal te verduidelik (v.14): Geen kos wat van buite af in mense ingaan, maak onrein nie, maar eerder die dinge wat van iemand se hart uitgaan. Elkeen wat ore het, moes hoor (v. 15-16).

Toe Hy weg van die skare in ’n huis gekom het, het sy dissipels oor sy gelykenis gevra (v.17). Hy het toe gevra of hulle ook so sonder verstand was. Hulle moes begryp dat alles wat van buite af in die mens ingaan, nie ingaan in die hart nie, maar in die maag en heimlik uitgaan en al die voedsel rein maak (v. 18-19). Hy het toe verduidelik dat net dit wat uit die mens se hart uitgaan, ’n mens onrein maak (v.20). Hy het toe op 12 kenmerke gewys wat van binne kom, uit die hart, en mense onrein maak: Slegte gedagtes, egbreuke (owerspelle), hoererye (porneia), moorde, diefstalle, hebsug (slegte begeertes/bedrog), boosheid, losbandigheid, afguns (bose oog), lastering, hoogmoed, dwaasheid (ligsinnigheid). Daarmee het die Here Jesus nie net die oorlewering van die ou mense oor allerhande wassinge vir gewone mense wat nie in die Bybel was, verwerp nie, maar het Hy ook duidelik gemaak dat ook sekere seremoniële wette uit die Ou Testament wat na Hom heengewys het, na sy kruis nie meer sou geld nie.

Besprekingsvraag: Waarom was daar eksterne rituele en seremonies in die Ou Verbond? 

Insig: Die Here Jesus maak dit hier duidelik dat Hy gesag het om ’n nuwe bedeling aan te kondig. Dit gaan nie daaroor dat Hy maar bloot, soos mense ook vandag, die Ou Testament bevraagteken en daarmee sanksie gee aan elke rebel wat elke heersende orde uitdaag nie. Nee, Christus eer en bevestig juis die diepste bedoeling van die wet, maar maak ook duidelik dat die koninkryk van God in Hom werklik naby gekom het. Ja, ’n nuwe era sou deur Hom aanbreek. Soos wat Noag en sy nageslag na die sondvloed toegelaat is om, anders as Adam en Eva (vgl. Gen. 1:29-30), die vleis van diere te eet (vgl. Gen. 9:3), so sou mense, nadat Jesus Christus gekom het, toegelaat word om voortaan enigiets met danksegging te kon eet (1 Tim. 4:1-4). Daarom moet ons sy saamroep van die skare verstaan as ’n verklaring wat tot vandag toe in ons ore weerklink: Hy openbaar die diepste bedoeling van die wet, wys die vervulling in Hom aan en toon ook aan waar onreinheid eintlik setel.

2024/08/24

Skoon hande, vuil harte

Lees: Mark. 7:1-14

Gedagte vir kinders: Die Here Jesus wil ons harte in die eerste plek hê. 

Oorsig: Tydens die Here Jesus se bediening het sy woorde en dade bekend geword aan die godsdienstige leiers in die hoofstad van Jerusalem. Hy het egter dikwels daar in Galilea in die noorde waar Hy grootgeword het, bedien en daarom kon hulle nie in alles vanuit Jerusalem ’n oog oor Hom hou nie. Op ’n stadium het hulle lede van die strengste godsdienstige party, die Fariseërs, asook sommige Skrifgeleerdes wat die wet ywerig saam met hoe hulle eie mondelinge tradisie daaroor, Hom kom besoek.

Hulle sien toe dat die dissipels nie water op hulle hande gegiet het voor ete nie en daarom volgens hul rituele onrein was. Hulle het dit afgekeur (v.2). In die Ou Testament sien ons egter dat net die priesters onder sommige omstandighede sulke voorskrifte gehad het (Ex. 30:17-21; Num. 18:11-13). Maar in daardie tyd het die Fariseërs en die al die Jode nie geëet as hulle nie deeglik hande gewas het nie, omdat hulle vasgehou het aan die gewoontes (oorlewering/tradisie) van die ou mense (v.3). Wanneer hulle van die mark af kom waar hulle sake gedoen het met onreine heidene, eet hulle nie as hulle nie eers gewas het nie. So het hulle ook baie ander gewoontes gehad soos die wassery van bekers en kanne en kopergoed en bedde (v.4).Die Fariseërs en Skrifgeleerdes het die Here toe gevra waarom sy dissipels nie maak soos die tradisie was nie, maar met ongewaste hande geëet het (v.5).

Die Here Jesus het toe uit Jes. 29:13 aangehaal en gesê dat dit profeteer oor hulle skynheiligheid. Jesaja het gesê dat die volk met hulle mond en lippe die Here eer, maar dat hulle hart ver van Hom is (v. 6). Dit is egter tevergeefs om leringe te leer wat net gebooie van mense is (v. 7; vgl. HK antw. 91). In hulle geval het hulle die gebod van God nagelaat om aan tradisies vas te hou. Hier was dit tradisies oor wassery van kanne en bekers en ander dergelike dinge van dieselfde soort (v.8). Hy het dit toe herhaal dat hulle dit goed verstaan om die gebod van God opsy te sit en so eerder hul tradisies te onderhou (v.9). Hy gee toe ’n voorbeeld. Moses leer in die tien gebooie om jou vader en moeder te eer (Ex. 20:12) en later selfs dat hy wat vader of moeder vloek sekerlik moet sterwe (vgl. Ex. 21:15,17). Hulle het egter gesê dat as jy sekere geld bedoel vir die ouers, as offer vir die tempel belowe, jy nie iets vir vader of moeder hoef te doen nie (v.10-12). Dit kom dan daarop neer dat jy God se wet eintlik kragteloos maak deur jou byvoegings. Hulle het ook baie ander dinge op dieselfde manier gedoen. Daarna het Hy ook die skare saamgeroep om dit vir almal verder te verduidelik (v.14).  

