2024/08/08

Om Jesus Christus te eet en te drink

Lees: Joh. 6:36-59

Gedagte vir kinders: Die Here Jesus roep ons op om in Hom te glo en by Hom te woon.  

Oorsig: Die Here Jesus het sopas in sy gesprek met die skare die groot uitspraak gemaak dat Hy die brood van die lewe is. Wie na Hom toe kom en in Hom glo, sal nooit honger of dors kry nie. Nou gaan Hy voort om dit te verduidelik. Hy wys hulle daarop dat iemand Hom miskien wel kan sien, mar Hom tog nie glo nie (v.36). Tog sal die Vader diegene aan Hom gee wat wel na Hom sal kom en Hy sal sulke mense wat kom, nooit uitwerp nie (v.37). Die Here Jesus verduidelik dan dat Hy uit die hemel neergedaal het om God se wil te doen wat Hom gestuur het. En God se wil is dat Jesus niemand sal verloor wat aan Hom gegee is nie en dat Hy hulle sal opwek in die laaste dag (v.38-39). Die Here Jesus verduidelik toe verder dat dit die Vader se wil is dat elkeen wat in die Seun glo, die ewige lewe mag hê. So iemand sal eendag in die laaste dag opgewek word (v.40).

Die Jode het toe hieroor gemurmureer omdat Hy Homself die brood genoem het wat uit die hemel neergedaal het. Hulle het mos geweet Josef is sy pa (v. 41-42). Die Here Jesus het egter geantwoord dat niemand na Hom sal kom as die Vader nie iemand trek nie. Sulke mense sal Hy wel opwek in die laaste dag. Hy haal toe uit Jes. 54:13 aan om te wys dat sulke mense deur God self geleer sal wees. Elkeen wat dit by die Vader geleer het, kom na Hom toe, maar net Jesus het die Vader self gesien (v.42-46). Toe verklaar Hy weer plegtig dat elkeen wat in Hom glo, reeds die ewige het en dat Hy die brood van die lewe is (v.47-48).

Hy het toe na hulle vaders, die Israeliete in die woestyn, gewys wat die manna geëet en tog gesterwe het. By Hom is egter die brood waardeur iemand nie sterwe nie (v.49-50).  Hy is die lewende brood wat uit die hemel neergedaal het waardeur iemand lewe tot in ewigheid. Die brood wat Hy gee is sy liggaam (vlees) wat Hy vir die lewe van die wêreld sou gee. Die Jode het toe met mekaar hieroor gestry en nie verstaan nie (v.51-52). Die Here Jesus het toe nog duideliker vir hulle gesê dat as hulle nie die liggaam van die Seun van die mens eet en sy bloed drink nie, hulle geen lewe in hulself het nie. Net sulke mense het die ewige lewe en Hy sal sulkes opwek in die laaste dag. Want net sy vlees is waarlik spys en net sy bloed waarlik drank (v.53-55). Iemand wat dit doen, bly in Hom en lewe in Hom soos wat Hy deur die Vader lewe (v.56-57). Hy is die brood wat anders as die manna  van destyds is, boord waardeur iemand tot in ewigheid lewe. Dit alles het Hy in die sinagoge in Kapernaum geleer (v.58-59) .   

Besprekingsvraag: Van Ou Testament gedeeltes is die brood van die lewe die vervulling?  

Insig: Wanneer die Here Jesus ons leer dat Hy die Brood van die lewe is, moet ons dit teen die agtergrond van die Ou Testament verstaan. Die boom van die lewe in die paradys was bedoel om tot die ewige lewe te voed. Hier openbaar Christus nou dat Hy self die brood van die lewe is. Daarmee sê Hy terselfdertyd ook aan die Israeliete wat reken dat Hy eers moet bewys dat Hy groter as Moses is, dat Hy soveel meer Moses en as manna doen. Die manna het na een dag sleg geword (Ex. 16:19-20), maar Jesus Christus gee lewe tot in ewigheid. Wie deur Hom gevoed word, sal ook opgewek word op die laaste dag. Uiteindelik bly die dood ’n verskrikking vir elke sterfling. Maar hier openbaar ons Here hoe die dood in en deur Hom getroef word. Hy is die voedsel en drank van die ewige lewe (nagmaalsformulier). Hy bied soveel meer as hemelse manna van die Ou Testament.

Deur Jesus, die brood van die lewe, leer ons die hoogte en breedte en diepte van die evangelie ken (Bruner). Ons ontdek die hoogtes wanneer ons telkens verneem dat Christus uit die hemel neergedaal het om ons ontwil. Boonop werk die Vader nie net van bo na onder deur sy Seun te stuur nie. Hy werk ook van onder na bo deur mense aan die Seun te gee wat in Hom glo (v. 37,39,44-45). Deur sy Seun bewerk Hy die versoening en deur sy Gees bewerk en versterk Hy die geloof in Christus. Dit is sy verlossing en dit is omvattend en hoog, maar ook geweldig in sy breedte: Elkeen, ja elkeen wat in die Seun glo, mag die ewige lewe hê en opgewek word in die laaste dag (v.40). Dit is ook diep, want dit daal laag tot ons neer in ons menslikheid en sonde. Ja, Hy gee sy vlees en bloed om seker te maak dat die diepste versonke sondaar gered kan word. Dit sou net kon gebeur deur sy kruisiging en sy vlees en bloed wat vir ons gegee is. Juis daarom is redding uit die diepste dieptes moontlik.

Daar is egter net een weg waardeur dit plaasvind: Die nuwe en lewende weg deur Hom wat vir ons ons die brood van die lewe geword het. In ’n pluralistiese wêreld met erkenning van baie godsdienste klink dit verwaand om te stel dat net Christus die brood van die lewe is. En tog is die antwoord eenvoudig: Net een het die Vader gesien: Hy wat van God kom (v. 46). En elkeen aan wie Hy dit wil openbaar (vgl. Mat. 11:27). Wie nie van die hierdie Brood eet nie, het eenvoudig nie lewe in hulself nie. Dit is opvallend dat Christus se “voorwaar, voorwaar” hier oor die nagmaal (v.53), ooreenkom met sy “voorwaar, voorwaar” in Johannes 3:3 wat in verband staan met die doop. Die sakramente is baie aards deur die water, wyn en brood en bevestig dat Jesus Christus waarlik konkreet mens geword het op aarde. Maar die aardse is ook tekens en seels van heerlike dinge wat net deur Christus waar word. Die Here kom ons tegemoet in die doop en hier spesifiek deur die nagmaal om ons in die grootste eenvoud te laat neem en eet en drink van dit wat Jesus Christus vir ons gedoen het deur sy kruisdood. Hy maak dit heerlik eenvoudig om te kom en te neem en te smaak dat die Here goed is en dat Hy ons telkens versterk deur sy offer. So is die nuwe verbond in sy bloed ingestel en so het die groot versoening plaasgevind en ons jubeljaar aangebreek. In die nagmaal word ons telkens vernuwe en geheroriënteer en gevoed om te lewe in God se bevryding. En te verseker te word dat daar lewe in Hom is tot anderkant die dood.           

Werke geraadpleeg:

John Bergsma, The Word of the Lord, Year B.

Frederik Dale. Bruner   (Ek leen weer eens sterk aan op Bruner in die insig-gedeelte)

Matthew Henry