Besprekingsvraag: Presies wanneer en hoe raak ons moderne Fariseërs? 

Insig: Ons moet hier probeer om eers in die skoene van die Fariseërs te kom sodat die krag van Christus se vermaning ons dieper kan tref. Die Fariseërs was deel van ’n vernwuwingsbegewing onder die Jode wat seker wou maak dat God se volk weer sal uitstaan op aarde. Hulle het hulself beskou as dissipels van Moses wat sedert Josua die opdragte van die wet hou, ook soos dit mondeling voortgesit is (in die sg. halakah). Die doel was om mense te help om God se wet te onderhou. Wanneer dit weer suiwer gevolg sou word, sou die wêreld dan sien hoe God vir Israel seën. Hul basiese uitgangspunte was: (1) wees prontuit oor wat God se wil is, (2) maak baie dissipels, en (3) bou ’n heining van beskerming rondom die wet. In kontak met ’n heidenwêreld, het hulle toe  bepaalde gebruike aangeneem wat aanvanklik net vir priesters by die offers en die eet van offers nodig was (vgl. Ex. 30:17-21; Num. 18:11-13). Hulle het dus ’n soort priesterskap van alle gelowiges, sonder Christus, reeds in die ou verbond begin voorstaan. Die feit is egter dat God se Woord dit nie so beveel het nie. Boonop mis hulle die feit dat seremoniële seremonies hul vervulling vind in die koms van Christus. Daarom moet ons die vermaning hoor: (1) Ons kan deur byvoegings aan die Woord van God die gang en trajekte van die Bybel in Christus mis. (2) Ons kan deur die fokus op uiterlike kenmerke die punt mis oor wie waarlik rein is voor God.

2024/08/17

Na wie toe sal ons gaan?

Lees: Joh. 6:60-71

Gedagte vir kinders: Die Here Jesus het die woorde van die ewige lewe. 

Oorsig: Nadat die Here Jesus vir die mense verduidelik het dat Hy die Brood van die lewe is en dat sy vlees geëet en sy bloed gedrink moet word, het baie van sy volgelinge (dissipels) gesê: “Hierdie woord is hard, wie kan daarna luister?” (v.60). Vroeër wou hulle Hom met geweld Koning maak, maar sy woorde het hulle nou laat wegdraai. Tog het Hy geweet dat hulle hieroor murmureer (let wel) en hulle net gevra oor wat hulle dan sal doen as hulle die Seun van die mens sien opvaar waar Hy tevore was (v.61-62). Hy het ook verder verduidelik dat dit die Gees is wat lewend maak en dat die vlees van geen nut is hiervoor nie. Die woorde wat Hy egter tot hulle gespreek het (en tot ons), is gees en is lewe (v.63).

Hy het hulle ook daarop gewys dat daar sommige is wat nie glo nie. Hy het ook van die begin af geweet wie hulle was wat nie glo nie en wie hy was wat Hom sou verraai (v.64). Hy het toe vir hulle verduidelik dat dit om hierdie rede was dat Hy vir hulle gesê het dat niemand na Hom toe kan kom as dit hom nie deur sy Vader gegee is nie (v.65). Daarna het baie van sy dissipels teruggegaan en nie meer saam met Hom gewandel nie (v.66). Dit is toe dat die Here vir die twaalf apostels wat Hy aangestel het, gevra het of hulle nie ook wil weggaan nie (v.67).

Soos elders (vgl. Mat. 16:15-16) het Petrus ook hier namens die groep geantwoord: “Here, na wie toe sal ons gaan? U het die woorde van die ewige lewe. En ons het geglo en erken dat U die Christus is, die Seun van die lewende God.” (v.68-69). Die Here Jesus se antwoord hier was nie om Petrus op die skouer te klop nie. Hy het eerder daarop gewys dat al het Hy twaalf uitverkies om sy apostels te wees, dat een nogtans ’n duiwel was, met ander woorde, ’n instrument in die hand van die duiwel was. Daarmee het Hy Judas Iskariot bedoel, die seun van Simon. Hy sou die Here Jesus verraai en was een van die twaalf (v. 71).  

Besprekingsvraag: Watter alternatiewe soek mense op wat van Jesus Christus wegdraai? 

Insig: Jesus Christus probeer duidelik nie om sy woorde ter wille van mense aan te pas nie. As dit vir sommige tot aanstoot is en hulle Hom dan wil verlaat, moet dit maar gebeur. Dit is selfs deel van ’n bepaalde reiniging wat moet plaasvind. Hier sien ons ’n suiwering vanaf die skare, na dissipels, na die apostels self, en uiteindelik selfs onder die apostels. Natuurlik was die Here Jesus se woorde oor sy vlees en bloed op daardie tydstip moeilik verstaanbaar vir die oorspronklike hoorders. Maar diegene wat bereid was om nederig by Hom te leer (vgl. Mat    11:29), sou mettertyd beter begryp en verstaan.

2024/08/08

Om Jesus Christus te eet en te drink

Lees: Joh. 6:36-59

Gedagte vir kinders: Die Here Jesus roep ons op om in Hom te glo en by Hom te woon.  

Oorsig: Die Here Jesus het sopas in sy gesprek met die skare die groot uitspraak gemaak dat Hy die brood van die lewe is. Wie na Hom toe kom en in Hom glo, sal nooit honger of dors kry nie. Nou gaan Hy voort om dit te verduidelik. Hy wys hulle daarop dat iemand Hom miskien wel kan sien, mar Hom tog nie glo nie (v.36). Tog sal die Vader diegene aan Hom gee wat wel na Hom sal kom en Hy sal sulke mense wat kom, nooit uitwerp nie (v.37). Die Here Jesus verduidelik dan dat Hy uit die hemel neergedaal het om God se wil te doen wat Hom gestuur het. En God se wil is dat Jesus niemand sal verloor wat aan Hom gegee is nie en dat Hy hulle sal opwek in die laaste dag (v.38-39). Die Here Jesus verduidelik toe verder dat dit die Vader se wil is dat elkeen wat in die Seun glo, die ewige lewe mag hê. So iemand sal eendag in die laaste dag opgewek word (v.40).

Die Jode het toe hieroor gemurmureer omdat Hy Homself die brood genoem het wat uit die hemel neergedaal het. Hulle het mos geweet Josef is sy pa (v. 41-42). Die Here Jesus het egter geantwoord dat niemand na Hom sal kom as die Vader nie iemand trek nie. Sulke mense sal Hy wel opwek in die laaste dag. Hy haal toe uit Jes. 54:13 aan om te wys dat sulke mense deur God self geleer sal wees. Elkeen wat dit by die Vader geleer het, kom na Hom toe, maar net Jesus het die Vader self gesien (v.42-46). Toe verklaar Hy weer plegtig dat elkeen wat in Hom glo, reeds die ewige het en dat Hy die brood van die lewe is (v.47-48).

Hy het toe na hulle vaders, die Israeliete in die woestyn, gewys wat die manna geëet en tog gesterwe het. By Hom is egter die brood waardeur iemand nie sterwe nie (v.49-50).  Hy is die lewende brood wat uit die hemel neergedaal het waardeur iemand lewe tot in ewigheid. Die brood wat Hy gee is sy liggaam (vlees) wat Hy vir die lewe van die wêreld sou gee. Die Jode het toe met mekaar hieroor gestry en nie verstaan nie (v.51-52). Die Here Jesus het toe nog duideliker vir hulle gesê dat as hulle nie die liggaam van die Seun van die mens eet en sy bloed drink nie, hulle geen lewe in hulself het nie. Net sulke mense het die ewige lewe en Hy sal sulkes opwek in die laaste dag. Want net sy vlees is waarlik spys en net sy bloed waarlik drank (v.53-55). Iemand wat dit doen, bly in Hom en lewe in Hom soos wat Hy deur die Vader lewe (v.56-57). Hy is die brood wat anders as die manna  van destyds is, boord waardeur iemand tot in ewigheid lewe. Dit alles het Hy in die sinagoge in Kapernaum geleer (v.58-59) .   

Besprekingsvraag: Van Ou Testament gedeeltes is die brood van die lewe die vervulling?  

Insig: Wanneer die Here Jesus ons leer dat Hy die Brood van die lewe is, moet ons dit teen die agtergrond van die Ou Testament verstaan. Die boom van die lewe in die paradys was bedoel om tot die ewige lewe te voed. Hier openbaar Christus nou dat Hy self die brood van die lewe is. Daarmee sê Hy terselfdertyd ook aan die Israeliete wat reken dat Hy eers moet bewys dat Hy groter as Moses is, dat Hy soveel meer Moses en as manna doen. Die manna het na een dag sleg geword (Ex. 16:19-20), maar Jesus Christus gee lewe tot in ewigheid. Wie deur Hom gevoed word, sal ook opgewek word op die laaste dag. Uiteindelik bly die dood ’n verskrikking vir elke sterfling. Maar hier openbaar ons Here hoe die dood in en deur Hom getroef word. Hy is die voedsel en drank van die ewige lewe (nagmaalsformulier). Hy bied soveel meer as hemelse manna van die Ou Testament.

2024/08/03

Jou diepste honger, jou grootste dors

Lees: Joh. 6:22-35

Gedagte vir kinders: Die Here Jesus kan ons diepste honger vir ewige versadig. 

Oorsig: In Johannes 6 hoor ons van Johannes se weergawe van die vermeerdering van die vyf e brode en twee vissies. Johannes noem die sewe wonders van die Here Jesus in sy evangeliebeskrywing baie spesifiek “tekens”. Almal moet verstaan dat sy wonderwerke tekens is van iets groter en heerliker: Die Koninkryk van God wat deur Jesus Christus deurbreek in hierdie wêreld. Daarom lees ons net na die vermeerdering van die brode, van die storm waar die Here Jesus op die see loop en net daarna van sy gesprek met die skare waarin Hy die teken van die broodvermeerdering se dieper betekenis vir hulle geleidelik uitlê.

Die skare kry Jesus aan die anderkant van die meer nadat hulle oorvaar met skuite vanaf die plek van broodvermeerdering, in die omgewing van Kapernaum. En toe wil hulle weet hoe Hy daar gekom het (v.22-25). Die Here antwoord hulle vrae egter baie ondersoekend. Hy wys hulle daarop dat hulle Hom eintlik net soek omdat hulle mae vol geword het. Hy roep hulle toe op om eerder te fokus op die voedsel (spys) wat bly tot in die ewige lewe. Dit is wat die Seun van God aan hulle sal gee, want Hy is deur die Vader bevestig (verseël) as die Een wat dit sal doen (v.26-27). Hulle vra toe wat hulle moet doen om God se werk deur te voer (volbring) en die Here Jesus het geantwoord dit daarin bestaan dat hulle sal fokus op wat God doen en dat hulle glo in die Een wat God gestuur het (v.28-29).

Hulle vra Hom toe ’n teken sodat hulle in Hom kon glo. Hulle het verwys na Moses se teken van manna in die woestyn (v.30-31). Manna uit die hemel was tog ’n groter werk as brood op aarde wat vermeerder. Die Here antwoord toe dat hulle moet besef dat dit nie Moses was die brood uit die hemel gegee het nie, maar sy Vader en dat Hy die ware brood gee. En die brood van God is hy wat uit die hemel neerdaal en aan die wêreld die lewe gee (v.32-33). Hulle vra toe om altyd aan hulle hierdie brood te gee (v.34). Dit is toe dat die Here antwoord met een van sy sewe “Ek is”-uitsprake in Johannes: “Ek is die brood van die lewe; wie na My toe kom, sal nooit honger kry nie; en wie in My glo, sal nooit dors kry nie” (v.35). Die volk in die woestyn het aanvanklik nie die manna herken toe dit aan hulle gegee is nie en hierdie mense herken nie die Here Jesus nie. Maar Hy verduidelik dat hulle Hom moet leer erken as die ware brood uit die hemel. Die manna en die broodvermeerdering het eintlik na Hom heengewys. Hyself, die brood van die lewe, die Here Jesus, kan ons geestelike honger en dors vir ewig versadig.   

Besprekingsvraag: Hoe leer ken ons die Here Jesus as die brood van die lewe?   

Insig: Hierdie skare doen iets voortreflik. Hulle soek na die Here Jesus. En hulle kry hom uiteindelik. En tog, in die vind van Christus, konfronteer Hy hulle oor hulle eintlike motiewe. Dit gaan meer vir hulle oor hulle versadiging deur die fisiese brood (v.26). Hulle wou hom aanvanklik alreeds by die vermeerdering van die brood met geweld Koning maak (v.15), maar waarom? Om ’n aardse koning te hê wat hulle kan versorg en bevry van Rome? Beide ’n teologie van patriotisme sowel as ’n teologie van bevryding kan verkeerde motiewe hê. Waarom is Christus nou eintlik vir jou belangrik? Wil jy Hom dalk ook eintlik net inspan vir een van jou begeertes of agendas?

2024/07/26

God se Raadsbesluite en ons vrae

Lees: Job 38:1-11

Gedagte vir kinders: Die Here leer ons deur sy wonderlike skepping om Hom te vertrou.

Oorsig: Die boek Job bestaan uit ’n inleiding en slot waar daar oor die lewe van Job vertel word. En dan vind ons drie siklusse van gesprek/dialoog oor Job se lyding. Dit bestaan uit argumente tussen Job en sy drie vriende wat soms eerder soos sy vyande klink (Elifas, Bildad en Sofar). Dan vind ons ’n laaste groot betoog deur Job en ná hom ’n jonger vriend genaamd Elifas. En dit bring ons dan by God se antwoord uit in ’n storm waarin Hy dan vir Job ondervra en leer en by Job wat daarop antwoord. In Job 38 vind ons die gedeelte waar God uiteindelik vir Job begin antwoord. Vanaf hfst. 38:1 tot 40:2 vind ons besondere sketse van sowat 20 geskape dinge wat iets van die reikwydte en kompleksiteit, misterie en skoonheid van God se skepping aantoon. In vers 1 tot 11 word vanaf vers 4 spesifiek gefokus op die aarde (v.4-7) en die see (v.8-11).

Ons lees dat God Job uit ’n storm geantwoord het (v.1). Hy het daarop gewys dat Job God se raadsbesluite tot duister maak deur sy woorde sonder kennis (v.2). En toe het die HERE Job opgeroep om sy heupe te gord soos ’n man wat gereed is vir konfrontasie, maar ook volwasse gsprek. Die HERE sou vir Job begin ondervra en Job moes die HERE dan onderrig (v.3). Die HERE het begin met die aarde en Job gevra waar hy was toe God die aarde gegrond het. Hy moes laat weet of hy daaroor insig het. Wie het byvoorbeeld die afmetings daarvan bepaal of die meetsnoer/maatband gespan. Job weet dit mos (v.5). En dan word die beeld van fondament-klippe gebruik waarop geboue ingesink en gebou word. Waar is die aarde s’n? En as ons die beeld van die hoeksteen moet gebruik waarop geboue opgerig is, wie het die hoeksteen van die aarde gelê? (v.6). Ja, dit het gebeur toe die môresterre saam gejubel het, wat heenwys na die seuns van God, die engele, wat gejuig het oor die aarde as wonderbare skeppingswerk (v.7).

Hierna word daar oorgegaan van die aarde na die see. Wie het die see met deure afgesluit toe dit uitgebreek het, toe die see soos ’n kind uit die moederskoot voortgekom het? (v.8). Ja, toe het die Here die wolk tot ’n bo-kleed/doek van die see gemaak en met donkerheid toegedraai soos ’n baba (v.9; vgl. 2020). Hy beskryf ook digterlik hoe Hy die grens vir die see uitgebreek het en grendel en deure gemaak het waardeur die see nie kan kom nie (v.10). Hy het so eintlik vir die see gesê: Tot op hierdie grens mag jy kom  en nie verder gaan nie; en hier word ’n grens gestel vir jou trotse golwe (v.11).       

Besprekingsvraag: Op watter vlak moet iemand wees om God se besluite te bevraagteken?  

Insig: Job het God se Raadsbesluit tot duisternis gemaak omdat hy nie die groot Raadsman se leiding in sy donker gehad het nie. Tot vandag toe is die sogenaamde teodisee-vraagstuk - God se geregtigheid in hierdie wêreld van lyding – ’n vraagstuk wat baie maklik meer duisternis as lig tog gevolg het as God nie ons Raadsman is nie. 

2024/06/13

So klein en tog so groot

Lees: Mk. 4:26-34

Gedagte vir kinders: Die Woord van die Here is soos saad wat in die grond geplant word.

Oorsig: Die Here Jesus se gelykenisse spreek tot ons op ’n baie praktiese vlak en hier openbaar Hy aan ons hoe saad heenwys na sy Koninkryk. In sy bediening het Hy by geleentheid aan die mense verduidelik dat die Koninkryk van God vergelyk kan word met saad wat ’n mens in die grond gooi (v.26). En dan, na die saaiwerk, gaan slaap iemand dan en wat gebeur? Die saad spruit uit en word groot, stukkie vir stukkie en sonder dat ons verstaan hoe dit gebeur. Daar is iets so vol lewe en krag in die saad self dat dit vanself vrug voortbring. Eers is daar net die halm, maar later die aar, en dan uiteindelik die volle koring in die aar. En dan, wanneer die vrug dit toelaat, is dit tyd om die sekel in te steek en te oes, omdat die oes daar is (v.27-29).

Die Here Jesus het dit ook verder aangevul met ’n bykomende beeld. Hy het weer gevra waarmee die koninkryk van God vergelyk kan word en watter soort gelykenis daarmee kan help (v.30). Toe het hy die beeld van ’n mosterdsaad gebruik wat een van die kleinste bekende sade in daardie tyd was. En tog, wanneer dit gesaai is, kom dit op en het die groter geword as die groentesoorte. Sommige verklaarders verduidelik dat dit ’n manier gehad het om enige stuk grond in te neem. Die Here Jesus brei dan die beeld uit en stel dit voor asof dit groot takke maak vir die voëls (v.31-32). Dit herinner ons aan die beeld van Es. 17:23; 31:6 en Dan. 4:9. Daar is Israel beskryf is as die skynbare klein volkie, maar wat so uitgroei dat die voëls (nasies) by hulle tuiskom, eerder as by die Empaaier. Nou stel die Here die mosterd-struik so voor, dat dit takke uitstoot sodat die voëls van die hemel (nasies) onder sy skaduwee nes kan maak. So sou die koninkryk van God uiteindelik die vervulling wees van dit waarna Israel alreeds heengewys het.

En so het die Here Jesus ook deur ander gelykenisse die Woord tot hulle gespreek volgens wat hulle kon verstaan (v.33). Hy het nie sonder gelykenisse met hulle gespreek nie. Die rede is dat die tyd vir ander maniere voor sy kruisiging en opstanding nog nie gereed was nie. Tog het Hy afsonderlik vir sy dissipels dit alles uitgelê (v.34). En vandag is ons, die wat ore het om te hoor, in die bevoorregte posisie om om te hoor wat Hy vir die dissipels verduidelik, sowel as om in die res van die Bybel te hoor wat hy verder openbaar het aan sy apostels. En tog is die gelykenisse so ryk dat ons nooit daarmee klaarkry nie. Dit bevat beelde wat ons op ons moet laat inwerk om ’n verbeelding te ontwikkel wat gerig is op die Koninkryk van God.   

Besprekingsvraag: Hoe gee hierdie gedeelte hoop in situasies wat verlore lyk?

Insig: Ons word hier opgeroep om diep na te dink oor die wonderbare en misterieuse krag van saad en daarmee van die Woord en die koninkryk van God. Die krag van die koninkryk is bedoel om ons lewensvisie om te dop. Wat is regtig belangrik en wat het regtig mag? As ons besef wie Jesus Christus is, en hoe kragtig die skynbare klein begin is wat in Hom op die wêreld losgebreek het en steeds voortgaan, slaan dit ons asem weg. Ja, die koringkorrel moes eers in die grond val en sterf (Joh. 12:24), maar die oes was en is ontsaglik groot. Dit oortref uiteindelik selfs Empaaiers waarby mense van die aarde dikwels rus en vrede soek in ruil vir magserkenning. In en deur die Kerk van Jesus Christus word die koninkryk van God in tyd en ruimte wêreldwyd sigbaar. Selfs diegene wat daarteen wil optree, kan nie help om dit na te boots deur skole en instellings van sorg en liefdadigheid nie. Ons word daarom geroep om visie te behou vir Kerk en Koninkryk in tye van skynbare swakheid.

2024/06/06

De profundis: Uit die dieptes

Lees: Psalm 130

Gedagte vir kinders: Roep die HERE aan in die donkerste dieptes en wag op sy antwoorde.

Oorsig: Psalm 130 is deel van die bedevaartsliedere. Dit is moontlik gesing wanneer die Israeliete opgetrek het vir hulle jaarlikse feeste in Jerusalem. Ons sing dit steeds op pad na die nuwe Jerusalem. Hierdie Psalm is deel van die sewe Boetepsalms (Ps. 6, 32,38, 51, 102, 130, 143) en is al baie gebruik om sondaars, privaat en gesamentlik, te help met woorde as hulle nederig tot God nader met hulle sonde (vgl. 1 Kon. 8:3-40). Ons hoor hier van aanroeping (v.1-2), skuldbelydenis en toevlug, (v.3-4), stille vertroue (v.5-6), en gesamentlike vetroue en lof (v.7-8).

Hierdie Psalmis is in die dieptes van chaos en dit voel of hy verdrink (vgl. Ps. 69:2,14; Jes. 51:10; Es. 27:34). Hy is in die dieptes, maar laat ons hoor wat hy haar doen waar dit voel of alles vergaan: Hy roep die HERE persoonlik aan (v.1; drievoudig tot by v.3).

Die Psalmis neem sy gebed verder en pleit dat die Here sy stem sal hoor en dat sy ore sal luister na sy smekinge (v.2). Hy is in sy lewenskrisis ook bewus van sy sonde wat in die pad staan dat die Here hom sal hoor. Dit kon dalk selfs die vernaamste oorsaak van sy krisis gewees het. Hy erken sy sonde en pleit biddend (As U, HERE ... ) dat niemand sal bestaan as die HERE werklik die sonde (ongeregtighede) in gedagtenis hou nie (v.3).  En daarom wys Hy ook op dit wat hom hoop gee. Hy stel dit eerstens teenoor die Here self dat daar by Hom vergewing is sodat Hy gevrees (aanbid) sal word (v.4). Let op: God word nie gevrees (vereer) en daarom vergewe Hy nie, maar Hy vergewe en daarom word Hy gevrees (vereer). Dit beteken dat mens in heilige eerbied en verwondering met Hom lewe wat geduldig met ons is en ons vergewe.           

Hierdie Psalmis wat die HERE drie maal persoonlik aangeroep het en dit telkens uitgebrei het, sê  nou ook drie maal dat Hy op die Here wag. Ook hier sê hy dit met sinne wat telkens uitbrei. Eers sê hy net dat hy op die Here wag. Dan brei hy daarop uit dat hy met sy diepste wese, sy siel, op die Here wag en op sy beloftes (woord) hoop (v.5). En hy brei dan verder hierop uit en stel dat sy siel op die Here wag meer as wat die wagters wat op die mure van Jerusalem wag gehou het in die nag, op die nuwe môre wag. Hy herhaal die woorde wagters op die môre om die beeld en verwagting te laat insink (v. 6). En dan roep die Psalmis die hele Israel op om saam met hom te wag op die HERE. Hy dink nie nou nie meer net aan sy eie situasie nie, maar aan alle gelowiges wat in die verbond met God lewe. Die rede waarom daar gewag kan word is om om daar by die HERE die goedertierenheid (let op die bepaalde lidwoord; chesed; verbondstrou) is, sowel as veel (menigvuldige/volkome) verlossing (v. 7; let op die rykdom hiervan. Vgl. Ef. 1:7, 2:4,7; Kol. 1:13,14). En dan voeg die Psalmis nog iets by. Die HERE self sal Israel verlos van al sy ongeregtighede (v.8). Dit is treffend dat hulle nie verlos word van ’n situasie of van vyande nie, maar van hul sonde. Dit het gebeur toe die Here self sy Seun vir ons gegee het om ons te verlos van ons sonde (vgl. Mat. 1:21).              

Besprekingsvraag: Gee voorbeelde van dieptes waarin kinders van die Here kan beland.

Insig: Daar is verskillende maniere waarop ’n mens in ’n lewenskrisis of beproewing kan beland. Dit is goed dat ons nie presies weet wat dit hier was nie, sodat ons elke belewenis van chaosmagte, hier genoem die dieptes, daar waar dit voel of jy verdrink, hierop kan betrek. 

2024/05/29

Die Here van rus en verademing

Lees: Mk. 2:23-3:6

Gedagte vir kinders: Die Here Jesus het vir ons ware rus en lewe gebring.

Oorsig: Markus 2-3 vertel van vyf geleenthede aan die begin van die Here Jesus se bediening waar Hy homself openbaar (Vergifnis-gewer, Geneesheer en Bruidegom). Hier openbaar Hy hom as Here van die Sabbat en verduidelik wat die diepste bedoeling van die Sabbat is. Sy bediening was baie besig en dikwels het hulle nie eens tyd gehad om te eet nie (vgl. 3:20; 6:31; 8:1). So het hulle dan op ’n sekere Sabbat deur gesaaides geloop en die honger dissipels het begin om are te begin pluk (v.1). Die wet van die Here het toegelaat dat arm mense van die lande af kon eet, sonder om ekstra saam te neem (Deut. 23:25-26). Die wet het wel bepaal dat daar nie beroepswerk soos oes op die Sabbat mag plaasvind nie (Ex. 34:21).

Daar was egter Fariseërs wat gemeen het dat dit nie reg was nie. Die Here het hulle toe gewys op Dawid wat by geleentheid in nood was saam met sy manskappe en honger gehad het (let wel) en hoe hy in die huis van God (vgl. 1 Sam. 21:2-7) in die tyd van Abjatar wat later hoëpriester geword het, toonbrode geëet het wat elke Sabbat vervang is, en normaalweg net vir die priesters bedoel was (vgl. v. 24-26; Ex. 25:30; Lev. 24:5-9). Hieruit moes hulle reeds aflei dat Sabbat gemaak is vir die mens en nie die mens vir die Sabbat nie. En hulle moes hierdeur ook verstaan die Seun van die mens Here is van die Sabbat (v.27-28).  

Hierdie saak is verder gevoer toe die Here Jesus in ’n sinagoge gegaan het op die Sabbat en daar ’n man met ’n verdorde hand was. Weer het hulle hom dopgehou sodat hulle Hom kon aankla as Hy werk doen op die Sabbat (3:1-2). Die Here Jesus het egter nie weggedeins vir hulle mensgemaaktye reëls nie en vir die man met die verdorde hand gesê om op te staan in hulle midde. Toe het Hy die mense gevra of ’n mens op die Sabbat goed of kwaad moet doen, ’n lewe red of doodmaak. Hulle het stilgebly, omdat hulle nie werklik wou hoor nie (v.3-4). Die Here Jesus het hulle toe met toorn aangekyk omdat hulle nie wou uitkom vir lewe nie terwyl Hy gelyktydig bedroef was oor hulle harde harte. Hy het toe vir die man gesê: Steek jou hand uit! Die man het dit toe uitgesteek en sy hand is herstel, nie net bietjie nie, maar herstel soos die ander een (v.5). Dit het veroorsaak dat die Fariseërs gaan raad hou het met ondersteuners van koning Herodes (Herodiane). Hulle was normaalweg nie vriende met mekaar nie, maar in Jesus het hulle ’n gemeenskaplike vyand gesien wat hulle nader aan mekaar gebring het en om planne te maak hoe om Hom om te bring (v. 6; vgl. Ps. 2).    

Besprekingsvraag: Hoe wys Dawid hier heen na die bediening van Jesus Christus?

Insig: Die doel van die Sabbat, wat rus beteken, was om aan mense verademing te gee, verligting van die las van slawerny en lyding (vgl. Deut. 5:15; Ps. 84; 103:1-5). Die verbod op beroepswerk (vgl. Lev.23:24-28) was daarop gerig dat mense egte gemeenskap met God en mekaar, en daarom vernuwing en feestelikheid kon beleef. Dit was so gepas dat die Here Jesus juis op hierdie dag genees, omdat Hy die groot Geneesheer en Hersteller van lewe is. 

2024/05/22

Die Koninkryk en wedergeboorte

Lees: Joh. 3:1-17

Gedagte vir kinders: Elkeen wat in die Here Jesus Christus glo, sal nie verlore gaan nie.

Oorsig: In Johannes 3 hoor ons die eerste keer in hierdie evangelie hoe die Here Jesus sy lering uitspel. Hy doen dit teenoor ’n man uit die Fariseërs met die naam van Nikodemus wat ’n leier (owerste) was van die Jode (v.1). Die Fariseërs was godsdienstige mense wat meer op hulle tradisies gesteld was as op die Woord van God. Hierdie Nikodemus het in die nag na Jesus gekom en gesê: “Meester (Rabbi), ons weet dat u ’n leraar is wat van God gekom het, want niemand kan hierdie tekens doen wat U doen as God nie met hom is nie.” (v.2). ’n Mens sou verwag dat die Here Jesus hom hieroor sou prys, maar Hy het geweet dat sommige mense se geloof maar baie oppervlakkig is en wat die mens  se diepste probleem was (vgl. 2:23-25).

Die Here antwoord Nikodemus toe dadelik oor die koninkryk: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie.” (v.3) Nikodemus het nie verstaan nie en gevra hoe iemand wat oud dan weer deur die skoot van sy moeder gebore kan word (v.4). Jesus het toe geantwoord dat dit beteken dat iemand uit water en Gees gebore moet word om die koninkryk van God in te gaan (v.5; vgl. Es. 36:25-27) Hy het verder verduidelik dat net die sondige vlees uit sondige vlees gebore kan word, en dat net die Heilige Gees die geboorte deur die Gees kan bewerk (v.6). Hy het bygevoeg dat Nikodemus hom nie oor die uitspraak moet verwonder nie, en verduidelik dat dit gebeur soos die wind wat waai waar hy wil, maar dat ons nie weet vanwaar die wind kom of waarheen dit gaan nie. En tog sien ons die werking van die wind. Nikodemus het toe gevra hoe hierdie wonderlike saak in mense se lewe kan gebeur (v.7-9).         

Die Here het toe vir Nikodemus gevra waarom hy, leraar van Israel, nie hierdie dinge weet nie (v.10). As hulle sy (“ons”) getuienis oor die aardse wedergeboorte nie glo nie, hoe sou hulle die hemelse kant glo? (v.11-12). Dit behels dat niemand kan opvaar in die hemel nie, behalwe Hy, die Seun van die mens, wat uit die hemel neergedaal het (v.13). En soos Moses die slang in die woestyn verhoog het, so moet Hy verhoog word sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê (v. 14-15; vgl. Num. 21:4-9). Die rede is dat God die wêreld so lief gehad het dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê. Want die Seun is nie in die wêreld gestuur om te veroordeel nie, maar eerder om te red. (v.16-17). 

Besprekingsvraag: Hoe is die Persone van die Drie-eenheid elk betrokke by ons redding?

Insig: Ons kyk na hierdie bekende grootse gedeelte tydens Triniteit-Sondag en fokus daarom hier saam met die gang van die Teks eers op die werk van die Gees (v. 4-9), dan die Seun (v.10-15) en dan die Vader (v.16-17). Eerstens dan: Die koninkryk van God kan net vir ons ’n werklikheid word deur die werk van die Gees. Johannes koppel dit ook aan water (v.5; vgl. Joh. 1:33; 4:10, 13-14; 7:37-39). Beide Lutherane en Rooms Katolieke verbind hierdie werk van die Gees daarom ook direk aan die doop (vgl. Hand. 22:16; Tit. 3:5). Gereformeerdes erken ook die band, maar sien dit nie so direk nie (vgl. Gal. 3:26,27; Kol. 2:12, Ef. 5:26; NGB 34; HK 26-27). Uiteindelik getuig die Doop wel kragtig van die reiniging en nuwe lewe in Christus deur sy Gees wat gepaard gaan met nuwe harte (Es. 36:25-27). Die Doop getuig van en roep na die wonderbare werking van die Gees wat intiem daarmee verbind nis. Dit kan voor, tydens of na iemand se Doop gebeur, maar die water en die Gees getuig uiteindelik saam van die heerlikheid van die nuwe verbond waarin iets gebeur wat net God se Gees in ons kan doen. Dit is misterieus en ontembaar soos die wind en ons kan dit nie verklaar nie, maar ons sien die werkinge in mense se lewens. En dit bevestig dat daar radikaal iets fout is met die gevalle mens. Nie afkoms of voortreflikheid kan ons daaruit help nie. Iets van Bo is nodig wat net die Gees kan doen.

2024/05/16

Gesalfdes van die verheerlikte Christus

Lees: Hand. 1:1-11

Gedagte vir kinders: Die Here Jesus wat opgeneem is in die hemel kom weer.

Oorsig: Die Here het deur Lukas, die geneesheer, vir ons twee kosbare Godgeïnspireerde getuienisse in sy Woord gegee. Die eerste boek gaan oor alles wat die Here Jesus begin doen en leer het (v.1). Die tweede boek, Handelinge, gaan oor alles wat die Here Jesus voortgegaan het om te doen deur sy liggaam, die Kerk, in die krag van die Heilige Gees. Lukas skryf, soos in sy eerste boek, aan Theofilus, wat een of ander belangrike persoon was, maar wat hy nou op sy Naam noem. Theofilus beteken geliefde van God of Godliefhebber en beide betekenisse is hier van toepassing, ook op elke gelowige en die bedoeling is dat sommige wat lees ook so kan word. Lees Lukas en Handelinge daarom met jou hart.

In sy eerste boek het Lukas vertel van Jesus Christus tot by die punt van sy hemelvaart nadat Hy aan die apostel wat Hy uitverkies het, deur die Heilige Gees bevele gegee het (v. 2). Hy het homself aan hulle as lewend na sy dood vertoon deur baie kentekens en gedurende 40 dae aan hulle verskyn en oor die dinge van die koninkryk gespreek (v.3). Hy het hulle toe ook bevel gegee om nie van Jerusalem weg te gaan nie, maar om te wag op die belofte van die Vader wat hulle van hom gehoor het (v.4). Hy het hulle toe gewys op die bediening van Johannes die Doper wat met water gedoop het (vgl. Mat.3:11), maar dat hulle nou binnekort met die Heilige Gees gedoop sou word (v.5). Die wat bymekaargekom het vra die here toe of Hy in daardie tyd die koninkryk vir Israel weer gaan oprig (v.6). Die Here Jesus het hulle geantwoord dat die tyd en geleentheid daarvoor hulle nie toekom om te weet nie, omdat die Vader dit deur sy eie mag bepaal het (v.7). Hulle moes eerder moes fokus op wat hulle taak was en hoe die koninkryk van God ’n werklikheid sou word op aarde. Wat hulle kon weet is dat hulle krag sou ontvang wanneer die  Heilige gees oor hulle kom. So sou hulle getuies wees in Jerusalem, die stad van god in die Ou testament. Maar dit sou ook gelyktydig (sowel as) uitkring na die hele Judea en Samaria en verder tot aan die uiterste van die aarde (v.8).

Daarna is die Here Jesus opgeneem in die hemel terwyl hulle dit sien. ’n Wolk het Hom voor hulle oë weggeneem (v.9). toe die dissipels nog so stip na die hemel kyk terwyl Hy weggaan het daar twee manne in wit klere by hulle gestaan en gesê: manne van Galilea, waarom staan julle en kyk na die hemele. Hierdie Jesus wat van julle opgeneem is in die hemel, sal net so kom soos julle Hom na die hemel sien wegvaar het (v.11).    

Besprekingsvraag: Hoe wys Dawid as koning hier heen na Christus as opgestane Koning?

Insig: Die Here Jesus se voortgaande werk na sy opstanding was enersyds nuut , maar kan andersyds net deur die lense van die Ou Testament na waarde begryp word. Ons verneem hier van die Een uit die nageslag van Dawid wie se ryk geen einde sal hê nie (Luk. 1:32-33). Hy vertoon Homself vir 40 dae lank na sy opstanding aan sy dissipels en eet en drink saam met hulle (Hand. 10:41). Om saam te eet dui op innige gemeenskap en verbondenheid, maar hier ook dat die Koninkryk in beginsel reeds gekom het (vgl. Luk. 22:16,18). Die 40 dae herinner ook aan die motief van toetsing en gereedmaking (vgl. Moses, Israeliete, Elia, Christus). Die dissipels se vraag oor die heroprigting van die koninkryk vir Israel was daarom uit fokus, maar nie ongegrond nie (v. 6). Hier is sprake van die Koning wat sy troon gaan bestyg met die hemelvaart en daarmee die troonbestyging waarvan die Psalms praat vervul (vgl. Ps. 2; 110; Dan. 7:13,14). En die proklamasie hiervan kring ook uit vanaf die stad van Dawid, Jerusalem, waar die Messias verwag is. Dit kring in konsentriese sirkels uit soos met Dawid destyds, vanuit Jerusalem, na sy stam en dan sy volk en bondgenote. Maar hier word dit nou vervul tot aan die eindes van die aarde. Rome wou graag met hulle paaie die Romeinse vrede na die verste gebiede bring. Hier hoor ons hoe dit eerder sou gebeur.